..........
In teenstelling met die algemene opvatting wat daar bestaan, is ’n mens nooit te oud om ’n nuwe taal aan te leer nie.
Dit was die algemene gevoel van ’n paneel meertalige deelnemers tydens ’n gesprek die afgelope naweek by die Adam Small-fees op Pniël in die Wes-Kaap.
.............

Jurgen McEwan, Karien Brits, Chareldine van der Merwe en René Bogovic (foto: Jean Oosthuizen)
In teenstelling met die algemene opvatting wat daar bestaan, is ’n mens nooit te oud om ’n nuwe taal aan te leer nie.
Dit was die algemene gevoel van ’n paneel meertalige deelnemers tydens ’n gesprek die afgelope naweek by die Adam Small-fees op Pniël in die Wes-Kaap.
Die Vriende van Afrikaans en die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust het vanjaar se Ommietafelgesprek aangebied. Die Vriende van Afrikaans is ’n groep mense onder die vaandel van die ATKV wat werk vir Afrikaans. Hulle bied elke jaar ’n Ommietafelgesprek aan waar daar oor aktuele sake rakende Afrikaans gepraat word.
Die tema van vanjaar se gesprek in aansluiting by die Adam Small-fees was: Hoe het Afrikaans se dice geval. Daar is onder andere gekyk na die verskillende uithoeke waar Afrikaans vandaan kom, hoe om hande te vat vorentoe sonder om eksklusief te wees en die rol van meertaligheid.
Die gesprekleier was Chareldine van der Merwe van die ATKV se Vriende van Afrikaans.
Een van die interessante deelnemers aan die gesprek was René Bogović van Kroasië wat vertel het hoe dit gebeur het dat hy Afrikaans aangeleer het.
Die ander twee lede van die paneel was die skrywer en akteur Jurgen McEwan en Karien Brits, ’n taalpraktisyn en deeltydse taaldosent.
René Bogović was vyf jaar oud toe sy gesin uit die voormalige Joego-Slawië of huidige Kroasië na Italië moes vlug as gevolg van die bloedige burgeroorlog in sy land.
In daardie stadium kon hy slegs Kroaties praat. Met die gesin se aankoms as vlugtelinge in Italië moes hy blitsvinnig Italiaans aanleer toe hy begin skoolgaan. Sy ma wat by ’n koerant werksaam was, het ’n vaardigheid met woorde en het van die ander vlugtelinge ook gehelp om Italiaans aan te leer.
So het René se eie belangstelling in tale begin. Toe hy later ’n beurs kry om sy hoërskoolloopbaan in Indië te voltooi, kon hy glad nie Engels praat nie. Hy moes van voor af nog ’n taal aanleer, naamlik Engels, wat sy derde taal geword het.
Ná sy skoolloopbaan in Indië het hy ’n beurs gekry om sy graadkursus in Kanada te gaan doen. Daar het hy ’n Afrikaanse gesin ontmoet wat vir hom soos familie geword het.
“Kanada is ’n koue, grys, verskriklike plek. Ek was 21 jaar oud, alleen, baie ver van my familie en moes hard werk om my beurs te behou. Ek het heeltemal toevallig goeie vriende geword met ’n Suid-Afrikaanse familie wat Afrikaans is, en hulle het my eintlik aangeneem as een van hulle.”
“Hulle was my redders. Sonder hulle sou ek heeltemal uitgesonder en alleen gevoel het.” Uit waardering vir hulle liefde en gasvryheid het René Afrikaans leer praat as ’n gebaar om vir hulle dankie te sê.
Vandag help sy kennis van Afrikaans hom om ook iets van die verdeeldheid in sy eie land hier te probeer verstaan, sê hy.
Tydens die oorlog in Kroasië kon hy as kind sekere dinge wat van hom verwag is, glad nie begryp nie.
Hy en sy ouma was baie na aan mekaar gewees. Sy het hom egter belet om enige kontak met die buurvrou te hê wat altyd net vriendelik was teenoor hom. Toe hy by sy ouma wou weet waarom, was haar antwoord omdat die buurvrou nie Katoliek is nie.
Dit het hom as kind baie verwar dat mense wat dieselfde taal praat, dieselfde kultuur het, dieselfde lyk en van dieselfde kos hou nie met mekaar mag praat nie net omdat hulle nie dieselfde geloof deel nie. “Dit het my as kind baie deurmekaar gemaak waarom ons hierdie oorlog in ons land het. Dit is geloof wat ons so verdeel het.”
Omdat dit vir hom steeds te seer en te na aan sy eie mense is om oor die verdeeldheid in sy eie land te skryf, het hy hierdie fenomeen van taalverdeling in Suid-Afrika verder bestudeer toe hy sien hoe bruin en wit Afrikaanse mense weens ander redes op baie gebiede ook van mekaar afgeskei is.
Die akteur en skrywer Jurgen McEwan se meertaligheid spruit uit sy gemengde herkoms. Sy eerste taal is Afrikaans, en hy praat ook Engels, Xhosa en Zulu.
Sy ma is ’n Zuluvrou en sy pa is bruin. Sy oupa aan sy pa se kant is van Skotland (vandaar die Skotse van McEwan) wat met ’n Xhosavrou getrou het. “Ek is dus eintlik soos ’n pakkie mix veg ’n bietjie van alles,” sê Jurgen.
Sy ma sukkel vandag nog om Afrikaans te praat, maar vir hom is Afrikaans die taal waarin hy hom die beste kan uitdruk. “Mense word grootgemaak om baie woke te wees ook in terme van taal, maar vir my is Afrikaans baie belangrik en die taal waarin ek myself die beste uitdruk. Dit maak nie saak watter kleur of ras jy is nie, as jy na die mooiheid van Afrikaans kyk, sien jy iets in daardie vegterstaal wat vir my absoluut outentiek is.”
Karien Brits is ’n taalpraktisyn en deeltydse taaldosent wat verskeie tale praat onder andere Afrikaans, Engels, Suid-Sotho, Tswana, Duits en ook ’n bietjie Zulu, Spaans en Pools.
Sy sê sy is as’t ware verslaaf aan tale. Haar liefde vir tale kom van skool af waar haar Suid-Sotho-onderwyseres ’n groot rol gespeel het om taal vir haar lewendig te maak. “Dit het die ys gebreek en van daar was daar geen keer om meer oor tale te leer nie.”
Sy het onder meer verwys na die wortels van Afrikaans en die wanpersepsie by sommige mense dat dit ’n “witmenstaal” is. “Daar was vir baie lank net ’n wit gesig van Afrikaans in die media voorgehou met Standaardafrikaans as enigste Afrikaans. Daar is baie klem gelê op Afrikaans se Europese wortels omdat dit kwansuis status verleen het aan die taal, terwyl daar nie ook gefokus is op die ander wortels van Afrikaans nie.”
“Ons vergeet dat daar reeds ’n klomp variëteite en dialekte was toe Nederlands hier aangekom het. Afrikaans het eintlik as ’n handelstaal ontstaan. Mense moes met mekaar praat om handel te dryf. Dit was onmoontlik dat die taal wat so ontstaan het, sy Europese wortels sou kon behou omdat die wortels so ver soos die Verre Ooste strek waar die skepe gevaar het, en talle leenwoorde in Afrikaans getuig daarvan.”
Almal op die paneel was dit eens dat meertaligheid talle voordele het.
Volgens René het studies bewys dat kinders wat meertalig grootword, se empatie met ander mense baie vinniger ontwikkel as kinders wat eentalig grootword, omdat hulle kognitiewe vaardighede vinniger ontwikkel. Hy sê kinders wat meer as een taal praat, kan emosie vinniger optel daarom is dit belangrik om in ’n verdeelde wêreld mekaar se tale te verstaan.
Karien sê ’n mens is nooit te oud om ’n nuwe taal aan te leer nie. “Dit is sommer strooi dat ’n mens ’n ander taal sonder aksent moet kan praat. Moet nooit dink dat jy te oud is om nog ’n taal te praat nie, jy leer net ’n taal anders aan,” sê sy. “Die feit dat ons Afrikaans praat en ook ’n tweede taal kan praat, bewys dat ons alreeds daardie vermoë aangeleer het om nog ’n taal te leer praat.”
Die deelnemers aan die gesprek stem ook saam dat ’n mens jou die beste in jou moedertaal kan uitdruk. René sê as hy iets emosioneel moet uitdruk, doen hy dit die beste in Kroaties. “Die grootste deel van my opvoeding was in Italiaans. As ek baie fênsie of arrogant wil wees, word dit in Engels gedoen en as ek oor my ervarings in Suid-Afrika moet praat dan word dit Afrikaans.” Hy ken ook ’n bietjie Spaans wat hy geleer het toe hy Spaanse sepies saam met sy ouma gekyk het, en as hy weer ’n beurs kan kry vir nog ’n projek sal hy graag Xhosa wil leer.
Chareldine van der Merwe het interessante statistiek aangehaal oor die gewildste tale in Suid-Afrika. Die statistiek word gebaseer op die tale wat die meeste tuis en buite die huis gepraat word – dit sluit die werksomgewing en skole in.
Volgens Stats SA praat 25,3% van die land se mense Zulu tuis, teenoor 25,1% buite die huishouding. Altesaam 14,8% praat Xhosa tuis, teenoor 12,8% buite die huishouding. Afrikaans word tuis deur 12,2% Suid-Afrikaners gepraat. Ongeveer 77,4% bruin mense praat Afrikaans tuis, teenoor 20,1% wat Engels praat. Ongeveer 61,2% wit Suid-Afrikaners praat Afrikaans en 36,3% praat Engels. Slegs 8,1% praat Engels tuis, maar dit is ook die taal wat die tweede meeste buite die huishouding (16,6%) gepraat word.
Volgens Stats SA se data is die Indiër- / Asiatiese bevolkingsgroep oorwegend eentalig en 92,1% praat Engels tuis.
Stats SA sê as ’n mens die getalle vergelyk, blyk dit dat swart Afrikane ’n groter verskeidenheid tale praat.
Lees ook:
Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"


Kommentaar
Ek is nie te oud nie ja, net te dom. Dit was 'n wonderlike gesprek om te aanskou en ek bewonder al hierdie mense. Hulle het die talent vir vreemde tale. Jy het die gesprek goed beskryf, Jean. Is dit nie wonderlik hoe 'n vriendelike familie in Kanada vir Rene so aangeraak het dat hy sommer hulle taal aangeleer het nie? En sy artikulasie is beter as baie van ons moedertaalsprekers s'n!