![]() |
|
Sêgoed van EKM Dido: “Ek droom van ’n dag wanneer die liefde vir inheemse boeke soos ’n veldbrand deur die land sal versprei; en al my mense dit sal kan bekostig om met geleesde boeke op hulle ‘sideboards’ te spog.” (Insig, Februarie 2001) “Wie het met die mal gedagte vorendag gekom dat Afrikaans aan die wit mense behoort?” (Tydens die Oop Gesprek-lesingreeks op die KKNK in 2005.) (Die Burger, 29 Maart 2005) Dido sien haarself as “hardwerkend; ek stel myself min tevrede, maar ek is liefdevol, vriendelik en mal oor myself!” (Die Burger, 14 November 2006) Haar lewensleuse: “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Dis groter as geloof, kleur of geslag.” (Die Burger, 14 November 2006) Raad vir aspirant-skrywers: “Ek het altyd raad omdat ek self nog leer. Om te skryf, is baie eensaam; jy sit alleen voor daardie papier, tikmasjien of rekenaar. Maar moenie moed opgee nie en moenie bang wees om te skryf nie; kry die woorde uit jou kop. En moenie bang wees vir kritiek nie, of dit nou van vriende, jou lesers of jou uitgewer kom. Leer daaruit en gaan aan.” (Die Burger, 14 November 2006) “My boeke gaan oor die gemeenskap, mý gemeenskap. En oor gemeenskappe wat simpatie het met verval en probleme … tot op ’n punt. Gemeenskappe wat probleme en probleemmense begin wantrou as hulle voel dié wat in die moeilikheid is, doen niks om hulself te red nie.” (Rapport Boeke, 4 Julie 2010) In 2010 het sy teenoor Marlene Malan erken dat sy in ’n nuwe fase van haar lewe is: “Van lief wees vir myself. My vriend stel dit so mooi: ‘Jy kan g’n ander liefhê as jy jouself nie liefhet nie.’ Ek het lank gewroeg oor my identiteit: Tot ek myself op ’n dag in die spieël bekyk het en gesê het: ‘Dido, jy’s in die eerste plek Dido. ’n Bruin vrou. Een van die Kaapse Vlakte.’” (Rapport Boeke, 4 Julie 2010) “Toe ek klein was, het my mense in die Oos-Kaap om die vuur beurte gekry om stories te vertel. Wanneer jy begin, is jy skrikkerig, maar as jy in daardie wonderstorie is, besef jy hoe lekker dit is om jou verbeelding te gebruik. ’n Storie, glo ek, kan die koue werklikheid verdryf.” (Rapport Boeke, 4 Julie 2010) “Elke skrywer het ’n bydrae om te lewer. My bydrae is om ons bruin mense in die lig te bring. Om te sê: Julle moet nou ophou bakhand staan en begin doen. Gee my die bruine wat sê hy of sy kan nie. So baie potensiaal, so baie rolmodelle … maar gekortwiek deur so baie maatskaplik-ekonomiese probleme. Ja, ek is ongeduldig hieroor. Want ons hou kers vas vir enigeen. Maar nee, ons breek mekaar mos eerder af as om mekaar op te bou.” (Rapport Boeke, 4 Julie 2010) “Ek dink my omgee vir kinders spruit uit my eie kinderjare. Ek het in die Transkei grootgeword, op Tsomo. En daar het ons geleer ’n kind is nie net die ouers se kind nie. Daardie kind behoort aan die gemeenskap. Dis my kind, dis jou kind, dis ons almal se kind. So as my kind iets doen, of jy sien my kind, behandel hom soos jou eie. Ek dink hoe ouer ’n mens raak, hoe meer is jy geneig om weer terug te val op dit wat jy as ’n tiener of in jou kinderjare geleer het.” (Volksblad, 11 Februarie 2012) Dido skryf haar stories in die nag: “My karakters wil niks met my praat in die dag nie. Behalwe oor naweke en vakansiedae is hulle fine. Want dan word daai rekenaar nie afgesit nie. Dis ’n lékker wêreld. En baie maal raak jy so vasgevang in die verhouding met jou karakters dat jy eintlik vies raak as die son opkom!” (Volksblad, 11 Februarie 2012) “Ek skryf dit wat ek sien. En tot dusver was dit maatskaplike kwessies. En as ek luister na die terugvoer, het dit mense gehelp. Baie mense vra vir wie ek skryf. En ek sê altyd ek skryf eerstens vir my mense.” (Volksblad, 11 Februarie 2012) “Dink net as die massas wat ongeskool is, leesgierig raak, hoe gróót hulle gaan droom. Want as jy lees, droom jy, en as jy droom, begin jy die hoogtes uit te klim. Kan jy dink hoe vooruitstrewend ons kan wees?” (Volksblad, 11 Februarie 2012) Waarom skryf sy in Afrikaans? “Op die dorpie Tsomo, waar ek grootgeword het, was swart, wit en bruin deurmekaar, maar Afrikaans was die hooftaal regdeur en dit was my moedertaal. Dit was ’n klein dorpie en as gevolg van armoede was ons interafhanklik en gedwing om verby kleur te kyk. Slegs in die poskantoor was daar bankies vir nie-blankes. Die kerk en winkels was vir almal. In die skool op die dorp het die Katolieke nonne nooit na ons kleur verwys nie. Hulle het altyd gepraat van jou as mens.” (Aan Marguerite Black op LitNet, Desember 2000) Wat sou sy doen as sy haar matriekafskeid kon oorhê? “Die beplanning en maak van my rok sou járe voor die groot dag begin het. Dit sou voorkom dat ek een van twaalf meisies was wat dieselfde swart-en-smaraggroen rok met die lae hals en wye romp gedra het. Dan sou ons nie soos strooimeisies gelyk het wat op soek is na die verlore bruid nie.” (Sarie, 20 Oktober 1999) “Hoe my ma dit reggekry het, weet ek nou nog nie, maar die morele waardes is by hulle ingedril, álmal van hulle: Hou by jou beginsels, verruil dit vir niks ter wêreld nie. Dit was my kompas, is dit nog steeds, en vandag probeer ek dit vir ander ook leer.” (Insig, Februarie 2001) Oor haar verhouding met Annari van der Merwe, haar destydse uitgewer: “Ek leer by Annari. Meer as wat ek nog ooit by ’n slypskool geleer het. Ek het redes waarom ek alles doen, maar as ons oor die boek praat, dan luister ek baie fyn watter probleme daar is. Soms kan sy ’n toneel nie ‘sien’ nie, dan weet ek, ek moet eenvoudig helderder skryf en dan gaan sit ek.” (Rapport, 17 Maart 2002) “Eintlik wil ek voltyds skryf. Die skrywery sal nooit ophou nie. Dis my taal wat my so vashou. En my gedagtes. Dis so lekker om met woorde te speel. Jy kan sonder slape en ete en drinke gaan as jy net kan sit en skryf wat in jou kop vorm. Dít wil ek graag doen, maar die pot moet ook aan die kook kom.” (Rapport, 31 Augustus 2003) Oor haar betrokkenheid by geletterdheidsprojekte: “Die feit dat ek my uit my omstandighede kon sleep, dra by om ander te help. Daardie diep, diep begeerte wat ek gehad het … ek WIL matriek maak, ek WIL dit en dat doen, ek WIL saampraat met die ander ouens…” (Die Burger, 10 November 2007) |
Gebore en getoë
EKM Dido, of Dido soos sy verkies om bekend te staan, is in 1951 in ’n klein dorpie, Tsomo, in die destydse Transkei gebore as die derde oudste van 12 kinders en die oudste dogter. Haar nooiensvan was Pitt en Dido is die van van haar gewese man. (Die Burger, 22 Junie 2007)
Die skooltjie in Tsomo het net klas tot standerd 4 aangebied. Sy is na ’n sendingskool te Cofimvaba waar sy standerd 5 tot 7 geslaag het en is daarna na ’n Rooms-Katolieke kosskool in Cradock tot standerd 8. As gevolg van ’n finansiële tekort moes sy die skool in standerd 8 verlaat om te help om die jonger kinders skool toe te stuur. Vir die jong meisie was dit ’n swaar slag om te verwerk.
Op OuLitNet vertel sy aan Ivor Price dat sy tydens haar grootwordjare nie werklik besef het hoe swaar hulle as gesin gekry het nie. “Ek het eers later in my lewe, toe ek self ’n bietjie geld verdien het, besef.” Op ’n skertsende wyse vertel sy aan Price dat hulle as kinders dikwels hulle tande met stokkies en as moes borsel.
Oor haar kinderjare vertel sy aan Murray la Vita (Volksblad, 11 Februarie 2012): “Behalwe vir die armoede … dit was nie slég nie, want ek het van niks beters geweet nie. En tog, in daardie niks ken en niks het nie, was daar dae en oomblikke wat jy baie, baie meer gehad het as wat hedendaagse kinders het. Wie kan nou deesdae poedelnakend in ’n rivier gaan swem? Daar was nie bakterieë soos wat daar nou is nie. En lang ente gaan stap; buite slaap. En jou deure nooit sluit.
“Ek het daardie ervaar. O, ek het poppe gehad … ons het regtig van die hand na die mond geleef … Die poppe het my ma-hulle vir my gemaak, en ek het my stokkiespoppe gemaak met lappies en goed. En dan het jy kleigoed vir jouself gemaak.”
Dido hou nie daarvan om te praat oor die EKM voor haar van nie: “Dis my oumas en oumagrootjie se name en jy weet hoe klink daardie ou name. As kind was ek bekend as Dolly. Die dag toe ek my regte name vir die eerste keer in die kloosterskool hoor, het ek nie geweet van wie die non praat nie. Dis toe dat ek besef het ek en daardie name het niks met mekaar te doen nie,” vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt. (Beeld, 29 November 2000)
Willemien Brümmer voer in November 2007 (Die Burger, 10 November) ’n onderhoud met Dido en by dié geleentheid vertel Dido haar in meer detail oor haar kinderjare en haar familie: “My ma was ’n doodnormale huisvrou wat vreeslik baie hoë geleerdheid gehad het … met ’n standerdses-sertifikaat! Nou moet jy weet in daai dae was ’n standerdses-sertifikaat DIE ding! My pa was ongeletterd, maar jy kon hom nooit verneuk nie.”
As die derde van twaalf kinders was Dido van jongs af effe verward oor haar identiteit, skryf Brümmer: “Op hul ‘ID-kaarte’ was sy, haar ma en ’n paar broers en susters glo ‘kale coloureds’ (...) en ’n paar broers en susters as ‘other coloureds’ geklassifiseer. Haar pa en die ander was ‘Cape coloureds’.”
Dido vertel aan Brümmer meer oor haar grootwordagtergrond: “Buitekant die dorp het ‘die amaqaba’ of, soos ons hulle genoem het, ‘die rooikomberse’ met hul tradisionele gewade en afgesnyde vingerlitte gewoon. Op ’n bultjie sowat een en ’n halwe myl buite die dorp was die nonne en die priesters. Die wit ouens het in die dorp gebly en dan aan die linkerkant, geskei deur net een gravel-pad, was die bruin mense met ’n paar swart ouens.”
Hier het Dido en die ander Pitts gewoon – in ’n huisie met twee vertrekke: “Eintlik was dit ’n eenvertrek, want my ma en my pa slaap in die slaapkamer, en die twaalf van ons het in hierdie relatief klein vertrekkie gebly. Dit dien as kombuis, as sitkamer, en in die aand as die son sak en die laaste besoekers is weg, dan vat jy jou rolkombers en jy rol dit uit. Maar jy het nie ’n spesifieke plek nie – enige plek waar daar ’n gaatjie is.
“My pa het weekliks 15 sjieling verdien, en dikwels het ons niks gehad om op ons brood te smeer nie. As daar suiker is, kan jy dit op jou brood sit, of magou – mieliemeelpap wat jy suur maak en dan laat rys. As daar helemal niks is nie, dan hou jy jou bottel daar, so jou bottel het darem water in vir jou.
“Daar was menige tyd wat ons niks gehad het nie, maar dan het jy geweet as jy hier by jou huis swaarkry, dan kry die ander ouens ook swaar. En dan het ons baie staatgemaak op die amaqaba wat altyd vir ons kos en goed gebring het. Daarom, as iemand sou sê: ‘Kom, gee vir my ’n koppie suiker of sout tot die einde van die maand,’ dan het jy dit gegee en nooit terugverwag nie, want jy wéét dit gaan ook vir jou gegee word. Jy’t ook geleer om ’n handvol te eet, en dan is dit sommer jou hele dag se kos.”
Verdere studies en werk
Vir ’n jong bruin vrou was daar destyds drie moontlikhede vir ’n verdere loopbaan: onderwys, ’n sekretariële beroep of verpleging. Geld vir eersgenoemde twee was daar nie, dus het Dido op verpleging besluit. Sy doen haar algemene opleiding in Kimberley vir drie jaar, waarna sy in 1972 na Kaapstad vertrek, verlief raak op die stad en tot vandag nog daar bly. Sy behaal aanvullende diplomas in kraamversorging, verloskunde en psigiatrie. En toe vervul sy ’n droom wat sy al lank koester – om haar matriek te behaal. Dit stel haar ook in staat om ’n graad in Verpleegadministrasie, Gemeenskapsverpleging en Verpleegonderrig deur Unisa te verwerf. In 1988 begin haar loopbaan as dosent toe sy aangestel is om etos en professionele praktyk aan die destydse Nico Malan Verplegingskollege te doseer, vandag die Wes-Kaap Verpleegkollege.
Oor haar matrieksertifikaat vertel Dido aan Willemien Brümmer: “Ek dink dit is die belangrikste dokument wat ek in my besit het. Van alles wat ek tot dusver vermag het, is dit vir my die waardevolste. Selfs waardevoller as die graad in verpleegadministrasie, verpleegonderrig en gemeenskapsverpleging wat ek daarna by Unisa verwerf het, of selfs belangriker as die eredoktorsgraad van die Universiteit van Wes-Kaapland. Daarom voel ek baie sterk oor skoolkinders, veral tieners. Net om hulle te motiveer om dit wat hulle nou so vrylik kry, te gebruik.”
“Dit was moeilike tye, jong!” vertel Dido aan Murray la Vita. “Want kyk, jy is in hierdie kokon van die nonne. En by die huis op Tsomo is jy in die kokon van almal in die buurt, wat nie eintlik jou voorberei op wat buitekant vir jou lê nie. En hier kom ek op Kimberley en besef: Wow! Is dít waarvan julle praat?
“Ek is as leerlingverpleegster uit ’n ‘wit’ saal gejaag. En dan was daar die keer toe ek ’n hoed wou koop vir ’n begrafnis. Ek wou die hoed aanpas en net daar kry die vrou die bloustuipe. Jy koop hom of jy koop hom nie, maar geen aanpas nie.
“Maar vandag is daar nuwe dinge wat krap. Was apartheid dan so soepel dat hy net omgekeer kan word?” wil sy by La Vita weet. “Alles word net so verpolitiseer. Ja, my taal was ongelukkig daar vir die struwelinge van ’76 en ’85 … Hulle vergeet tog dat destyds en nóú en in die toekoms tot aan die einde van die wêreld sal die oorgrote meerderheid mense wat Afrikaans praat, bruin mense wees. Dis my taal. Watter ander taal moet ek praat?
“En om dan ánders behandel te word … Dit is ’n cliché, maar tog ook so toepaslik: Eers was ek te swart om wit te wees, en nóú is ek te wit om swart te wees. Ongelukkig gaan deure soms toe omdat ek bruin is. Maar wanneer daar verkiesings is, word ék, bruin, as swart aangespreek. Sodra daardie verkiesings oor is, het ek weer in ’n bruin koevert beland.
“Dit krap. Ek wil net erken word as ek, mens, Suid-Afrikaner. Miskien moet ek iets daaroor skryf.”
Deesdae wy Dido haar tyd aan deeltydse konsultasiewerk en skeppende skryfwerk. Sy is nou betrokke by woordfeeste en enige ander projekte om ’n leeskultuur onder haar mense op die platteland te vestig. Sy werk nóú saam aan die Gugulethu-projek in Afrikaans, Engels en Xhosa – die drie tale wat sy vlot praat – wat in 2006 ’n opvoering by die Suidoosterfees gehad het. Dido dien in die direksie van die Suidoosterfees, asook in dié van die KKNK.
In November 1996 is EKM Dido saam met Karel Benjamin op ’n banket van die destydse Afrikaanse Skrywersvereniging vir hul debuutverhale (Die storie van Monica Peters en Staan uit die water uit!) vereer.
Dido het ook in Oktober 1997 deelgeneem aan ’n colloquium oor Suid-Afrikaanse literatuur met die tema “Afrikaanse skrywers in ’n veranderde konteks”. Abraham H de Vries en Elsa Joubert was van die ander sprekers wat deelgeneem het.
Dido het in haar toespraak gesê: “Hoewel baie boeke reeds geskryf is oor bruin mense, wil ek daarop konsentreer dat die regte verhaal vertel word. Die uitbeelding van bruin mense in die Afrikaanse letterkunde is dikwels stereotiep en nie geskakeerd genoeg gedoen nie.”
Sy is ook al etlike kere saam met ander Afrikaanse skrywers genooi om in Nederland en Vlaandere op te tree. Haar eerste besoek aldaar – en ook haar eerste reis buite Suider-Afrika – was in 1997. Dido skryf in Afrikaans vandag (Maart 1998) dat sy haar in Nederland kom vind het: “Dat ek kop in die lug kan loop oor wie en wat ek is. Almal het my deur hulle openhartigheid en innemendheid laat besef dat ek vir niemand hoef terug te staan nie. Dat daar mense is wat verby velkleur kyk en vir my sien. Nes toe ek nog ’n kind was. En hulle het die gier vir studeer weer in my wakker gemaak. (…)
“Aan die einde van die besoek op pad lughawe toe bloei my hart. Ek wou nog so baie sien. Ek gaan na die mense verlang. Hulle het my so baie geleer. Van menswees.”
In September 2005 ontvang sy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Wes-Kaap vir haar bydrae tot die literêre wêreld. Sy is tans ’n dosent aan die Netcare Opleidingskollege in Kaapstad en sy en haar dogter, Vereena, en haar kleindogter, Zhané, woon in Blackheath.
Ook in 2007 is Dido saam met Diana Ferrus, Kirby van der Merwe en Thulani Cekiso deur die ATKV en LAPA Uitgewers bygestaan om die 5de Internasionale Skrywersfees in die Republiek van Suriname by te woon. Dit is aangebied deur die Schrijversgroep ’77 Suriname en ook met die medewerking van Suid-Afrikaanse kunstenaars moontlik gemaak.
Sy het die tyd daar baie geniet en het aan Melt Myburgh op LitNet vertel dat die Surinamers “dol is oor Afrikaans”.
Gerrit Brand (Die Burger, 14 Junie 2007) skryf dat Dido, die eerste swart vrou wat ’n roman in Afrikaans gepubliseer het, én Nontsizi Mgqwetho, die vrou wat ’n ‘substansiële korpus van werk’ in Xhosa geskryf het, op die Kaapstadse Boekeskou van 2007 aan die woord gekom het. Nontsizi Mgqwetho was nie self daar nie, maar Gcina Mhlophe het gedeeltes uit The nation’s bounty voorgelees en voorgedra.
Xhosa is nog iets wat Dido en Mgqwetho gemeen het. Dido is Afrikaans en Xhosa magtig en sy gebruik ook soms dialoog in Xhosa in haar boeke. Sy het ook die toneelstuk Khanye, Khayelitsha! (Glans, Khayelitsha!) deur Madoda Gcwadi in Afrikaans vertaal.
Sy was instrumenteel in die stigting van Writers in Exchange wat in 2007 tot stand gekom het. Dit het ontwikkel uit Artists in Exchange. Oor hierdie Engelse naam sê Dido aan Willem de Vries (Die Burger, 7 Oktober 2008): “Kyk die afkorting, dis Wie! Wie sien om na die belange van veral jong opkomende skrywers,” wat tegelykertyd ’n vraag en ’n stelling is.
Net ná 1994 kla Dido by haar dogter oor die berigte dat die bruin mense hulleself in die verkiesing van 1994 verkoop het en oor die kwessie van primêre gesondheidsorg. Vereena se reaksie was: “Gaan sit … en skryf die goed neer.” Twee vingers op ’n ou Brother-tikmasjien en Die storie van Monica Peters (1996) sien die lig. Ná die manuskrip ’n draai by vyf uitgewers gemaak het, klop Dido by Kwela Boeke aan en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Sy word die “eerste swart vrou” wat ’n boek in Afrikaans publiseer.
Daarmee saam beleef sy opeens ook ’n identiteitskrisis, want in Tsomo was hulle nie bewus van enige rasseverskille nie. Sy was nie swart, Khoi of San nie. “Wie was ek dan?” het sy haar afgevra. Sy vertel self hoe sy twee jaar later tydens ’n reis na Nederland en België die antwoord kry: “Ek staan een oggend in ’n museum in Amsterdam, klein voor my Skepper, omring deur die eeue oue prag en praal, toe ek skielik verstaan wie ek is, wat ek is. Ek is allereers Dido. Dan ’n Suid-Afrikaner. Ek is swart, ja – ek kan tog nie my gemengde bloed ontken nie. Ek is Khoi en San – en nog baie meer. En ek is trots daarop.” (Insig, Februarie 2001)
Die storie van Monica Peters was eers in Engels geskryf. Annari van der Merwe, toe van Kwela Boeke, vra haar of dit nie beter in Afrikaans sal werk nie en dit was die beste ding wat sy kon gedoen het, want “terwyl ek dit toe in Afrikaans oorskryf, loop my kop draaie en loop daar trane oor my wange soos ek aan ander dinge begin dink … Ek het die taal waarvan ek weggehardloop het, so al skrywende terug ontdek.” (Rapport, 17 Maart 2002)
Dido verduidelik verder aan Murray la Vita: “Toe het ek net verliéf geraak; nie net op die taal nie, maar ook daarop om die taal te gebruik.”
Vanaf haar eerste roman, Die storie van Monica Peters, spreek Dido haar uit oor sosiale kwessies. Dit gebeur nie net in die bruin gemeenskap nie, maar probleme wat universeel voorkom onder alle lae van die samelewing.
In Monica Peters ontmoet die leser vir Monica Peters, ’n bruin meisie wat op ’n dorpie in Transkei grootgeword het. Dit is kort voor 1948 se end. Die kinders op dié dorpie maak vriende oor die kleurgrens. Monica raak verlief op Eric, die wit magistraat se seun. Eric raak by die ANC betrokke. Die twee trou en die skrywer neem die leser op die twee “ontheemdes” se omswerwinge van Transkei tot hulle uiteindelik in Engeland aankom.
Toe die ANC ontperk word, keer hulle terug na Suid-Afrika waar Eric in ’n sluipmoordaanval sterf. Monica keer terug na haar geboortedorp en voltooi só haar omswerwinge, skryf Hein Willemse in Insig van Desember 1996.
Volgens Willemse is dit ’n omvattende raamwerk wat Dido as debuutskrywer aan haarself stel: “Sy wil ’n verhaal vertel met die groots opgesette temas van ewigdurende liefde teen die agtergrond van die onlangse Suid-Afrikaanse politieke stryd.
“Anders gestel: hier het ons die vermenging van ’n gemoedelike populêre liefdesverhaal teen die agtergrond van die tydgenootlike intriges van ’n spanningsroman. Selfs vir ’n ervare skrywer sou dié gegewe ’n groot uitdaging gewees het. Dié genrevermenging is die wortel van die kwaad in die roman en Dido slaag slegs gedeeltelik daarin om die slaggate van haar projek te ontwyk. (…)
“Vir ’n geruime tyd al oorheers vroue die Afrikaanse literatuur. Tog, soos met talle fasette van die geïnstitusionaliseerde Suid-Afrikaanse romankultuur, is dit die eerste keer dat ’n swart vrou ’n Afrikaanse roman publiseer. Dat dit ’n swart vrou meer as ’n honderd jaar geneem het om ’n Afrikaanse roman te publiseer, is ’n feit wat ten hemele skrei. Daarom is die blote publikasie van Die storie van Monica Peters ’n prestasie.”
Willemse sluit sy langerige resensie af met ’n bespreking van die meer tegniese aspekte van die roman: “Die inroer van een genre op ’n ander het bepaalde probleme tot gevolg. So byvoorbeeld word vir ’n tradisionele liefdesverhaal die verwagte (en verpligte) hindernisse in die pad van die liefde in Die storie van Monica Peters te maklik oorkom. As ’n spanningsverhaal word die uiterlike gebeure weer te gelykmatig vertel. Daar is letterlik te min spanning, te min klimaktiese momente wat die verhaal voortdu. (…)
“Die aanwending van verwikkelde tegnieke soos die ek-vertelling met ’n agterna-perspektief moet die leser nie mislei nie. Hierdie is nie ’n roman wat aansprake wil maak vir strenge literêre lees nie. Daarvoor is die literêre weerstande in die teks afwesig. Die roman behoort gelees te word as ’n populêre verhaal.
“Elke skrywer het ’n model nodig. En menige skrywers skryf die boeke wat sy self geniet. Vir Dido is haar onmiddellike modelle klaarblyklik die populêre liefdesroman en die spanningsverhaal. Dit is die oorwegings wat moet geld by die lees van dié roman. Die storie van Monica Peters is ’n debuutwerk met ’n aantal onvervulde moontlikhede.”
Christelle Feyt was die resensent in Onse Angeltjie (November 1997) en sy het as volg geskryf: “Die skrywer het ’n groot speelveld uitgelê vir haar debuutwerk: die vrou en die Suid-Afrikaanse politieke werklikheid van die afgelope veertig jaar. Sy het vir haarself die geleentheid geskep om die vrou, spesifiek die bruin vrou in Suid-Afrika, as slagoffer of oorwinnaar van ’n politieke en geslagsbestel te teken. Maar die hoofkarakter groei nie suksesvol uit haar gelatenheid nie. Die karakters word as goed of sleg uitgebeeld en verloor menslikheid – die allerbelangrikste eienskap vir ’n karakter om te bly lewe in die denke en gemoed van die leser. Die storie van Monica Peters is ’n noemenswaardige gebeurtenis vir die Afrikaanse literatuur: dis die eerste keer dat ’n swart vrou ’n roman in Afrikaans publiseer. Soveel meer kon deur hierdie aangrypende verhaal tot stand gebring word.”
Ook Hans Ester (Zuid-Afrika, Mei 1997) was min of meer dieselfde mening toegedaan: “Ik heb de roman Die storie van Monica Petersmet gemengde gevoelens gelezen. De schrijfster, de eerste ‘bruin’ vrouw die een in het Afrikaans schreef, is in het onmiskenbare bezit van een groot talent. Maar wil dat talent tot ontplooiing komen, dan moet zij afstappen van de gedachte dat politieke dienstbaarheid de hoogste taak van een schrijver is. Laat ze over de Transkei schrijven, dat wijde en droeven land. En over haar ervaringen in ziekenhuisen. Dan is haar menselijke warmte en betrokkenheid op juiste plaats.”
In Dido se volgende roman, Rugdraai en stilbly (1997), spreek sy haar weer uit oor sosiale kwessies, by name vroueslanery en geweld in die huwelik. Die Oos-Kaapse platteland, spesifiek Queenstown, dien weer as agtergrond van Rugdraai. Die bruin gemeenskap in Queenstown kan verdeel word in twee areas – Victoria Park waar die rykes woon en Aloevale waar die armes hulle bevind.
Die hoofkarakter van die verhaal, Bernie, kom van Aloevale en sy trou met Randall, ’n welgestelde man van Victoria Park wat sy eie slaghuis besit. Aanvanklik gaan dit baie goed met die huwelik, maar gou-gou begin Randall sy ware kleure wys. Hy drink te veel, verkul vir Bernie en begin haar fisies aanrand. Selfs nie die geboorte van hul seuntjie keer hom nie.
“Bernadette se bestaan word ’n uitmergelende roetine van psigiese en fisiese geweld, boete en berou, ’n kort idilliese fase en geweld weer van voor af,” skryf Marina le Roux. (Skrywers en Boeke, RSG, 12 April 1998) “Sy draai egter telkens haar rug en bly stil, totdat ’n finale botsing onafwendbaar is. (…)
“Dit is juis hierdie herhalende patroon van voorspelbare gebeure wat die roman aansienlik verswak. Die verhaal kort ’n fokuspunt en streng beheer oor en kondensering van die gegewe. Die pas is stadig. Daar word te veel vertel, onderrig, gemoraliseer en te min gewys en oortuigend geïllustreer. Die styl is naïef en nie altyd vry te spreek van soetsappige clichés nie. Die ongekunstelde eerlikheid wat die roman kenmerk en sy pretensielose eenvoud is egter miskien ook sy redding. Dido skryf duidelik uit ervaring, meelewing en die drif van persoonlike oortuiging.
“Daarom is haar ongekompliseerde karakterbeelding en lewendige dialoog pluspunte. Vrouekarakters word oor die algemeen meer oortuigend gebeeld as die mans. (…) Hierdie wanbalans manipuleer die leser se simpatie ten gunste van Randall – waarskynlik juis die teenoorgestelde van wat Dido beplan het.
“En beplan, dit het sy beslis: ’n didaktiese hulpboek vir alle vroue wat deur mans gemolesteer word. Meer as dit pretendeer die roman waarskynlik nie. Dido verdien respek en erkenning vir die eerlike volharding en toewyding waarmee sy ’n verhaal vertel, sonder om verlei te word deur slim literêre foefies. Hierdie kwaliteite sal haar beslis help om die probleme wat genoem is in toekomstige werke uit te skakel.”
Ander resensies oor Rugdraai en stilbly spreek van dieselfde kwessies as Marina le Roux s’n. Gretel Wybenga (Rapport, 11 Januarie 1998) sluit haar bespreking af: “Spanning word in hierdie roman te lank op dieselfde vlak gehou deur onder meer te veel herhalings van die patroon van aggressiewe aanvalle van Randall, afgewissel met rustiger maande. Te veel word ook vertel eerder as geïllustreer, maar deur haar gedetermineerd te hou by haar lees, behoort die skryfster hierdie probleme met gemak in latere werke te oorkom.”
In Beeld (9 Maart 1998) is Adéle Nel die resensent: “Dido se skryfstyl is onpretensieus, sodat haar verhaal moeiteloos lees ten spyte van die swaarwigtige inhoud. Die roman ontkom egter nie aan ’n sekere mate van oppervlakkigheid nie. Daar is die ongemaklike gevoel dat die skryfster bloot ’n relaas van uitkringende gebeure gee, en dat sy soms in die slaggat van oordrewe moralisering trap.”
Dido se derde roman is ’n Stringetjie blou krale en met dié roman toon sy groot verbetering op haar vorige twee, het Gretel Wybenga in Rapport van 14 Januarie 2001 geskryf. In die roman hang Dido die kwessie van rassisme tussen bruin en swart mense aan die groot klok.
Tydens ’n besoek aan die Goodwood Leeskring in 2003 het Dido vertel dat die gedagte van Blou krale by haar opgekom het toe sy gedurende ’n besoek aan Nederland na antieke horlosies gekyk het. “Ek het ’n identiteitskrisis beleef. My oupa was van Duitsland, maar indien ek na my oë gekyk het, kon ek ook Chinese bloed hê. Ek het in trane uitgebars toe ek besef dat ek in der waarheid ’n Suid-Afrikaner is.”
Die boek is hoofsaaklik in haar kop geformuleer. Dit was ook die eerste maal dat sy ’n boek op ’n rekenaar geskryf het. Toe sy klaar was, het sy haar hande in die lug gegooi en toe sy dit afbring, beland hulle op die sleutelbord van die rekenaar en daar is die hele boek uitgevee! Agtien maande se werk was weg en sy moes van voor af begin, skryf Lorraine Mathewson. (Die Kaapse Bibliotekaris, Maart/April 2003)
In Beeld van 18 Desember 2000 is Johan Coetser die resensent en hy som die storie van Blou krale as volg op: “Die hoofkarakter, Nancy Karelse, word voortdurend deur dieselfde droom geteister, waarin ’n stem in Xhosa aan haar sê dat sy terug huis toe moet kom.
“As gevolg van dié drome begin haar gesondheid en verhoudinge met die mense om haar ten spyte van die hulp van ’n psigiater ingrypend agteruitgaan. Daarom roep haar ouers die hulp van sangoma MaRhadebe in. Tydens die daaropvolgende sessies met die kruiedokter ontvou Nancy se ware identiteit en agtergrond.
“Haar regte naam is Nomsa en sy is in die ou Transkei gebore. Soos in ’n sprokie en eg postkoloniaal het haar aanneemouers haar onwettig van haar biologiese ma en omgewing weggeneem, en aan haar ’n ander naam en van, identiteit en taal gegee.
“Uit die laer (kraal) buite die dorp het sy na Tsomo verhuis en uiteindelik na Kaapstad; die naam Nomsa afgelê om Nancy Karelse te word; wil nie meer Xhosa praat nie, maar Afrikaans; is nie meer ’n rooikombers Xhosa nie, maar ’n Kaapse bruin mens.
“Maar haar voorgeslag teister haar in haar drome, totdat sy teruggaan huis toe, na haar broer Langalethu en sy vroue, NoKrismesi en Nomphilo, se kraal toe om te ubuntu. Sy word weer ’n mens tussen haar mense, erken haar wortels en word in haarself heel deur haar ware identiteit terug te neem.
“Naas ’n verhaal wat so die postkoloniale proses belig, is die belangrikste bydrae van die boek die beskrywing tussen swart en bruin. Waarskynlik die pynlikste voorbeelde is wanneer haar man, Bennie, haar die huis belet ná haar erkenning dat sy Xhosa gebore is. Of die erkenning aan haarself dat sy, soos sy met haar groot en klein ma’s gemaak het, haar seun Jean by sy geboorte verstoot het omdat hy swart is. (…)
“Die didaktiese is waarneembaar in die teks teenwoordig, veral in die slot. Aanvanklik word dit slim deur ’n aantal sleutels gesuggereer. Voorbeelde is die verwysing na Freud of Nancy se erkenning aan haarself dat sy ’n skisofreen is. Waarskynlik wil die verteller daarmee suggereer dat sy die produk van ’n historiese verloop is en dat haar genesing slegs moontlik was toe sy self iets daaromtrent gedoen het. Dit het ingesluit dat sy aanvaar dat haar rassistiese man van haar geskei het omdat sy ’n ‘darkie’ is.
“Kritiek teen die teks sluit in dat dit voorspelbaar word, mede as gevolg van die herskrywing van ’n vorige situasie in die skrywer se oeuvre (vergelyk die huweliksonmin in Rugdraai en stilbly).”
Ampie Coetzee (De Kat, Februarie 2001) het as volg oor ’n Stringetjie blou krale geskryf: “Buiten die verhaal van rassisme, slaag Dido ook daarin om ’n beeld te gee van verskillende kulture: tradisioneel Xhosa, teenoor kleindorp en verstedelikte Kleurling. ’n Innovasie in die vertelling is die wyse waarop dialoog soms direk in Xhosa gegee word, met die Afrikaanse ekwivalent daarnaas. Dis hoegenaamd nie steurend nie; en aanvanklik slaan mens die Xhosa oor. Maar mettertyd dwing dit jou om, uit nuuskierigheid, te probeer verstaan in terme van die Afrikaans. So sou ons veeltaligheid kon leer! Dis ook struktureel gemotiveer in die roman; in dié sin dat Xhosa minder en minder raak met die assimilasie van Nancy tot bruin-wees en Afrikaans.
“Die literêre puris sou seker beswaar kon maak teen die rol van die noodlot (veral teen die einde met Bennie), die skielike verskyning en verdwyning van karakters, die bonatuurlike, ongewone motiverings, nagmerries, sangomas, voorbodes, verskynsels. Dis of Dido alle skryftruuks gebruik om haar verhaal van rassisme te vertel. Maar dan kan mens dit ook regverdig: as ’n soort allegorie, ’n moraliteitsnarratief; wat ons miskien nodig het in hierdie land van ons. Nie ’n verheerliking van etnisiteit nie, maar tog die boodskap: wees wat jy gebore is, weet waar jy vandaan kom.”
Op OuLitNet kom Chris van der Merwe tot die volgende slotsom: “As mens én as skrywer is Dido in wese verpleegkundige. Sy is, soos MER, geïnteresseerd in die oplossing van maatskaplike vraagstukke; in Dido se geval, in vraagstukke soos identiteitsverloëning, rassisme in die ‘nuwe Suid-Afrika’ en die trauma van egskeiding. Die didaktiese element doen selde afbreuk aan die meevoerende verhaal waarin hierdie kwessies aangeraak word. Slegs heel teen die einde, by die trauma van Nancy se egskeiding, het ek gevoel dat die didaktikus die oorhand oor die verteller kry. Deur ’n toevallige gebeurtenis word die verhaal gemanipuleer sodat haar gewese eggenoot sy straf ontvang en Nancy se verhaal in die rigting van ’n ‘happy ending’ neig.
“Maar my oorheersende reaksie op die boek is: ’n Stringetjie blou krale behoort verpligte leesstof vir almal in Suid-Afrika te wees. Is dit te idealisties om te hoop dat dit (onder andere) in al die landstale vertaal sal word? In die innerlike konflikte van Nomsa / Nancy is baie van die verdeeldheid van ons land saamgevat; haar reis tot versoening is ’n reis wat vir elkeen ter sake is. Dis lank laas dat ek ’n boek gelees het wat so boeiend, so relevant en so hoopgéwend is.”
Wéér pak Dido ’n sosiale kwessie aan in haar volgende roman, Die onsigbares (2003). Hierin fokus sy op die swaarkry van polisiemanne en hulle gesinne.
Dido het nie sommer oornag besluit om oor die swaarkry van polisiemanne en hulle families te skryf nie – dit het “oor ’n tydjie” gekom, vertel sy aan Sonja Loots. (Rapport, 31 Augustus 2003)
“Ek het in ’n stadium saam met ’n polisieman se suster gewerk. Sy het nooit eintlik van hom gepraat nie, maar as sy bekommerd is, sou sy net uit die bloute uit sê: my broer is ’n polisieman. Dit was die manier waarop sy dit sê. En toe hou dit skielik op en sy gaan op verlof. Toe sy terugkom, hoor ek hy het selfmoord gepleeg. Ek het met nuwe ontsag begin luister na berigte oor polisieselfmoorde, polisiesterftes en polisiemanne wat hul gesinne uitwis.
“Ek het begin wonder oor daardie statistieke. Dit gaan so glad oor die verslaggewer se mond, maar hoe moet die vrouens voel? Ek het begin luister na wat word van die vrou gesê as die ministers en politici praat – en ek besef daar word niks gesê nie. Hierdie mevrouens en kinders is weg van die toneel. Hulle is die onsigbares. En toe begin ek nou régtig die storie in my kop kry, maar die navorsing was moeiliker as wat ek verwag het.
“Die vroue van polisiemanne praat nie. Die mans ook nie. Hulle is bang hulle word geëtiketteer as iemand wat nie stres kan hanteer nie, en dan is hul bevordering in die gedrang. Ek het vergeefs beloof dat ek nie name of herkenbare gegewens sal noem nie. Elke keer as ek vashaak, gaan ek rond en soebat die vroue. Daar is baie polisiemanne in my omgewing in Blackheath. Maar toe hulle eers gehoor het ek wil iets skryf, toe is almal walletjie (‘soos ’n sluier wat sak’).”
In plaas daarvan om hulle persoonlik te benader, het Dido begin om die gesinne van ’n entjie af dop te hou: “Dis nie net die geld nie. Dis die stres. Party vroue raak vasgevang in godsdiens. Ander maak of niks verkeerd is nie. Daar is party wat hul mans probeer help, maar hulle voel vasgebind. Die mans kom nie afsprake na nie of draai stokkies by die werk. En dan is daar natuurlik mense soos Shalon (een van die karakters in Die onsigbares) en haar man, wat korrup raak. Ongelukkig is daar ’n klomp sulkes in ons land.”
Dido het oor ’n tydperk van ’n jaar daarin geslaag om die “swye oop te skryf”, maar sy het nooit tou opgegooi nie.
Louise Viljoen was Rapport van 9 November 2003 se resensent van Die onsigbares. Sy begin as volg: “Opvallend in elkeen van haar romans is haar vermoë om ’n storie direk en sonder omhaal te vertel, om moeilike onderwerpe vreesloos aan te pak en om stemme wat min gehoor word aan die orde te stel. Met elke roman wat sy skryf, raak Dido meer selfversekerd en is haar vaardighede as storieverteller meer geslyp. Dit is dan ook die geval in haar jongste roman, Die onsigbares, waarin sy getrou bly aan haarself, maar tog ook haar reikwydte as verteller uitbrei.”
Viljoen skets dan die verhaal van Joan Arries van Kaapstad. Haar man se beroep as polisieman veroorsaak dat daar spanning in hul huwelik is: “Die vertelling oor Joan anker die roman deurdat dit die grondslag verskaf waaruit die verhale van ’n drietal vroue betrek word en waarheen daar gereeld teruggekeer word.”
Joan is bang dat haar man sy werk sal verloor as hy ’n sielkundige gaan sien en in ’n advertensie in ’n koerant nooi sy mense in dieselfde situasie as sy om haar te kontak. Op dié manier ontmoet sy vir Gladys Mhauli van Soweto, Shalon van Dyk van Oos-Londen en Nadia Viljoen van Pretoria. Louise Viljoen skryf verder: “Hoewel elkeen van hierdie afdelings sy eie unieke verhaal vertel, word hulle saamgebind deur die feit dat hierdie vroue ook blootgestel is aan die spanning van ’n huwelik met ’n polisieman. (…)
“Die roman toon hoeseer vroue in hierdie soort situasie steeds die stereotipe ondersteunende rolle vir hul mans moet speel, maar ook hoe hulle maneuvreer binne beperkte beweegruimte om oplossings vir hulle probleme te soek – sommige met meer sukses as ander. Die roman toon ook aan dat die probleem wat hier bespreek word nie net beperk is tot vroue nie, maar dat die mans van polisievroue dieselfde probleme ervaar.
“Die uiteenlopende wêrelde en verhale van die vier vroue word in elke afdeling met groot oortuigingskrag in die idioom van die hoofkarakter aan die orde gestel. Dit is opvallend hoe gemaklik Dido omgaan met die spreektaal van mense uit verskillende omgewings en watter talent sy het vir die skryf van effektiewe dialoog. (…)
“Een van die pluspunte van hierdie roman is dat dit ’n behoorlike balans tref tussen die narratiewe en die didaktiese. Aan die een kant is Dido as skrywer kennelik gefassineer deur die boeiende stories wat daar te vinde is onder die ‘onsigbares’; aan die ander kant is dit duidelik dat sy vir haar leser iets wil leer deur die verhale wat sy vertel. In hierdie opsig funksioneer haar roman amper soos Joan Arries se advertensie, wat lesers daarvan bewus maak dat hul probleme nie uniek is nie en ook vir hulle wys hoe jy hulp kan kry in moeilike omstandighede.
“Die roman slaag ook daarin om ’n ewewig te vind tussen idealisme en realiteit. (…) Die roman bewys weer eens dat Dido ’n rasegte verteller met ’n sterk maatskaplike bewussyn is, ’n skrywer wat gedryf word deur bepaalde waardes. Naas die estetiese waarde wat ’n roman moet hê, is dit kennelik ook vir haar belangrik dat haar romans sekere maatskaplike probleme moet takel.
“Die onsigbares is ’n goed afgeronde roman wat toon hoedat haar hantering van hierdie kwessies met elke roman meer kompleks en genuanseerd word. Dalk is dit juis skrywers soos sy wat ’n nuwe groep Afrikaanse lesers kan wen deur hulle te oortuig van die relevansie van goed vertelde verhale vir jou daaglikse lewe.”
In Die Burger van 27 Oktober 2003 skryf Dorothea van Zyl dat daar af en toe ’n didaktiese toon deurslaan, soos in haar ander romans, “maar die geheel raak selde swaarwigtig, danksy die humor en wellewendheid wat balans skep. Haar verhale is by uitstek op ’n breë mark gerig – vandaar die populêre trekke wat haar werk vertoon en die oorwegend positiewe eindes.
“Soos Dido as skrywer ontwikkel, raak haar karakterisering wel toenemend meer genuanseerd en oortuigend. Veral uitstekend is die mate waarin sy verskillende leefwêrelde, met hul onderskeie soorte Afrikaans, hul gewoontes en konvensies uitbeeld, soos blyk uit die terugflitse van die wit vrou Nadia na haar plaasverlede, Gladys se lewe in Johannesburg as matrone en as huishulp, asook Joan en haar buurvrou Magda se bestaan op die Kaapse Vlakte.
“Die merkwaardige is dat hierdie deurbreking van grense in Afrikaans gebeur. ’n Mens kan net hoop dat meer vroulike Afrikaanse skrywers van Dido se statuur na vore sal kom om dinge oop te skryf wat tot dusver onsigbaar gebly het.”
“Dido stel in dié verhaal etlike sosiale euwels binne die Suid-Afrikaanse polisiemag aan die kaak,” skryf Mathilda Smith in Volksblad(10 November 2003). “In fiktiewe vorm gryp die teenstrydighede en bedrywighede van die realiteit rondom ons polisiekorps my meer aan as wat enige koerantberig dit nog ooit kon doen. Dido het haar navorsing oor hierdie onderwerp noukeurig onderneem.
“Die begrip waarmee Dido verskillende Suid-Afrikaanse samelewingsisteme belig, met die misdaadelement en die bevegting daarvan as fokuspunt, verdien wye kennisname. Die boek kan gerus oorweeg word vir vertaling.
“Die onsigbares is uitstekend geskryf, relevant en na my mening die soort boek wat voorskryfmateriaal behoort te wees aan die opvoedkundige instellings in hierdie land.”
Dido se volgende roman, ’n Ander ek, vertel die verhaal van ’n vrou wat groot trauma ervaar het. Sy beland in die hospitaal waar sy vir meer as sewe maande in ’n koma lê. Toe sy bykom, kan sy egter niks onthou nie. Ná haar ontslag beland sy op straat waar sy noodgedwonge aangewese is op die haweloses en bedelaars vir geselskap.
Dido het drie jaar lank aan ’n Ander ek gewerk en sy ervaar nie dat die proses om ’n boek te publiseer, makliker word nie, antwoord sy ’n vraag van Melt Myburgh op LitNet in 2007. “Seker omdat ek druk op myself plaas om nie net dinge wat deur kritici tydens elke uitgawe uitgelig is, te probeer verbeter nie, maar veral omdat ek nie die lesers wil teleurstel nie.”
Oor die subkultuur van die haweloses wat in ’n Ander ek voorkom, wou Myburgh weet of sy hierdie wêreld begin ondersoek het met die doel om die boek te skryf: “Oorspronklik wou ek iets oor die bergies skryf, daarom dan die belangstelling in hul leefwyse. Tog was ek ook bewus en bekommerd oor die kapings in ons land. En toe ek begin skryf, het die storie net gekom en gelukkig kon alles saamsmelt.”
Ook is daar onder die hawelose gemeenskap ’n besondere ingesteldheid teenoor Afrikaans. Hieroor brei Dido verder uit teenoor Myburgh: “Ja, die Afrikaanssprekende bergies is lief vir hul taal, en dring daarop aan dat dit reg gebruik moet word – dis nou wanneer hulle in jou geselskap veilig voel en nie kru taal as verdediging hoef te gebruik nie. Dis juis hul pragtige taalgebruik wat my nuuskierigheid geprikkel het en my telkens terug na hulle geneem het. Sien, as hulle algar saam is, tuit jou ore van die vloeke en gons dit van die mengelmoes tale wat in een sin gesit word. Als om hul posisie en sosiale strukture binne die kring te behou. Maar wen hulle vertroue en kry hulle een vir een alleen en nugter, verstom die Afrikaans jou. Onthou, amper al die bergies wat ek ontmoet het, het eens ’n professie of ’n hoë status in ’n gemeenskap beklee en is glad nie onnosel nie. Ek was dikwels sommer lekker op my plek gesit! ‘Praat reg of hou jou mond!’ het een my byvoorbeeld toegesnou toe ek wou weet of sy dan op straat beland het omdat sy nie met haar probleme kon ‘cope’ of nie die ‘stress’ kon vat nie.”
“’n Ander ek gaan in wese oor die traumatiese ervaring van dié vrou, wat óf Giddy óf gewoon Papier genoem word, en haar desperate poging om haar eie identiteit te herwin,” skryf Gunther Pakendorf. (Rapport, 5 Augustus 2007)
“Haar geheue kom broksgewys terug, al is dit tergend, en stadigaan kan sy die legkaart van haar verlede herbou. Haar omstandighede verbeter en deur haar eie inisiatief slaag sy op die ou einde daarin om na haar tuisdorp in die Noordweste terug te keer en met haar geliefdes herenig te word.
“Die verhaal gaan egter hoofsaaklik om haar lewe in die Kaap. Die gruwelike gebeure wat haar in dié moeilike situasie laat beland het, word slegs by wyse van vae terugflitse en stukkies herinnering opgeroep. Afgesien van die eerste hoofstuk word die storie vanuit die ek-perspektief vertel wat die skrywer in staat stel om die leser onmiddellik by die gebeure, asook die verwarring, angs en onsekerhede van die hoofkarakter, te betrek.
“Dido is duidelik ’n bekwame skrywer,” gaan Pakendorf voort, “en sy slaag goed daarin om die emosies van die hoofkarakter oortuigend oor te dra. Sy gee ook ’n treffende beeld van die Kaapse tipografie, van die hospitale na die stasie en die strate om die Parade, asook sy bont straatbewoners, hul taal en gewoontes.
“Die roman is egter nie sonder gebreke nie. Die grootste is myns insiens die feit dat ‘Egidius Papier’ se ware identiteit vir haar, maar nie vir die leser nie, ’n raaisel is. In die eerste hoofstuk, waar sy nog bewusteloos in die hospitaal lê, word dit alles uitgestippel, haar naam, herkoms en omstandighede. Met die stadige aanvulling van al hoe meer inligting oor haar verlede word dit eintlik maar net stuksgewys bevestig.
“En hierdeur verloor die verhaal een van sy potensieel sterkste elemente, naamlik die spanning wat met die onsekerheid oor die ware toedrag van sake gepaardgaan. (…) Waar Dido egter onteenseglik sterk is, is in die karakterisering van die verskillende mense, veral die bergies met wie die hoofkarakter in aanraking kom en die nuanses in hul taalgebruik. Hierbenewens bevat die teks deernis en humor wat die boek ten slotte baie leesbaar maak vir die algemene publiek.”
Heilna du Plooy resenseer ’n Ander ek vir Beeld van 20 Augustus 2007 en vir haar draai die roman hoofsaaklik om geweld en die nagevolge daarvan: “Maar daar word nie op die politieke, ideologiese of sosiale aspekte van geweld gefokus nie. Die suggestie is dat die geweld aan iemand gepleeg word en dat daardie persoon geskend na liggaam en gees verder moet lewe: die slagoffer is iemand, nie ’n statistiek nie; dit is ’n mens wat veel verloor en haar menswaardigheid en selfvertroue met groot moeite moet herwin. Dit gaan ook oor identiteit en toon hoe ingrypend dit is om jou geheue te verloor en daarmee saam jou herkoms en geliefdes.
“Die roman het ’n sterk slot. Dieselfde krag waarmee die vrou haarself aan die gang hou tydens haar langsame herstel, dra haar wanneer sy besef dat haar terugkeer na haar vorige lewe en geliefdes nie sonder komplikasies gaan wees nie. Dit is egter veral die subtiliteit en onderbeklemtoning in die styl wat sorg dat die slot van die verhaal die leser bybly.”
En Dorothea van Zyl (Die Burger, 30 Julie 2007) sluit haar resensie van ’n Ander ek af: “Dido se jongste roman is veel enkellyniger as die meeste van haar vorige romans, dit speel oor ’n korter periode af en daar is veel minder sprake van eksplisiete sosiale kommentaar. Die verhaal verloop met ’n vaart, met gladde oorgange, sodat die leser dit beswaarlik kan neersit. En al is die onderwerp oënskynlik ietwat somber, is die aanbieding dit allermins. Die verteltrant is lewendig en meermale humoristies, die karakterisering oortuigend en die plekuitbeelding voortreflik.”
In 2007 het Die Burger ’n veldtog teen die gebruik van die dwelm tik gevoer. Dido het toe ’n storie hieroor geskryf met die titel Emmaen dit is as ’n vervolgverhaal (vanaf 15 November 2007 tot 31 Januarie 2008) in Die Burger geplaas. Sy het aan Willemien Brümmer (Die Burger, 10 November 2007) vertel dat hierdie vervolgverhaal oor hedendaagse sake gaan.
“Dit gaan nie regstreeks soos ’n eenvoudige ding ontvou nie – daar’s baie hoekies en draaitjies – juis omdat die sosiale werklikheid, as ’n mens daarna kyk, glad nie eenvoudig is nie. Op die oog af, ja, maar families sit met hul eie probleme.
“Die uitdaging was om iets te skryf wat hulle (die koerantlesers) sal laat aanhou lees, maar wat ook nie soos ’n hele boek is waar jy kan rondspeel met karakters na willekeur nie. Nou’t ek besef dit moet iets wees wat die leser gaan laat wonder wat gebeur volgende en dat hy nie kan wag tot volgende week nie.
“Hulle het my eers twee, drie maande gelede van die ding gesê, en aanvanklik het ek ge-panic. Maar waaroor ek in al die duisternis van die vervolgverhaal nogal bly is, is die karakters raak vir my lewendig.
“En as ek ’n boek klaar geskryf het, dan gaan ek in daai diep depression in van daai afskeid. Hierdie keer, toe ek met die eerste een besig is, jong, toe’s ek in snot en trane, want die besef kom nou, nou gaan dit nie wees soos ’n roman nie, dit gaan nou sommer so kaal ingegee word, en dan behoort die ding nie meer aan my nie! En vir ’n week was ek so depressed! Totdat die karakters self vir my gesê het: ‘Kom, ruk jou reg!’
“Dis hoekom as Stikland of Valkenburg (psigiatriese hospitale in die Wes-Kaap) hul geld wou gekry het … Die mense sou ryk geraak het as hulle my elke keer soontoe vat. Sertifiseerbaar!”
Hierdie vervolgverhaal was só gewild dat sy toe die verhaal uitgebrei het en in 2010 is dit deur Umuzi Uitgewers gepubliseer asEmma en Nella.
Die tikprobleem wat “haar mense kom oorneem het, kinders vir homself vat en gesinne verwoes”, pla Dido baie. Sy vertel aan Marlene Malan (Rapport Boeke, 4 Julie 2010): “As ouers nie ingetune is in ’n kind se lewe nie, verloor hulle daai kind vir ewig. My boeke gaan oor die gemeenskap, mý gemeenskap. En oor gemeenskappe wat simpatie het met verval en probleme … tot op ’n punt. Gemeenskappe wat probleme en probleemmense begin wantrou as hulle voel dié wat in die moeilikheid is, doen niks om hulself te red nie.
“En so, met Emma en Nella, wil ek my dryfkrag om stukkende vroue, kinders, gesinne en gemeenskappe weer heel te maak, verwoord – mense wat gereduseer word tot minder mens deur dwelms en drank.”
In ’n gesprek met Carolyn Meads (Rapport Boeke) vertel Dido dat sy Emma en Nella vir tieners én volwassenes geskryf het. “Ek laat Nella al die simptome van ’n dwelmverslaafde toon sodat tieners en ouers die waarskuwingstekens kan raaksien. Maar as tieners voel jy gee vir hulle ’n lessie, luister hulle juis nie! Daarom het ek ’n liefdesverhaal by die storie ingebou om die lesers se belangstelling te behou.
“Met die boek wil ek sê daar is hulp vir jou as jy dit nodig het, maar jy moet dit aanvaar. Families moenie tou opgooi nie. Hou aan om te probeer help. (…) Ek glo mense sal begrip hê vir Emma en Nella, want baie het al te doen gekry met iemand wat dwelms gebruik. Ek bly op die Kaapse Vlakte en dit was nie vir my nodig om ver te soek na moeders wat oor hul kinders se tikprobleem wil praat nie.”
In Die Burger van 30 Augustus 2010 skryf Jeanette Ferreira dat Dido die leser in Emma en Nella op ’n baie seer pad neem – een wat begin wanneer ’n kind die prooi word van dwelmverslawing: “Dit wil gedoen wees om ’n verhaal te maak van hierdie oorbekende saak en die simptome daarvan waarvan ons daagliks in koerantberigte lees.
“Dit is egter nie net ‘nog ’n dwelmslaaf se storie’ nie. Nella se geskiedenis as aangenome kind, asook die feit dat sy aan fetale alkoholsindroom ly, Emma se verbintenis met Gert, haar jare lange vriendin Bukelwa en haar pa vorm newetemas.
“Veral die versuurde verhouding met Bukelwa verbeeld die web waarin ’n dwelmslaaf se ouers vasgevang word: Nie net die geliefde kind nie, maar die ouer en al dié se verbintenisse word daardeur geraak, ’n hele wêreld verander byna oornag, selfs die woonbuurt word ’n bedreiging. Origens teken Dido op treffende wyse Emma se aanvanklike ontkenning van die simptome, die menslike reaksie van ’n ouer wat nie kan glo dat ‘dit met my kind’ kan gebeur, dat ‘my kind’ dit met haar laat gebeur het nie. Voordat die komplikasie van Nella se verslawing intree, boei Dido van meet af aan omdat dit eers laat in die roman duidelik word hoekom daar ’n beletsel op Emma en Gert se liefdesverhouding is. Tog is die opheffing van dié beletsel ietwat fantasties, ietwat ongeloofwaardig.”
Vir Marius Crous is Emma en Nella te veel van ’n “prekerige, handboekagtige relaas oor tikverslawing; trouens, niks wat hier beskryf word, is vir my nuut nie”.
Crous sluit sy resensie af: “Dido beskik oor ’n goeie, onderhoudende vertelstyl en die vermoë om haar leser in te trek in die alledaagse gebeure en handelinge van haar karakters, maar moet meer waag en wegkom van die veilige oplossing vir probleme. Meer fokus op een aspek van die karakter se lewe en meer in-diepte-ontwikkeling sou van dié roman ’n beter teks gemaak het.”
In 2012 begewe Dido haar op die gebied van die drama toe sy haar kortverhaal “Baby” verwerk tot ’n toneelstuk. Hierin raak sy die onderwerp van kinderontvoering aan. Sy vertel aan Murray la Vita (Volksblad, 11 Februarie 2012) dat toe sy “Baby” geskryf het, sy baie bekommerd was oor die baie kinders wat net wegraak: “Nou het ek vir myself gevra: Jong, as dit mý kind moes wees, hoe gaan ek voel? En ek het myself in daardie ouers se skoene geplaas. Hoe voel húlle?
“Ek het gepraat met mense wie se kinders ‘verlore geraak het’. Ek is gelukkig in die posisie dat ek ’n skrywer is aan die een kant en verpleegster aan die ander kant. En nou kom al die strome inligting na my. En natuurlik help my geaardheid ook baie. My stilheid in gees sal mense uitlok om te gesels al wou hulle ook nie gepraat het nie.”
“Baby” speel af in ’n bruin onderdorp, skryf JB Roux. (Rapport Boeke, 4 Maart 2012) “Sersant de Wit daag met twee vreemdelinge by Nooi se ouerhuis op: oom Attie is ’n kulkunstenaar en Baby is sy dogter. Oom Attie se kar het op pad Oos-Londen toe gaan staan en hulle soek slaapplek. Nooi se ouers stem in om vir die twee vreemdelinge onderdak te gee, maar Nooi vermoed onraad.”
Dié kortverhaal is lank terug geskryf en dit is landwyd vir skole voorgeskryf. Dido het haar redes hoekom sy “Baby” geskryf het aan Roux uitgelê: “Dit is om streektale en dialek uit te lig en volwassenes aan te moedig om vrae te stel wanneer hulle bekommerd is oor ’n kind se welsyn, al is dit iemand anders se kind. Ek wou ook kinderontvoering in die soeklig plaas.”
Roux wou by Dido weet of sy dink dat die verwerking van ’n kortverhaal tot ’n drama dalk toegang tot fiksie deur “swart” Afrikaanse skrywers sal ontsluit: “Vir lesers of teatergangers het ’n bepaalde boek of toneelstuk niks met ’n bepaalde bevolkingsgroep te doen,” was Dido se antwoord.
“As ’n boek goed geskryf is, sal dit goed verkoop. En ’n goeie toneelstuk trek altyd groot gehore. Mense wil bloot waarde vir hul geld hê.”
Om van prosaskrywer na dramaturg te beweeg, was nie altyd maklik nie, maar sy het baie geleer: “Met die skryf van prosa vra ek my voortdurend af of die lesers my skryfwerk sal verstaan en geloofwaardig vind. Met die skryf van die drama, daarenteen, het ek bloed gesweet om seker te maak die gehoor sien letterlik elke nuanse. Ek wou self my verhaal tot drama verwerk om seker te maak die kern bly behoue.”
Of sy nog ’n drama gaan skryf… “Kom ons kyk eers of Baby die vuurdoop slaag. Met prosa het ek geleer om op lesers se kritiek staat te maak. Ek glo die kritiek op ’n toneelstuk is op ’n heel ander vlak.”
Baby het gedebuteer op die Suidoosterfees van 2012 en die tema vir daardie jaar was “’n Fees van liefde”. Dido vertel verder: “Babysluit perfek by hierdie tema aan. Dit dui op liefde op verskillende vlakke. Nie net is Baby se liefde vir my streektaal ter sprake nie, maar ook die beskermende liefde wat ons as ouers vir ons kinders het. Daar is heelwat subtiliteite en ’n sterk subteks in die oorspronklike prosastuk, maar ek sal jok as ek sê ek is nie angstig oor die oorgang na dramateks en opvoering nie. Dit is immers my eerste dramababa!”
Dido is ’n gereelde bydraer tot LitNet en van haar kortverhale verskyn ook op LitNet. Haar kortverhale, soos “Die prediker”, “Baby”, “’n Nuwe ID”, en “Ryper liefde” word ook in versamelbundels opgeneem.
In Beeld van 23 Oktober 2000 vertel Dido meer oor ’n boek wat haar lewe verander het: “Alle leesstof laat tot ’n sekere mate ’n indruk, hetsy emosioneel of geestelik. Behalwe vir die Bybel was daar nog nie ’n boek wat my lewe verander het nie. Totdat ek Die storie van Monica Peters geskryf het. Geen vergelyking met die Bybel nie! Sonder om egotisties te klink, moet ek uit die diepte van my hart erken dat Die storie van Monica Peters my lewe en my beskouing van die lewe drasties verander het.
“Die boek het my mees intieme innerlike oopgevlek en ek moes my tekortkominge met skaamte onder die oë sien. Eens het ek hard probeer om van my moedertaal weg te skram. Het die verwronge idee gehad dat Engels dié taal was en Afrikaans politiek deurweek was. Die boek het my taal met trots weer aan my teruggegee en ek het dit met liefde teruggeneem. Geen Standaardafrikaans nie, maar dit waarmee ek opgegroei het en wat aan my streekmense behoort het.”
Dido is in 2012 saam met Sonja Loots en Fanie Olivier na Gieongjoe in Suid-Korea na die PEN-Internasionaal-konferensie. Sy het op die laaste dag van die konferensie PEN Afrikaans se voorlegging vir erkenning deur hierdie sentrum voorgelê.
Sy het onder andere gesê: “Daar bestaan ’n misvatting dat Afrikaans aan die wit mense van Suid-Afrika behoort en die taal is van die wit mense van Suid-Afrika. Dit is nie waar nie.” Die stemming ten gunste van erkenning van PEN Afrikaans met sy nuwe en meer verteenwoordigende naam is eenparig aanvaar.
Publikasies
|
Publikasie |
Die storie van Monica Peters |
|
Publikasiedatum |
1996 |
|
ISBN |
9780795700378 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kwela |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Rugdraai en stilbly |
|
Publikasiedatum |
1997 |
|
ISBN |
9780795700682 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kwela |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
’n Stringetjie blou krale |
|
Publikasiedatum |
2000 |
|
ISBN |
9780795701122 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kwela |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die onsigbares |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
9780795701580 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kwela |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
’n Ander ek |
|
Publikasiedatum |
2007 |
|
ISBN |
9781415200346 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Umuzi |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Emma en Nella |
|
Publikasiedatum |
2010 |
|
ISBN |
9781415201206 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Umuzi |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
EKM Dido as redakteur:
- Crous, Marius: Dido se Diversity is power is maar bra power
- Diversity is power. Writers in Exchange. 2009 [ISBN 0620423625 (sb)]
’n Keur van artikels oor en deur EKM Dido:
- Afrikaans soos nog nooit tevore nie. Rapport, 17 Maart 2002
- Baby – as grootmense nie na kinders wil luister nie?
- Bester, Ronel: Lewendige, buigsame taal behoort aan almal [verslag tydens “Oop Gesprek”-lesingreeks]. Die Burger, 29 Maart 2005
- Black, Marguerite: Mosaïek van kultuur: die vele fasette van EKM Dido
- Brand, Gerrit: “Jy sal nooit survive hier…” Die Burger, 22 Junie 2007
- Brand, Gerrit: Xhosa en Afrikaans se eerstes op skou. Die Burger, 14 Junie 2007
- Brümmer, Willemien: “’n Voëltjie kan net so ver vlieg…” Die Burger, 10 November 2007
- Cochrane, Neil: Die swart Afrikaanse vroueskrywer (1995–2007): nog steeds ’n literêre minderheid in ’n demokratiese bestel?
- Colyn, Tania: Stem van die gemarginaliseerde: ’n ondersoek na die konstruksie van die identiteite van die vroulike figure in die werk van EKM Dido
- De Vries, Izak en Walters, Coenraad: EKM Dido: Die prediker, uit Douspoor-handleiding
- De Vries, Willem: Taalfamilie leer mekaar ken. Die Burger, 7 Oktober 2008
- Dido, EKM: Afrikaans is my taal en ek is Afrikaans
- Dido, EKM: Baby [kortverhaal]: Opsomming: Gr 12 – kortverhale
- Dido, EKM: ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 23 Oktober 2000
- Dido, EKM: Briewe van Dido
- Dido, EKM: Die vaders, die moeders
- Dido, EKM: Dit lees ek. Sarie, 17 Junie 1998
- Dido, EKM: Ek is jammer [kortverhaal]
- Dido, EKM: ’n Reis van selfontdekking. Afrikaans Vandag, Maart 1998
- Dido, EKM: Tien vrae wat nooit gevra word nie
- Dié boeke moet ieder lees. Beeld, 23 April 2009
- EKM Dido
- EKM Dido en Jolyn Phillips oor hul pad na debuteer
- EKM Dido is WIR (writer in residence) in Amsterdam
- Francken, Eep: “Een schrijver is geen baas van z’n karakters”: interview. Zuid-Afrika, Januarie 2008
- Geldenhuys, Ingrid: Dido … sommer net Dido. Afrikaans Vandag, Desember 1996
- Glorie, Ingrid: De Nederlandse bron van ’n Stringetjie blou krale. Zuid-Afrika, Januarie/Februarie 2002
- Hendriks, Debbie: Skrywer sonder naam. De Kat, Januarie 1997
- January, Con (fotograaf): Kaapse skrywers vereer [foto]. Die Burger, 14 November 1996
- La Vita, Murray: EKM Dido raak sosiale kwessies met haar skryfwerk aan
- Lewis, M: Ruimte en identiteit in die werk van “Gekleurde” skrywers met spesiale verwysing na EKM Dido
- Loots, Sonja: Bedrywig en bedrewe. Rapport, 31 Augustus 2003
- Malan, Marlene: Dido van die Kaapse vlakte. Rapport Boeke, 4 Julie 2010
- Myburgh, Melt: Die nie net wit mense wat Afrikaans praat nie – ’n gesprek met EKM Dido
- Nieuwoudt, Stephanie: “As mense maar net mekaar wil verstaan”. Beeld, 29 November 2000
- Nieuwoudt, Una: ’n Kop vol stories. Sarie, 18 Desember 1996
- Price, Ivor: EKM Dido gesels oor haar hartseer en hartstog jeens “haar mense”
- Roberts, Maryke: Land en sand met EKM Dido. Die Burger, 14 November 2006
- Roux, JB: EKM Dido ook dramaturg. Rapport Boeke, 4 Maart 2012
- Scholtz, Hettie: Dis ons Dido daai … Insig, Februarie 2001
- Shaw, Anita: EKM Dido. Die Kaapse Bibliotekaris, Julie/Augustus 2002
- Van Zyl, Dorothea: Die gemarginaliseerde in die sentrum en andersom: Die konstruksie van identiteit in die romans van EKM Dido
- Viljoen, Louise: Representing post-apartheid South Africa: mothers, motherlands and mother tongues in the work of selected Afrikaans women writers (EKM Dido, Marlene van Niekerk, Antjie Krog)
- Wasserman, Herman: Afrikaans sal die self en verlede herverken. Die Burger, 4 Oktober 1997
EKM Dido se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2007-11-05 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


