Ingrid Winterbach en Saul Bellow

  • 0
Ingrid Winterbach se roman Die aanspraak van lewende wesens het die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 gewen. Joan Hambidge beskou nou Winterbach se oeuvre na aanleiding van die LitNet Akademies-artikel "Te hel met heling, Niggie!": Wanneer traumanarratiewe tekort skiet.

1. Winterbach die portrettis

Die afgelope twee jaar het ek die voorreg om vir Skrywers en boeke (op RSG) onderhoude met bekende Afrikaanse en Engelse skrywers te voer. Die romanskrywer Ingrid Winterbach was ook deel van my program en het ’n besonder insigryke opmerking gemaak oor die werk van Saul Bellow, wat sy as ’n besonderse portrettis beskou.

Ek is tans besig om die briewe van hierdie uitsonderlike Amerikaanse Nobelpryswenner te lees, ’n versameling wat Philip Roth glo in drie aande klaar gelees het. In hierdie briewe kry die leser ’n blik op ’n ingewikkelde, intelligente romanskrywer wat in die eerste en in die laaste instansie sy kuns bo alles stel. In ’n brief aan David Peltz (14 Julie 1974, geskryf in Carboneras, Almería, Spanje) verdedig Bellow hom teen die aantyging dat Peltz ’n karakter sou wees in Humboldt’s gift. ’n Uittreksel het in Playboy verskyn. Bellow wys daarop dat Pletz nie die onderwerp is nie. Hy skryf:

People have written about me. Their me is not me. It couldn’t matter less. What matters is that good things be written. Dear God, how we need them! […] I promised not to write Your Life. But this was all I could promise. We’ve known each other forty-five years and told each other thousands and thousands of anecdotes, I blew a riff. Riffs are irrepressible. Furthermore, no one could repress them. I created two characters and added the toilets and the Playboy club and the fence and the skyscraper. What harm is there in that? Your facts are unharmed by my version. (320)

In hierdie belangrike brieweversameling besef die leser eweneens dat Humboldt’s gift nie net oor Delmore Schwartz handel nie, maar dat Bellow eweneens John Berryman se tragiese lewe verwerk het.

Ook Winterbach skep portrette wat ’n samevoeging is van verskeie inspirasies en insette.

Die aanspraak van lewende wesens word opgedra aan die ontslape Stellenbosse filosoof Paul Cilliers. By Winterbach is daar, soos by Bellow, ook ’n besondere filosofiese en intellektuele onderbou. Die storie – wat by albei besonder goed uitgewerk is – word deur intellektuele verwysings gedra. By Bellow – soos in Herzog, wat in 1964 verskyn het – is daar die gesprek met die moderne filosofie. Moses E Herzog stuur briewe aan lewendes en dooies tydens ’n middeljare-krisis. Wanneer ’n mens die briewe lees van die werklike Bellow en sy uitgebreide rusies met eksvroue en -minnaresse (wat weer gelei het tot die afsegging van ’n vriendskap met Ruth Miller oor haar biografie van hom), is dit duidelik hóé Bellow dit sy doel maak om uit die banale werklikheid te ontglip deur filosofiese uitinge te vind. Die subtiele beskrywing van ’n seksuele molestering op die jong Moses word só terloops, dog dwingend, beskryf dat die leser dit nooit kan vergeet nie.

By Winterbach is daar eweneens die filosofiese stramien: sy vergelyk ’n hondeteler met ’n Wagner-figuur. Daar is eweneens verwysings na Die Tibbettaanse Boek van Lewe en Dood, die Sitra Achra, die Sheddim, die Kabbalisme, en so meer. Winterbach is by uitstek ’n skrywer van die bardo (liminaliteit) en todol (verlossing). Sy plaas soveel ongelooflike ervaringe in jukstaposisie wat haar romans – soos dié van Bellow – uiters kompleks en insigryk maak.

Ook haar kennis van die kosmologie herinner aan Bellow se uitspraak: “A good novel is worth more than the best scientific study.”

2. Twee meditasies oor Winterbach

2.1 Die aanspraak van lewende wesens (gepubliseer deur Die Burger)

Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief, verruimend”. En ’n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ’n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ’n plaas, surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ’n soort katalisator in hierdie roman, is in ’n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.

Winterbach se romans interesseer nie hierdie leser om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ’n lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ’n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ’n saamlees met Freud se Melancholie en Rou(1917).

Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ’n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is ’n ruimte van verwonding. Dit is ’n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ’n kaal lyk sien) en ’n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere lae. Soos in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ’n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ’n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.) Wagner, eis ’n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.

Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.

Die suster, Sofie, se ongewone blik word ’n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ’n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ’n slim troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ’n deur ’n spirituele hel gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ’n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ’n belangrike rol in die roman: Maria is ’n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ’n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.

(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ’n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ’n palmleser) in ’n begraafplaas. Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ’n beswering van depressie.

Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is digterlik en ’n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote abstraksies of ’n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die krisisoomblikke van ’n karakter wat onverwags geskiet word of ’n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende hoofstukke impliseer ’n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ’n karakter se bo-lip tot ’n vrou se oog kan jy sién.

Die roman het ’n sterk verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ’n kulturele kode.

Binne ’n bestek van bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ’n kort bestek ’n nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet.

Dit is is ’n briljante roman. Binne die afgelope tyd het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.

Met stilte as die grootste ellende wat ’n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.

2.2 Die Benederyk, resensie in Volksblad

Die Algeryns gebore Franse filosofoof Hélène Cixous gebruik die term “nostalgeria” om ’n verlange na ’n verlore paradys en jeugdige onskuld te beskryf. By die skrywer Ingrid Winterbach / Lettie Viljoen vind ons eweneens ’n besondere hantering van die nostalgie en ’n soeke-na-verlore-tyd (tye), onder andere beskryf in haar Boereoorlog-romans soos Buller se plan en Niggie. In Karolina Ferreira tref die leser weer die sterk metaforiese lading aan van die vertellende instansie. In Roman Jakobson se terme het hierdie outeur se skryfwerk al hoe meer metafories gelade geraak, maar terselfdertyd ook meer plot-gedrewe. In Die boek van toeval en toeverlaat word die leser genoop om ’n hele simbolesisteem te ontfutsel in ’n soort faux-speurverhaal.

Die benederyk, met sy sterk onderbewustelike ladings vertel die verhaal van twee broers. Aaron en Stefaans Adendorff. Die een ’n skilder en die ander ’n eks-verslaafde. Onmiddellik roep die verhaal Patrick White se The solid mandala op en die sterk assosiasies met die “benederyk”. Die grimmige en burleske – á la Etienne Leroux – meld sig ook hier aan in ’n karakter met die naam Bubbles. Ons word egter ook herinner aan Thomas Man se Josef en sy broers met die analise van familie-verwantskappe en –verbintenisse.

Saul Bellow se Herzog is eweneens ’n tersaaklike interteks in die vermenging van die banaal-gewone en die filosofiese verwysings wat die verhaal ’n dieper dimensie gee. Die teks stel besondere eise aan die leser se vermoë om die verskilende lae uit te wys.

Die verwysings na Goya en Beuys aktiveer ’n kunsteoretiese dimensie wat ’n ingebedde vraagstuk is waarmee die roman worstel. Ook dood en siekte kom aan bod: die dood van die moeder (waarvan Stefaans terugdeins) en Naomi se afsterwe. Knuvelder, die galeris, soos Aaron word geteister deur siekte. Aaron het boonop drie niere en Susan Sontag se Illness as metaphor word so geaktiveer, terwyl How we die (174) ingebed is in die roman. Dit slaan weer terug op ’n die bekende passasie in Karolina Ferreira. Dit is ’n teks van opoffering en gefnuiktheid. ’n Sentrale vinjet is die reis wat onderneem word na die Prado, maar die sketse is nie beskikbaar nie. Die ryk van die skadu’s (Goya) is ’n sterk “benederyk” in hierdie teks wat gesinkopeer word met ’n familie-romanse (in Freud se terme). Die verlore seun, die broer Benjamin, die moeder se verhouding met die “filosoof” Reinecke, Josua se verhouding met sý vader; trouens die hele komplekse landskap van die familieboom word hier uitgewerk en selfs Bybelse toespelings kan gevind word in die verhoudinge tussen ouers en kinders. Gefnuiktheid, teleurstelling, onvervuldheid – dit is die gevoel wat by die leser gelaat word by die lees van hierdie komplekse roman. In Stefaans, een van Winterbach se sterkste karakters nog, word die fyn waarneming van die verlede gefokus. Hy is die fokalisator en “getuie” wat in fynste besonderhede kan onthou. Die roman is metafories gelade geskryf met herhalings van motiewe. Die leser word ’n argeoloog. Veral Freud se siening van die onbewuste word geaktiveer en sy sieninge van die latente en gemanifesteerde aard van drome. Stefaans se worsteling met sy demone ontsluit ’n kragtige stuk vertelling.

Met elke lees ontdek jy ’n ander laag: moderne romans, psigoanalise, kunsteorie, familieverbintenisse, sieninge oor die dood . Thomas Mann se Josef en sy broers is ’n belangrike interteks (223), ’n roman wat Stefaans volgens Aaron toegeëien het om sy verhouding met die moeder te probeer begryp. Die besondere sketsing van hierdie ambivalente verhouding en sy implisiete insestueuse implikasies, kon in die hande van ’n mindere skrywer ónoortuigend gewees het. Trouens, die roman het my teruggeneem na Totem en taboe en na Freud se Dora-geval. Thomas Mann ontgin mitologie en sentraal in hierdie roman is die beskrywing van die onderwêreld. Joseph / Osarsef / Osiris word deur Stefaans gedra. Winterbach op haar beurt betrek weer moderne mitologie (van Bubbles Schroeder, die Katzenjammer kids, Kierkegaard, ensomeer) om ’n tafereel te skep van die komplekse invloed wat ouers op kinders het, selfs ná hul dood. Faulkner se Absalom, Absalom! is weer ’n belangrike interteks via Stefaans om die verhouding tussen Reinecke en sy seun te begryp.

Aaron se worsteling om ’n kunsuitstalling versus Stefaans se terugkeer uit die hel van verslawing en waansin is die twee pole waarom die roman gekomponeer is. Via Dante, Blake, Milton en uiters briljante interpretasies van sjamanistiese ervarings word die siening van self en selfloos(heid) geteken. Die beskrywing van die Australiër se worsteling met self (en niks) op bladsye 269 – 270 is vintage-Winterbach. Die romanskrywer se poëtiese aanslag is opvallend wanneer Stefaans aan die woord is. Die orde en chaos word verteenwoordig deur die twee broers en die ryk, geskakeerde verwysingsraamwerk sal vir die speurende en argeologiese leser vele skatte inbring. Soos die verwysings na skilders en beeldende kunstenaars: Goya, Beuys, Schnabel. Rieff se teorie van “deathworks”. Louise Bourgeois se siening van kuns as wraak is eweneens tersaaklik, nes die Bybelse verwysings na Rut, Lasarus, Saul, Josef en Jesus. Zen en sjamanistiese wyshede word eweneens aangetref. Faulkner, Bellow, McCormac laat ook van hul hoor en verder terug: Melville se Moby Dick as ’n klassieke “quest”-roman. En verder terug: Inanna se reis na die hel. Die vroulike skrywer as ’n Inanna wat afdaal na die hel om haar kreatiewe antwoord te gee op skryf/familieskap, is nog ’n leesmoontlikheid. En rites wat deur die Vrymesselaars en AA-ontmoetings vergestalt word, waaier weer terug na ou rituele en inisiasies.

Ingrid Winterbach is ’n vóórtreflike skrywer en haar laaste twee romans het sterk storielyne, maar sy fokus steeds op tersaaklike intertekste wat haar romans uiters pakkend maak.

In ’n letterkunde waar werklik goeie romans skaars is, moet hierdie teks uitgesonder word as ’n hoogtepunt.

Bibliografie

Barthes, Roland. 1974. S/Z. An Essay. New York: Hill and Wang.

Bellow, Saul. 1964. Herzog. Londen: Penguin.

 — 1975. Humboldt’s gift. Londen: Penguin.

 — 2010. Letters. New York: Penguin. (Geredigeer deur Benjamin Taylor).

Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

Sontag, Susan. 1978. Illness as metaphor. New York: Farrar, Straus & Giroux.

Winterbach, Ingrid. 2012. Die aanspraak van lewende wesens. Kaapstad: Human & Rousseau.

2010. Die benederyk. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

 

Terug na invalsblad van webseminaar om ander bydraes oor Ingrid Winterbach se oeuvre te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top