Wie is die naakte Boer? ‘n Kritiese, teoretiese en kreatiewe reaksie

  • 0

LitNet het in die verlede akademies ondersoek ingestel na die lyflike en 'n seminaar hieroor gereël: Die Lyf-miniseminaar. Maar sedertdien het ook ander materiaal oor hierdie onderwerp verskyn. Die akademiese artikel “ek het ’n liggaam, daarom is ek”: Outobiografiese elemente in Antjie Krog se Verweerskrif behandel die lyflike en die persoonlike aard daarvan in die skryfwerk van Antjie Krog. Ondersoeke na seksualiteit het elders op LitNet verskyn. Die laaste bousteen tot hierdie webseminaar se vraagstuk het uit 'n onverwagse oord gekom: 'n Gesprek met die redakteur van die tydskrif Playboy SA wat vrae laat ontstaan het oor die Afrikaner, wat so graag erotiese materiaal lees, se verhouding met die lyf.

Wie is die naakte Boer?

Joan Hambidge, kenner op die gebied van gender, ondersoek die kwessie.

"The familiar Oedipus story begins with the hero killing an old man at a crossroad. The old man is Oedipus's father Laius, who had ordered his newborn son to be taken to the mountains to die in order to prevent exactly this event. But the 'prehistory' of the myth involves a key episode in which the young Laius, received graciously at King Pelops's court, ungratefully repaid his benefactor by abducting Pelops's beautiful son Chrysippus. It is in fact Pelops seeking reparation for Chrysippus's rape, who calls down the curse on the house of Labdacus, the prophecy of Laius's murder by his own son. The myth of Oedipus thus has its origins in a tale of homosexual seduction - and in Laius's bisexuality." (Garber, 2000: 176).

Die titel van my essay sou kon heet: Hoe ry die Boere sit-sit so …

In Johann de Lange se klassieke vers, “Tongnaai II” word ons soos volg voorgestel aan die seksdaad:

Op jou maag, met een been hoog opgetrek,
kan ek sien tot waar jou blonde beenhare
strek, verdonker en verdig, en die dik rif
van jou horing tussen harde boude in verdwyn.

Judasoog wat vir ‘n tongnaai oper plooi,
geurige kreukel met ‘n vag bruin krulle,
ring wat ritmies knel as die eerste fel spasmas
die skoot diep uit my swaar balle boontoe bring

en stoot tot by die rooi geswolle knop wat klop
en taai wit wiele oor jou rug uitrol.
Jou lyf maak my jags vir growwe taal
– hol en horing, pielkop, fok en tos –

want in my mond is sulke soepel woorde
dik en vlesig en vrank soos jy.

Is die Afrikaner meer seksbehep, of is dit net ‘n persepsie? Wanneer ‘n mens Afrikaanse tekste lees, is dit duidelik dat daar meer van ‘n ongebreidelde beskrywing van seks sigbaar is. In Afrikaans het Antjie Krog en Johann de Lange die grense van sekservarings geskryf. Die vraag is: Maak dit Afrikaners meer seksbehep as byvoorbeeld ons Engelse landgenote of het Afrikaanse skrywers net ‘n groter fantasie wanneer dit kom by die beskrywing van die seksuele?

Ek het so pas begin lees aan Kleinboer se Werfsonde – met ‘n voorblad deur Anton Kannemeyer, ‘n ikoniese kunstenaar wat die transgressiewe ruimtes van molestering, seksuele geweld en bloedskande ondersoek. Kleinboer se Werfsonde speel natuurlik in op Werfjoernaal en Die werfbobbejaan, maar hy veruiterlik die spanninge van daardie twee tekste deur vir ons te verklap hoe dit is om seks te ervaar met ‘n swart lewensmaat.

Die versoek van LitNet kom op ‘n tydstip waarin ek my besighou met jeugervaringe:

Voor die spieël

Sy kyk na my,
sit voor haar spieëltafel,
borsel in die hand.
Ek sien myself verklein,
half uitgesny. Amper
nes my suster
se papierpoppe. Voel
haar priemende blik,
terwyl ek toekyk hoe sy
haar swart hare terugborsel.
Die kamer gestuif in Blue Grass-parfuum.
“Ek hoor,” sê sy,”dat jy vuur maak
in die veld.” Die ómgekeerde lens
van die Coke-bottel waaronder ‘n sprinkaan
spartel soos iets uit Openbaring
waaroor die dominee so graag preek,
laat die kamer nou in ligte laaie staan.
“En,” voeg sy by,”jy moet ophou vloek.”
Tel jou seëninge, ja tel hul een-vir-een.
Gelukkig weet sy nie van die ánder besoekings:
van meisies vlam en vuur,
tongsoene, verkennings
en ‘n grootmensfilm met ‘n vrouebors
onder ‘n speurende kamera
se close up.

Afrikaners is volgens my nie méér seksbehep nie. Hulle is waarskynlik net éérliker en dwingender in hul beskrywing daarvan. Waarskynlik sal ons al die antwoorde vind in Bloots – saamgestel deur Karin Eloff en Peter van Noord, ‘n verhaalbundel wat deur Tafelberg gepubliseer word. Hier vind ons gerekende name en onbekende skrywers wat oor die zipless fuck skryf, netjies omarm deur Peter van Noord en Karin Eloff.

So is dit langarm of ‘n slow dance? ‘n Lyflied of ‘n boklied?

Kan ons werklik die redakteur van Playboy ernstig opneem wat meen “die Boere jeuk meer as enigiemand anders en ervaar ook die meeste skuld”?

Ek werk net met tekste. Hierom vind ek dit problematies as sulke (ongetoetste) stellings die heelal ingejaag word. Dit sou in elk geval onmoontlik wees om ‘n empiriese studie oor hierdie kwessie te doen. Maar as ons na die tekste kyk, is die Boere beslis nie net met skuldgevoelens gelaai nie. A nee a! Kyk maar net na Kleinboer en me Eloff se publikasiefoto!

Die punt is: Afrikaanse tekste ondermyn die siening dat die Afrikaanse persoon met skuldgevoelens oor die seksuele skryf. Die kasdeure is oop. En die dieptes van die eens gerepresseerde kelders is wyd oopgegooi. Ons tel nie meer vloekwoorde in tekste nie, ons bloos nie meer oor naaktheid nie.

En gedagtig aan Marjorie Garber se aanhaling oor Oedipus en Laius: onder draai die duiwels rond.

Bibliografie

De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.

Eloff, Karen en Peter van Noord. 2012. Bloots. Kaapstad: Tafelberg.

Garber, Marjorie. 2000.Bisexualityand& the eroticism of everyday life. New York: Routledge.

Kleinboer. 2012. Werfsonde. Kaapstad: Umuzi.

Eindnotas

Bloots

Karin Eloff en Peter van Noord
Tafelberg
Resensie vir Finemusicradio

Bloots word bemark as “prikkelend, passievol, sensueel” met 54 erotiese verhale wat jou sal laat regop sit. Die twee samestellers se verhale knyptang die bundel, om nou ‘n ander metafoor te gebruik. Karin Eloff is bekend as die Doppermeisie wat masseuse geword het. Sy het die roman Stiletto geskryf en sy bespeel die tjello. Peter van Noord is ‘n bekende taalredigeerder. ‘n Vroulike en manlike samesteller – met ‘n foto van ‘n smeulende Eloff.

Die verhaal “Trilling” open die erotiese baan. Dit is besonder knap geskryf. Dit speel af in die vleisfabriek, te wete die gym en die verhaal se einde is onverwags en ruk die mat onder jou voete uit. Eloff se driftige slotverhaal “Daknatmaak” is eweneens knap geskryf – met al die elemente van ‘n suksesvolle verhaal: afwagting, ‘n bietjie terg en uiteindelik die ontknoping (of dan orgasme!). Daardie vir “oulase belofte” van grensoorskrydende seks word in hierdie verhaal met begeestering beskryf. Sonder skroom word die zipless fuck (om Erica Jong aan te haal) hier op ‘n direkte wyse weergegee. Ons het ook die perspektief van die vrou wat emosionele verbintenisse vrees en wil vry wees. Met ander woorde, atipies optree as ‘n mens dit konvensioneel benader.

Bekend en onbekend is genader. Populisties en ernstig in aanbod. Sonder skroom en meer terughoudend. Manlik en vroulik. Gay en straight.

Gedistansieerd en prikkelend.

Dus al die (gender)posisies, as u my die woordspeling sal vergeef.

“Roekeloos” van Reinet Nagtegaal gebruik die kodes van chick lit en sagte pornografie om haar storie te vertel. Die leser besef sy is besig met ‘n slim parodie op die genre: die gebruik van tropiese vrugte en so meer. In die verbeelding sien ons vir Sylvia Kristel … (En terloops, hierdie sagte-porno-ster was getroud met Hugo Claus, ‘n ernstige skrywer, wat bewys dat populêr en serieus naas mekaar kan lê.)

Erotiese of geil verhale moet beslis (immers vir hierdie leser) sonder skroom of self-bewustheid geskryf word. Kliniese woorde durf nie. Gebruik geil taal sodat hoor en sien vergaan.

Ook is daar verhale wat die vreeselement aktiveer, wat met erotiese ekskursies geassosieer word soos “Sy skreeu” van Tertius Kapp. In die digkuns het Johann de Lange en in die prosa het Hennie Aucamp die gevare van cruising ontgin.

Lien Botha se aangrypende “Jy is my melancholie” gebruik die vreemde ruimte (Wes-Afrika) om ‘n kortstondige aanraking te beskryf. Dit gebruik sub-tekste en fotografiese kodes om die ervaring onder woorde te bring. Dit is ‘n aangrypende verhaal van verlies en smagting: ‘n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie dus, wat vele herlesings opeis. ‘n Ander pragverhaal is Cecile Cilliers se ontleding van ‘n ouer vrou, ‘n weduwee, se verlange na haar man: “Brood”. Die verhaal word ingebed binne die religieuse simboliek van die nagmaal en ek ken min verhale waarin lyfhongerte so goed uitgebeeld word.

“Die bakker se dogter / die melkman se seun” deur Zirk van den Berg ondersoek die moeilike ruimte van die kortstondige affaire, wat erotiek op die voorgrond stel, uiteindelik lei tot groter eensaamheid en verlange as tevore. Diek Grobler onthul stadig maar seker die ware aard van die optelvrou in “Winskopie”, ‘n besondere sterk verhaal.

Dit is ‘n versameling met ‘n wye aanbod, wat sowel die meer toeganklike verhaal as die meer letterkundige aanbod akkommodeer.

‘n Mens sou graag by elke naam wou stilstaan!

Bekende erotiese name mis ons wel.

Die voorblad – met ‘n gaatjie deur die een o van Bloots – maak van die leser uiteraard ‘n koekeloerder of voyeur in hierdie sub-genre wat meesterwerke soos Fear of flying, Portnoy’s complaint, Story of O, onder andere, gelewer het.

Dit is ‘n boek wat vra vir ‘n herwaardering van Die dye trek die dye aan met erotiese gedigte, saamgestel deur Antjie Krog en Johann de Lange.

Lees Bloots, bloot vir die lekkerte of vir die blootstelling van die verbeelding. Of sonder saal!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top