ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met wenner Nichola Viviers

  • 2

Nichola Viviers (regs). Fotobron: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/tienertoneel/

ATKV-Tienertoneel se formaat was vanjaar heeltemal anders. Die deelnemers moes toon hoe aanpasbaar hulle kon wees. Hulle moes hul eie toneelstukke skryf en dit digitaal vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.

Hier is nog agtergrond van hoe die kompetisie vanjaar gewerk het.

Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met Bonuspunt is as die wenner aangewys. Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch was tweede met Val. Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp was vanjaar se kykerskeuse en het die derde plek behaal met sy produksie Ingeperk.

Naomi Meyer het met Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof gepraat.

Baie geluk met jou toekenning in die ATKV se tienertoneelkompetisie van hierdie malle jaar, 2020. Dit was ook ’n jaar waar jy uitsonderlike talent getoon het, want jy moes nie net ’n drama opvoer nie, jy moes een skryf. Oor die vreemdste tyd ooit. Waar sal ons begin? Wat was vir jou die grootste uitdaging en die grootste inspirasie van hierdie hele kompetisie - die skryf van die toneelstuk of die opvoer daarvan?

Hierdie jaar was beslis allesbehalwe waarvoor ek myself voorberei het. ’n Absolute mallemeule van verandering en aanpassing. Een van hierdie veranderinge was natuurlik die oorgang van teater-Tienertoneel na DigiToneel, wat tegelyk ’n teleurstelling en ’n absolute opwindende geleentheid was. ’n Teleurstelling siende dat ek reeds ’n teks gereed gehad het vir die leerderproduksiekategorie van ATKV en ons geselskap klaar besig was met gereelde oefeninge, maar die geleentheid om individueel ’n monoloog te skep, my regisseurs- en akteursvermoë te ontwikkel en om met ’n kamera te speel was ’n uitdaging wat my besonder gefassineer het. My grootste doelwit met Bonuspunt was om iets te skryf wat eerlik is en waarmee mense sal kan identifiseer, en Bonuspunt is dus ’n samevatting van alles wat ek op daardie tydstip van die jaar werklik gevoel het: vasgevang, gemiddeld en onseker. Die grootste uitdaging was beslis die skep van die teks, waaroor ek by die volgende vraag sal uitbrei. Alhoewel die skryfproses nie maanskyn en rose was nie, het die plaas en spel van die fisiese stuk meer natuurlik geval en het ek met elke karakterondersoek meer geleer en kon ek nie wag om elke keer met die kamera te werk nie.

Hoe het die skryfproses vir jou gewerk?

Na twee maande by die huis het ek myself in ’n kreatiewe leemte bevind. Ek het presies geweet wat ek wou sê, maar ek kon dit bloot nie op papier sit nie; ek was later bang om my skootrekenaar aan te sit en Word oop te maak omdat dit gevoel het asof ek met die woorde moes baklei. En vir iemand wat hoop om vir die res van haar lewe te skryf en regisseur te wees, was hierdie sukkel-sukkel beslis nie aanmoedigend nie. Ek wonder of mens as skrywer ooit tevrede met jou eindproduk sal wees: Mens is maar altyd onseker of jou teks die regte mengsel van komedie en tragedie bevat, of mense daarmee sal kan identifiseer, of dit relevant genoeg is, eerlik genoeg is. Ek het konstant aan die teks geskaaf en verander tot die naderende sluitingsdatum my tot ’n punt gebring het waar ek moes besluit, genoeg is genoeg: Hierdie is my finale teks.

Vertel my van jou toneelstuk. Die storie, jou hoofkarakter, die gebeure in haar/sy lewe?

Mia Benade is ’n 17-jarige (amper 18!) ietwat oorgewig matriekmeisie aan die Hoërskool Strand. Sy bly in ’n gewone woonbuurt in Brackenfell, in ’n gewone enkelverdieping-, rooibaksteenhuis waar hulle Saterdae-middae braai en Sondae-aande Carte Blanche kyk. Haar ma is ’n eiendomsagent, haar pa werk as ’n risikoanalis en haar ouer broer studeer aktuarieel. Heel eenvoudig en gemiddeld. Mia, aan die ander kant, droom van Meryl Streep, ernstige toneelspel en om eendag vir haar talent en kreatiewe genialiteit erkenning te kry. Hierdie droom kom egter in konflik met haar nie-ondersteunende familie en haar konfrontasie met haar eie, eintlik heel gemiddelde, spelvermoë. Met innerlike konflik en valse selfvertroue loop sy by haar drama-prakties-eksamen in waarvoor sy nie haar woorde ken nie, omdat haar selfgeskrewe stuk vir eindeksamendoeleindes (’n bewys van haar sogenaamde kreatiewe genialiteit) nie aanvaarbaar is nie en moet sy improviseer met ’n afgesaagde uittreksel uit Vaselinetjie. Hierdie interne spanning loop uit tot ’n langverwagte ineenstorting gedurende haar eksamen en die einde los die gehoor sonder katarsis. Bonuspunt en Mia gaan eintlik oor die ewige “sal-ek-ooit-goed-genoeg-wees”-element wat aan drama gekoppel word in ’n samelewing waar drome in die kreatiewe wêreld nie altyd ondersteun word nie.

Was dit vir jou blootstellend of bevrydend om oor jou gevoelens en ervarings in hierdie tyd te skryf? Was dit vir jou iets wat jy eenvoudig geweet het jy wou doen, of het ’n onderwyser jou dalk aangemoedig? Kan jy ook iets onthou wat jou laat besluit het: Ja, hiervoor moet ek inskryf?

Om Bonuspunt te skryf was 100% ’n bevryding van die opgekropte emosies, en om op so ’n publieke wyse van my gevoelens en ervaringe melding te maak het die vrees vir ’n loopbaan in skryf en spel amper minder gemaak en my vrede gegee. Ek het nooit gewonder of ek aan die DigiToneel-kompetisie sou deelneem nie – dit was van die begin af ’n sekerheid. Die afgelope paar jaar het toneel en drama ’n enorme deel van my lewe uitgemaak en was ek nie van plan om in my matriekjaar daardie proses op te gee nie. ’n Leerervaring bly ’n leerervaring, ongeag sy vorm.

Hou jy van teater bywoon? Ek bedoel nou in die tyd voor Covid. Dink jy dis belangrik, of van waarde vir die mensdom? Watter toneelstukke het al tot jou gespreek?

Blootstelling en deelname aan teaterstukke dmv ATKV-Tienertoneel, ander toneelkompetisies en groot feeste, soos Woordfees en KKNK, is die grootste oorsaak van die liefde en inspirasie wat ek vandag vir drama het en dra. Behalwe dat Tienertoneel my lewe totaal en al verander het, beide in my lewensuitkyk en persoonlike groei en vermoë, het Woordfees-produksies my oë vir die wêreld oopgemaak. Om net ’n paar te noem: Mi(SA), Godgodgod, Kraai, 10DuisendTon, Die sonkamer, Wag ek kry gou my foon en vele meer. Ek was bevoorreg genoeg om in die afgelope drie jaar oor die 30 Woordfees-produksies te kyk en die wyses waarop hierdie blootstelling my lewe verryk het, is oneindig. Teater is so belangrik vir opvoeding; dit is belangrik vir die gesprekke wat oopgemaak en begin word; dit is belangrik vir kreatiewe stimulering, om jou te herinner dat jy mens is, om by te dra tot die samelewing, om te motiveer, te inspireer. As elke kind die geleentheid kry om aan teater blootgestel te word, sal daar ’n hoogs emosioneel-intelligente generasie gekweek word wat die wêreld kan verander.

Dink jy teater gaan verander – mense gaan meer in kleiner groepe teater kyk, of gaan dalk meer dinge verfilm word in plaas van lewende teater op ’n verhoog wees? Hoe voel jy oor ’n hibriede samelewing, waar so baie dinge op ’n skerm gebeur of waar mense iets by die huis opvoer en kyk. En wat het hierdie ervaring van die ATKV se kompetisie jou geleer?

Alhoewel die virusregulasies leë teaters tot gevolg gehad het, het dit beslis die idee wat ons van teater het en kan hê, vir ewig en totaal verander. Omstandighede het kreatiewe skeppers forseer om nuwe maniere van kuns maak te skep en DigiToneel is maar net een klein voorbeeld van hierdie uiters voordelige aanpassings. Ek glo vas dat DigiToneel ’n groep kinders en jong volwassenes geskep het wat met ’n totaal nuwe aanslag rondom kamerawerk, filmwerk en teater op film die vermaakbedryf gaan betree. Dit is uiters belangrik, siende dat die grendeltydperk net weer eens bevestig het dat die aanlyn wêreld die toekoms is. En so ’n enorme platform gaan net meer mense na teater lok en ’n liefde vir teater by mense ontwikkel.

Daar was ontsettend baie belangstelling in die ATKV se toneelkompetisie vanjaar, ten spyte van die jaar en die virus. Wat het jou die energie gegee om hieraan te kon of te wou deelneem? En dink jy dit was belangrik om so ’n kompetisie te kon hê vanjaar, so virtueel?

My motivering vir hierdie kompetisie was die feit dat ek met my stem kan bydra tot die samelewing en inspireer met wat ek skep. Dit was beslis nie maklik nie – ek bedoel, die kompetisie was ’n totaal en al nuwe uitdaging en ek het eintlik glad nie geweet wat ek doen nie, maar die enorme groei in my menswees en skeppingsvermoë getuig van die noodsaaklikheid om geleenthede te skep vir kunstenaars om hulle werk te wys. Hierdie geleentheid was ook net ’n bevestiging dat om te skep my bydrae tot die samelewing is en dat ek dit vir die res van my lewe wil doen. Ek het ook baie goeie vriende en opvoeders wat met elke nuwe weergawe noodsaaklike kritiek en oplossings en motivering gegee het, waarsonder ek heel waarskynlik nie vandag hierdie onderhoud sou hê nie.

Kyk in jou kristalbal. Hoe lyk die toekoms? Vertel my wat jy sien.

Ek studeer volgende jaar drama by die Universiteit Stellenbosch. Ek beplan om nuwe dinge te leer, om aan ander mense en hulle kuns blootgestel te word, om te eksperimenteer met my vermoë as skrywer, regisseur en akteur, om ’n oneindige aantal produksies te kyk en om film en kamerawerk in my kuns in te sluit. Die belangrikste is om net meer te weet en meer te ervaar. Ek wil die vermaakindustrie betreë, my kreatiewe stem daar ontwikkel en transformasies te weeg bring. My grootste doelwit as kunstenaar is om ’n volhoubare, verwelkomende en ondersteunende industrie vir ander kunstenaars te skep, want Suid-Afrika is ’n kreatiewe goudmyn. Ons moet net die geleenthede na die tafel bring.

Lees ook:

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met derdepryswenner Merwe van Gent

ATKV-Tienertoneel 2020: ’n onderhoud met naaswenner Jeanne-Marié Koekemoer

 

  • 2

Kommentaar

  • Jeanne-Marié Koekemoer

    Nicola! Ek sien, opreg, so so so baie uit om te sien wat jy gaan maak en vir ons land gaan skenk met jou absolute mooiheid!!

  • Oopkop ... doelgerig ... hardwerkend! Ons is so trots op jou. Sterkte vir die pad vorentoe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top