LitNet Akademies: Menswees, menslikheid en monsters – die beeldhoukuns van Jane Alexander

  • 0

Verskeie kunstenaars het vandeesweek kritiek uitgespreek oor die beeldhouer Jane Alexander se regstappe teen Die Antwoord, nadat Die Antwoord haar beroemde beeldhouwerk Butcher Boys sonder toestemming in 'n musiekvideo gebruik het. Volgens Alexander se prokureur het sy die stappe gedoen ten einde die integriteit van haar werk te beskerm. Die video is intussen van die internet verwyder. Wanneer 'n mens die vraag vra of 'n kunstenaar die reg het om die integriteit van haar werk te beskerm waar dit reeds gepubliseer is en in die openbare sfeer sirkuleer, is dit belangrik om die konteks van die kunswerk en die skepping daarvan in ag te neem.

En as dit kom by die kuns as sosiale kommentaar en as produk van die konteks waarin dit sigself bevind, geniet Jane Alexander se werk in Suid-Afrika ikoniese status. Die Butcher Boys, wat Alexander vir haar MA in beeldende kuns geskep het, het spoedig internasionale erkenning verwerf en is vandag een van die mees gesogte beeldhouwerke in besit van die Nasionale Galery in Kaapstad. Hoewel dit reeds in 1985 geskep is, kom besoekers steeds van oor die wêreld om die Butcher Boys “in lewende lywe” te ontmoet.

Die kunskenner Emma Bedford beskou die Butcher Boys as emblematies van die visuele kuns wat tussen die begin tagtigs en die vroeë negentigs in Suid-Afrika geskep is. Die jaar 1985 roep beelde van politieke onluste, geweld, noodtoestande en intense angs in Suid-Afrika se politieke geskiedenis op. Dit was die tyd waarin die struggle vir vryheid en die stryd om die behoud van apartheid op die spits gedryf is. Hierdie konteks is bepalend wanneer mens die betekenis of artistieke bedoeling – die integriteit – daarvan wil vasstel.

Die Butcher Boys bestaan uit drie oënskynlik manlike menslike figure wat in verskillende sittende posisies op ’n eenvoudige bankie uitgebeeld word. Die kop, gesig en liggaam van elkeen van die drie figure word egter deur die kunstenaar vervorm. Hoewel die Renaissance-agtige proporsies van die manlike liggame sigbaar bly, verhul Alexander die geslagsdele. Met hierdie tegniek problematiseer sy beide die geslag en geslagtelikheid van die beelde en sinspeel dus op gender-kwessies. Die Butcher Boys se monde is strak en misvormd, die oë glasig en donker. Dierhorings is op verskillende wyses op elke hoof gemonteer en die ore bestaan slegs as gate weerskante van elke hoof. Die neuse is ongedefinieerd en smelt as ’t ware in die groteske monde saam. Verder word die rugkant van elke beeld in ’n vertikale snit in die middel oopgekloof en die suggestie is dat die figure ruggraatloos is. Die kunstenaar bring ook ’n soortgelyke donker vertikale snit vanaf die nek tot die nawel aan. Die gips waaruit die beelde gemaak is, het ’n blanke doodskleur, sodat mens nooit seker is of jy hier besig is om ’n uitbeelding van lewendes of dooies - of eerder lewende dooies - te aanskou nie. Die algehele indruk is een van monsteragtigheid, ’n sinspeling op die mens as monster of ’n ontbloting van dit wat monster (of boos) is in die mens – ook dan van dood of dodelikheid as iets monsteragtig.

Alexander lap nooit in onderhoude haar bedoeling met haar kuns uit nie. Hierdie strategie van verswyging by die outeur/skepper noop die toeskouer wat die werk se boodskap wil begryp telkens om op sowel die histories-politieke konteks waarin die kunswerk geskep is as die konteks waarin dit aanskou word, in te gaan. Slegs die titel van die werk is ’n suggestie van die moontlike betekenis in die konteks. Weens die konteks waarin die Butcher Boys geskep is, word hulle oor die algemeen beskou as ’n artistieke stelling oor die brutaliteit van apartheid. Die werk word dus grotendeels gelees as ’n testament van die eksistensiële skade wat apartheid aan beide slagoffer en misdadiger aangerig het. Dit word gesien as ’n oproep tot besinning in ’n samelewing wat siek was van dekades van nasionalistiese totalitarisme. Dit is dan ook insiggewend dat die Butcher Boys tekens toon van verwantskap, byna asof dit drie broers is wat verveeld daar op die bankie sit en wag vir hul volgende moorddadige opdrag. Hierdie toespeling is nie toevallig nie – dit sinspeel duidelik op die destydse Broederbond wat as ’n organisasie ’n kritieke rol in die voortbestaan van apartheid gespeel het.

Maar is die Butcher Boys slegs vasgevang in die geskiedenis? Is hierdie werk bloot ’n historiese stelling oor die groteske dimensies van apartheid, oor die monsteragtigheid van apartheid se misdadigers? Sou ’n toeris wat die werk in 2010 in die Nasionale Galery te siene gekry het (gedurende die uitstalling van Suid-Afrikaanse kuns wat met ons gasheerskap van die Wêreldsokkerbeker saamgeval het), dit eenvoudig kon beskou as bloot ’n negatiewe stelling oor ons betreurenswaardige politieke geskiedenis? Hier moet mens in gedagte hou dat die betekenis van ’n kunswerk waaroor die kunstenaar haar bedoeling verswyg, beteken dat die werk sy betekenis ook aflei uit die konteks waarin dit aanskou word, teenoor die konteks waarin dit tot stand gekom het. In hierdie opsig bly Alexander se Butcher Boys soveel ’n artistieke kommentaar op die huidige politieke en maatskaplike vergrype in Suid-Afrika (en die res van die wêreld) as wat dit ’n stelling is oor die apartheid-konteks waarin dit geskep is. Ivor Powell dui dan ook daarop dat die Butcher Boys beeldend is van menslike brutaliteit as sodanig. Dit dui op die gevolge van ’n verlies aan menslikheid en deernis - dat monsteragtige dade nie net op slagoffers ’n brutaliserende uitwerking het nie, maar ook op hulle wat hierdie dade pleeg. Hierdie aspek is waarskynlik verantwoordelik vir die internasionale aanhang wat Alexander se werk geniet – dit resoneer nie net in ’n bepaalde geskiedenis nie, dit is ook pertinent kommentaar op die afstootlikhede van die hede. Soos Arun Saldanha opmerk: “The abuse of legality in the ‘war on terror’, the torture at Abu Ghraib, the detention of refugees, and human rights struggles across the world hover around these bodies like a fine and unnerving mist.” Alexander se werk wys op die menslike bestaan as ’n gesplete bestaan, in wese ’n weerlose bestaan - ’n bestaan tussen goddelikheid en dierlikheid, tussen rede en irrasionaliteit – by uitstek ’n tussenin, vloeibare bestaan wat maar altyd besig is om te verander, nog besig is om iets (anders) te word.

Mense wat Alexander kritiseer vir haar weiering om haar beelde met die huidige vlaag van Zef te verbind, behoort na te dink oor die konteks en eties-politiese boodskappe van die Butcher Boys.
 

Klik hier om Jaco Barnard-Naudé se LitNet Akademies-artikel "Die politiek van broederskap: Jacques Derrida, Jean-Luc Nancy en Jane Alexander se The Butcher Boys" te lees.

Klik hier om Joan Hambidge se essay “Jane Alexander se Butcher Boys en Die Antwoord” te lees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top