Arendsnes
Dirk Jordaan
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055327
Koop Arendsnes by Kalahari.com
I
Dirk Jordaan het met sy debuut Die jakkalssomer hierdie leser so meegevoer dat sy ’n akademiese artikel oor die roman geskryf het. Met sy tweede roman, Arendsnes, is hy terug met ’n tweede, spannende roman. Met die voorblad, waar die oog van ’n arend in die visier gestel word deur sowel ’n kameralens as ’n geweerlens, word die leser in die wêreld van Frederick Forsyth geneem. Gedetaillerde navorsing en spanning maak van hierdie soort roman ’n besondere ontvlugtingsverhaal. By Jordaan is daar goeie taalbeheer met die skep van spanning. Nou onlangs het ek na die Wallander-reeks gekyk met Kenneth Branagh as die speurder.
1Veral die ongelooflike beskrywing van die werklikheid en die gebruik van aktualiteit maak van hierdie reeks ’n resep vir verslawing. Die onderhoude met die akteurs en regisseurs na ’n vertelling wys ook hoe nougeset die vraisemblance nagevolg word. Jordaan situeer sy hoofkarakter, ’n vrou, ene Lydia Stander, in die Valke, hier die polisie se afdeling vir prioriteit. Onmiddellik dink ’n mens aan die Amerikaanse reeks The Killing2, eweneens met ’n vroulike speurder wat die moord op ’n meisie oplos met verskillende verhaallyne.
Die Deense reeks heet Forbrydelsen. Sarah Linden, nogal ’n onooglike vrou, vertolk deur Mireille Enos, beweeg van gevaarlike afgrond na afgrond (letterlik en figuurlik), terwyl Jordaan se Lydia toegewyd, gedrewe, slim en mooi is. Sy het egter ’n letsel: Daar is ’n jeugherinnering wat ’n skadu oor alles gooi en, soos Sarah, is haar persoonlike lewe deurmekaar. Dit maak haar dan weerloos vir manlike attensies en trek dikwels haar aandag af. Dit is dan haar Achilleshiel wat ’n feministiese leser sou laat wonder: Hoe sou ’n vrou hieroor skryf? Ons het immers Patricia Cornwall wat ’n ánder gender-spin op sake gee.
II
Ek is verslaaf aan speur-, misdaad- en spanningsverhale; die hele santekraam lees en bekyk ek. Ek is deur meer reekse van Wallander en The Killing as wat waarskynlik gesond is vir die psige. Hierdie semester het ek ’n filmkursus oor reekse van dié aard aangebied en die nougesette patrone wat in hierdie tekste verskuil is, dwing bewondering af. By The Killing is die “cliff hanger” iets wat jou na jou asem laat snak. Nes jy dink die moordenaar is gevang, is daar ’n ander kinkel in die kabel wat die reeks laat voortstu. En hierdie soort reeks werk nie met ’n “suspension of disbelief” nie, omdat die werklikheidsdimensie so belangrik is. Jordaan imponeer dadelik die leser met sy kennis van lykskouingsverslae, knaldempers, die skade wat ’n koeël aanrig (dus ballistiese kennis) en prosedures. Hy maak van jou as leser ’n medespeurder of -ondersoeker. Arendsnes aktiveer onheil, maar soos Myra Scheepers ook aan my verduidelik het: ’n Arend sterf of word hergebore in onttrekking, waar die bek afgekrap word, nuwe naels groei, en so meer. En ’n arend se oog?
Die titel word op bladsy 181 verklaar: Berghaan/bateleur beteken iemand wat op ’n kabel loop. En skynbaar is die berghaan ook die aggressiefste van die arende.Arendsnes aktiveer absoluut The Day of the Jackal3, daardie onoortroffe ikoniese roman uit die sewentigerjare. 3.Die groot toets vir hierdie soort roman is of jy nie kan wag om van hoofstuk na hoofstuk te lees nie. Dit is dus ’n roman wat op hoë spanning funksioneer. Dus, is dit “unputdownable”? Jordaan het my so geboei dat ek ander (lees-) verpligtinge opsygeskuif het. Die spreekwoordelike “page turner” dus – ’n siektetoestand waaraan alle lesers van hierdie subgenre ly. Ek het byvoorbeeld ’n hele Saterdagnag omgekyk aan The Killing, omdat ek opsluit wou weet wie die werklike moordenaar is. Hierdie soort roman skep dus altyd verkeerde leidrade. Die spanning wat hier geskep word, is inderdaad ’n vals leidraad en ’n soektog na die werklike moordenaar en natuurlik die emosionele betrokkenheid van die ondersoeker. En dan die aanval op die staatsaanklaer, wat alles verder deurmekaar krap.
Verder word hierdie spanning ook gelaai met verwysings na die Grensoorlog: Die moordenaar het die agtergrond en opleiding van ’n soldaat (122). Die leser wat hierdie aspek byreken, ervaar dus ook die emosionele pyn van iemand wat deur dié futiele oorlog geskend is.
III
Arendsnes is ’n vlot geskrewe misdaadverhaal. Die belangrikste bydrae is die politieke kommentaar wat dit lewer op die huidige Suid-Afrika en die misdaadsyfers in hierdie land. Die skrywer lewer implisiete kommentaar op hoe stede die afgelope paar jaar verander het. Veral selfone – en bedrog met selfone – help die verhaal vorentoe stu. Daar is verwysings na Piet Byleveld en Leigh Matthews en regte padaanwysings om die verhaal vierkantig in die werklikheid te plaas. Die beskrywings van Mosambiek is eweneens eg.
Dis ’n goeie roman wat aansluit by Patricia Cornwall en hardebaard-misdaadskrywers. Wraak is ’n motief …
Terloops: Moet dit “Aas-voël” wees op bladsy 264?
Bronne:
1Die Wallander-reeks is gebaseer op die Sweedse skrywer Henning Mankell se romans.
3 The Day of the Jackal op Wikipedia.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.