Beyers de Vos, skrywer van Die Suid-Afrikaners, praat met Naomi Meyer oor hierdie toneelstuk wat vandeesweek by die Woordfees op die planke is.
Beyers, jy’s die skrywer van die toneelstuk Die Suid-Afrikaners. ’n Stuk wat oor Afrikaans en Afrikanerskap besin. ’n Stuk waar mense heildronke drink oor die dood van sekere uitgestorwe Afrikaanse woorde. "’n Komedie, belowe", beloof die Woordfees se program. Wat het jou geïnspireer om die toneelstuk te skryf? Wat was die sneller hiervoor? En waaroor handel die toneelstuk?
So baie gesprekke oor Afrikaans is eksistensieel. Maar waaroor praat mense nou eintlik as hulle beweer Afrikaans is op sterwe? Ek wou dié gesprek letterlik maak: Hier is die laaste vier mense op aarde wat Afrikaans kan praat; dit is werklik die einde van Afrikaans en Afrikanerskap, so wat nou?
Ek het ook waargeneem dat ’n nuwe Afrikaner-nasionalisme besig is om na vore te kom. Konserwatiewe mense van my geslag of jonger wat nostalgies is oor Afrikaans en oor Afrikaner wees. Mense wat in die sogenoemde nuwe Suid-Afrika gebore is, maar nie in die nuwe Suid-Afrika wil deelneem nie. Daar is vir my ironiese spanning tussen “Ek wil Afrikaans wees” en “Ek wil nie in Suid-Afrika wees nie”, en ek wou daai spanning verken.
...........
Daar is vir my ironiese spanning tussen “Ek wil Afrikaans wees” en “Ek wil nie in Suid-Afrika wees nie”, en ek wou daai spanning verken.
............
En waarom ’n besinning en sosiale kommentaar in die gedaante van ’n komedie? Of is dit ’n manier om die werklikheid te hanteer? Of ís die werklikheid doodgewoon snaaks?
.........
Die werklikheid is doodgewoon snaaks, as jy my vra. Ten minste ironies.
...........
Die werklikheid is doodgewoon snaaks, as jy my vra. Ten minste ironies. Die komedie kom ook van die karakters af. Dié is ’n groep mense wat baie vir mekaar wegsteek (nes die teks iets van die gehoor probeer weerhou), en humor is ’n goeie manier om die waarheid te vermy – tot mens nie meer kan nie.
Wie’s almal in die stuk te sien en wie is ook betrokke?
Jong, ek is baie bederf. Ek kon nie my teks oorgegee het aan ’n meer talentvolle groep mense nie. Wessel Pretorius het die regie gedoen. Hy’s ’n gentle genius. Hannah Borthwick, Wian Taljaard, Sean van Noordwyk, en Kanya Viljoen speel. Ek kom so pas van ’n dress rehearsal en hulle is almal besonders.
Birrie le Roux het die stel- en kostuumontwerp gedoen, Kieran McGregor die beligting, Franco Prinsloo die klankbaan en Marié Vogts die produksiebestuur. Philip Theron is ons verhoogbestuurder – the cream of the crop.
Ek moet ook vir Cornelia Faasen van NATi en Saartjie Botha van die Woordfees dankie sê. Dit was Cornelia wat my in die eerste plek oortuig het om toneel te skryf en sonder haar en Saartjie se aanmoediging en ondersteuning het ek dit tien teen een nooit reggekry nie. Fairy godmothers.
Jy het ook al ’n spanningsroman geskryf – is skryf en toneel vir jou ’n natuurlike kombinasie?
Ja en nee. Die tegniek is anders – karakterontwikkeling en tydsverloop ens. Toneel is moeiliker, want die gehoor het nie toegang tot jou karakters se binnewêreld nie, wat my nogal frustreer. My eerste draft was vol monoloë om te vergoed hiervoor. Darem het nie veel van daai draft oorgebly nie, maar ek moes eers die prosa uit my sisteem kry voor ek gemaklik was met dialoog.
..........
Tog is die weird magic wat in my verbeelding gebeur terwyl ek skryf, presies dieselfde ongeag die genre – die storie wil uit.
............
Tog is die weird magic wat in my verbeelding gebeur terwyl ek skryf, presies dieselfde ongeag die genre – die storie wil uit.
Wanneer kan mense na Die Suid-Afrikaners kom kyk? Waar en wanneer is julle op die planke?
Ons speel by Woordfees in Stellenbosch op 10 Oktober 10:00, 11 Oktober 18:00, 15 Oktober 20:30 en 16 Oktober 13:00. Kom kyk as jy ook dink die werklikheid is snaaks.
Lees ook:
Toyota US Woordfees 2022: ’n onderhoud met Johann Kriegler oor Sydney Kentridge
Toyota US Woordfees: Wilken Calitz oor sy verwerking van Prente by ’n uitstalling
’n Bedrywige Woordfees vir Paula Fourie met Taliep, Babyboy Kleintjies en Athol



Kommentaar
Ek wens ek was in Stellenbosch om hierdie interessante toneelstuk te sien. Ek hoop die dramateks gaan gepubliseer word – klink na ’n opwindende tema om vanuit ’n literêre perspektief te ontleed.
Ek het volle begrip daarvoor dat generasieverskille 'n werklikheid is, dat moreel-etiese waardestelsels met tydsverloop verander en dat ruimte vir diverse standpunte en menings geskep moet word. Ek besef ook dat my mening subjektief van aard is en op 'n persoonlike waardestelsel gebaseer is. Nogtans was dit 'n onaangename ervaring om die toneelstuk, Die Suid-Afrikaners wat as 'n komedie voorgestel is, tydens die onlangse Woordfees op Stellenbosch te beleef. Die opsomming in die Feesgids verduidelik dat die apokalips vir Suid-Afrika aangebreek het, en dat vier karakters bespiegel oor die toekoms en verlede van die Afrikaners. Die oorkoepelende doel van teater is onder andere om menslike konflikte na die vlak van die artistieke te verhef om sodoende nuwe perspektief daaraan te gee. Die stuk is egter deurspek van vuil- en vloektaal, verbale mishandeling, die nabootsing van alkoholmisbruik asook 'n kroniese rokery van sigarette. Hierdie handelinge word oor en oor tot vervelens toe herhaal. Volgens my siening was middelmisbruik was nog nooit 'n sinvolle hanteringsmeganisme vir identiteitskonflikte nie. Daar is vele ander sinvolle opsies. Ek het so tussendeur die rookdampe in die teater gewonder of die skrywer rekening hou met die nadelige gevolge wat passiewe rook vir die gehoor kan inhou en die aversie wat by gerehabiliteerde rokers ontstaan. Die kersie op die koek was die twee tonele waarin seksuele aktiwiteit uitgebeeld word. Die dieperliggende betekenis van die eerste toneel kon wel uit die konteks afgelei word, naamlik om 'n afstammeling vir die betrokke karakter in terme van die apokalips se realiteite te verseker. Die ware of sinvolle betekenis van laasgenoemde bly egter hoofsaaklik versluier en is moeilik interpreteerbaar. Watter effek sou hierdie eksplisiete toneelstuk op die jeugdige psige van sewentien- of agtienjariges toneelgangers hê? 'n Globale nuwe perspektief het egter vir hierdie teaterganger ongelukkig totaal verdwyn, inteendeel ek verkies om eerder repressie (doelbewuste onderdrukking) as 'n verdedigingsmeganisme en teenmiddel vir hierdie toneelstuk te gebruik.