Die agste teken kom nie heeltemal die mas op nie

  • 0


Titel: Die agste teken
Skrywer: Basie Duvenhage
Uitgewer: Inset Uitgewers
ISBN: 97806205603444

 

I

Selfpublikasies of publikasies by kleiner uitgewers hét al vir verrassings gesorg. ‘n Mens dink byvoorbeeld aan Wilma Stockenström se debuut, wat by ‘n onbekende uitgewer verskyn het en toe deur Opperman raakgesien is. Ongelukkig is dit egter so dat kleiner uitgewers dikwels bundels publiseer wat nie afgewerk is nie, of omstredenhede ontlok.

‘n Mens benader maar in hierdie dae ‘n debuut by ‘n minder bekende uitgewer of selfpublikasie versigtig. Ons weet uitgewershuise publiseer nie meer alles wat op ‘n tafel land nie en daar is beslis ‘n kwota.

Tog is daar vele skryfskole wat help slyp en sny – hiermee word veral debute sodoende as meer afgerond gelanseer.

Basie Duvenhage se bundel Die agste teken word op die agterflap begelei deur Wium van Zyl, self digter en bekende literator, as dat dit geen “sagsinnige poësie” sou wees nie. Die digter is ‘n boorling van Niekerkshoop op die rand van die Kalahari en het jare later in Worcester se kontrei verseil geraak, aldus die bekendstelling. Die leser word genooi na die harde hartland van die jeug.

II

Die bundel bevat ‘n mooi voorblad van Janienke Crafford. Die parateks (Genette) speel hier ‘n bepalende rol in die leser se gemoed: die aanprysing deur Wium van Zyl, die mooi voorblad en die wete dat ‘n groot digter al uit die onbekende uitgewershuis na vore gekom het, bowendien die Afrikaanse letterkunde beduidend verander en verryk het tot die nou onlangse Hierdie mens.

Die parateks is dus dit wat róndom die teks staan. Dit wat die leser subtiel beïnvloed – amper iets soos “lyftaal”.

Dit is egter met ‘n gevoel van teleurstelling dat ek die bundel begin lees het. Die gedigte mis vorm, en die wanbegrip dat die vrye vers sommer kan aanbeweeg sonder enige inherente spanning of interne skakels, skep die indruk van verse sonder vormtug. Die vrye vers behoort net deur ‘n geoefende digter geskryf te word. Dit is immers, soos Robert Frost opgemerk het, soos om tennis te speel sonder ‘n net. By Duvenhage is daar geen net nie, maar ook geen omheining wat die digterlike balle binne die speelveld hou nie. Die leser staan telkens voor ‘n mooi beeld, ‘n aangrypende gegewe of nostalgiese herinnering met die wete dat dit gesnoei moes gewees het. Vorm en inhoud is hier nog nie één nie.

Gedigte met moontlikhede is “Voorbereiding” (17),  “Stasie” (37) en “Garinglonge Prieska” (38).

Verder is daar so nou dan ‘n paar mooi beelde, soos “‘n hond met hoepelribbes draf ...” (41)

Die gedigte is in die algemeen te woordryk en mis die suggestie wat ‘n goeie vers kenmerk. Dit skep die indruk van afgekapte prosa.

In vergelyking met die vele uitstaande debute van die afgelope tyd (Jasper van Zyl, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Hennie Nortjé, om enkeles uit te sonder) kom dit beslis nie die mas op nie.

Oor die kwessie van debutante het ek al soos volg geskryf:

http://joanhambidge.blogspot.com/2013/06/heilna-du-plooy-loftus-marais-nuwe.html

http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/antjie-krog-alfred-schaffer-samest-nuwe_26.html

http://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/petra-muller-nelleke-de-jager-redd-nuwe.html.

Die digter sluit aan by Boerneef, George Weideman, Donald W Riekert, maar hier is nog nie sprake van ‘n werklike staning nie.

Ook die gesprek met die !!Kabbo-gedigte vind ons hier – met erkenning aan Pippa Skotnes.

 

III

Die bundel is in sagteband uitgegee en beslaan 63 bladsye.
Dit kos R130 plus R10 posgeld
Bestel van Inset-uitgewers, Somersetstraat 48, Eversdal 7550 of  info@insetuitgewers.co.za.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top