
Joan Hambidge reageer op die artikel in BY, "Hoe om masochisme te systap".
So al om die hawerklap beleef dosente wat skryfwerkswinkels aanbied ongevraagde dwarsklappe van kollegas. Of dit nou 'n resensie van 'n oningeligte jongeling is wat meen dat daar nog nooit iets goeds uit skryfskole gekom het nie, of 'n apologia pro domo van Hans Pienaar wat selfpublikasies bemark, kritiek is daar kritiek (BY 14 deser). Pienaar praat van die eienaardige “veldtog” teen selfpublikasies en soos ek die begrip veldtog verstaan, is dit 'n krygstog, kampanje, aanvalstog, teveldetrekking, aanvalsonderneming, aldus Eksteen in sy Sinoniemwoordeboek.
"Maar die mense in beheer, van ons koerantbase tot akademici, trap erg klei en probeer vasklou aan die ou maniere van doen," skryf hy. En besluit hy verder: "Die gevolg is talent word grootliks gekniehalter?–?soos met die houding dat selfpubliseerders nie werk van gehalte kan lewer nie." Ook moet ons verneem dat die hoofstroomuitgewers se gebruik van steeds "argaïese metodes" tot gevolg het dat skrywers self hulle boeke uitgee. En verder argumenteer hy: "Baie hiervan is onder die radar; dit systap die masochistiese proses van keuring, redigering en kritiek wat jou soms deur die hel sit, soos die Ingrid Jonker-pryswenner Hennie Nortjé dit stel. Baie skrywers is tevrede met ’n oplaag van 600 of so wat net deur ’n klein groepie mense gelees word."
Keuring, redigering en kritiek is, terloops, deel van die skryfwerkswinkel wat ek aanbied aan die UK, 'n slypskool waarby ek meen dat Nortjé baat gevind het. En so ook ander gepubliseerde digters soos Carina Stander, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Aniel Botha (onder andere). Gevestigde digters word eweneens blootgestel aan keuring, redigering en kritiek: as dit nie vir ingeligte lesers was wat keurverslae skryf en kundige redigeerders aan uitgewershuise nie, sou vele boeke in die slag gebly het. Dit was die suksesvolle Deon Meyer wat agter Etienne Bloemhof aangetrek het toe hy van uitgewershuis verwissel het; ek kan as digter verstaan presies wáárom Meyer hierdie uitgewer gevolg het. Vir 'n meer ingeligte en puntenerige redakteur/uitgewer/raadgewer sal jy ver soek.
Ek haal Pienaar weer aan – hierdie keer is sy visier op Henning Pieterse, by wie hy 'n MA in kreatiewe skryfwerk voltooi het: "Soos Henning Pieterse, skrywer en akademikus dit gestel het by die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys verlede jaar: 'Net hier en daar is ’n ou waaraan jy aandag kan gee.'”
En vervolg hy: "Die probleem is die 'hier en daar'. Pieterse hoef net oor die grasperk by Tukkies te stap na die departement van statistiek om uit te vind as iets hier is, en daar ook, is dit genoeg om statistiese relevansie te hê."
En verder alte dwingend: "Die feit is hoofstroomuitgewers lewer ook maar net hier en daar werke van gehalte. As jy die magdom swak geskrewe selfpublikasies wil gebruik om die enkele diamante ook af te skiet, moet jy dieselfde met die hoofstroom doen."
Miskien lees hy nie kritiek nie? Miskien weet hy nie van resensies wat negatief is oor hoofstroom-publikasies nie? En is daar navorsing gedoen oor die verkope van sogenaamde "meesterskrywers" wat swak verkoop? Waar kom hy daaraan dat hoofstroomuitgewers net een keurder gebruik? Hoekom moet 'n keurder met 'n skrywer kommunikeer? As die skrywer se teks nie alles reg oordra nie, is die keurder beslis nie skuldig aan 'n mislesing nie ...
En ons het Pienaar op rekord met die volgende stelling: "Omdat keurders se identiteit nie bekend gemaak word nie, is dit ’n ou praktyk by sommige uitgewers om die 'verkeerde' keurder te kies – iemand wat hulle weet ’n bepaalde manuskrip sal afskiet. Keurverslae word selfs vervals; die digitale revolusie maak dit moontlik om ongewenste bevindinge uit te haal, of om eenvoudig die gewenste paragraaf iewers in te voeg."
My bloed het egter begin kook toe ek verneem dat MA-werkswinkels inteling bevorder.
En ja, dat die "vrye vers" die ideologie van die werkswinkel is. Waar kom hy aan hierdie twak? Jong digters skryf rondele, distigons; die villanelle word beproef, en so meer!
Dis hoe dit geformuleer word: "MA-werkswinkels bevorder die inteling waaraan klein letterkundige bedrywe soos Afrikaans s’n ly. Gewone mense hou van rym, byvoorbeeld, terwyl vrye vers die ideologie van die werkswinkel is. Is dit dalk die rede waarom die digkuns nie gewild is nie?" Ook bemark hoofstroom-uitgewers nie hul boeke genoegsaam nie. Wel: ek had alreeds twee bekendstellings en die Woordfees is om die draai.
Die klinkende slot noem ons 'n drogrede: "Selfpublikasies is ’n manier om die denkruimtes van Afrikaans te verruim. Net om dié rede behoort akademici neutraal te bly en dit op ’n meer wetenskaplike wyse te benader."
Neutraal bly as jy sulke veralgemenings moet verduur?
En daar is goeie selfpublikasies, soos die poësie van Charl JF Cilliers.
Joan Hambidge
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


Kommentaar
Ek het Saterdag Hans Pienaar se artikel in BY gelees en daarom uitgesien na Joan Hambidge se beredeneerde essay in reaksie daarop. In paragraaf een verwys sy na ongevraagde dwarsklappe van kollegas, oningeligte jongelinge en eindig later met haar bloed wat kook. Te veel emosie en oop senuweepunte laat ’n mens soms te gou na die pen gryp, en so waai rasionele denke by die figuurlike venster uit – geen Sinoniemwoordeboek vir hierdie een nodig nie.
Vir meer agtergrond oor Joan Hambidge se werk, klik hier: https://www.litnet.co.za/Article/arendsnes-wraak-is-n-motief-
Jonathan Jansen het Sondag in Rapport bepleit dat akademici moet wegskram van woorde soos diskoers analise, jukstaposisie, konstruk, emuleer en ander groot woorde (goed, ek het self ’n paar bygevoeg) – woorde wat individue maklik kan laat glo dat hulle intellektuele is; dit verhinder gewone ouens om saam te debatteer.
So by die sewende paragraaf van Hambidge se opinie volg enkele retoriese vrae. Ek veronderstel dit is aan my gerig, die leser? Oukei. Ek glo Pienaar se mening is juis baseer op die lees van kritiek en resensies oor hoofstroom-publikasies (inaggenome die uitsonderings).
Waar kom hy aan sulke twak ... bla-bla-bla ... drogrede ... bla-bla-bla ... neutraal bly as jy sulke veralgemenings moet verduur ... Nogal.
Uit haar repliek lei ek dus af dat Joan Hambidge baie kwaad is. Dit versterk natuurlik Pienaar se argument dat daar nie op hoofstroom-tone getrap mag word nie (veldtog, krygstog, kampanje, aanvalstog, teveldetrekking, aanvalsonderneming).
Ingeteel of te nie.
Henning Janse van Vuuren
Hallo Joan,
Bostaande reaksie van u op Hans Pienaar se skrywe in ’n ander publikasie (Die Burger) stel my teleur.
Ek staan onpartydig oor die aangeleentheid. Beide u en Hans Pienaar is wat my betref, twee digters met gelyke regte en dit sluit vryheid van spraak in.
U reaksie op sy skrywe stel my teleur want ek sien u skrywe op hierdie webwerf, LitNet, as onvanpas, want dit is nie regstreeks verwant aan die dagblad Die Burger waar Hans Pienaar se skrywe verskyn het nie).
U skrywe stel my teleur want ek kry die indruk dit is emosioneel gelaai, pleks van redelik en bloot intellektueel; die reaksie van een digter op die mening van ’n ander wat ’n heel ander verwysingsraamwerk as u beleef en vanuit daardie ruimte leef en werk.
U reaksie stel my teleur, want ek kry die indruk dit bied nie ruimte vir ’n ander digter se vryheid van spraak nie.
U skrywe stel my ook teleur, want ek kry die indruk u leef in die verlede waarin daar nie geleentheid is vir ontwikkelinge soos tegnologie wat boeke druk volgens bestelling nie, maar tog is sodanige druk reeds etlike jare voldonge feit en dit stel my teleur dat u die indruk by my skep dat u nie die groter prent soos wat Hans Pienaar se skrywe dit illustreer raaksien nie.
Bespiegelings soos (ek haal aan uit u skrywe) “Miskien lees hy nie kritiek nie? Miskien weet hy nie van resensies wat negatief is oor hoofstroom-publikasies nie?” sorg ook dat u skrywe my teleur stel.
Met die lees van u reaksie, het ’n boel vrae in my kop gestol: Wat regverdig gebruik van LitNet vir hierdie reaksie van u? Waarom op LitNet polemiek oor Hans Pienaar se skrywe wil ontlok? Waarom nie u reaksie rig aan Die Burger waar Hans Pienaar se skrywe verskyn het nie? Is Hans Pienaar nie geregtig om ’n alternatiewe manier van publikasie vir digters te bevorder as hy dit wil doen nie? Waarom die bespiegelings soos hierbo aangehaal?
U begin u reaksie met gebruik maak van aanhaling uit ’n sinoniem-woordeboek (Eksteen) as bron vir u reaksie op Hans Pienaar se gebruik van die woord “veldtog”. Waarom verwysings na sinonieme gebruik in u reaksie, pleks van ruimte toelaat vir uitbreiding van betekenisse van woorde agv verloop van tyd?
Ek het u aanhaling uit Eksteen in sy Sinoniemwoordeboek “met verwondering” gelees, want vir my het dít het vir my besonder argaïes gelyk. Dit is tog sekerlik alom bekend dat woorde met verloop van tyd (asook met verskuiwing van verwysingsvelde) heel dikwels verskeie addisionele betekenisse bekom en dat sulke betekenisse grootliks verskil van die woorde se oorspronklike betekenisse.
Vir iemand soos Hans Pienaar wat ’n aansienlike tydperk van sy lewe bestee het aan joernalistiek, verwys die woord “veldtog” waarskynlik, meer na “propaganda en reklame” as na - ek haal aan uit u reaksie op Hans Pienaar se skrywe “en soos ek die begrip veldtog verstaan, is dit 'n krygstog, kampanje, aanvalstog, teveldetrekking, aanvalsonderneming, aldus Eksteen in sy Sinoniemwoordeboek.”
Ek kry die indruk dat die vertrekpunt van u skrywe is een van “aanval is die beste verdediging”. Is dit miskien te wyte daaraan dat u aangeval voel, want u skryf: “My bloed het egter begin kook toe ek verneem dat MA-werkswinkels inteling bevorder.”
Vir die onpartydige leser is dit duidelik dat Hans Pienaar u, en die werkswinkels wat u aanbied, glad nie aangeval het nie, maar skryf oor nuwe moontlikhede wat tegnologiese mylpale vir digters en skrywers voortgebring het en dat hy ook sy mening lug oor MA-werkswinkels in die algemeen se uitwerking op ontwikkeling in die skryfkuns, spesifiek skeppend skryf in Afrikaans. Reg, of verkeerd, waar of onwaar, Hans Pienaar het die reg om sy mening oor hierdie onderwerp te lug. Volle akademiese verhandelinge, met grondige bewyse, sal waarskynlik mettertyd Hans Pienaar se mening staaf, indien sodanige redes bestaan, anders nie.
Maar, is MA-werkswinkels die enigste invloed op ontwikkeling van skeppend skryf in Afrikaans? Ook, is die MA-werkswinkels wat u aanbied, die enigste?
U sou my beïndruk het as u geskryf het dat u “bly koelkop”, maar bloed wat kook gee vir my die indruk dat u emosies het hier oorhand oor u oordeelsvermoë.
Dit is nie my bedoeling om hare te kloof oor betekenis van die woord “veldtog” nie, maar om te illustreer dat betekenisse van woorde verander gedurig en ek kry die indruk u emosionele reaksie is gegrond op sinonieme vir ’n woord (veldtog), en nie die konteks waarin die woord gebruik is nie.
Dus het ek die woord “veldtog” ingesleutel vir Pharos se vyf woordeboeke wat gelaai is op my rekenaar en die volgende aanduidings van gebruik en betekenisse vir “veldtog” het na vore gekom: EEN kampanje, =s. 1. Lang, georganiseerde werksaamheid met 'n sosiale of politieke doel, veldtog. 2. Militêre veldtog. kampanologie LET WEL Hans Pienaar is slegs een mens en dus nie in staat tot bostaande nie. Dus soek ek verder in Pharos. Bron: Pharos – Groot woordeboek TWEE na´tion: |nation-building ~-building, nasiebou; |nationhood ~hood, samehorigheid as nasie; nasieskap; |nationwide ~wide, land(s)wyd; nasionaal; |nationwide ~wide network, land(s)wye (nasionale) netwerk; a |nationwide ~wide campaign, 'n landswye veldtog. Bron: Pharos – Groot Woordeboek DRIE |campaign campaign´, (n) veldtog, kampanje; plan of |campaign ~, veldtogplan; (v) veldtog voer; op kommando wees; propaganda maak; |campaigner ~er, soldaat; veteraan, kryger, stryder; |campaign ~ fund, veldtogfonds. Bron: Pharos - Major Dictionaryh – Groot Woordeboek LET OP “propaganda maak”. VIER launch n. bekendstelling (v. boek); vrystelling, première (v. rolprent); première (v. toneelstuk); stigting (v. maatskappy); lansering (v. produk); onderneming (v. veldtog). launch ~ pad, launching pad (fig.) afspring=, wegspringplek. launch ~ vehicle, launching vehicle (ruimtev.) lanseertuig, lanseer=, lanseringsvuurpyl. launch ~ window lanseerpoort, =venster. LET OP die gebruik van “veldtog” binne NUWE WOORD indeling in Pharos en met betrekking tot “onderneming” soos in sake-onderneming, maw soos in die uitgewersbedryf.
Vir ’n mens wat heelwat van sy leeftyd gewy het aan joernalistiek (soos wat Hans Pienaar gedoen het) is dit redelik vir hom om “veldtog” te gebruik soos wat sakeondernemings reklameveldtogte verstaan en te aanvaar dat diegene wat dit lees dit ook in hierdie konteks so sal verstaan.
Vir iemand soos u, wat die woernaal “Woorde wat weeg” bedryf, sou dit beter wees indien u koelkop sou bly, pleks van emosioneel te reageer en betekenisse van woorde soos “veldtog” werklik sou weeg voordat u te velde trek.
Dit sou ook vir u beter wees om te reageer in dieselfde medium waar die skryfwerk waarop u reageer verskyn het, want deur om emosioneel in ’n ander medium te reageer, stel u teleur en doen u afbreuk aan die beeld wat u van uself projekteer.
Ek vind dit werklik jammer dat u so emosioneel reageer en dit op ’n werf wat nie deel gehad het aan die publikasie van die skrywe waarteen u kapsie maak nie.
Carl Muller
My reaksie is op LitNet geplaas op versoek van die redakteur van Litnet. BY het nie meer ‘n briewekolom nie en my reaksie daarin sou eers veel later kon verskyn.
Ene Carl Muller se teleurstelling – ‘n persoon wat kennelik diep in die wiek geskiet is – berus op verdere onkunde. UP, UOVS, Wits, Noord-Wes, Stellenbosch bied ook werkswinkels aan en ek het by geleentheid ook al by UP se winterskool werkswinkels aangebied vir digters.
En die pedantiese taallessie en die versoek dat ek moes reageer in dieselfde medium, naamlik die harde koerant wat nie plek het vir my reaksie nie, bewys dat ek juis die tegnologie steun.
Kyk selfs u het dit gelees. Dit is eweneens versend aan BY en die spreekwoordelike bal is in hul baan. Hopelik word dit ook daar geplaas.
Hans Pienaar se aantygings – soos dat keurverslae nie die waarheid vertel nie – behoef nog reaksie.
Die beeld wat ek van myself projekteer? Genugtig, u het kennelik nie kennis geneem van die beeld dat ek nie twak kan verduur nie.
Joan Hambidge
Dagsê Joan
Dankie die inligting dat “My reaksie is op LitNet geplaas op versoek van die redakteur van LitNet. BY het nie meer ’n briewekolom nie en my reaksie daarin sou eers veel later kon verskyn.”
Indien ene Carl Muller gestaan het in Joan Hambidge se skoene (of die skoene van enige ander persoon gemoeid met aanbied van skeppende skryfkuns werkswinkels) sou hy homself afgevra het “Presies waarom vra LitNet se redakteur vir my reaksie?” en “Is daar enige moontlikheid van ’n verborge agenda in LitNet se versoek , of is daar geen moontlikheid van ’n verborge agenda nie?” voordat ene Carl Muller (soos Henning dit gestel het) “Te veel emosie en oop senuweepunte laat ’n mens soms "te gou na die pen gryp ....” sy reaksie op ’n ander digter se koerantartikels vir LitNet gestuur het.
Ja, ene Carl Muller sou eers deeglik gedink het oor die feit dat LitNet deesdae in ’n sekere sin kompeteer teen universiteite se opleiding vir skrywers kompeteer met die handelsmerk “om te skryf”. Dit word op LitNet geadverteer word met kopie wat lees “Hier is om te skryf, wat voortaan deur LitNet bestuur sal word. Om te skryf is ’n skryfgids vir ontwikkelende skrywers.”
LitNet is ’n eienaardige werf waaraan allerlei mense op allerlei maniere meedoen, aldus Reusedwerg wat die volgende kommentaar bygedra het in LitNet se SêNet briewekolom: ”Hou tog asseblief net op Reusedwerg 2014-02-10 Ek lewer nou so ses of sewe jaar al my beskeie mening op die Net. Ek geniet die stories wat so nou en dan verskyn. Elkeen het maar sy eie mening oor 'n onderwerp wat hom/haar na aan die hart lê. Ek is al op geskel oor verskeie van my menings wat ek durf waag het om op die Net te openbaar. Daar was ook welkome en erg waardeerde terugvoer. Ek het ook op die harde manier agtergekom hier is mense wat humorloos is. Hier is mense wat hulle die reg toe eien om as moriliteitspolisie op te tree. Hier word onderwerpe debatteer wat sensitief is vir sekere dele van die samelewing en vir ander nie. Hier is ook mense wat hulself ag as verhewe bo ander wat met hul sienswyses verskil.”
Ene Carl Muller verstaan maar al te goed wat Reusedwerg bedoel, veral met die laaste punt soos gestel in bostaande. U skrywe dat “Ene Carl Muller se teleurstelling – ’n persoon wat kennelik diep in die wiek geskiet is – berus op verdere onkunde” Is niks meer nie as - blote veronderstelling.
Die eintlike toedrag van sake is: ene Carl Muller het vir Joan Hambidge ’n strik gestel. Hy het hom onkundig voorgedoen toe hy vir haar vra ”Maar, is MA-werkswinkels die enigste invloed op ontwikkeling van skeppend skryf in Afrikaans? Ook, is die MA-werkswinkels wat u aanbied, die enigste? Mense wat bedrewe is met onderhoude voer doen stel van tyd tot tyd doelbewus vrae vanuit ’n onkunde oogpunt. En toe trap Joan Hambidge in die strik.
Ene Carl Muller lees nie net wat Joan Hambidge skryf nie. Hy lees wyd, en hy verkies by verre deeglike werk wat nie berus op “Te veel emosie en oop senuweepunte” nie, maar werk wat oopkop ondersoek instel en verslag lewer, soos die onderstaande waaruit hy nou doelbewus aanhaal, juis omdat hy dese aanhalings ter saaklik is binne hierdie konteks.
Leti Kleyn in: Literator.org.za/index.php./literator/article view/fiel.416/1317 “Ek dink dis beter vir my skryfwerk om met die regte wêreld te doen te hê’: ’n Terreinverkenning van skryfopleiding in die groter Afrikaanse literêre sisteem (1995–2012)” “Die internet het ook ’n belangrike bron vir skryfontwikkeling geword. Voorbeelde hiervan is: 1. Aanlynskryfopleiding vir voornemende skrywers, kritieklewering op manuskripte, sowel as die aanbod van redigeer- en vertaaldienste (onder meer by http://www.savryskutskrywer.co.za). 2. LitNet se openbare aanlynslypskool onder mentorskap van ’n gevestigde skrywerspaar, met bykans 20 werksessies vir digters en kortverhaalskrywers reeds voltooi ( http:// https://www.litnet.co.za). 3. ’n Interaktiewe webblad (van die Om te skryf -publikasie) waar skryfoefening gedoen en inligting bekom kan word (http://www.omteskryf.co.za).” “Mentorskap by www ... By die voornemende skrywer is daar gewoonlik twee behoeftes: ’n waardeoordeel en raad hoe om te verbeter (Du Plessis 1993a:109). Deesdae is die aanvraag na skryfbegeleiding so groot dat dit ’n waardevolle kommersiële rolspeler in die literêre sisteem geword het. Uitgewers en webtuistes wat kreatiewe werk publiseer, word oorval deur materiaal waarvan die gehalte meestal veel te wense oorlaat (kyk ook Marais & De Goede 2010:5–7; Odendaal 2010a). “ “Dié skryfskool is ’n waardevolle bemarkingsmiddel vir die aspirantskrywer en uitgewershuis wat, soos De Wet (1994:119) aanvoer, tot literêre én verkoopswaarde bydra. Die motivering agter dié gebruik word egter bevraagteken en daar word gewys op die status wat debutante bekom deur hul werk aan die name van mentors te koppel Hambidge (1989): Waarom ] moet hierdie bywoning enigsins vermeld word? Is dit werklik deel van die digter se curriculum vitae óf ’n soort verskuilde ‘waarmerk van gehalte’? ’n Bietjie afwys – ek was dáár? (bl. 46)” “Irna van Zyl (1980:15) waarsku, met betrekking tot Opperman, dat hierdie koppeling tussen skrywer en mentor ook ’n negatiewe kant het – ’n onvermoë om weg te breek uit die tradisie van die mentor, die ‘intelery’ wat ontstaan (kyk ook Pienaar 2007:13), kenmerkend dus van die verskillende skole of style wat aan ’n bepaalde skryfskool gekoppel kan word (Hambidge 2007:4)”
Ene Carl Muller groet Joan Hambidge
22 Februarie 2014