
Foto van Sydney Kentridge: https://woordfees.co.za/program/book-club-sydney-kentridge-colossus-of-the-legal-world/; foto van boekomslag: https://www.jonathanball.co.za/component/virtuemart/the-mandela-brief?Itemid=491
Oudregter Johann Kriegler is gespreksleier by die Woordfees-leeskameraanbieding rondom Sydney Kentridge. Hy praat met Naomi Meyer oor hierdie belangrike gespreksgeleentheid by vanjaar se Toyota US Woordfees.
Johann, die Suid-Afrikaanse regstelsel voel vir my so voortdurend aan die ontwikkel en aan die uitsprei soos die sonnestelsel. Daar was ’n regsgeleerde wat heelwat van dié ontwikkelings meegemaak het (soos jy self ook): Sydney Kentridge. Binnekort vind daar by die Woordfees ’n boekklubbespreking van sy werk en lewe plaas. Ek het op Netwerk 24 gelees wat jy oor die boek geskryf het. Sal jy asseblief kortliks vertel wat vir jou van die mees opvallende aspekte van Kentridge se regsloopbaan is?
Die opvallendste aspek van Kentridge se loopbaan is die lengte daarvan – eintlik die hoë ouderdom waarop hy nog in die heel boonste rakke gespeel het – op sy negentigste verjaarsdag het hy in die Britte se hoogste hof as advokaat opgetree. Die tweede mees opvallende aspek was die breedte daarvan. In die laat sewentigerjare was Kentridge die top advokaat in Suid-Afrika. Tien jaar later het hy daardie einste onderskeiding in Londen bereik, en daar tree hy in ’n wye verskeidenheid jurisdiksies op. Die professioneel belangrikste is dat hy oor die volle wapentuig van ’n advokaat se wapentuig beskik het.
...........
Die professioneel belangrikste is dat hy oor die volle wapentuig van ’n advokaat se wapentuig beskik het.
...........
Kentridge het na my mening die meeste bekendheid verwerf vir sy opstaan vir menseregte, ten spyte van die apartheidsregering se teenstand.
Ek wil tog verskil, en wel om twee redes. Eerstens is Kentridge se roem gebaseer op baie meer as sy betrokkenheid by politieke sake; en ten tweede was daar g’n sprake dat die owerheid Kentridge of enige ander advokaat sou teengaan nie.
Een van sy bekendste kliënte was Nelson Mandela. En hy was ook ‘n hoofrolspeler in die Steve Biko-saak. Later was hy natuurlik waarnemende regter van die Konstitusionele Hof. In jou bespreking van die boek wys jy ook op baie belangrike sake en ander regsaspekte waarby hy betrokke was. Die vraag is: Wat is die relevansie daarvan om vandag, in ’n gans ander Suid-Afrika, Kentridge se lewe te bepeins en te bespreek? Waarom is dit steeds ’n belangrike gesprek?
Die regbank is kragtens die Grondwet die eindbeskermer van ons vryhede. Die kwaliteit van die regbank se regspraak is regstreeks afhanklik van die kwaliteit van die advokatuur. Die voorbeeld en tradisie van die Kentridges van weleer is van onskatbare waarde in die behoud van die advokatuur se bevoegdhede.
............
Die regbank is kragtens die Grondwet die eindbeskermer van ons vryhede. Die kwaliteit van die regbank se regspraak is regstreeks afhanklik van die kwaliteit van die advokatuur. Die voorbeeld en tradisie van die Kentridges van weleer is van onskatbare waarde in die behoud van die advokatuur se bevoegdhede.
.............
Wie is almal op die paneel van die Woordfees-gesprek, en wat kan Woordfeesgangers verwag om tydens die gesprek te hoor?
Die gespreksgenote is die skrywer Tom Grant, Dikgang Moseneke, Jeremy Gauntlett en Geoff Budlender, met my as gespreksleier.
Die gesprek by die Woordfees, en jou betrokkenheid daarby, voltooi as ’t ware ’n sirkel; daar is immers ook aan jou as regsgeleerde hulde gebring deur juis die Sydney en Felicia Kentrigde-toekenning. Is daar dalk ’n persoonlike interaksie met Kentridge wat jy met ons lesers kan deel?
Ek was ’n bewonderaar van Kentridge die uitmuntende advokaat en ’n vriend van Sydney en Felicia, ’n heel besonderse egpaar.
Die gesprek oor die Suid-Afrikaanse regstelsel is nie afgehandel nie. Mens kyk altyd terug, na die wortels en wortelvertakkings waaruit die Suid-Afrikaanse regstelsel ontspring het. ’n Stelsel gebore in Afrika, met Romeins-Hollandse en Britse oorsprong. ’n Stelsel wat gegroei en ontwikkel het tot hier. En telkens weer bevraagteken word. Daar is baie dinge wat ek jou van die toekoms van die Suid-Afrikaanse regstelsel kan vra, maar kom ek volstaan hierby: As Kentridge se lewe ’n baken van hoop in die verlede was, van iemand wat opgestaan het vir dinge wat nie reg was nie, wat beteken dit vir mense vandag? Hoe staan ’n doodgewone Jan Alleman op binne die Suid-Afrikaanse regstelsel en strewe na wat reg is? Want is dit nie die doel van sulke soort gesprekke nie, te midde van siniese tye? Dat daar mense is wat sien as iets skort en dit blootlê sodat dit kan verander?
Naomi, jy vra vrae wat in ’n week lange gesprek bekyk maar nie besleg kan word nie. En dis ’n diepsinnige gesprek wat oor verskeie terreine heen sal moet sweef. Uiteindelik sal dit gaan om die essensie van mens wees – die mens as denkende, morele wese. Min van ons sal ooit die hoogtes van ’n Kentridge bereik, maar iedereen het op haar of sy weg daagliks keuses om te maak.
............
Min van ons sal ooit die hoogtes van ’n Kentridge bereik, maar iedereen het op haar of sy weg daagliks keuses om te maak.
............
Die kwaliteit van ons regstelsel, eintlik van ons hele staatsbestel, hang uiteindelik af van die kwaliteit van die burgery. Miskien het Jan Brand dit reg opgesom: Alles sal regkom – as elkeen sy plig doen.
- Boekklub: ‘n Gesprek oor Sydney Kentridge – Colossus of the legal world vind op 15 Oktober 2022 om 18:45 in die Ou Hoofgebou plaas.
Lees ook:

