Wrok
Beyers de Vos
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781485903321
Ek wonder waarom De Vos se debuutroman, wat tegelykertyd in Engels gepubliseer is as Talion, as misdaadfiksie bemark word. That way lies disappointment, reken ek. Misdaadvrate het basiese, resepmatige behoeftes en wil liefs nie luier by beskrywings van die stad se donker hart en vuil onderbuik, by standbeelde wat van hul voetstuk losbreek en wegstap nie. Maar wat weet ek? Suid-Afrikaanse misdaadskrywers is lankal besig om al die reëls te verbreek, as die reëls ooit geldig was, maar dis uiteindelik lesers se genrevoorkeure wat kasregisters laat klingel. Karen Brynard se lywige romans is dig, vol humor en deernis en met ’n sterk psigologiese onderbou. In Etienne van Heerden se Charlie Oeng is mense vermoor, tog is dit soveel meer as misdaadfiksie.
Wrok is ’n misdaadroman tot dieselfde mate as wat Crime and Punishment een is —dit gaan oor moord en die nagevolge daarvan. ’n Klip val in ’n rivier en die rimpels kring al wyer uit. Die soeklig is op die menslike psige eerder as forensiese bewyse.
Daar is ’n moord — ’n student, Ben Rust, word voor ’n kuierplek in sy motor doodgeskiet. Daar is ’n polisievrou, inspekteur Nolwazi Mngadi, op wie se lessenaar die moorddosier beland. Soos alle speurders is haar kas vol geraamtes, haar koffer vol bagasie. Daar is ’n maaifoedie — die gedugte dwelmhandelaar Slick wat die strate geleer regeer het aan die voete van sy meedoënlose mentor, Mama Africa. Daar is ook die twyfelagtige Afrikaanse polisieman Frik en korrupte offisiere. Daar is meer as een wreker: Ben se tweelingsuster Freya, wat sy moord aanskou het en min of meer vernietig is daardeur, en die onderwyser Abraham Oktober wie se verslaafde vrou een van Slick se slagoffers was en wie se dogter, Sophie, in die skuld is by Slick. Freya en Oktober is wraakengele met tonnelvisie en spanning bou op in die drukkoker.
Die ware protagonis is Pretoria, stad van bloedvergieting, gierigheid, mag, rykdom en ellende. Waar die staatsdiensreëns val, waar dit donder en blits, waar die stad in die namiddag skielik na oerwoud ruik. Joan Hambidge wys in haar blog Woorde wat weeg daarop dat dit tipies van James Bond-films is: die stad of land as mede-speler. Die roman begin en eindig met ’n graffiti-skildery van Lady Justice met haar blinddoek, soos op die voorplat. Hierdie Regsdame het swart vlerke en dra ’n swart rok en in haar regterhand hou sy ’n stywe, ejakulerende penis vas. Die muurskildery gee die toon van die roman aan: grinterig en donker. Lady Justice word die godin van wraak eerder as geregtigheid.
Die verhaal word oortuigend vanuit die perspektiewe van die vyf hoofkarakters en die stad vertel. De Vos is ’n verkleurman wat gemaklik vervel. Daar is ’n onweerstaanbare momentum, daar is storielyne wat vervleg en die leser wil die kloutjie by die oor bring. Ben Rust het meer geheime gekoester as wat sy tweelingsuster vermoed het.
Die hoofstukke is kort, die taal spierkragtig en soepel. Soos wat myns insiens met talle kreatiewe skryfkuns-verhandelings die geval is, maak die skrywer hom soms aan mooiskryf skuldig, maar ook daar is hy in goeie geselskap: in die werk van ons voorste skrywers kry hierdie leser soms die indruk dat die skrywer so voortreflik skryf en dit so intens geniet dat hy/sy weier om lieflinge nek om te draai; weier om een beeld of beskrywing bo die ander te kies en bloot al drie langs mekaar neersit.
Hoe dit ook al sy, hier is ’n gebore (en opgeleide) skrywer aan die woord en een van wie ons nog heelwat gaan hoor. Dis ’n stadsroman wat sosiale kommentaar lewer; ’n sterk, leesbare debuut wat die leser sal bybly.
Kommentaar
Ek weet nie waar ek dit gemis het in die boek ( Talion) nie maar het Slick of Mr October vir Ben geskiet?