ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer

  • 0

Jeanne-Marié Koekemoer (regs). Fotobron: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/tienertoneel/

ATKV-Tienertoneel se formaat was vanjaar heeltemal anders. Die deelnemers moes toon hoe aanpasbaar hulle kon wees. Hulle moes hul eie toneelstukke skryf en dit digitaal vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.

Hier is nog agtergrond van hoe die kompetisie vanjaar gewerk het.

Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met Bonuspunt is as die wenner aangewys. Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch was tweede met Val. Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was vanjaar se kykerskeuse en het die derde plek behaal met sy produksie Ingeperk.

Naomi Meyer het met Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch gepraat.

Baie geluk met jou toekenning in die ATKV se tienertoneelkompetisie van hierdie malle jaar, 2020. Dit was ook ’n jaar waar jy uitsonderlike talent getoon het, want jy moes nie net ’n drama opvoer nie, jy moes een skryf. Oor die vreemdste tyd ooit. Waar sal ons begin? Wat was vir jou die grootste uitdaging en die grootste inspirasie van hierdie hele kompetisie - die skryf van die toneelstuk of die opvoer daarvan?

Sjoe, baie dankie! Dis ’n reusebeloning om te kan terugsit en te sien hoe alles verloop het en te sien wat ander se interpretasie is van jou werk (as ek dit ooit so mag noem). Ek was al van kleins af lief vir die kunste, en veral die uitvoerende kunste, en ek het eers onlangs begin skryf. Ek is wel mal daaroor om te skryf en beide afdelings was vir my ewe lonend, maar aangesien die skryf ’n redelik nuwe terrein is, was dit die grootste inspirasie om te sien watter effek dit op beide my en op diés rondom my het. Met dit gesê, was die skryf daarvan vir seker ook die grootste uitdaging van die twee. Verder was dit alles ’n absolute nuwe ervaring, maar beslis ook ’n uitdaging om my eie teks op te voer.

Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

Ek was bevoorreg genoeg gewees om die wonderlike Alma Nel as my mentor deur die proses te kon hê. Ek het vir ’n rukkie ideeloos gesit en toe stel sy voor ek skryf bloot ’n eerlike brief aan myself in die hoop om een of ander impuls van inspirasie daaruit te trek. En so, die hooftema wat daaruit gekom het was vryheid, verlange en soeke na antwoorde. So toe kom Alma op met die idee om dit heeltemal absurd te maak en alles in surrealistiese metafore te versteek. Ek was mal oor die idee en het dadelik begin skryf. Dit was wel ongelooflik uitdagend – ek moes ’n vrag YouTube-video’s kyk vir wenke oor hoe om dit reg te kry! Dit was ook in hierdie tyd maar moeilik om jou kop daarom te draai en idees toe te laat om uit te vloei, maar ek is ongelooflik dankbaar daarvoor, want anders sou dit ewig in my kop opgesluit gebly het!

Vertel my van jou toneelstuk. Die storie, jou hoofkarakter, die gebeure in haar lewe?

Baie van my toneelstuk kom uit my eie ervaring en is eie aan myself. Soos ek bo verduidelik het, het alles die vorm van absurde magiese realisme aangeneem, struktuurgewys. Alles draai om absolute eksistensialisme waardeur hierdie mens leef. Dit kom daarop neer dat alles gestroop en leeg is en dat sy in hierdie laagtepunt en in hierdie warboel sit en probeer sin maak van al die eksistensiële gedagtes wat uit haar kop vloei – alles simbole van verskillende kompartemente binne haarself en haar ervaring. Die karakter is eintlik ’n verwronge weergawe van myself – sekere eienskappe meer prominent in haar as in my. Verder het baie daarvan, vreemd genoeg, hul oorsprong in my drome gevind – die Clicks-visioen was iets waaroor ek een aand gedroom het. En die konsep van spring en val en vryheid en beheer en afwesigheid daarvan kom van ’n idee wat al in my kop van die begin van die jaar af was nadat ek by Dreunkrans in Hermanus in die see afgespring het tydens ’n graadkamp en sedertdien konstant daaroor droom. Alles is baie persoonlik en gestroop en uitgetap, geïnspireer deur Woody Allan se Blue Jasmine (een van my gunstelingfilms). Dis ook om dié rede dat ek gekies het om dit teen ’n swart agtergrond voor te stel, met die boks en die mens wat wegsmelt in die middel onder ’n warm kouete.

Was dit vir jou blootstellend of bevrydend om oor jou gevoelens en ervarings in hierdie tyd te skryf? Was dit vir jou iets wat jy eenvoudig geweet het jy wou doen, of het ’n onderwyser jou dalk aangemoedig? Kan jy ook iets onthou wat jou laat besluit het: Ja, hiervoor moet ek inskryf?

Ek onthou my drama-onderwyseres (my ewige motivering, mentor en omgee), Andrea Winckler, het my nog die een middag aan die begin van die jaar gebel en met aansteeklike opgewondenheid daarvan vertel. Dit het my onmiddellik opgewonde gemaak en ek het vir seker geweet ja, hiervoor moet ek inskryf. Hierdie is al my vierde jaar wat ek deelneem aan Tienertoneel, maar die idee in daardie oomblik was oorweldigend en angswekkend. Ek het in daardie stadium redelik uitgebrand gevoel en het baie amper nie deelgeneem nie en eerder die besluit geneem om nie water uit ’n leë kraan te tap nie. Ek is wel dankbaar ek het dit deurgesien en ek dink dit was goed om myself uit te daag, vorentoe te stoot en te ontwikkel. Dit was fantasties lekker en opwindend om tussen al hierdie wonderlike tieners, almal in dieselfde bootjie, te kon speel en te kon veilig voel op ’n manier wat nie sommer elders gevind was gedurende hierdie jaar nie. Ek sal die groei en vordering wat ek gemaak het deur die proses, vir niks anders verruil nie.

Hou jy van teater bywoon? Ek bedoel nou in die tyd voor Covid. Dink jy dis belangrik, of van waarde vir die mensdom? Watter toneelstukke het al tot jou gespreek?

Ja! Ek is op my gelukkigste en in my absolute element in ’n teater! Dis vir my die heiligste plek op aarde en so broodnodig in almal se lewens. My gunsteling- Afrikaanse toneelstuk tot dusver is Kleedkamer Blues, wat ek in 2019 (twee maal) by die Woordfees gesien het en enigiets sou gee om weer te sien! ’n Ander hoogtepunt was om Les Misérables in die West End in Londen te kon sien. Dit was iets waaroor ek al van kleins af droom en voorwaar, in alle voorreg, kon laat realiseer. Net soos met Kleedkamer Blues sal ek wat gee om dit keer op keer weer te beleef en het ek van begin tot einde geween soos ’n baba. Daar is iets daaromtrent om in die donker te sit met ’n groep vreemdelinge wat vir ’n paar uur meer word as net die kuns wat julle saam aanskou.

Dink jy teater gaan verander – mense gaan meer in kleiner groepe teater kyk, of gaan dalk meer dinge verfilm in plaas van lewende teater op ’n verhoog? Hoe voel jy oor ’n hibriede samelewing, waar so baie dinge op ’n skerm gebeur of waar mense iets by die huis opvoer en kyk. En wat het hierdie ervaring van die ATKV se kompetisie jou geleer?

Dit is ongelooflik om te sien hoe mense aanhou aanpas en vervorm binne hul gegewe omstandighede en ek dink dis vreeslik nodig om aan te hou beweeg, te verander en groei en dan met dinge soos digitale vertonings dit wel regkry en wel iewers kom. Maar, met dit gesê dink ek ook dis moeilik, want so baie van die waarde daarvan raak verlore sonder die lewende element. Ek dink en ek glo dat ons iewers ’n middeweg sal vind en sal moet vind om vorentoe te beweeg.

Daar was ontsettend baie belangstelling in die ATKV se toneelkompetisie vanjaar, ten spyte van die jaar en die virus. Wat het jou die energie gegee om hieraan te kon of te wou deelneem? En dink jy dit was belangrik om so ’n kompetisie te kon hê vanjaar, so virtueel?

Dis vir seker ongelooflik belangrik om die kompetisie te laat aangaan, virtueel. Dit bied ’n ongelooflike sin van normaliteit tussen die chaos en dien ook as ’n konstante herinnering dat ons kan aangaan en dat ons kan oorkom. Dat dit wel moontlik is. En dan ook is die kunste, ten minste vir my, en ek is seker vir só baie ander, die beste hulpmiddel om aan vas te hou in hierdie vreemde, vreemde tyd.

Kyk in jou kristalbal. Hoe lyk die toekoms? Vertel my wat jy sien.

Sjoe. Ek is nou op daardie punt waar my hele lewe voor my lê en ek nou moet besluit hoe ek daardeur sal loop. En hoewel dit vreesaanjaend is, is dit terselfdertyd onbeskryflik opwindend. My grootste wens is dat ek eendag in alle eerlikheid, sonder skroom en sonder bewustheid van self, as ’n vaartuig kan dien en kollektief stories vertel deur my kuns. Die droom sal wees om eendag in film te kan werk, as regisseur en as akteur. As ek eendag my eie film kan maak, sal ek gelukkig kan sterf. Daar is so baie kleur wat voor ons lê en ek kan nie wag om langs verskeie en diverse storievertellers deur die lewe te wandel nie.

Lees ook:

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top