Titel: Diversity is Power
Redakteur: EKM Dido
Uitgewer: Writers in Exchange
ISBN: 978 0 620 42362 5
Formaat: Slapband
Aantal bladsye: 300
Die titel van hierdie keurige uitgawe van die samewerking tussen Suid-Afrikaanse en Surinaamse skrywers kan tweërlei geïnterpreteer word: enersyds illustreer dit die mag van kulturele diversiteit, maar andersyds illustreer dit ook vir ons die Afrikaanse weergawe van die woord power is al sy nuanses: wat weinig lewer, aanbied, armoedig, gering (aldus die HAT).
Veral wat die gedigte in hierdie teks betref, is dit inderdaad van geringe aanbod. As prosaskrywer het Dido ? besonder gawe klompie verhale hier byeengebring, maar ek dink tog sy moes die poësie maar liewer uitgelaat het - geykte uitdrukkings, rymdwang, ritmiese rympies oor onbenullighede. Vergelyk byvoorbeeld die volgende gedig van Elza Smal (234):
Jou gesig versier my venster raam
? kreukel kombers omvou jou skaam
Oor kranse draai geen arend hoog
teen jou voete is riviere droog.
Of Jonathan van Beulen se "My gedig" (248):
'n Straal loop uit die kraan
en my oë skiet sommer 'n traan
wat alles gaan nog kom op my lewensbaan?
ek weet net my Maker sal verstaan.
En so kan ek aangaan om teks op teks aan te haal en dieselfde mankemente uit te wys. Wat veral opval by die Surinaamse gedigte, soos van Ifna Vrede of Hilli Arduin, is die ritme en die interessante klankspel, maar wanneer die gedigte byvoorbeeld in Engels of Nederlands oorgesit word, is hulle ook maar besonder skraal van gegewe en poëtiese inslag. Hilli Arduin se "Kari fu dron" (Call from the drums) (15) lui soos volg:
Den dron e krutu
Bigi ding, dang dang
Bigi ding, dang, dang
Apinti e mek'tongu
Ay mek'mofo.
Wat in Engels so lui:
Listen to the beat of the drums
Bigi ding, dang dang
Bigi ding, dang, dang
The Apinti speaks
Penetrating rhythms.
Die uitsondering is natuurlik dié gedigte wat mens as performance poetry kan uitsonder, want daar werk die inkanterende retoriek om die boodskap oor te dra. En tog, as 'n mens Marlene van Niekerk se gedig "nagpsalm" (Groot Verseboek, Deel III, p 829) lees, dan besef jy opnuut dat daar perform kan word sonder om sulke aaneengestrengelde retoriese rymelary op te dis. Vergelyk in dié verband J Colin Jooste se "A decade of democracy" (141) (my kursivering):
After many years of advocacy for democracy
South Africa still hasn't passed the stage of hypocrisy.
Racial tensions and unemployment increased with velocity.
Crime and many atrocities present itself with ferocity.
A decade of democracy.
What is our philosophy?
Daar is natuurlik uitsonderings en etlike vondste tussen die korpus mindere gedigte, soos byvoorbeeld die tekste van Hans Breeveld (alhoewel die begin van "Water" ergerlik geyk is: "Water zo schoon/ water zo suiver/ les mijn dorst"); enkele reëls van Tanita da Silva; Albertus Davids se "As die dikbekwindjie waai".
Die prosatekste is aansienlik beter, alhoewel mens nie altyd seker is of jy ? kortverhaal of 'n fragment uit 'n roman of 'n stuk wetenskaplike skryfwerk lees nie. Vergelyk in dié geval die insluiting van "Diversity in taalgebruik" (107) van Johan Graaven of Kardi Kartokromo se "Javanese women" (142). Waarskynlik is die Afrikaanse prosabydraes ook van beter gehalte omdat dit die werk is van gevestigde skrywers soos Willem Fransman Jr, Edwina H Fransman, EKM Dido, Elias P Nel en Eben Venter. 'n Interessante nuwe stem is dié van Tina Piek met haar "Dans in Diepkloof" (204). (Terloops, hoekom is dié verhaal nie in Engels vertaal nie?)
Ook die kwessie van vertaling is ietwat onduidelik in die samestelling. Sommige tekste is uit Afrikaans in Engels vertaal en die Surinaamse tekste in Engels - wat te verstane is. Maar dit word nie deurgaans gedoen nie. Sou dit die boek te duur gemaak het? Was daar nie vertalers beskikbaar nie? Of sou dit die publikasieproses vertraag het?
Wat dus 'n uitstekende geleentheid kon gewees het om die diversiteit van die woord en die letterkunde, die veelheid van stemme en die inspeel van stemme op mekaar weer te gee, moet ek egter as 'n verspeelde kans beskryf. Ek hoop van harte dat opvolgende samestellings van hierdie aard ten minste van 'n inleiding voorsien sal word om aan die leser uit te spel wat die doel is met die teks. Wat word byvoorbeeld bedoel met diversity? Hoekom is juis hierdie twee groepe skrywers gekies? Hoekom word sommige tekste vertaal en sommige nie? Watter kriteria is in ag geneem met die samestelling en keuse van tekste? ? Teks van hierdie aard sou ideaal wees om as deel van ? kursus oor interkulturele wisselwerking te doseer, maar die gehalte laat veel te wense oor.

