Baby – As grootmense nie na kinders wil luister nie?

  • 0

 

Shamilla Ismael as Nooi, die kinderlike, plattelandse dogter, en Aimee Valentine as Baby, die stadstiener.

In hierdie verhoogproduksie slaag die regisseur, Alfred Rietman, daarin om ’n ernstige boodskap in ’n fantastiese verhoogstuk te omskep wat universele kwessies soos ontvoering, dwelmafhanklikheid en molestering aanraak en tot ’n wye verskeidenheid gehore spreek. Dit doen die regisseur deur ’n humoristiese benadering.

Die verhaal speel af in die platteland van die Oos-Kaap, in ’n arm dorpie genaamd Namqua. Dit vertel die verhaal van die jong Baby (vertolk deur Aimee Valentine) wat ontvoer is deur Attie (vertolk deur Peter Butler), die slinkse man wat homself voorgee as Baby se pa. Op Namqua word hulle gehuisves deur Antie Tinkie (gespeel deur Euodia Samson) en haar dogter, Nooi (Shamilla Ismael). Die sersant (gespeel deur internasionaal-erkende Sean C Michael) kom agter die kap van die byl en Attie word gearresteer vir die ontvoering van Baby nog voordat hy die klein plattelandse dorpie kon verlaat.

Wanneer sersant De Wit Attie en Baby by ma Tinkie se huis aanbring, vergaap Nooi haar aan die twee stadsmense. Die regisseur het daarin geslaag om die kortverhaal, soos geskryf deur EKM Dido, boeiend en werklik vir die gehoor te maak. Die teks het deurgaans gestalte gevind in die teaterproduksie en dit is asof die produksie elke woord, elke emosie en elke boodskap uit die teks komplementeer. Enkele tonele wat deur die regisseur bygevoeg is, was die hallusinasies wat Baby ervaar het wanneer die dwelms haar sisteem oorgeneem het. Dit het egter geen afbreuk aan die oorspronklike teks gedoen nie – inteendeel, dit het Baby se worsteling met die dwelms met meer oortuiging vertel en het die gehoor ’n smakie gegee van die duistere wêreld waarin dit Baby vasgevang het.

’n Verdere toneel wat bygevoeg is, is ’n towerkuns-optrede deur Attie en Baby. Hierdie toneel het die klem gelê op die uitbuiting wat Baby onder Attie se greep ly en het goed bygedra tot die algehele boodskap wat die produksie wou oordra. Alfred Rietman het in ’n onderhoud met IOL (SA Premier Online News Source) gesê dat hy die klem wou laat val op die duistere wêreld waarin Baby haar bevind het, sodat die gehoor die benoudheid van Baby se situasie sou kon verstaan.

Die verhoogstuk stem grootliks ooreen met die oorspronklike teks, alhoewel veranderinge aangebring is om die verhoogstuk meer teatraal vir die teaterganger te maak, asook die oorspronklike storie te verleng. Tonele wat bygevoeg is, soos die toorkunsvertoning deur Attie en Baby; die verlengde gesprek tussen Baby en Nooi in die puttoilet wat vir groot vermaak sorg; en die hallusinasie-drome van Baby, is effektief en ondersteun die ernstige temas in die verhaal. Hierdeur slaag die regisseur daarin om die gevolge van dwelmmisbruik uit te beeld en word daar beklemtoon dat dwelms die fisieke sowel as die psige beïnvloed. Die erns van die oorspronklike verhaal word dus behou, ten spyte van die toevoeging van die humoristiese tonele.

Die ooglopendste verskil tussen die kortverhaal en die verhoogstuk is die fisiese afwesigheid van sommige karakters. Hierdie karakters verdwyn egter nie uit die storie nie, maar word deur die hoofkarakters ingespeel. Mev De Wit kry byvoorbeeld lewe deurdat haar man ’n koek wat sy gebak het, vir die besoekers bring en tant Tinkie skree van agter ’n gordyn dat Baby “oop en bloot” van ouma Stienie se huis af geloop het.

Baby se sukses kan grootliks toegeskryf word aan die akteurs se uitstekende en oortuigende vertolking van die karakters. Die akteurs slaag daarin om van Baby veel meer te maak as net ’n toneelstuk – dit word ’n metafoor en ’n baie belangrike boodskap vir die samelewing.

Peter Butler kwyt hom uitstekend van sy taak in die rol van oom Attie – “towenaar”, ontvoerder en pedofiel. Sy karakter wek verskeie gevoelens by die kyker, van opgewondenheid (tydens die toorkunsvertoning) tot absolute afsku. Hy slaag ook daarin om deur sy optrede jong meisies te waarsku teen mense, meer spesifiek mans, wat deur vleitaal en valse omgee jong meisies na hulle lok.

Antie Tinkie is ’n goedgelowige tannie en tipe ma-figuur in haar gemeenskap. Euodia Samson dra hierdie rol geloofwaardig oor en maak haar karakter se gevoelens en gedagtes duidelik sigbaar aan die gehoor.

Sersant De Wit is ’n intelligente polisieman en gerespekteerde figuur in die gemeenskap. Die teenwoordigheid van hierdie karakter, gespeel deur Sean C Michael, dra by tot die onderliggende spanning in die verhaal.

Nooi is verreweg my gunsteling-karakter. Shamilla Ismael se pragtige vertolking dra die rol van hierdie warm, onskuldige, dog uitgesproke en intelligente karakter uitstekend oor. Met haar aksent, vlegsels en “huisrok” is sy die verpersoonliking van ’n tipiese plattelandse dogter. So word sy metafoor vir die onskuld, naïwiteit en kinderlikheid wat in alle kinders beskerm moet word.

Baby (Aimee Valentine), daarenteen, word metafories van die worsteling wat gepaard gaan met die invloed van die wêreld op kinders. Sy wankel nie net fisies op die verhoog nie, maar ook tussen die twee wêrelde van kindwees en volwassenheid. Die kontras tussen hierdie twee karakters word gebruik om die gehoor bewus te maak van die gevare van die samelewing. Hoe gesond is dit werklik om jouself met die wêreld te vereenselwig? Wat is die gevolge van ’n wêreldse bestaan? Wat is werklik belangrik in die lewe? Dit is belangrik dat leerders, maar óók hul ouers, hulle hierdie vrae sal afvra.

Die dekor was eenvoudig en minimalisties, dog baie effektief. Elke dekor-element het ’n spesifieke doel gedien: die regisseur vertel (in die onderhoud met OIL) dat hy gepoog het om die duisternis en verwarring van Baby se wêreld oor te dra deur musiek te gebruik wat die gevoel van ’n kakofonie oordra – duisterheid met ’n tikkie humor. Op hierdie wyse het die musiek deurgaans spanning aangedui en behou.

Die prent van ’n aalwynplant dien om die kyker in ’n Karoo-konteks te plaas, Hierdeur word die situasie geskets – die gehoor gaan nou te doen kry met die eenvoudige en dikwels naïewe plattelandse bestaan. Die aalwyn-plant verklaar ook die betekenis van die verhaal op ’n metaforiese vlak en word gebruik om die bitter-soet lewe van Baby te verteenwoordig. Alhoewel haar lewe deurtrek was met bitterheid, bied die lewe tog ook vir haar ’n soete einde. Net soos wat die aalwyn-plant in die Karoo vir medisinale doeleindes gebruik word om genesing te bewerkstellig, kry Baby hier in die dorre Karoo ook die kans om heling te vind.

Hierdie vertoning wil mense, veral jong meisies, waarsku teen universele gevare soos ontvoering, mishandeling, verkragting en dwelmafhanklikheid (deur eie keuse of nie). Die belangrikste boodskap wat egter vir my na vore gekom het in die vertoning, is dat daar altyd ’n uitweg uit enige moeilike situasie is – jy moet nooit moed verloor nie en moet glo dat jou lewe waardevol is. Dit spreek ook tot volwassenes om hulle oë en ore oop te maak en aandag te skenk aan die uitdagings wat die jeug in die gesig staar. Anders as die grootmense weet Nooi hoe ongelukkig Baby is, maar op die platteland word daar nie eintlik na kinders geluister nie.

Baby is ’n uitstekende vertoning wat  ’n mens laat nadink oor die realiteit van die wêreld waarin die jeug vandag moet grootword. Dit is een van daardie teaterproduksies wat jy net eenvoudig nie kan bekostig om mis te loop nie. Met internasionaal-erkende akteurs en ’n wonderlike teks is die prys van kaartjies na hierdie produksie elke sent werd. Ek sal hierdie vertoning aanbeveel vir alle leerders én hulle ouers.

Dit is voorwaar ’n móét-sien.

Teaterproduksie in die KunsteKaap met: Aimee Valentine (Baby); Euodia Samson (Ma), Peter Butler (Attie), Shamilla Ismael (Nooi), Sean Michaels (sersant De Wit). Regie: Alfred Rietman. Geskryf deur EKM Dido.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top