LitNet Akademies: Jane Alexander se Butcher Boys en Die Antwoord

  • 0

Tydens die debakel rondom Jane Alexander se Butcher Boys gee ek ’n kursus oor die postmodernisme. ’n Ongelooflike interessante toetsgeval vir jong studente oor hoe die beginsels van die postmodernisme wat in die tagtigerjare grensverskuiwend was, nou intense etiese probleme aktiveer. Terwyl hierdie polemiek plaasvind, kyk ek weer na ’n openbare lesing van Žižek en ek dink na oor die “parallax view”.

Alexander neem standpunt in via ’n prokureur om die integriteit van haar kunswerk te beskerm toe die Zef-musiekgroep, wat nou opslae maak in die VSA, sonder toestemming haar kunswerk gebruik het. Ondertussen is die musiekvideo van die internet verwyder – ofskoon duisende mense dit waarskynlik reeds afgelaai het.

(Die slim send-ups van Ballen is wel nog beskikbaar.)

Is dit kopieregskending of nie? Mag dit? Of is dit blote politiek-korrektheid van ’n kunstenaar?

Melvin Minnaar, ’n gesiene kritikus, het ’n interessante perspektief hierop gehad in Die Burger nou onlangs.

Wat van die beginsel van “inter-art traffic”? Moes Anthony Hecht eers toestemming gevra het alvorens hy “Dover beach” gebanaliseer het in “The Dover bitch”?1

Jane Alexander se kunswerk maak inderdaad sterk politieke uitsprake, veral binne ’n konteks van menseslagting wat in die ou apartheid-era hoogty gevier het. Sy is steeds in die lewe en in staat om stappe te doen. Sou sy egter haar kunswerk nadoods kon beskerm? Sou die kunstenaar van die Mona Lisa ooit vrede gehad het met sy kunswerk wat in uiterste vorme gebanaliseer en geparodieer is? Soms grappig, soms banaal.

Wanneer ’n kunstenaar ’n kunswerk in die openbare domein plaas, verloor hy/sy beheer oor hoe die werk geïnterpreteer gaan word. Die gebrek aan historiese sin en identiteit, gepaard met ’n hiperintense belewenis van die hede, is al deur intellektuele uitgewys as ’n kritiek teen die postmodernisme, soos Bert Olivier in Tydskrif vir Literatuurwetenskap, Desember 1989: “Simbolisme as werklikheidsbenadering: watter werklikheid?”.

Postmodernistiese reaksies verskuif dikwels oorspronklike kunswerke uit ’n bepaalde konteks, en juis in hierdie verskuiwing word die oorspronklike kunswerk opnuut bekyk en begryp. Jane Alexander behoort eerder te fokus – hoe ontstig sy ook al mag wees – op die nuwe lewe wat die Zeff-erelli’s in haar kunswerk geblaas het met hulle ontoepaslike reaksie.

Dieselfde geld Rick Meyerowitz se kunswerk Mona Gorilla uit 1971, waar die gesig gebanaliseer word.

Rick Meyerowitz se Mona Gorilla (1971)

Umberto Eco se The role of the reader – Explorations of the semiotics of texts (Hutchinson, Londen, 1979) verwys immers na die “inferential walks” wat die leser (hier kyker) in interpretasie maak. En natuurlik, waarsku Eco, moet ons altyd ons voorspellings korrigeer wanneer ons lees of interpreteer. Hy het ons immers ook attent gemaak op die beginsels van “blow up” en “narcotize” wanneer ons interpreteer.

En natuurlik is daar altyd ’n model-leser (-kyker) vir enige teks, maar dit is lankal nie meer in die hande van die kunstenaar wanneer die kunswerk in die openbare domein land nie. Die kunstenaar kan nie die resepsie beheer nie. Die teks wat oop is vir enige interpretasie, is ’n “closed text” en Die Antwoord het ons juis deur hul herkontekstualisering teruggeneem na die konsep van “intertextual overcoding” en ons nuut laat kyk na Alexander se Butcher Boys. En ons weer laat nadink oor konteks, die apartheidsverlede, die magtige invloed van die internet, kits-kunswerke teenoor ernstige besinning oor vergrype, en waarskynlik, die koms van ’n nuwe stylbeweging. 

In Jonathan Culler se terme is dit ’n kwessie van “framing the sign”. Dit is ’n komplekse kwessie. Waarskynlik omdat dit op die impak van die moderne tegnologie se disrespek wys en ook (waarskynlik volgens sommige teoretici) dat daar ’n keerpunt gekom het in die snor-op-die-Mona-Lisa-plak-aanslag.

Dit is egter altyd hierdie soort keerpunte wat dui op iets nuuts in die kunsgeskiedenis. Omdat ons te na aan hierdie Wendepunkt staan, kan ons nog nie die volle impak begryp nie.

1The Dover Bitch
Anthony Hecht

A Criticism of Life: for Andrews Wanning

So there stood Matthew Arnold and this girl
With the cliffs of England crumbling away behind them,
And he said to her, “Try to be true to me,
0And I'll do the same for you, for things are bad
All over, etc., etc.”
Well now, I knew this girl. It's true she had read
Sophocles in a fairly good translation
And caught that bitter allusion to the sea,
But all the time he was talking she had in mind
The notion of what his whiskers would feel like
On the back of her neck. She told me later on
That after a while she got to looking out
At the lights across the channel, and really felt sad,
Thinking of all the wine and enormous beds
And blandishments in French and the perfumes.
And then she got really angry. To have been brought
All the way down from London, and then be addressed
As a sort of mournful cosmic last resort
Is really tough on a girl, and she was pretty.
Anyway, she watched him pace the room
And finger his watch-chain and seem to sweat a bit,
And then she said one or two unprintable things.
But you mustn't judge her by that. What I mean to say is,
She's really all right. I still see her once in a while
And she always treats me right. We have a drink
And I give her a good time, and perhaps it's a year
Before I see her again, but there she is,
Running to fat, but dependable as they come.
And sometimes I bring her a bottle of Nuit d' Amour.

Klik hier om Jaco Barnard-Naudé se essay "Menswees, menslikheid en monsters - die beeldhoukuns van Jane Alexander" te lees.

Klik hier om Jaco Barnard-Naudé se LitNet Akademies-artikel “Die politiek van broederskap: Jacques Derrida, Jean-Luc Nancy en Jane Alexander se the Butcher Boys” te lees.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top