Joan Hambidge

Joan Hambidge is digter, kritikus en romanskrywer en verbonde aan die UK se Skool vir Tale. Sy doseer Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk. Sy is vakgroephoof van Afrikaans en waarnemende hoof van Italiaans.

Vir haar bundel Visums by verstek ontvang sy die ATKV-prys en vir Bitterlemoene die Eugène Marais-prys. Die Litera-prys word toegeken aan haar gedig "Eugène Marais" uit Lykdigte.

***

Eugène N Marais (1871 - 1936)

Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.

- Dorothy Parker

I

Hoe durf ek skryf oor jou: 'n onbekende?
Gereduseer tot "geval", morfinis, afwykende...
Boonop in 'n onbekende tyd...
Hoe kan  ons ooit in 'n gedig regstel
dit wat jou ontneem is (soos 'n ongeskryfde gedig) en aan jou toegedig word: 'n lewe in 'n verkeerde tyd, ruimte, dimensie - jou tyd vér vooruit?

II

Die vers broei wekelank in my.
Jy is meer as 'n 'groot verlange';
gestol in die agterruimte van 'n kleinlike tyd sien jy alreeds die onbewuste in 'n miernes; weet die enkeling is ontersaaklik vir die groter geheel.
Iets onsigbaars, onsêbaars (noodlot het geen dekorum) bly talm: hesperiese flitse van verdriet.

III

Daar word beweer die jongste van dertien 'n Vervloekte met 'n Kaïnsmerk:
Onsigbare, tastende Derdeoog.
Doodsbalju, kroonprins van die hel
besef as klein kind die wonderwerk van vooraf
weet: 'n kooltjie vuur stig 'n bosbrand aan.
(N)iemand kon die lyne in jou palm lees:
die selfmoordenaar, 'n swart forel, beur stroomop.
Wis van jongs af sy verdoemende lot:
stuur af op 'n swak gerepeteerde slot.

IV

Iewers vertel die heldersiendes kan ons vervloektes red:
bevry al die visse in die see...
Alles begin oënskynlik met 'n spel: die smokkel met sinne eers 'n heling teen insomnia; later 'n nuttelose panacee teen senu-uitputting, Die dobbelsteen bly verkeerd val; die kaarte wys 'n ómgekeerde Skoppensboer.

V

 

Dit staan geskryf teen die tempels
in moeilik-ontsyferbare hiërogliewe
teen die graf van Ramses II
dat vrede vir die vervloekte wél bestaan.
"Daar sou ek vrede weer besef
waar Tebes in die stil woestyn"...
Die gedig skryf sigself; vang die boodskappe uit die ander oord onbevange op.
Laasnag droom ek van jou - met jou panamahoed en dandy-pak in Egipte:

VI

"O Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoé lank het ek gewag, hoe lank gedroom
Die lem van liefde wroegend in my hart?"
Vir jare sou die koors van berou, verwyt om jou hang en elke geliefde of flirtasie weer daardie eerste verlies uitspeel:
'n droewe deuntjie op 'n outydse pianola..
En toe jou moeder sterf, in in teen die Groot Niet kon sy jou ook nie vertroos; net verder ontstig met haar doodswoorde: "Daar's niks."

VII

Ses dekades later in die wagkamer
tussen hier en die on-sienlike Daar
wonder ek: hoe kan 'n mens jou verlos?
Spiritiste meen mens bly gevange:
herhaal die skoot oor en oor
soos 'n teisterende droom
sonder logiese begin of einde
maar met die flitsende boodskap:
"O, Diep Rivier, O Donker Stroom..."

VIII

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer 'n skedel...
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van 'n slang.
'n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: 'n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
'n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dices skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
'n Walvis sluk jou heelhuids in.

L'envoi

IX

Van gesoignéerde, strydvaardige joernalis gedemoveer tot bedremmelde, behoeftige boemelaar.
Is daar nog trane vir poësie?
Of leef jy nog in die selfgeskepte hel
van sinsbedrog, 'n noodlotsroep?
Vanaand swem al die visse
van die Tierra del Fuego tot Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok
en roep:" Hy's bevry, hy's bevry!"

***

Joan Hambidge skryf ook romans - soos Kladboek wat in 2008 verskyn het - en satiriese romans soos Swart koring.

Sy resenseer gereeld vir Versindaba, LitNet, Beeld en haar blog heet: Woorde
wat weeg.

Carina Stander, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Karen Kuhn en
Hennie Nortjé het solobundels onder mentorskap geskryf.

Sy begelei tans vier MA's in Kreatiewe Skryfwerk en twee PhD's.

Sy behaal 'n tweede PhD aan die UK in 2000 oor gender. Sy skryf 'n studie
oor die werk van Johann de Lange wat op haar blog te vinde is.

Sy skryf tans aan 'n roman (Die buikspreker) en 'n digbundel (Matriks).

Lys van onlangse boeke:

Meditasies. Human & Rousseau, Kaapstad. 2014.

Lot se vrou. Human & Rousseau, Kaapstad. 2012.

Visums by verstek. Human & Rousseau, Kaapstad. 2011.

Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad. 2009.

Kladboek. Protea, Pretoria. 2008.

Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2008.

Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2006.

En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005.

Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004.

Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002.

Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001.

Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998.

Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998.

Swart koring. Human & Rousseau,  Kaapstad. 1996.

Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995.

Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.

Foto: Jan Marais

 

Flat water Tuesday – an interview with Ron Irwin

Ron Irwin, Joan Hambidge 2013-05-23 Flat Water Tuesday is available in South Africa at all bookstores and releases worldwide on June 4. Joan Hambidge, a buddy and colleague of author Ron Irwin, asked him a few questions over a glass of whisky.  

In Memoriam: Carl Mischke

Joan Hambidge 2013-04-22

"Ingeperk, ja geskaad,

maar met ’n locus standi"


Die dood is 'n boemeltrein wat niemand kan verpas nie: Joan Hambidge resenseer Rangeer deur Clinton V du Plessis

Joan Hambidge 2013-04-03 "Die verse is grinterig en rou. Dikwels handel die gedigte oor ’n persoon wat terugkyk na die onregte van apartheid en die daarmee gepaardgaande ellendes."

LitNet Akademies-resensie-essay: Joan Hambidge oor Nuwe Stories

Joan Hambidge 2013-03-25 "’n Goeie kortverhaal is op sy beste soos ’n goeie gedig: dit suggereer en agterna klap die implikasie jou in die maag."

Jackie O

Joan Hambidge 2013-03-20  Die legendariese Jackie O, soos Joan Hambidge haar sien

Vir Crito

Joan Hambidge 2013-02-27 Is Crito te besig by die Woordfees om ordentlik te lees?

Uit die argief: Gedigte deur Joan Hambidge

Joan Hambidge 2012-12-12 Gedigte deur Joan Hambidge uit LitNet se argief

Arendsnes: Wraak is ’n motief

Joan Hambidge 2012-11-28 "Jordaan imponeer dadelik die leser met sy kennis van lykskouingsverslae, knaldempers, die skade wat ’n koeël aanrig (dus ballistiese kennis) en prosedures. Hy maak van jou as leser ’n medespeurder of -ondersoeker."

Ingrid Winterbach en Saul Bellow

Joan Hambidge 2012-11-26 Ingrid Winterbach se roman Die aanspraak van lewende wesens het die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 gewen. Joan Hambidge beskou nou Winterbach se oeuvre na aanleiding van die LitNet Akademies-artikel "'Te hel met heling, Niggie!': Wanneer traumanarratiewe tekort skiet."

Wie is die naakte Boer? ‘n Kritiese, teoretiese en kreatiewe reaksie

Joan Hambidge Seminare en essays 2012-11-19

"Die titel van my essay sou kon heet: Hoe ry die Boere sit-sit so ..."

haikoe

Joan Hambidge 2012-11-14 Die beste haikoe-beoefenaar in Afrikaans is Eveleen Castelyn.

Skrywersvideo: Johann de Lange in gesprek met Joan Hambidge

Johann de Lange, Joan Hambidge Skrywersonderhoude 2012-08-31

Johann de Lange gesels met Joan Hambidge oor sy digkuns, die resepsie daarvan en die rol van literêre pryse. Die gesprek draai by dwelms, skryfskole, die rol van die internet op die letterkunde en hoe hy voel om as gay digter getipeer te word.

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke: ’n voortdurende spel tussen die oop en die geslote teks

Joan Hambidge 2012-06-19 "Die roman is in ’n voortdurende spel tussen die oop en die geslote teks en die modelleser word gedwing om dit as ’n ernstige roman te lees weens die komplekse semantiese universum wat hier aangebied word."

Annake de Villiers (1975–2012)

Joan Hambidge Poësie 2012-05-14

 

Op YouTube in swart geklee
staan jy soos die Pied Piper ...

Izak de Vries, jy het my resensie misgekyk toe jy jou stuk geskryf het

Joan Hambidge 2012-05-04 Ek het pas Izak de Vries se stuk oor Kerneels Breytenbach gelees en hy het my resensie in Rapport misgelees.
Top