Meditasie, jaloesie

  • 1

Glo ’n doodsonde om afguns te voel, nydig te wees.
Op een punt wél verskoonbaar hierdie emosie van groen:
as jy nie met afguns kyk na meesters van dié spel,
word jy uiteindelik doodgesmoor deur ’n stom koord.
Dus bely ek my digterlike nydigheid sonder skroom:
wens ek kon klassieke reëls soos Totius opdroom
en weet, die wêreld ís beslis ons woning nie, bepaald.
Of soos Eybers emosies netjies in vorms verpak;
elke rymwoord gekwatryn, perfek getwaalfdosyn.
Sou ek in die liefde soos onse Olga Kirsch ylings
my geliefde tegemoet kon gaan, kon ek onverwyld
op ’n digterlike hemel aanspraak maak. En Blum?
Ina R se Eden lankal verlaat vir stryd in ’n woordehel.
Nou superbia, avaritia, luxuria, invidia, gula,
ira en acedia op my digterlike ouija-bord gevel.
Ek gooi pyltjies, na my opponente, een vir een,
kyk na die Norton en Dirk-der-duisende se rooi Bybel,
en weet die ware digter se bloed vloei smaraggroen.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top