
Franz Marx: Uit die perd se bek
Chris Vorster
Protea Boekhuis
SKU: 9781485313977
Wie was Franz Marx regtig?
Chris Vorster se boek oor Franz Marx, Uit die perd se bek, word op 12 Oktober 11:00 by die Toyota US Woordfees bekendgestel. Die item heet “Die private Franz Marx”. Annalize Marx Hills, ’n familielid van Marx, deel met die familie en familievriend se toestemming haar eie en hulle persoonlike herinneringe aan die mens Franz Marx.
*
Franz Marx was ’n veelsydige mens. Hy word nie verniet die sepiekoning in die kunstenaarswêreld genoem nie.
............
My pa en Franz se pa’s was broers. Ek en my ouers het saam met my oupa op Sewefontein, die Marx-familieplaas, gebly. Franz het vakansies saam met sy ouers op die plaas kom kuier vir die eerste 15 jaar van ons lewens. Ons het dus as kinders saam grootgeword. Ons het tot Franz se afsterwe heeltyd kontak gehad.
............
My pa en Franz se pa’s was broers. Ek en my ouers het saam met my oupa op Sewefontein, die Marx-familieplaas, gebly. Franz het vakansies saam met sy ouers op die plaas kom kuier vir die eerste 15 jaar van ons lewens. Ons het dus as kinders saam grootgeword. Ons het tot Franz se afsterwe heeltyd kontak gehad.
Franz was baie familievas en lief vir sy familie. Hy het altyd ons neefs en niggies besig gehou met sy eie stories en soms toneelstukke waar hy ander klere aangetrek het.
Franz was nog op Stellenbosch toe hy al begin het met ’n plakboek met koerantuitknipsels oor hom. Hy het altyd gesê dat hy ’n akteur wil word en was ’n bewonderaar van die bekende Hollywood-akteurs van daardie tyd.
Hy was baie lief vir sy oopdak sportmotors, en as hy op die plaas by my kom kuier het, het hy hier in Burgersdorp in ’n gastehuis gebly. Dan moes ek vir hom ’n voertuig dorp toe bring, want hy wou nie met sy “grand" karre op die plaaspaaie ry nie. Ek kom haal hom toe eendag in die dorp en hy spog met sy nuwe Mercedes, omdat die motor oopgesluit en aangeskakel word net met jou kaalhand deur die motor jou vingerafdrukke neem.
..............
Franz was ’n perfeksionis in alles wat hy gedoen het. In sy werk as vervaardiger moes sy kollegas ook perfekte werk lewer. Daarom was André Schwartz se liedjie wat hy op Franz se afskeidsdiens gesing het, "I did it my way" van Frank Sinatra, so gepas. Franz was baie hardwerkend en daarby was hy ook nederig. Franz was ook ’n introvert en ’n baie privaat mens.
.............
Franz was ’n perfeksionis in alles wat hy gedoen het. In sy werk as vervaardiger moes sy kollegas ook perfekte werk lewer. Daarom was André Schwartz se liedjie wat hy op Franz se afskeidsdiens gesing het, "I did it my way" van Frank Sinatra, so gepas. Franz was baie hardwerkend en daarby was hy ook nederig. Franz was ook ’n introvert en ’n baie privaat mens. Hoe ouer hy geword het, hoe sterker het hierdie twee eienskappe van hom geword. Ek dink Franz was gelukkig en tevrede met sy lewe. In ons laaste gesprek voor sy afsterwe was hy baie opgewonde oor sy enigste kleinkind (die dogtertjie van sy seun Frans).
Ek stem volkome saam met Chris. Frans was ’n siniese filantroop – ’n reus met ’n sagte hart en ongelooflike talent.
Franz het nie baie gevloek nie, maar by geleenthede het hy soms kragwoorde gebruik.
Ek dink Franz het ’n reusenalatenskap in die vermaaklikheidswêreld nagelaat. Vir ons as familie het hy ’n onvergeetlike nalatenskap agtergelaat.
............
Ek dink Franz het ’n reusenalatenskap in die vermaaklikheidswêreld nagelaat. Vir ons as familie het hy ’n onvergeetlike nalatenskap agtergelaat.
............
’n Mens kan by Franz leer deur sy nederigheid, sy kunstalent en sy bestuursvaardighede om sy produksies tot by die kykers in hulle huise te kry!
Hoewel die broers in koshuise was, was hulle naweke en skoolvakansies tuis. Met elkeen van hierdie gesinslede wat uiteenlopende geaardhede het, was hulle ’n heel normale gesin. Die ouers, slim en talentvolle mense, en ewe slim kinders.
Franz was ’n anderste een. Hy het gedurig gelees en het na skool drama gaan studeer op Stellenbosch – wat ook later sy gunstelingplek geword het waar hy graag ontspan het. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy by Truk (die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) begin werk. Latere jare het hy oorsee gaan toer met die doel om te leer hoe om sepies te maak. Op sy pad het hy heelwat vriende gemaak wat later die naaste aan hom was. Gedurende hierdie reise het hy waardevolle lesse geleer, inligting geabsorbeer wat hy dan ook suksesvol in die TV- en filmwêreld, asook die teaterwêreld toegepas het. Hy was geniaal en het ’n baie goeie besigheidsin gehad. Dit het hom in staat gestel om suksesvol te wees in alles wat hy aangepak het.
Franz het ’n gesonde verhouding met die Marx-familie gehad. Weens sy werk kon hy nie so dikwels daar gaan kuier soos hy graag wou nie.
Franz Marx was werklikwaar ’n baie privaat mens. Hy het sy vriende met fyn oorleg gekies. Selfs hulle het nie eers alles van hom geweet nie.
’n Paar interessante feite oor Franz.
Hy was absoluut gek oor sy taal, Afrikaans, en het altyd suiwer Afrikaans gepraat.
Alhoewel hy baie hoë verwagtinge en standaarde gehad het, het sy sukses nooit na sy kop toe gegaan nie. Hy het ’n normale lewe gehad, met genoeg om sy lewe vir homself maklik te maak.
Hy was ’n mens wat gehou het van mooi dinge om hom. Sy talle huise wat hy in verskeie stede gehad het, was smaakvol ingerig. Hy het ’n vurige passie gehad vir mooi sportkarre. ’n Interessante insident het jare terug plaasgevind. Met sy Lamborghini van Plettenbergbaai na Pretoria op pad, het een wiel gebars, naby Cradock. Dit het hom genoop om vir ’n paar dae daar in ’n hotel in te boek. Die plekkie het nie ’n band vir die voertuig gehad nie. Hy het oplaas een van sy Egoli-span se mense opgekommandeer om vir hom ’n noodwiel te bring – en die outjie moes nie tyd mors deur af te ry nie. Hy moes vlieg. Tydens sy verblyf daar het die burgemeester en van die plaaslike inwoners hom besoek. Dit was vir Franz ’n besonderse gebaar en hy het dit vreeslik geniet.
Franz het daarvan gehou om te onthaal. Met ’n goeie huishoudster wat vir hom gewerk het, het hy Woensdagaande sulke gesellige byeenkomste tussen familie en vriende gehou. Hy was ook lief daarvoor om sy familie en vriende vir ete uit te neem. Tydens so ’n ete was daar ’n ligte geskerts waaruit ’n weddenskap ontstaan het tussen Franz en een van sy vriende oor wie van hulle twee gaan eerste ’n roman uitbring en publiseer. Dié vriend het dit reggekry en loshande gewen. Frans het toe wel later ’n speurverhaal, Spieëlbeeld, die lig laat sien.
Franz se twee kinders was die ander liefdes in sy lewe. Hy het hulle vakansietye Margate toe geneem. Die woonstel waarin hulle tuisgegaan het, het op die strand en see uitgekyk. Soms wanneer die kinders alleen strand toe is, kon Frans altyd ’n ogie hou. ’n Handdoek om die balkonreling was vir hulle die teken dat hulle moet terugkeer woonstel toe
Hy het vir hom ’n helikopter gekoop, en volgens sy familie en vriende was dit vir hom lekker om self te vlieg na waar hy wou wees. Dit het ook sy streslading verminder, eerder as dat hy heen en weer moes ry tussen sy werk en huis. Hy het ook gereeld saam met sy vriende wat klein vliegtuigies en helikopters gehad het, op naweekwegbreke gegaan.
Franz was lojaal, spitsvondig en eksentriek en het ’n wonderlike persoonlikheid gehad, maar hy kon ook dikwels moeilik wees. Tog, as hy kwaai was, het hy gou weer afgekoel. Hy was ’n storieverteller soos min. Mense het aan sy lippe gehang wanneer hy stories vertel.
Maak nie saak of jy ’n motorwag of wat was nie – hy het almal met respek behandel. Hy was uniek – bedagsaam en sorgsaam.
Die laaste paar weke voor sy afsterwe was dit vir sy familie ’n baie moeilike tyd. Hulle het hom met liefde versorg. Franz was ook verskriklik geheg aan Bakkies, sy Boston-terriër, en was angstig oor wie na sy hond sal kyk. Met sy familie se gerusstelling dat hulle na Bakkies sou omsien, was hy gelukkig en tevrede met die wete dat sy hond nie na vreemdes toe sou gaan nie.
Franz Marx sal onthou word deur baie mense as die skepper van Egoli, maar vir ons, sy familie, sal hy in ons harte voortleef.

Foto van Franz Marx by sy helikopter (foto: verskaf en met toestemming geplaas)
Onderhoud deur Annalize met Johan Allers, ’n vriend van Franz Marx.
Ek het verneem dat jy en Franz baie goeie vriende was. Hoe en waar het julle ontmoet?
Ek het Franz in die tagtigerjare in Keulen, Duitsland ontmoet. Hy was saam met Merwede van der Merwe, wat die term luisterlied gevestig het, op ’n vakansiebesoek. Merwede, wat ek in my SAUK-dae leer ken het, het my ’n dag voor hul koms gebel en gevra of sy en Franz by my tuis kon gaan. Ek het aan haar verduidelik dat ek in ’n baie eenvoudige huisie woon en dat dit nie vir die beroemde Franz Marx geskik sal wees nie. Basta, het sy geantwoord, Franz hou van mense en nie hul status nie. Franz was pas terug van Tel Aviv, waar hy Egoli geskryf en ontwikkel het. Tot my verbasing het hy met net een klein koffertjie in sy hand by die lughawe net buite Keulen opgedaag. “Waar’s jou bagasie?” wou ek weet. Hy het gelag en gesê dat hy met net twee broeke, twee hemde, ’n paar kouse en onderbroeke reis. Hierdie eenvoud, sou ek met die verloop van tyd leer, was tekenend van ’n man wat die woord “styl” gedefinieer het. Classy, soos die Engelse sê.
Ons was van die begin af goeie maats en het saam deur Duitsland gereis en allerlei avonture beleef. Vir my was Franz ’n man sonder ’n ego met sy voete plat op die aarde geplant. Hy het die vermoë gehad om jou die gevoel te gee dat jy die middelpunt van die wêreld is. Hy het meer in jóú storie belang gestel as in sy eie. Hy het jou stories soos lekkers opgevreet.
Opmerklik was sy vermoë om homself by sy omgewing aan te pas. Hy was tuis tussen die hooggeplaastes, maar heeltemal gelukkig en tevrede om op ’n simpel bankie in my woonkamer te slaap. In dié opsig was Franz vir my soos ’n verkleurmannetjie. Ek dink hy het die spoggerige dele van sy lewe terdeë geniet (en hy kon dit bekostig), maar was meer geabsorbeer deur die kleure en lewe om hom. Hy was immers ’n groot storieverteller en om dit te doen moet jy kan assimileer en absorbeer – en dit het hy uitstekend gedoen. Terselfdertyd het hy nooit sy tyd op mense, plekke of situasies wat hy vervelig gevind het, gemors nie. Wat dit betref, was hy ook ’n uitstekende provokateur.
Wat was jou eerste indrukke van Franz?
Wanneer jy iemand soos Franz vir die eerste keer ontmoet, is jy uiteraard bewus van sy reeds gevestigde status. Ook Franz weet dit. Daarom verstom hy jou met sy eenvoud en maklike omgang met mense. Uiteraard is hy ’n ronduit charmante vent, soos ons hier in Nederland sal sê. Hy plaas die fokus op jou.
My eerste en blywende indrukke van Franz?
Indrukwekkend. Intimiderend slim. Verskriklik snaaks. Bloubloed. ’n Groot man (fisiek en geestelik) met ’n ondeunde sjarme. Selfs ’n stoutgat. Die toonbeeld van styl en karakter met ’n gespierde intellek en ’n groot hart, uitdagend en uiters vermaaklik. Iemand wat sonder sinisme met homself en die wêreld kon spot. ’n Mensch. ’n Vertroueling, iemand wat kon luister, ’n uitstekende raadgewer en lewensmentor.
Hy was lojaal en rojaal teenoor sy vriende. Ook kieskeurig.

Foto van Franz Marx en Johan Allers (foto: verskaf en met toestemming geplaas)
Hoe ’n soort mens was hy?
Ek dink Franz was verskillende dinge vir verskillende mense. Omdat ons in twee verskillende professionele wêrelde geleef het, het ons ook geen (professionele) verwagtinge ten opsigte van mekaar gekoester nie. Ons was gewoon vriende, of in Franz se woorde pelle. Dit het ruimte geskep vir ’n vriendskap gebaseer op wedersydse respek en karakter.
Hoe ’n soort mens was hy? Gepassioneerd, appassionata! In persoon, in karakter en in sy werk. Sigbaar vir die wêreld was daar ’n dirigent, skepper, skrywer en vervaardiger wat maklik die indruk kon wek van die meesterpoppespeler wat flink die toutjies trek. Tog het sy loopbaan werklik sweet en bloed geverg en het ek self die indruk gehad van ’n man, ’n drenkeling, wat met kere met moeite na asem snak. Franz het my vertel hoedat hy soms tot diep in die nag nie kon slaap nie. “Soms staan ek om drie-uur in die nag op om onder ’n stort te staan om al die storielyne en karakters van Egoli uit my kop te was.”
Dit is ook die rede, het Franz my vertel, waarom hy ’n helikopter gekoop het. “As ek in die dingetjie vlieg, ontvlug ek al die dinge en kom ek weer tot rus.”
Ek dink ook Franz het in geskeide wêrelde geleef. Sy werk, sy persoonlike lewe, sy vriende en sy familie. Die een netjies van die ander geskei. Ek dink daar bestaan waarskynlik weinig mense wat die somtotaal in al sy nuanses en kompleksiteite werklik ken en ek vermoed dit is presies hoe Franz dit wou. Hy het sy eie narratief beheer en het die mite wat hy rondom homself geskep het, geniet. Onthou, ons was kuiermaats. Tydens sy besoeke aan Europa het hy by my tuis gegaan en tydens my besoeke aan Suid-Afrika was sy huis my huis. Hy was die perfekte gasheer en is steeds, sy weggaan ten spyt, ’n besonderse vriend. Dit is ’n vriendskap, ’n band, wat ek koester, maar ook vriende, selfs beste vriende, respekteer mekaar se grense en stille ruimtes.
Min mense weet iets van Franz se privaat lewe. Het hy ooit soms iets laat deurglip en jou ’n kykie gegee van sy familie?
Franz het baie na die Marxe verwys, maar nooit oor die Marxe gepraat nie. Ek het nooit enige lede van sy familie ontmoet nie en Franz het dit nooit nodig geag om my aan sy familie voor te stel nie. Dit is hierdie ... noem dit maar ... ruimtelike skeiding wat daarvoor gesorg het dat Franz ’n verskillende man vir verskillende mense was.
Ek dink ek was deel van wat ’n mens breed sou omskryf as Franz se privaat lewe en ons het oor alles gesels waaroor vriende gesels. Seks, politiek, Suid-Afrika, vriendskappe, ons lewensbeskouings en ervarings, die bedryf en sy mense, noem maar op. Franz was iemand wat ’n mens ’n fees noem. ’n Maaltyd waarvan jy nie genoeg kon kry nie. Ons het, soos alle vriende, gelag en geskinder. Ons het hartstogtelik oor politiek baklei, grillerige stories en soms lekker vieslike grappe vertel, staaltjies uitgeruil en saam avonture beleef. Sekerlik is daar baie stories om te vertel, maar wat my betref, geen werklike geheime nie. Ten minste geen donker geheime nie. Hy het sy vreugde en frustrasies met my gedeel en nie ’n moordkuil van sy hart gemaak nie. Ek het Franz as ’n mens en vriend beleef en nie as die geroemde kunstenaar en vervaardiger nie. Wat dit betref, was hy gewoon ’n mensch met ’n groot hart en so ’n bietjie larger than life karakter. Briljant.
Het jy geweet dat hy kanker gehad het en dat hy nooit met mense daaroor gepraat het nie?
Ek het min kontak met Franz gehad in sy laaste jare. Dit knaag aan my dat ek nie totsiens kon sê nie. Afstand maak afskeid moeilik. Hy het baie grappe gemaak oor oudword en soms, grappenderwys, na homself as “die ou oom” verwys. “Oudword is nie vir sissies nie,” sou Franz sê. Dit sal oneerlik en onwaardig wees om hom as ydel te beskryf. Sy materiële sukses was belangrik, het hy eens gesê, om die pyn van oudword te temper. Tog was sy beeld en uitstraling na die buitewêreld baie belangrik vir hom. Hy was trots en edel en ek vermoed – glo selfs – dat hy tot die laaste oomblikke van sy lewe hierdie waarde behou het. Nee, ek het nie geweet dat hy kanker gehad het nie.

Foto van Franz Marx en Johan Allers (foto: verskaf en met toestemming geplaas)
Vertel my van die helikopter wat hy gekoop het. Waarvoor het hy dit gebruik? Ek onthou dat hy met die einste helikopter by ons familiereünie opgedaag het, ’n hele paar jare terug.
Die helikopter, vermoed ek, was enersyds prakties en andersyds puur Hollywood. Prakties omdat hy in ’n pragtige huis op die rand van Hartbeespoortdam gewoon het en elke dag maklik Johannesburg toe kon vlieg vir sy werksaamhede aan Egoli. Daarnaas was die helikopter sy manier om aan die geweldige druk van sy professionele loopbaan te ontsnap. Ons het saam in die goggatjie gevlieg. Hy het soms so naby aan die grond gevlieg dat ons die naambordjies op die paaie kon lees. Dit was vir Franz puur genot en ’n absolute ontvlugting van sy werk. Uiteraard het hy die Hollywood-glans daarvan ook geniet. Hy was tereg trots op sy sukses en het ook so ’n bietjie sy eie rolprent vir homself geskep. Voor sy groot sukses met Egoli het ons mekaar in Los Angeles gesien. Ek onthou hoe hy dit geniet het om in ’n limousine deur die stad te ry en deur die grootbase van Hollywood ontvang te word. Hy kon goed van die glans geniet.
Wat was Frans se beste eienskappe en slegtes?
Ek het Franz net in sy private lewe geken en kan dus geen uitsprake maak oor sy professionele lewe nie. Wat sy private lewe (en my klein deeltjie daarvan) betref, is dit byna onmoontlik om slegte eienskappe te noem. Inteendeel. Franz Marx was altyd vriendelik en beleefd. Hy het, die drukte van sy loopbaan ten spyt, spesiaal tyd vir jou gemaak. Hy had ’n gesonde ego. Hy het spesiaal moeite gedoen om jou die beste te gee. Dierbaar. Hy was eerlik, opreg, uitnodigend en uitdagend. Hy was goed in staat om die verskillende fasette van sy lewe te skei en waar nodig bymekaar te bring. Sy fokus was skerp en afgemete. Hy was ’n goeie vriend. Roem en rykdom het nie in die weg van gewone vriendskappe met gewone mense gestaan nie. Hy het ’n storie in elkeen gesien en gewaardeer. Ten spyte van sy unieke talente was hy ’n ongewoon doodgewone man. Natuurlik het hy so ’n bietjie oor meeste gesweef, maar ook dit was inherent aan die karakter, die mens en die wêreld van Franz Marx.
Wat dink jy sou hy graag nog wou gedoen het in sy lewe voordat hy gesterf het?
Dit is moeilik om ’n antwoord op hierdie vraag te gee. Ek dink daar sal altyd nog ’n storie wees. Nog ’n laaste laaste dans. Ek dink dit lê waarskynlik in die karakter van alle skeppende mense. Ek dink dat mense ook uiteindelik berusting vind in die verganklikheid van die lewe. Oudword is tog nie vir sissies nie.
Ek het onlangs met Chris Vorster, die skrywer van Uit die perd se bek – die biografie van Franz Marx wat nie ’n biografie is nie – gesels. Ek haal ’n stukkie uit die boek aan:
Sê Franz self: “Daar was soveel stories oor my, maar oor wie is daar nie? As dit ’n gay ou is, het ek stories daaroor gehoor. As dit vrouens is, het ek gehoor ek het hulle bygekom in my kantoor. Dit het my nooit gepla nie; as jy jouself vir ’n toffie uitgee, gaan die mense aan jou suig. Dít het ek altyd geweet, maar hulle het nooit die waarheid geweet nie. Hulle het nooit geweet ek het twee kinders grootgemaak nie, nooit geweet ek was getroud nie, nie geweet wie is my vriende nie, nie geweet met wie ek sosialiseer nie. Hulle het nooit geweet van my private lewe nie.”
Dié kort aanhaling van Franz spreek van ’n tevrede man. Dit spreek ook van ’n soort pragmatiese trots. “I did it my way,” soos Frank Sinatra gesing het.
Franz Marx het geweet dat hy Franz Marx is. Hy het geweet dat sy nalatenskap blywend is. Hy het die bekroonde akteur, skrywer en regisseur Chris Vorster die kroonjuwele gegee. Ook dit het Franz op sy eie voorwaardes gedoen. Tot aan die einde van sy lewe het Franz sy eie narratief geskryf en behou. Sy keuse van Vorster as sy biograaf is weerspieël in die titel van die boek: Uit die perd se bek.
As mens terugkyk na sy loopbaan met soveel sukses wat hy bereik het, dink jy hy was gelukkig en tevrede daarmee?
Franz was nooit tevrede met sy werk nie. Terugskouend het hy altyd sy eie werk met kritiese oë bekyk. Dit is nie ongewoon en/of uniek nie. Ek glo wel (hoop) dat Franz aan die einde van sy lewe met tevredenheid en vrede teruggeblik het. Ek sien selfs ’n stout glimlag op sy gesig en ’n man wat sy hande met genot vryf. Hy het die hoogste hoogtes bereik en die geruis netjies agter hom gelaat. As jy my vra, sit hy nou lekker agter die stuur van sy helikopter en vlieg hy steeds bo almal van ons se koppe.
- Chris Vorster se boek oor Franz Marx, Uit die perd se bek, word op 12 Oktober 11:00 by die Toyota US Woordfees bekendgestel.
Lees ook:
Cordis Trust se Orde van die Goue Pen 2022: ’n onderhoud met Johan Allers

