In ’n droom haal ek rakelings ’n trem,
twee kaarte in my hand na ’n bestemming
op ’n heuwel langs ’n onbekende corniche.
Die deur van die trem sluit nie dig nie
en ’n man kyk toe, grynslag oor my nood,
sukkelend om die sluitende deur te ontglip.
By aankoms is beide kaartjies helaas soek.
In die hotelsitkamer is daar geselsende gaste
en al die skons is onder in ’n glastafel toegesluit.
Geen kelner kom nader en op die agtergrond
herken ek bekende gesigte asof by ’n kongres:
Die Dood, ’n metafisiese samekoms.
Is dit Uys Krige in gesprek met Borges?
My moeder sit langs my en wat verder
in hierdie troebel gedig gebeur, laat ek oor
aan die speurende leser van hierdie droom.

