ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent

  • 1

Merwe van Gent (regs). Fotobron: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/tienertoneel/

ATKV-Tienertoneel se formaat was vanjaar heeltemal anders. Die deelnemers moes toon hoe aanpasbaar hulle kon wees. Hulle moes hul eie toneelstukke skryf en dit digitaal vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.

Hier is nog agtergrond van hoe die kompetisie vanjaar gewerk het.

Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met Bonuspunt is as die wenner aangewys. Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch was tweede met Val. Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was vanjaar se kykerskeuse en het die derde plek behaal met sy produksie Ingeperk.

Naomi Meyer het met Merwe van Gent van Hoërskool Wesvalia gepraat.

Baie geluk met jou toekenning in die ATKV se tienertoneelkompetisie van hierdie malle jaar, 2020. Dit was ook 'n jaar waar jy uitsonderlike talent getoon het, want jy moes nie net 'n drama opvoer nie, jy moes een skryf. Oor die vreemdste tyd ooit. Waar sal ons begin? Wat was vir jou die grootste uitdaging en die grootste inspirasie van hierdie hele kompetisie – die skryf van die toneelstuk of die opvoer daarvan?

Die grootste uitdaging van die hele kompetisie was vir my sonder twyfel die opvoer van my monoloog. Enige iets aangaande my spel, of ek dit nou wil erken of nie, het my opgestres. Omdat my skool in 2018 laas aan die ATKV-Tienertoneel deelgeneem het, was ek nie meer seker hoe my spel sou vergelyk met dié van ander jong akteurs en aktrises nie, en boonop moes ek nou kompeteer teen talent van regoor Suid-Afrika. Vanjaar kon ons ook privaat inskryf om deel te neem en ek het ek weer die geleentheid gehad om deel te wees.

Alhoewel die terugvoer van die mentors baie hulpvaardig was en ek sonder twyfel ongelooflik baie by hulle geleer het, was ek maar baie benoud wanneer daar gedink moes word hoe ek dit gaan toepas en inkorporeer in my monoloog. Gelukkig het Ilne Fourie my deur elke ronde ondersteun en was sy altyd reg om iets te verduidelik of my moed in te praat. Ek en my ma het na elke ronde ten minste tien keer na die terugvoer van die mentors geluister en daarna met ’n baie kritiese oog my monoloog geanaliseer. Ek sou sonder twyfel nie so ver kon gekom het sonder die hulp van my ma nie!

Omdat ek deel daarvan self geskryf het, was die vertolking en die karakterisering van Cronjé en sy situasie vir my effens makliker, alhoewel nog steeds ’n baie groot uitdaging. Ek het myself nie net probeer plaas in Cronjé se skoene nie, maar ook in dié van elke jongmens wat hulle dalk in dieselfde situasie bevind. Dit was vir my belangrik om aan die gehoor die geleentheid te bied om die persoon agter sy seksualiteit raak te sien. Wanneer mense die muur wat hulle self gebou het, tussen hulle en mense soos Cronjé afbreek, gaan nie net hulle oë oop nie, maar hulle harte ook. My doelwit was uit en uit om dit te bewerkstellig en dit het my baie gehelp om Ingeperk en die boodskap wat dit oordra te regverdig.

Ek het ook baie gaan kyk na video’s op YouTube waar mense vertel van hulle ervarings as deel van die LGBT-gemeenskap. Sommiges het die uitdagings daarvan baie makliker ervaar, maar ander se lewens is heeltemal daardeur verwoes. Ek wou deur Cronjé se storie te vertel ’n lig skyn op hierdie onderwerp en hopelik terselfdertyd baie mense se sienings daaroor verander. Dit was juis omdat ek ’n baie groot boodskap gehad het om oor te dra dat die spel vir my so ‘n groot uitdaging was.

Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

In die begin van die jaar, toe die DigiToneel net aangekondig was, het ek ’n baie lang selfoonoproep met Ilne gehad. Ons het onder andere gesels oor die kompetisie en my monoloog. Ek het toe vir Ilne ’n stukkie wat ek self geskryf het, aangestuur en sy het dit omskep in die stuk kuns wat vandag bekend is as Ingeperk. Ek is nie eers heeltemal seker wanneer ek die stuk geskryf het of hoekom nie, maar ek het onmiddellik geweet dat dit is wat ek wil doen in dié jaar te Tienertoneelkompetisie, aangesien die onderwerp iets is wat baie naby aan my hart lê. Ek sal tot in ewigheid dankbaar wees vir Ilne se hulp en haar bydrae tot die skep van Ingeperk en die kragtige boodskap wat dit oordra.

Vertel my van jou toneelstuk. Die storie, jou hoofkarakter, die gebeure in sy lewe?

Ingeperk gaan vir my nie net oor Cronjé en die feit dat sy ouers hom dwing om ’n sielkundige te gaan sien oor iets waaroor niemand beheer het nie; dit verteenwoordig vir my die hele gemeenskap van jongmense wat uitgeskuif word en gedwing word om ’n valse beeld van hulself voor te stel sodat hulle aanvaar kan word.

Cronjé vat ons deur sy kinderjare waar hy reeds opgemerk het dat hy anders is. Van hierdie jong stadium af was hy deur sy ouers gestraf omdat hy belangstel in dinge wat deur die samelewing gesien word as uitsluitlik vir meisies. Cronjé het van hierdie stadium af ’n sin van verwerping gevoel wat hy as kind saam hom moes dra. Hy is deur sy ouers aangemoedig om eerder aan meer gepaste dinge deel te neem, maar sonder enige sukses.

Alhoewel Cronjé geweet het dat sy ouers dit glad nie sal goedkeur nie, het hy steeds toegelaat dat sy beste vriendin hom ’n "makeover" gee en dit was natuurlik die laaste strooi. As kleuter kan Cronjé nie verstaan hoekom daar so groot fout is met sy belangstellings nie. Hy is van jongs af ingeperk. Hy word gedwing om iemand te wees wat almal rondom hom gelukkig sal maak, maar ongelukkig betaal hy elke dag die prys daarvoor.

Ten spyte daarvan het Cronjé in sy tienerjare genoeg moed bymekaar geskraap om vir sy ouers te vertel dat hy gay is. Weer eens is hy vertel dat daar fout is met hom en dat dit nie aanvaarbaar is nie. Dus sit hy teen sy wil by ’n sielkundige.

Cronjé se storie is nie baie ingewikkeld nie. Die feit dat hy van die reg ontneem is om ’n normale, gelukkige lewe te lei is eerder waarop daar gefokus moet word. Net soos Cronjé is daar talle ander kinders wat ingeperk word deur die mense wat veronderstel is om hulle onvoorwaardelik lief te hê.

Was dit vir jou blootstellend of bevrydend om oor jou gevoelens en ervarings in hierdie tyd te skryf? Was dit vir jou iets wat jy eenvoudig geweet het jy wou doen, of het 'n onderwyser jou dalk aangemoedig? Kan jy ook iets onthou wat jou laat besluit het: Ja, hiervoor moet ek inskryf?

Dit was vir my baie belangrik om mense se aandag te kon vestig op die tema van homoseksualiteit, juis omdat daar nie genoeg daaroor gepraat word in Suid-Afrika nie. Van ’n baie jong ouderdom af kon ek nie juis verstaan hoekom mense van die LGBT-gemeenskap uitgeskuif word of anders hanteer word nie, en op skool was dit ’n alledaagse gebeurtenis. Kinders gebruik baie geredelik die woord "moffie" teen mekaar as ’n belediging, en soos wat ek ouer geword het, het ek begin wonder hoekom mense gestraf moet word vir iets waaroor hulle nie beheer het nie.

Dit was vir my baie lekker om uiting te kon gee aan hierdie frustrasie en vir een oomblik ’n spreekbeurt te kon gehad het sonder dat iemand jou in die rede val met een of ander teenargument. Ek het glad nie gedink dat ek in dié jaar ’n monoloog oor hierdie tema sou doen nie, maar toe ek en Ilne begin beplan, het ek onmiddellik gevoel dat ek vir haar my skryfstuk moet aanstuur.

My ma het my verskriklik baie aangemoedig oom deel te neem aan vanjaar se kompetisie. Wanneer ek koue voete gekry het, het sy my herinner dat hierdie immers die loopbaan is wat ek wil volg en dat ek nie kan toelaat dat hierdie geleentheid deur my vingers glip nie. Ek onthou dat ek as graad 8-seuntjie gedroom het daarvan om my hoërskoolloopbaan met ’n eenmanstuk by Tienertoneel te kan afsluit, en in werklikheid het dit gebeur.

Hou jy van teater bywoon? Ek bedoel nou in die tyd voor Covid. Dink jy dis belangrik, of van waarde vir die mensdom? Watter toneelstukke het al tot jou gespreek?

Beslis! Ek is mal daaroor om teater by te woon. Van kleins af het my ma my elke jaar Aardklop toe gevat om toneelstukke te gaan kyk. Ons het basies by die Tienertoneel-opvoerings geboer en ek is daarvan oortuig dat dit ’n enorme bydrae gelewer het tot my liefde vir toneelspeel. Teater is sonder twyfel vir my ’n noodsaaklikheid. Nie net gun dit mense die geleentheid om te ontspan nie, maar dit gee ook aan mense die geleentheid om sosiale kwessies aan te spreek en hulle stemme te laat hoor. Teater is vir my net so noodsaaklik soos water. Daarsonder sal die samelewing inmekaar tuimel. Mens kan soveel leer uit teater uit. Teater kan jou vat na wêrelde waarvan jy nog net gedroom het. En die belangrikste van alles – teater leer jou om dinge te sien vanuit iemand anders se posisie.

Ek kan nie eers onthou hoeveel toneelstukke ek al gekyk het nie, maar die meer onlangses wat ek gekyk het en nooit sal vergeet nie, is Tennessee Williams se Katvoet (verwerk deur Nico Scheepers) en Tom Lanoye se Koningin Lear. Die mees onlangste stuk wat ek gaan kyk het, was The Rocky Horror Picture Show en ek was so oorweldig met vreugde dat dit my tot trane gedryf het! Stel jouself voor ’n wêreld sonder teater: Absolute chaos.

Dink jy teater gaan verander – mense gaan meer in kleiner groepe teater kyk, of gaan dalk meer dinge verfilm in plaas van lewende teater op 'n verhoog? Hoe voel jy oor 'n hibriede samelewing, waar so baie dinge op 'n skerm gebeur of waar mense iets by die huis opvoer en kyk. En wat het hierdie ervaring van die ATKV se kompetisie jou geleer?

Ek hoop van harte dat dit nie die geval sal wees nie. Alhoewel ’n skerm teater meer toeganklik maak, neem dit tog iets weg van die magiese ervaring. Ek is verskriklik lief vir films en sal graag eendag in films wil speel, maar as ek lus is om ’n toneelstuk te gaan kyk of selfs om toneel te speel op ’n verhoog wil ek graag die opsie hê. Tot tyd en wyl dink ek ons het nie regtig ’n ander keuse as om die nuwe vorme van teater te verdra nie, maar ek dink dat dit uiters sleg sal wees as dit vir ewig so sal moet bly. Mense het teater – egte, lewende teater – nodig.

In dieselfde asem wil ek ook sê dat ek tog dankbaar is dat ons dié jaar ons monoloë moes opneem. Ek het baie geleer van kamerawerk en redigering, en dit gaan definitief tot my voordeel tel in my toekoms. Ek moes hierdie jaar my oudisie om aan die Universiteit Stellenbosch te gaan drama studeer ook opneem, en gelukkig was ek ‘n bietjie meer touwys te danke aan die ATKV-Tienertoneel.

Vanjaar se ATKV-Tienertoneel het my nie net geleer hoe om ’n beter akteur te wees nie, maar ook ’n beter kameraman!

Daar was ontsettend baie belangstelling in die ATKV se toneelkompetisie vanjaar, ten spyte van die jaar en die virus. Wat het jou die energie gegee om hieraan te kon of te wou deelneem? En dink jy dit was belangrik om so 'n kompetisie te kon hê vanjaar, so virtueel? 

Ek dink nie dat ek dié geleentheid met soveel selfvertroue en energie sou kon aangepak het sonder die ondersteuning van my ma nie. Die feit dat dit my laaste jaar op skool is en dat ek dit ten spyte van die omstandighede op ’n hoogtepunt wou afsluit, het ook ’n baie groot bydrae gemaak. Ek het gevoel dat die graad 8-seuntjie binne my wat so graag ’n eenmanstuk wou doen my nooit sou kon vergewe het as ek nie hierdie kompetisie met albei hande aangegryp het nie.

Ek het ook gevoel dat ek daaraan moet deelneem om te sien of ek ooit nog kan toneelspeel. Dit was baie lekker om weer te kon sien waar ek lê in vergelyking met ander akteurs en aktrises van my ouderdom. Dit het my beslis ‘n bietjie meer selfvertroue gegee om my studies as dramastudent in 2021 te kan aanpak.

Ek is baie dankbaar vir die ATKV wat ten spyte van die virus steeds so baie moeite gedoen het om aan ons as hoërskoolleerders die geleentheid te bied om aan Tienertoneel te kan deelneem. As ’n matrikulant was daar soveel dinge waarna ek uitgesien het in my laaste matriekjaar en nooit kon ervaar nie, maar te danke aan die ATKV is Tienertoneel nie een van daardie dinge nie.

Hierdie kompetisie het my, en ek glo ook vele ander, gered van die "lockdown blues". Dit het my definitief geleer om bo my omstandighede uit te styg, en ek is seker dat wanneer ek voor toekomstige struikelblokke staan ek sal terugdink daaraan en dan weer die moed sal hê om aan te kan gaan.

Kyk in jou kristalbal. Hoe lyk die toekoms? Vertel my wat jy sien.

Ek kan sien dat ek my jare aan die Universiteit Stellenbosch baie gaan geniet. Ek sien dat ek nog baie uitdagings gaan oorwin. Ek sien al die wonderlike mense wat ek gaan leer ken en by wie ek soveel gaan leer. Ek sien dat ek gaan groei in myself en ook as akteur voor die kamera en op die verhoog.

Wanneer ek dink aan my toekoms, word ek oorrompel met opgewondenheid. Daar is een spesifieke beeld wat ek kan raaksien wat my hart vinniger laat klop en my genoeg moed gee om enige berg te verskuif. Laastens kan ek sien hoe sit ek saam met my ma en my pa aan ’n pragtig-gedekte tafel by die Oscars. My ma gesels met haar nuwe beste vriendin, Meryl Streep, en my pa vertel vir Tom Hanks hoe baie hy Forrest Gump geniet het. Ek sit net en staar in bewondering en dankbaarheid wetend dat my grootste droom uiteindelik ’n realiteit geword het.

Lees ook:

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer

  • 1

Kommentaar

  • Jeanne-Marié Koekemoer
    Jeanne-Marié Koekemoer

    OU MERWE!!! Ek sien so uit om jou en jou ouers by die Oscars te sien!! What a treat it will be!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top