Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Die 19de Johan Combrink-gedenklesing is op Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie buite Stellenbosch gehou. Wat die geleentheid ekstra spesiaal gemaak het, is dat oorlede Johan se vrou Louise en sy dogter Freja en skoonseun Elmar Crament uit Amerika die geleentheid bygewoon het.
Karen Meiring (uitvoerende direkteur van Scenario Projects & Productions en voormalige direkteur van kykNET-kanale by M-Net) was die gasspreker. Sy het gesels oor “Afrikaans, ekosisteme vir volhoubaarheid en sukses: die kunste, TV- en vermaaklikheidsbedryf”.

Shemoné Bokhary (Hoopsigsentrum, Vredenburg) en Heather Smith (Vriende van Afrikaans).
Chareldine van der Merwe (projekbestuurder van Vriende van Afrikaans) het die gaste verwelkom en onder meer vertel dat hul doel met hierdie gespreksreekse is om gewone mense en meningsvormers in elke gemeenskap te stimuleer, sodat mense ’n verskil in hul gemeenskappe kan maak.
Sy is ook betrokke by die ATKV se Boektrommelprojek waar 60 trommels gestuur is na 61 laerskole en 14 kleuterskole. Altesaam 34 000 leerders het gebaat by lekker en geskikte boeke om hul liefde vir lees te ontwikkel en te stimuleer.

Gillian Arendse (Universiteit Stellenbosch) en Gerrie Lemmer (uitvoerende hoof vir kultuur, ATKV).
Gerrie Lemmer (uitvoerende hoof vir kultuur, ATKV) het vertel dat die ATKV in 1930 gestig is, om “ons pragtige taal in al haar vorms te laat voortleef, maar ook om ’n verskil te maak. Die ATKV het hom die afgelope 93 jaar onderskei as brugbouer van formaat en dis ’n rol wat ons poog om nog verder uit te bou in hierdie uiters uitdagende tye waarin ons vandag leef.
“In Suid-Afrika met al sy uitdagings het ons dit nodiger as tevore om mekaar se stories, opinies en ervarings te hoor, om meer begrip vir mekaar se lewens en situasies te hê en dan hoor ons uiteindelik mekaar se harte.”
Hy het afgesluit deur te sê dat die kunste ons bymekaar kan bring – soos ons maar alte goed weet.

Dokke Swart (Doen en Leer), Chareldine van der Merwe (projekbestuurder van Vriende van Afrikaans), Morné van Staden, Anzil Kulsen en Ronel Vorster (almal ATKV).
Karen Meiring se CV, verklaar Chareldine, is langer as waarvoor daar tyd is, maar sy lig tog enkele hoogtepunte uit, soos dat Karen die stigterslid van die a cappella-musiekgroep Cutt Glas was, die eerste feesorganiseerder van die KKNK was en van 2009 tot 2021 die hoof was van Afrikaanse kanale by M-Net, waaronder kykNET, kykNET&kie, kykNET NOU!, kykNET Lekker en die opwipkanaal fliekNET.
Karen het in haar lesing vertel dat die kunste, TV- en vermaaklikheidsbedryf een gemene deler het en dis inhoud.
Sy het haar lesing toegelig met ’n tydlyn oor waar Afrikaans en Afrikaanse organisasies en projekte die afgelope 100 jaar ontwikkel en geloods is en tussendeur van haar eie ondervinding met baie van dié projekte gedeel.
Die konsep van ’n “ekosisteem” is vir die eerste maal in 1935 genoem en berus op verskillende eienskappe en die interaksies tussen hulle. Sy het gesê ekosisteme is dikwels vaag en verander met tyd.
Organisasies in die kunste se ekosisteem bestaan uit vervaardigers/skeppendes, verbruikers en mikroverbruikers, en dis altyd belangrik om te onthou vir wie maak jy die inhoud.
“As student het Sandra Kotzé – julle sal haar ken as Cobus Rossouw se vrou – vir ons gesê: ‘self-enjoyment and self-indulgement does not make for good theatre’ en hoe waar is dit nie.”
Teen meetbare teikens is sukses maklik bepaalbaar, maar teen die nie-tasbare is sukses moeiliker meetbaar en ook nie onmiddellik duidelik nie, en dis dikwels hier waar momentum verloor word. Sukses is groter as dit gedeel word.
Teen hierdie agtergrond het sy die gehoor deur die Suid-Afrikaanse kunstelandskap geneem, waar daar vir die eerste maal staatsbefondsing was vir projekte, waaronder die stigting van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) in 1947 – die eerste van sy soort in die Britse Statebond, wat in 1948 sy eerste produksie op die planke gebring het. Die organisasie kry jaarliks 10 000 pond.
Daaruit is twee jeuggeselskappe gestig en in 1961 het streeksrade in elke provinsie die lig gesien om die NTO te vervang, want Suid-Afrika word ’n republiek. Ook Namibië kry ’n streekraad. Dr Jan de Klerk, minister van Opvoedkunde, Kuns en Wetenskap kondig dié streeksrade in 1963 amptelik aan en die hoofdoel hiervan is om aan kunstenaars en teaterwerkers beroepsekerheid te gee, gehore te ontwikkel en kuns onlosmaaklik deel van die samelewing te maak. Elke provinsie kry sy eie teaterkompleks tussen 1971 en 1986, en Karen se loopbaan begin in 1985 by Sukovs as verhoogbestuurder.
“Maar hoe het ek daar gekom? In my graad 11-jaar besoek die streeksrade se jeuggeselskap as deel van hul skoolbesoeke waar voorgeskrewe werk opgevoer word, my skool en voer ‘Oom Willem Prinsloo’s peach brandy’ op en net daar weet ek, ek gaan my lewe in die teater uitleef.”
Die streeksrade was goed-gesubsidieer en het baie ko-produksies geproduseer. Subsidies is op grond van kaartjieverkope toegeken en hierdie streeksrade was goeie voedingsare vir toekomstige akteurs en kunstenaars, vertel sy.
“Maar om ’n homogene bedryf te bou in ’n multikulturele landskap het beteken dat dié ekosisteem nie volhoubaar kon wees nie.”
Karen lig uit dat in die tagtigs die opstande teen die kultuurbrigade van die tyd begin het: Die Nasionale Kunstefees op Grahamstad begin; Kampustoneel skop af, Insig, De Kat, die Voëlvry-toer, Vrye Weekblad – almal mense wat in opstand was teen die bestel van die dag – word gestig en toe volg M-Net as betaalkanaal as teenvoeter vir die voormalige SAUK, waarvan ons alles maar net moes glo, en fokus net op vermaak. Toe volg Egoli: Plek van Goud.
“Maar een van die belangrikste projekte van daardie era was die ATKV se Kampustoneel wat in 1983 vir die eerste maal aangebied is. Elke dramadepartement het R2000 gekry om ’n dramaturg te kry wat ’n drama kon skryf, en dan nog R2000 om die produksie met hul studente te realiseer. Dis regoor Pretoria opgevoer en terugvoer was eerlik en soms baie hard – daar is nie doekies omgedraai nie.
Maar wat Kampustoneel gedoen het vir die volhoubaarheid van hierdie kunste-ekologie, kan nie misken word nie – skrywers en regisseurs was vir 20 jaar nog daarna in aanvraag. Kampustoneel het ’n bloudruk vir my geword vir die projekte wat ek later in my loopbaan sou aanpak.”
Met demokrasie op almal se lippe vra die ATKV en Transnet vir Karen om The Crossing, die land se eerste multikulturele venue by die Grahamstadse kunstefees, in te rig. In 1995 sluit die streeksrade finaal hul deure en die hele The Crossing-span word toe die eerste KKNK-span.
Karen vertel dat daar voor die eerste KKNK besluit is dat almal in die gemeenskap moet deel wees van die fees en hulle het na alle skole gegaan om uittreksels uit toneelstukke te doen.
“Ons verkoop 30 000 kaartjies en weet nie of die fees sou voortbestaan nie.” Die res is geskiedenis. Daarna volg onder meer Aardklop, die Innibosfees, die Woordfees, Suidoosterfees, die Wegbreekfees in KwaZulu-Natal en die Rieldanskompetisie in 2006.
“Hierdie feeste is baie meer omarmend, daar is meer toeganklikheid en dit is baie meer verteenwoordigend van alle gemeenskappe.”
Soos die jare aanskuif, kom kykNET, Skouspel, 7de Laan, Die Son, die MK-alternatiewe musiekkanaal en vele ander. Meer onlangs kom Suidooster en Arendsvlei.

Chareldine van der Merwe (projekbestuurder van Vriende van Afrikaans), Karen Meiring (gasspreker vir die aand en uitvoerende direkteur van Scenario Projects & Productions), Shireen Crotz (projekorganiseerder van Vriende van Afrikaans) en Marieta Nel (Penguin Random House se LAPA Uitgewers).
Sy begin by kykNET te midde van baie vrae, omdat sy niks geweet het van televisie nie.
Sy vertel ook dat dit vir haar baie belangrik was dat televisie nie in isolasie moet wees van die kunste- en vermaaklikheidsekosisteme nie. Haar ervaring was dat mense by TV half neergesien het op mense in ander kunsvorme en groot skeiding teweeggebring het tussen teater en televisie, en sy wou dit elimineer in haar nuwe pos.
“Televisie kan nie in isolasie staan van die kunste-ekosisteem nie en ons het al meer betrokke geraak by alle feeste.
Maar as gevolg van die kultuur van televisie was daar nie veel vervaardigers nie en moes ons aan iets dink om daardie bron vir ons groter te maak en toe bedink ons die Silwerskermfees. Dis gebaseer op wat ek ervaar het by Kampustoneel. Daar is in 11 jaar meer as 200 kortfilms en 60 speelfilms vervaardig en voor dit was daar een in ’n paar jaar, Ouma se slim kind.”

Johan Combrink se dogter Freja Crament, vrou Louise en skoonseun Elmar Crament het ook die geleentheid bygewoon.
In 2010 begin die Fiëstas wat as voedingsbron vir teater en televisie dien.
“Wat kweek sukses en volhoubaarheid? Dat mens moet bly leer en korporatiewe kennis oordra. Doen opvolgbeplanning en opleiding vir toekomstige leiers in bestuursposisies.”
In die woorde van die dramaturg, Pieter Fourie, ons moet mense verryk, vermaak, versoen en verras.
“Ons kan nie onsself as Afrikaanse mense in isolasie sien van die multikulturele land waarin ons leef nie.”
Sy het vertel dat inhoud, veral Afrikaanse inhoud, nou baie in aanvraag is danksy stromingsdienste.
Sy het afgesluit met ’n insetsel van dr John Kani wat ’n Legendeprys by die Fiëstas gewen het, se woorde: “Ek het grootgeword met ’n begeerte om die waarheid én stories te vertel. Ek het grootgeword in ’n huis waar die draadloos in Afrikaans was. Ek wou ’n akteur word.
So ’n paar jaar terug vra Saartjie Botha my of ek en Sandra Prinsloo in Afrikaans sal speel vir So ry Miss Daisy. My wêreld het ontplof.
Ons is mekaar so lank misgun. Ons sien mekaar nou vir die eerste keer. Ons moet ons bes doen om mekaar te vind. Om te sien hoe dieselfde – nie verskillend – ons is.”

Karen Meiring, gasspreker vir die 19de gedenklesing (uitvoerende direkteur van Scenario Projects & Productions en voormalige direkteur van kykNET-kanale by M-Net) tydens haar lesing.
John Kani onthou die dae toe hy deur sekere wit mense gehaat is omdat hulle hom as terroris gesien het; hoe hy hulle gehaat het – en nou word hy deur hulle vereer. Maar hoe hy nou ’n ander deel van sy lewe en homself ontdek, wat hom ’n holistiese Afrikaan maak.
Hy het afgesluit deur te sê ons is deel van een wonderlike kontinent. “Ek het in Hollywood uitgevind hulle weet nie wie ons is nie of dat ons bestaan nie. Hoekom maak ons flieks wat soontoe moet gaan?
Ek het al vir politici vertel dat hulle nooit ware versoening, ware nasiebou sal behaal of sosiale samehorigheid nie. Net deur die kunste.
In die kunste is ons net een snaakse, opgewonde, gelukkige familie.”

Janine Myburgh (Pniël Erfenis- en Kultuurtrust), Urline Williams en Florence Phillips (Pniël-skrywersklub).
In vraetyd het Karen bygevoeg dat sy as jong student geleer het dat jy in die kunste nie net kan film of teater doen nie, nie net kan sing of dans nie. Jy moet iets van alles kan doen om te oorleef. En dan is ’n sepiester die groot aantrekkingskrag by ’n kunstefees se teaterproduksie en vise versa. Alles werk saam.
“Mense kyk dalk baie neer op sepies, maar hulle moenie. Dis ’n wonderlike, verteenwoordigende platform en die teksture en diversiteite in Afrikaans is ongelooflik.”
Gerrie het die aand se verrigtinge afgesluit deur te sê die gemene deler is die kunsvorm en hier val politiek, sosiale status, jou herkoms weg. “As ek moedeloos is oor wat in ons land aangaan, besoek ek net een van die ATKV se projekte en sien wat jong mense op die verhoog aanvang en dan skep ek moed.”


Kommentaar
Wat 'n wonderlike aand tussen sterre en die hemelse sterre.