ATKV-gemeenskapsteater: ’n onderhoud met Ebeth Wilson oor Daar is die Lam

  • 0

Foto’s van produksieplakkaat en die ATKV-logo: https://atkv.org.za/; foto van Ebeth Wilson: verskaf

Die ATKV is in 1930 in Kaapstad deur twaalf mense gestig as ’n organisasie waar mense die lekkerte van Afrikaans-wees met mekaar kon deel. Vandag is dit dié Afrikaanse kultuurtuiste met ongeveer 70 000 hooflede en 30 kultuurprojekte per jaar wat bykans 55 000 inskrywings genereer en meer as 220 000 mense regstreeks betrek.

Ebeth Wilson, voorsitter van die ATKV-tak Gemeenskapsteater  in Bloemfontein, praat met Naomi Meyer oor hoe die ATKV-gemeenskapsteaterprojekte in Bloemfontein ná die Covid-regulasies herleef. Sy vertel nie net van die amateurakteurs wat geleenthede kry om op die verhoog op te tree nie, maar ook van hoe geld vanuit die gemeenskapsteater befondsing vir waardevolle ander projekte help verskaf.

Ebeth, hier by LitNet stel ons altyd belang om te weet waarmee die ATKV besig is, en toe ek op die ATKV se webwerf kyk en sien dat die eerste volgende projek van die ATKV ’n teaterproduksie in Bloemfontein is, sien ek jy is bestuurder van die ATKV-gemeenskapsteaterprojek daar. Wat is jou agtergrond – in die teater én by die ATKV?

My passie vir en betrokkenheid by teater kom al sedert skooljare. Na skool het ek ’n eerste jaar in ligte musiek aan die destydse Pretoria Technikon gedoen, waarna ek van kursus verander het en met teaterkunde begin het. Ek moet sê, as die teatergogga eers gebyt het, los hy nie. Ongelukkig werk ek nie voltyds in die teater nie, maar wel as praktykbestuur by ’n oftalmoloog, maar deur die jare was ek baie geseënd om gereeld kontrakwerk as verhoogbestuurder vir verskeie produksies en feeste te kon doen en bly dit ’n absolute passie en vreugde om in die teater te kan wees en werk.   

By watter produksies was jy al in die verlede betrokke, en by watter produksies en gemeenskapsteaterprojekte waarby die ATKV ook betrokke was? Hoe het die situasie voor Covid gelyk, tydens Covid – en nou?

Die ATKV-tak Gemeenskapsteater is gestig in 2016 en ons eerste groot gemeenskapsteaterproduksie was ’n Passiespel: Petrus – ’n Kruis in die pad. Daarna het nog twee gevolg wat saam met Petrus ’n trilogie gevorm het: Judas – Wat is die prys van bloedgeld? en Jesus – ’n Passiespel. In 2019, die jaar voor Covid, het ons die verhaal van Hanna vertel, ook geskryf deur Maretha Maartens. Die bekende Susan Coetzer het die titelrol in Hanna vertolk. Gedurende Covid was die teater stil en Daar is die Lam is ons eerste groot gemeenskapsteaterproduksie na Covid. Wat ’n voorreg en seën om weer terug in die teater te mag wees saam met ons ongelooflike gemeenskapsteaterfamilie.

..........
Gedurende Covid was die teater stil en Daar is die Lam is ons eerste groot gemeenskapsteaterproduksie na Covid. Wat ’n voorreg en seën om weer terug in die teater te mag wees saam met ons ongelooflike gemeenskapsteaterfamilie.
..............

Die produksie wat nou binnekort op die planke is, is Daar is die Lam, soos wat jy pas vertel het – ’n produksie vir Paasfees. Wil jy dalk iets hiervan vertel? Wat kan mense verwag as hulle kaartjies hiervoor wil koop? Waar kan mense nog kaartjies hiervoor koop?

Ek was lanklaas so opgewonde oor ’n teks of ’n produksie, soos oor Daar is die Lam. Maretha Maartens het ’n Gees-geïnspireerde teks geskryf wat fokus op Jesus se dae voor die kruisiging, asook die wonderlike verlossingsnuus daarna. Die geselskap wat die produksie op die planke bring, bestaan uit 52 gewone Bloemfonteiners met ’n passie vir die teater. Ek staan gereeld verstom oor hierdie mense se toewyding en opoffering. Feitlik almal van hulle werk voldag en kom al vir die afgelope sewe weke, vier dae per week ná werk vir ’n drie uur lange repetisie.

..........
Ek staan gereeld verstom oor hierdie mense se toewyding en opoffering. Feitlik almal van hulle werk voldag en kom al vir die afgelope sewe weke, vier dae per week ná werk vir ’n drie uur lange repetisie.
.............

Hierdie jaar se produksie is regtig aangrypend. Daar is soveel oomblikke waar mense net sprakeloos sit en kyk. Neels Vorster, wat die rol van Jesus vertolk, verstom ons deurentyd met sy ongelooflike vertolking. Jy kan nie ophou om te kyk nie. Selfs in vroeë repetisies was die teenwoordigheid van die Gees in die lokaal tasbaar. Ek wil mense uitnooi om regtig vanjaar hierdie verhaal emosioneel te kom beleef in aanloop tot Paasnaweek. Kaartjies kan aanlyn gekoop word by www.webtickets.co.za of sommer by enige plaaslike Pick n Pay. Kaartjies is R100 vir volwassenes en R80 vir pensioenarisse, kinders en groepe van 10 of meer.

Wat is vir jou die lekkerte en die uitdagings van gemeenskapsteater? Waarom is dit belangrik dat ’n organisasie soos die ATKV by sulke produksies betrokke moet wees? Dis tog seker nie baie duur om ’n produksie uit die gemeenskap vir die gemeenskap op die planke te bring nie, of hoe? Wat is die uitgawes ter sprake?

............
Van die uitdagings waarmee mens te doen het, is dat dit amateurteater is, maar dat ons daarna bly streef om produksies van professionele standaard op die planke te bring. Ons doen dus nie net teater nie, maar ook talentontwikkeling. Juis om hierdie rede probeer ons altyd om minstens een professionele akteur in die geselskap in te sluit. Ons het al in die verlede gesien dat die gemeenskapsteaterlede ontsettend baie by so ’n akteur leer en dat dit die standaard van die hele produksie lig.
..............

Van die uitdagings waarmee mens te doen het, is dat dit amateurteater is, maar dat ons daarna bly streef om produksies van professionele standaard op die planke te bring. Ons doen dus nie net teater nie, maar ook talentontwikkeling. Juis om hierdie rede probeer ons altyd om minstens een professionele akteur in die geselskap in te sluit. Ons het al in die verlede gesien dat die gemeenskapsteaterlede ontsettend baie by so ’n akteur leer en dat dit die standaard van die hele produksie lig. Hierdie jaar is ons baie geseënd om vir Peter Taljaard, ’n bekende in die teaterwêreld, as deel van ons geselskap te hê. 

Finansies is ’n ander groot uitdaging. Om teater te doen, is ontsettend duur. Ons is in die bevoorregte posisie dat ons en Pacofs ’n samewerkingsooreenkoms het, wat die huur van die wonderlike Sand du Plessis-teater vir ons bekostigbaar maak, maar daar is baie ander onkostes, waarvan klank byvoorbeeld een is. Ons werk hierdie jaar met 22 kopstukmikrofone, terwyl ons 44 karakters het wat elk minstens een sin sê. Ek moet erken, om daardie indeling te maak werk, was ’n reuse-uitdaging. Verdere kostes wat in ag geneem moet word, is bemarking, stelle bou, kostuums, ens. 

Hoe lyk die toekoms van nog teaterproduksies uit die gemeenskap, en wat word nog vir die res van die jaar beplan?

So lank as wat ons gewillige en passievolle gemeenskapsteaterlede het, sal ons alles binne ons vermoë doen om te bly produksies doen. Om die waarheid te sê, volgende jaar se teks is reeds in wording. Oor die res van hierdie jaar se beplanning is ons ontsettend opgewonde.

Dis wonderlik dat die ATKV kunstenaars en gemeenskapsprojekte vir amateurakteurs ondersteun, maar hoe ploeg mens die geld wat julle maak, terug? Kom ek vra dit blatant: Wat gebeur met die inkomste uit gemeenskapsteaterprojekte?

..........
Lettie Fouché Skool en Vrystaat Nasorgsentrum, albei organisasies wat na mense met gestremdhede omsien, is ons gekose begunstigdes vir 2023.
.............

Lettie Fouché Skool en Vrystaat Nasorgsentrum, albei organisasies wat na mense met gestremdhede omsien, is ons gekose begunstigdes vir 2023. Saam met hulle beplan ons ’n Eisteddfod vir gestremdes vir die tweede helfte van die jaar en dan eindig ons die jaar met ons tweede #weesdieverskil-fees in samewerking met die Nasionale Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Verder bly ons gereed om enige geleentheid wat ons pad kruis om ’n verskil te maak, met albei hande aan te gryp.  

Lees ook:

Vriende van Afrikaans bevorder leesvaardighede in die Baai

Waar word Afrikaanse teatertalent raakgesien? ’n Onderhoud oor die ATKV-Tienertoneel-wenners 2022

Persverklaring: ATKV-Crescendo soek onontdekte musikale talent

EKM Dido (1951–)

Persverklaring: Nuwe ATKV-Crescendo-ster Suné Damons stel enkelsnit bekend

Elias P Nel (1954–)

Johan Combrink-gedenklesing 2023 – "Afrikaans, ekosisteme vir volhoubaarheid en sukses: die kunste, TV- en vermaaklikheidsbedryf"

Ommietafel 2023: Nooit te oud om ’n nuwe taal aan te leer nie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top