Vriende van Afrikaans bevorder leesvaardighede in die Baai

  • 0

Elda Kruger, Dokka Swart, René Arendse, Shireen Crotz, Christien Neser, Chareldine van der Merwe, Gerrie Lemmer en Christie Swanepoel

Suid-Afrikaanse kinders sukkel om te lees. Voor die pandemie het die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) Suid-Afrika se jong lesers heel laaste geplaas uit al vyftig lande wat deelgeneem het aan die studie wat leesbegrip getoets het.

Toe kom die pandemie en ’n hele gros leerders raak nog verder agter.

Hoekom?

Ons kurrikulum is oorvol en gebaseer op papegaaileer, maar meer nog: Suid-Afrikaanse huishoudings lees nie. Ouers stel nie die voorbeeld aan hulle kinders dat boeke ’n goeie ontspanningsmiddel is nie.

Dit gaan lank neem vir alle Suid-Afrikaners om mededingend te wees wanneer dit by leesbegrip kom, maar die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, is tans besig met opleiding in talle dele van die land. Hulle wil saggies-saggies ’n verskil begin maak wat sal kan deursuur – die kurrikulum en ander probleme ten spyt.

Die VVA het onlangs met ’n multidissiplinêre span deur die suide van die land getoer. Hulle was ook in Gqeberha, waar onderwysers en ouers genooi is om na hulle aanbieding te luister.

Dokka Swart het eerste opgetree. Sy het die Doen en Leer-pakket ontwikkel wat kinders wat bang is vir lees, aanmoedig om hulle vrees te oorkom.

’n Ouer het ingewillig dat Dokka die pakket op haar seun demonstreer.

Chareldine van der Merwe het daarna ’n aantal redes voorgehou waarom lees so belangrik is vir jong breine se ontwikkeling. Ouers, en ook onderwysers, moet besef dat ’n kind wat grootword in ’n woordryke omgewing, ’n enorme voorsprong het bo kinders vir wie daar nie gelees nie of wat nie self lees nie.

’n Ouer, of onderwyser, wat vir ’n jong kind lees, leer hulle luister. Meer nog: Lees stimuleer die volgende prosesse in die brein:

  • Dit ontwikkel verbeelding en kreatiwiteit.
  • Dit brei woordeskat uit, wat lei na beter kommunikasie.
  • Dit verbeter begrip, empatie en simpatie.
  • ’n Kind wat lees, snap oorsaak en gevolg makliker en leer baie vinniger om voorspellings te maak oor wat moontlik sal gebeur, gegewe ’n aantal feite.
  • Die lees van links na regs help ook om middellynkruising in die brein te verbeter.
  • ’n Kind wat leer om self te lees, ontwikkel ’n gevoel van onafhanklikheid.

Vir onnies het Van der Merwe heelwat praktiese raad gehad:

  • Begin ’n boekklub.
  • Moedig leerders aan om hardop te lees – veral wanneer hulle klein is.
  • Kry ’n leeshoekie in jou klaskamer.
  • Maak seker daar is elke dag tyd vir lees in jou klas.
  • Vir kinders wat sukkel, kies korter verhale of kortverhale.
  • Vra dat sommige leerders boeke lees wat reeds verfilm is, en laat hulle vergelykings tref.
  • Maak seker dat leerders wat lees, ewe veel prys en ondersteuning ontvang as leerders wat goed is in sport.
  • Moedig top lesers en leerders aan deur vir hulle ekstra leestyd te gee.

René Arendse het daarna die Afrikaanse onderwysnetwerk se steun aan die projek toegesê.

Christien Neser het toe die uitdagings van inklusiewe klaskamers uitgelig. Ons werk deesdae met briljante leerders én kinders met ernstige leerprobleme in een klas.

Sy het ’n boek geskryf waarin sy kenners van verskeie kwessies se raad aanhaal en verwerk. Die boek Help! My kind is anders! Het by LAPA verskyn.

’n Deel van haar praatjie het ook gehandel oor kinders op die outismespektrum:

  • Hoe ken ’n mens hulle uit?
  • Wanneer verwys jy?
  • Hoe hanteer jy sulke kinders in die klas?

Talle bekende mense is of was op die spektrum. Soos Einstein. Sulke kinders kan dus uitstekend vaar as hulle die regte leiding kry.

Sy het juis twee boeke geskryf oor die onderwerp. Dit is fiksie, maar gebaseer op haar navorsing: Amper Einstein en Absoluut Einstein, wat by Tafelberg verskyn het.

Sy het ook verduidelik hoe lees vir die pret ’n brein kan stimuleer én laat kalmeer sodat die lesers beter vaar op skool.

Sy het navorsing aangehaal wat toon dat leerders beter presteer as hulle ’n halfuur voor slaaptyd tekste lees wat niks met hulle skoolwerk te doen het nie; hulle is gemeet aan leerders wat studeer het tot net voor hulle moes slaap.

Die brein ontspan wanneer ’n mens lees, en prosesseer dan die inligting wat gedurende die dag ingeneem is; ’n gespanne brein kan dit nie doen nie.

Shireen Crotz, ook van die VVA, het die dag se verrigtinge afgesluit.

Lees ook:

Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering

Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top