Persverklaring: ATKV-Crescendo soek onontdekte musikale talent

  • 0

Whaden Johannes

ATKV-Crescendo en Expression Session snoer kragte saam om met die volgende rondte oudisies die onontginde musikale talent in die land te ontdek

Een van Suid-Afrika se oudste en bekendste musiekontwikkelingsprogramme, ATKV-Crescendo, gaan saam met Expressions Session werk om ons land se onontdekte musikale talent te ontgin en te ontwikkel.

Die finaliste wat tydens hierdie sessies gekies word, sal volgende jaar ATKV-Crescendo se mentorskapprogram bywoon in die hoop om by voormalige ATKV-Crescendo-legendes aan te sluit.

Expression Session is in 2008 deur Robin-Dean Fourie in Worcester gestig. Tydens hierdie maandelikse geleenthede kry kunstenaars kans om hul talente ten toon te stel. Sedertdien het die konsep na Kuilsrivier, Oudtshoorn en George uitgebrei.

Annika Boschhoff

“Daar is geen beperkings op hoe ’n kunstenaar hom- of haarself mag uitdruk nie,” verduidelik Jerome Rex, wat aan die hoof van die Expression Session in Kuilsrivier staan. “Ons het meestal sangers, rappers, akteurs en dansers wat optree, maar entrepreneurs en binnenshuise versierders het ook al hulle passie en vernuf met gehore gedeel. Pryswennerdigter Siphokazi Jonas, sanger en vermaaklikheidster, Keanu Harper, en rap-sensasie, King Smasher is maar net ’n paar kunstenaars wat al by Expression Session opgetree het.”

“Ons is baie opgewonde om weer saam met ATKC-Crescendo te werk wat ons passie vir kunstenaarsontwikkeling deel,” verduidelik Rex. “As deel van hierdie vennootskap het Expression Session nou geleenthede geskep waar deelnemers voor ’n gehoor hulle oudisies kan aflê.”

Die ATKV-Crescendo se Expression Session-oudisies vind plaas op 27 Oktober en 24 November in Worcester, en op 30 Oktober en 27 November in Kuilsrivier.

Om vir die Worcester-geleentheid te registreer, kontak Whaden Johannes by crescendo02@atkv.org.za of Jerome Rex by expressionentry@gmail.com vir die Kuilsrivier-oudisies. Alle registrasies vir oudisies by Expression Session moet asseblief sewe dae voor die geleentheid gestuur word.

Jodi Jantjies

Belangstellendes kan ook digitaal vir die menstorskapprogram inskryf. Inskrywingsvorms is op www.atkv.org.za beskikbaar. E-pos die voltooide inskrywingsvorm, ’n kopie van lirieke, ’n MP3 of stemnota van jou liedjie en bewys van R100-betaling aan crescendo01@atkv.org.za. Inskrywings sluit op 31 Januarie 2023. Die finaliste sal op 13 Februarie 2023 aangekondig word.

Meer oor ATKV-Crescendo
  • Oudisies word jaarliks gehou in samewerking met Expression Session en ander instansies om talentvolle, opkomende liedjieskrywers te ontdek. Daar word gepoog om dit so ver moontlik in stedelike gebiede asook plattelandse dorpe in die land, waar mense nie altyd toegang tot sulke geleenthede het nie, te hou. Kunstenaars kan ook ’n digitale inskrywing stuur. Elke persoon wat aan die oudisie wil deelneem, moet ’n liedjie wat deur hom of haar geskryf is, opvoer.
  • Hierdie projek plaas groot fokus op menslike ontwikkeling en die basis van die opleiding is geleë volgens die waardes van karakter en integriteit.
  • Die span mentors word gekies uit ’n diverse groep musikante en kunstenaars wat verseker dat die finaliste met soveel moontlik kennis en ervaring van oor die hele musikale spektrum gehelp word.
  • ATKV-Crescendo is nie ’n talentkompetisie nie. Dit is ’n ontwikkelingsprogram wat daarop gerig is om liedjieskrywers van kennis, ervaring en leiding te voorsien. Deelnemers word aangemoedig om in hul eie dialek te sing en te skryf. Op hierdie manier verseker die projek dat daar ’n konstante vloei van nuwe talent, liedjies en “klanke” binne die Afrikaanse musiekindustrie is.
Webwerfbesonderhede

https://atkv.org.za/nuus/categories/atkv-crescendo 

https://atkv.org.za/neem-deel/musiek-en-dansprojekte/crescendo

Sosiale media

Facebook: https://www.facebook.com/atkvcrescendo

  • Foto's verskaf
Lees ook:

Jodi Jantjies stel ’n mini-album bekend met ATKV-Crescendo

#opdielug met Jodi Jantjies

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top