Toyota US Woordfees: Wilken Calitz oor sy verwerking van Prente by ’n uitstalling

  • 0

Prente by ’n uitstalling deur die Russiese komponis Moessorgski is ’n meesterlike werk wat die oorkoepelende idee van ’n kunsuitstalling verbeel, en oorspronklik vir ’n reeks kunswerke van ’n goeie vriend geskep is. Die skrywer-musikant Wilken Calitz herverbeel hierdie werk as ’n pa-en-dogter-uitstappie na ’n uitstalling, en hy belaag die teks subtiel met lewenslesse en kwinkslae. Hy vertel aan Izak de Vries hoe hy hierdie projek aangepak het.

Wilken. Die stuk is baie bekend. Nou plaas jy ’n pa en dogter in die vertellersrolle. Hulle gaan saam op ’n  uitstappie. Wat probeer jy daarmee regkry wat ander nog nie gedoen het nie?

Niël het my in April 2021 gevra om ’n bindingsteks te skryf vir Prente by ’n uitstalling. Sy idee is geskoei op Saint-Saens se Karnaval van die diere, wat meestal uitgevoer word met ’n verteller wat die volgende beweging van die orkessuite inlei.

Moessorgski se komposisies is gebaseer op twaalf kunswerke van sy kunstenaarsvriend Anton Hartman. Die oorspronklike skilderye is weg of vernietig – niemand weet nie. Daar bestaan wel sketse en beskrywings wat leidrade gee oor hoe dit moontlik gelyk het.

My dogter is nou ses jaar oud en ek moes op ’n dag vir haar verduidelik wat gebeur wanneer ’n mens doodgaan – na aanleiding van ’n vriendin se sterfte. Kinders is visueel ingestel. Sulke komplekse konsepte is makliker om te verduidelik aan die hand van iets wat binne hul verwysingsraamwerk val. Met Prente by ’n uitstalling gebruik ek juis die beelde sodat die pa vir sy dogter kan verduidelik wat binnekort met hom gaan gebeur. Mens sou kon sê dit is ’n paar lewenswyshede uit ’n ouer se perspektief.

Niël Rademan (as pa) is goed bekend aan teatergangers, maar Luca Human (die dogter) is ’n vars briesie. Lig die sluier so ’n bietjie, asseblief?

Luca is Margit Meyer-Rodenbeck se geweldig talentvolle dogter wat by al wat ’n eisteddfod is, uitblink. Dit is haar tweede verskyning op die professionele verhoog. Die eerste maal was in ’n Liewe Heksie-produksie as Matewis die Kat. Maar hierdie keer word sy met meer literêre skryfkuns en voordrag gekonfronteer. Met sulke talent en goeie "breeding" is dit nie ’n probleem vir haar nie.

Gaan die hok op hoenderpote nie vir my en vir Luca nagmerries gee nie?

Dit is waar die ou heks bly. Sy maak mense bang wanneer hulle slaap. Sy saai twyfel, sy saai twis en sy sal jou vermorsel met die lang nael aan haar groottoon. Wees op jou hoede, wees soet, eet al jou groente en moet nooit jok nie ... dan kan daai ou heks niks met jou maak nie.

Jy is ’n goeie musikant, Nina Schumann is ’n uitstaande pianis. Het julle geskaaf aan Moessorgski se musiek om alles in te pas vir ’n Woordfeesproduksie?

Nina is so briljant dat ons eintlik min tyd saam spandeer het om die teks te laat werk. Die musiek bestaan uit semilosstaande dele en die verteller praat tussen al die "stiltes".

Dit is wonderlik om haar te sien speel. Dit is asof die voorleser van haar emosionele energie af werk. Mens kan eintlik net vir Nina kyk. Die teks is ’n gawe bonus, maar dit is die klanke wat eerstens betower.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top