Joan Hambidge

Joan Hambidge is digter, kritikus en romanskrywer en verbonde aan die UK se Skool vir Tale. Sy doseer Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk. Sy is vakgroephoof van Afrikaans en waarnemende hoof van Italiaans.

Vir haar bundel Visums by verstek ontvang sy die ATKV-prys en vir Bitterlemoene die Eugène Marais-prys. Die Litera-prys word toegeken aan haar gedig "Eugène Marais" uit Lykdigte.

***

Eugène N Marais (1871 - 1936)

Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.

- Dorothy Parker

I

Hoe durf ek skryf oor jou: 'n onbekende?
Gereduseer tot "geval", morfinis, afwykende...
Boonop in 'n onbekende tyd...
Hoe kan  ons ooit in 'n gedig regstel
dit wat jou ontneem is (soos 'n ongeskryfde gedig) en aan jou toegedig word: 'n lewe in 'n verkeerde tyd, ruimte, dimensie - jou tyd vér vooruit?

II

Die vers broei wekelank in my.
Jy is meer as 'n 'groot verlange';
gestol in die agterruimte van 'n kleinlike tyd sien jy alreeds die onbewuste in 'n miernes; weet die enkeling is ontersaaklik vir die groter geheel.
Iets onsigbaars, onsêbaars (noodlot het geen dekorum) bly talm: hesperiese flitse van verdriet.

III

Daar word beweer die jongste van dertien 'n Vervloekte met 'n Kaïnsmerk:
Onsigbare, tastende Derdeoog.
Doodsbalju, kroonprins van die hel
besef as klein kind die wonderwerk van vooraf
weet: 'n kooltjie vuur stig 'n bosbrand aan.
(N)iemand kon die lyne in jou palm lees:
die selfmoordenaar, 'n swart forel, beur stroomop.
Wis van jongs af sy verdoemende lot:
stuur af op 'n swak gerepeteerde slot.

IV

Iewers vertel die heldersiendes kan ons vervloektes red:
bevry al die visse in die see...
Alles begin oënskynlik met 'n spel: die smokkel met sinne eers 'n heling teen insomnia; later 'n nuttelose panacee teen senu-uitputting, Die dobbelsteen bly verkeerd val; die kaarte wys 'n ómgekeerde Skoppensboer.

V

 

Dit staan geskryf teen die tempels
in moeilik-ontsyferbare hiërogliewe
teen die graf van Ramses II
dat vrede vir die vervloekte wél bestaan.
"Daar sou ek vrede weer besef
waar Tebes in die stil woestyn"...
Die gedig skryf sigself; vang die boodskappe uit die ander oord onbevange op.
Laasnag droom ek van jou - met jou panamahoed en dandy-pak in Egipte:

VI

"O Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoé lank het ek gewag, hoe lank gedroom
Die lem van liefde wroegend in my hart?"
Vir jare sou die koors van berou, verwyt om jou hang en elke geliefde of flirtasie weer daardie eerste verlies uitspeel:
'n droewe deuntjie op 'n outydse pianola..
En toe jou moeder sterf, in in teen die Groot Niet kon sy jou ook nie vertroos; net verder ontstig met haar doodswoorde: "Daar's niks."

VII

Ses dekades later in die wagkamer
tussen hier en die on-sienlike Daar
wonder ek: hoe kan 'n mens jou verlos?
Spiritiste meen mens bly gevange:
herhaal die skoot oor en oor
soos 'n teisterende droom
sonder logiese begin of einde
maar met die flitsende boodskap:
"O, Diep Rivier, O Donker Stroom..."

VIII

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer 'n skedel...
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van 'n slang.
'n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: 'n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
'n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dices skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
'n Walvis sluk jou heelhuids in.

L'envoi

IX

Van gesoignéerde, strydvaardige joernalis gedemoveer tot bedremmelde, behoeftige boemelaar.
Is daar nog trane vir poësie?
Of leef jy nog in die selfgeskepte hel
van sinsbedrog, 'n noodlotsroep?
Vanaand swem al die visse
van die Tierra del Fuego tot Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok
en roep:" Hy's bevry, hy's bevry!"

***

Joan Hambidge skryf ook romans - soos Kladboek wat in 2008 verskyn het - en satiriese romans soos Swart koring.

Sy resenseer gereeld vir Versindaba, LitNet, Beeld en haar blog heet: Woorde
wat weeg.

Carina Stander, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Karen Kuhn en
Hennie Nortjé het solobundels onder mentorskap geskryf.

Sy begelei tans vier MA's in Kreatiewe Skryfwerk en twee PhD's.

Sy behaal 'n tweede PhD aan die UK in 2000 oor gender. Sy skryf 'n studie
oor die werk van Johann de Lange wat op haar blog te vinde is.

Sy skryf tans aan 'n roman (Die buikspreker) en 'n digbundel (Matriks).

Lys van onlangse boeke:

Meditasies. Human & Rousseau, Kaapstad. 2014.

Lot se vrou. Human & Rousseau, Kaapstad. 2012.

Visums by verstek. Human & Rousseau, Kaapstad. 2011.

Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad. 2009.

Kladboek. Protea, Pretoria. 2008.

Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2008.

Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2006.

En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005.

Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004.

Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002.

Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001.

Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998.

Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998.

Swart koring. Human & Rousseau,  Kaapstad. 1996.

Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995.

Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.

Foto: Jan Marais

 

Vir hulle skryf ek dan my gedigte

Joan Hambidge 2012-05-03 "Maar dis break, blow, burn in dié bedryf."

Meditasie, siekte

Joan Hambidge 2012-04-26 Daar bestaan geen skeduleringstatus
of teen newe-effekte: ’n waarskuwing.
Spesiale voorsorgmaatreëls, beslis.

Boekedag 2012: Joan Hambidge kies ’n karakter

Joan Hambidge Boeke en skrywers 2012-04-19

As jy enige karakter in ’n boek kon wees, wie sou jy wees en waarom?

Meditasie, ’n Aubade?

Joan Hambidge 2012-03-28 Eers die wekker, dan die SMS’e,
die wasmasjien laai en koffiemasjien aanskakel,
’n film plaas in die buik van die DVD-speler,
badwater aandraai, dan die oefenfiets bestyg.

Wessel Pretorius (1949–2012)

Joan Hambidge 2012-03-16 "Jou nooit ontmoet nie, net jou laatnagvrese op papier herken;"

LitNet Akademies: Jane Alexander se Butcher Boys en Die Antwoord

Joan Hambidge 2012-02-23 Joan Hambidge lewer kommentaar op Jane Alexander se Butcher Boys en die kwessie van die banalisering van kunswerke.

Meditasie, jaloesie

Joan Hambidge 2012-02-08 Glo ’n doodsonde om afguns te voel, nydig te wees.
Op een punt wél verskoonbaar hierdie emosie van groen:
as jy nie met afguns kyk na meesters van dié spel,
word jy uiteindelik doodgesmoor deur ’n stom koord.

Reis, ’n meditasie

Joan Hambidge 2012-01-30 In ’n droom haal ek rakelings ’n trem,
twee kaarte in my hand na ’n bestemming
op ’n heuwel langs ’n onbekende corniche.

Digkuns, ’n meditasie

Joan Hambidge 2012-01-30 Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry
en sy worsteling met die groot stiltes.
Hoe verwoord ’n mens dit, die grootste Abstraksie?

Meditasie, tyd

Joan Hambidge 2012-01-17  Joan Hambidge se meditasie oor tyd en ruimte, en die Brooklyn-brug

Meditasie, tussen stede

Joan Hambidge 2011-12-14 Meditasie, tussen stede

Die geykte uitdrukking
Eating one’s heart out doem
voor die geestesoog op
tussen twee stede: San Francisco
en Los Angeles. Heilige Franciscus?

Los Angeles, ’n meditasie

Joan Hambidge 2011-12-14 Los Angeles, ’n meditasie

Soos ’n spoorsnyer in die digte bos snuffelend
aan klein tekens stap ek in hierdie stad verby
’n hotel waar ek as jongeling met ’n leerbaadjie vertoef.

Meditasie, Herinnering

Joan Hambidge 2011-12-07 Trocadéro,
dié woord soos ’n herinnering
aan of indruk van ’n vreemde stad,
’n herhalende droom verskyn dit
een nag aan my: Tro-ca-dé-ro …
Iewers gehoor, gelees, gesien?

Gender is ’n konstruksie

Joan Hambidge 2011-12-06 My pa

My pa
wou ons Sondae treat
met ’n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.

Tokio, 'n meditasie

Joan Hambidge 2011-12-01
Top