Die groot gelykmaking
het toe ook gebeur met ons pop-digter,
praat-digter, ons eie Beat-digter.
Jou nooit ontmoet nie, net jou laatnagvrese
op papier herken;
’n keer of wat telefonies met jou gepraat,
onthou Mickey Mouse as ’n masker op die voorblad
en Storm Sevenster se roesemoes.
“Stadig, stadig oor die klippertjies,
die dop waai sulke wonderlike druppeltjies.”
Ek drink vanaand ’n glas op jou,
eensame man, glo eendag
in ’n boekwinkel ’n digbundel van jouself
op die lyf geloop, met ’n inskripsie aan haar,
oor wie jy oorhoeks was. ’n Dubbele afsegging,
sou jy later meen, met ’n dubbel-skots op die klippe.
Só is dit dan met hierdie bedryf.
Terwyl jy leef, gru die geliefde vir die gedig,
word jy misverstaan deur lesers
én die projekbestuurders van die literatuur:
jy pas nie eintlik in nie; te loslit en aweregs.
En alles loop op die rotse.
“Dis daar waar die son en die maan ondergaan.”
Miskien wis jy tog
(met die verlepte blomme in die drinkwater
en die swetende seep in die buitekamer)
dat ’n vers
altyd huis toe verlang soos ’n brandsiekhond
wat sy stinkende baas bly soek
oor dale en ver verby klippers,
al is hy nou ondergronds.
“Bokka jy moet huis toe gaan.”


Kommentaar
Wonderlike onthou van 'n digter wat nooit na waarde geskat is nie. Dankie hiervoor.