
Prent: https://pixabay.com/photos/comedy-tragedy-masks-art-theatrical-1715466/
JJ van Niekerk praat met Naomi Meyer oor die ATKV-Tienertoneelkompetisie wat die afgelope paar dae in die Kunstekaap aangebied en waarvan die wenners op 9 Oktober aangewys is. Die wenproduksie is vanjaar by die Woordfees en die eerste-, tweede- en derdeplekwenners is almal by die Suidoosterfees te siene
JJ, die afgelope twee jaar het die ATKV allerlei planne gemaak om projekte te laat plaasvind. In 2020 was alles digitaal. In 2021 was daar weer optredes in die Kunstekaap. Vanjaar, van 5 tot 8 Oktober, was dinge weer volwaardig aan die gang. Die nasionale finaliste van die ATKV-Tienertoneel by die Kunstekaap op die planke. Wat het die afgelope paar dae in die Kunstekaap plaasgevind?
Ons was 2021 nasionaal op die planke ten spyte van die grootste pandemievlaag. Ons het nasionaal 108 produksies op die planke gehad en met ’n nasionale finaal in die Kunstekaap gespog. Vanjaar het inskrywings mooi toegeneem tot ons volwaardige nege landswye streeksfeeste, 3 000 deelnemers en 172 produksies wat ons by die naelbyt- nasionale finaal gebring het van 5 tot 8 Oktober in die Kunstekaap. Die top 10 produksies en top twee produksies deur slegs leerders moes sake kom uitspook om as wenner aangewys te word. 15 toekennings is gemaak, altesaam R85 000 is as prysgeld uitgeloof, en vier speelvakke op nasionale kunstefeeste is ook toegewys.
Wie en wat was vir jou hoogtepunte van die afgelope paar dae se gebeure?
Die ongekende hoë standaard van alle deelnemers, die kreatiwiteit van regisseurs en die boeiende en geloofwaardige spel in atmosferiese ruimtes ondersteun deur asemrowende tegniese ontwerp het my telkens laat ontsnap van die werklikheid en my weer laat besef waarom teater so onlosmaaklik deel behoort te wees van die samelewing en elkeen se psige.
..........
Die ongekende hoë standaard van alle deelnemers, die kreatiwiteit van regisseurs en die boeiende en geloofwaardige spel in atmosferiese ruimtes ondersteun deur asemrowende tegniese ontwerp het my telkens laat ontsnap van die werklikheid en my weer laat besef waarom teater so onlosmaaklik deel behoort te wees van die samelewing en elkeen se psige.
............
Suid-Afrika is teelaarde vir elke denkbare storie. So baie temas wat ondersoek is: seksualiteit, die dood, dwelms. Wat vir my opvallend was, was dat baie van die produksies deur die tieners self geskryf is. En hulle skroom nie om oor álles te skryf nie. Dit is so professioneel gedoen dat mens verstom staan dat dit die tieners self was wat daarvoor verantwoordelik was. Kry hulle hulp by iemand as hulle die stukke skryf? Of is die standaard van die ATKV-kompetisie eenvoudig so hoog dat hulle elke jaar kyk wat vantevore gedoen is en net besluit: Ons moet hierop voortbou?
Twee produksies is deur leerders self geskep, bedoelende dat hulle alle elemente hanteer het. Die res van die produksies kry ondersteuning en hulp van enige persoon, hetsy professioneel of net iemand wat ’n liefde vir teater het. Dit is egter opvallend dat die toneelstukke waar leerders deel is van die skep van ’n teks, wel beter vaar, omdat dit makliker in die mond lê en meer geloofwaardig gespeel word. Daar was darem ook stories oor die liefde, hoop, ’n spieël oor die druk van ’n skoolsisteem, kameraderie en broederskap, verlies en droom ... Tieners dink egter nie almal donker nie – hulle skep meer stories van hoop.
...........
Daar was darem ook stories oor die liefde, hoop, ’n spieël oor die druk van ’n skoolsisteem, kameraderie en broederskap, verlies en droom ... Tieners dink egter nie almal donker nie – hulle skep meer stories van hoop.
.............
Dit is my gevoel oor die finaal.
Waarom hou die ATKV, te midde van al die uitdagings en finansiële kopsere, aan om aandag te gee aan tienertoneel?
Hierdie tieners is ons môre, so as die ATKV nie vir hulle die platform gee om in hulself te kan belê nie, sal niemand in die toekoms belê nie, wat ’n rimpeleffek teweeg sal bring van geen verandering nie – en ons wil saam met die jeug die verskil vir Suid-Afrika wees.
..........
ATKV-Tienertoneel verander gemeenskappe, is die grootste en mees suksesvolle projek wat gehoorontwikkeling vir teater doen, en skep jaarliks nuwe werk en nuwe literatuur en bied ‘n klankbord vir nuwe stories vir ’n volk om te luister, te reageer en te herstel dit wat gebroke is.
............
ATKV-Tienertoneel verander gemeenskappe, is die grootste en mees suksesvolle projek wat gehoorontwikkeling vir teater doen, en skep jaarliks nuwe werk en nuwe literatuur en bied ‘n klankbord vir nuwe stories vir ’n volk om te luister, te reageer en te herstel dit wat gebroke is.
Ek het gisteraand met iemand gesels wat iets hieroor gesê het en kan dus vrymoedig vra: Sien julle ooit dat die kinders in die tienertoneelkompetisie dit ook verder bring in die lewe en uiteindelik professionele akteurs of teatermakers word? Dus: Is die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir baie jongmense net die begin?
Absoluut! Die lys is te lank om te noem, maar gesels met enige Afrikaanse aktrise of akteur wat nou sy of haar voete op die planke het of voor die kamera speel. Hulle sal vir jou almal noem dat ATKV-Tienertoneel die teelaarde vir hul talent en beroep was.
Lees ook:
Franz Marx: Uit die perd se bek deur Chris Vorster: persoonlike herinneringe en foto’s
Toyota US Woordfees 2022: ’n onderhoud met Beyers de Vos oor Die Suid-Afrikaners
ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent
ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers
ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer
ATKV-Tienertoneel-persverklaring: Dreunend-dapper talent bekroon