• 2

Poskaarte vanaf Pniël

Die eerste woord van Adam Small se ikoniese gedig is dan juis so ’n gulhartige uitnodiging. Byna soos daardie bybelse ene: “Kom herwaarts…”

Hierdie keer antwoord ek dus onmiddellik “ja” op Darryl David se navraag of ek beskikbaar sal wees om op te tree. Die laaste week van Februarie is die slegste tyd van die boekjaar op kantoor (dan moet daar bereken word hoeveel die keiser toekom), maar hierdie jaar gaan ek, ongeag.

Ek het immers ook ’n nuwe boek en “a boy has to hustle his book,” aldus Truman Capote.

Verlede Dinsdagaand bars my borrel byna. Intercape bel om te sê dat die bus tot op Stellenbosch weens swak kaartjieverkope gekanselleer is. Hoe nou? begin ek paniekerig vra. Hulle bied egter ’n alternatief aan op ’n ander bus, effe vroeër, wat in elk geval tot op Paarl sou gaan en wat meer prakties is. Ek haal weer asem.

Aankoms

Vrydag.

Die bus kom ongeveer 15 minute laat op Paarl aan. Ons rygeleentheid wag – Randell Petersen. Die gastehuiseienaar Benita Cyster ontvang ons self, net ná 6:00 die oggend, en reeds is ek bewus van ’n aangename medemenslikheid aan hierdie plekkie. So, in skrille kontras met ’n ander fees waar ek (ook oornag per bus gereis het) net koud en saaklik telefonies meegedeel is dat ek ongelukkig eers ná 14:00 die middag ’n gastehuiskamer sou kon beset; dit was die reël, sien en kom klaar, dankie.

Jy moet baie dinge stil opvreet ter wille van die woord. 

Lat ons die Bybel oepeslaan

In die Stegmann-tuin by die Pniël Museum wag die stoele gretig om beset te word. Die skare stel nie teleur nie, die opkoms is goed vir ’n Vrydagoggend.

Diana Ferrus stel ’n groep Pniël-skrywers aan die woord, vroue uit die gemeenskap wat elkeen ’n eie, unieke storie vertel, met sy wortels diep geanker in die onthoustroom van hierdie dorpie.

Ian Sutherland volg en gesels oor sy roman Catastrophe wat onder andere oor Chernobyl gaan. Baie van die herskryf aan hierdie boek is tydens ’n verblyf op Cradock in Die Tuishuise afgehandel – inderdaad ryk teelaarde in daardie straat vir skeppende wesens.

Later word ek ’n groot aanhanger van Grant Jefthas, koop sy debuutbundel AfvlerkMens wat by Minimal Press verskyn het, poseer saam by die spesiale fotoraam. Hy koop ook my digbundel en gedurende die fees gesels ons baie, deel ’n eettafel, ruil telefoonnommers uit. Hy bied aan om een van my gedigte voor te dra en vir my op te neem. Ek het in elk geval nie die aanleg vir digterlike voordrag nie, is meer van ’n angstige, senuweewrak van ’n voorleser. Dus sal Grant, met sy drama-agtergrond, beslis reg kan laat geskied aan dié vers.

Gaireyah Fredericks en ’n familielid lees van die mooiste, teerste en roerendste liefdesgedigte in Engels en Afrikaans voor.

Een aangename verrassing vir ’n couch potato soos ek, is die sessie van Erica Terblanche – RUN for the love of life. Haar praatjie spoor my aan om meer aktief te raak. Sy is ’n “endurance and extreme distance runner” en het van die moordenste roetes in die warmste en verlaatste woestyne voltooi – haar opmerkings oor hoe fisieke aktiwiteit kan help met kreatiwiteit, hoe ons interaksie met die natuur dele van ons weer heel kan maak en die aanleer van die vermoë om met minder onnodige bagasie deur die lewe te reis, was ontsettend verrykend. Ons ruil boeke uit.

Een van die genooide sprekers het Covid opgedoen, dus spring die program aan. Vivian Kleynhans is aan die woord oor haar Wanneer water wyn word. ’n Verhaal van deursettingsvermoë, die ou, ou verhaal van aanhouer wat uiteindelik wen.

Tussendeur is daar toebroodjies, melktert, koesisters en ander eetgoed.

Ongelukkig mis ek Jitsvinger se vertoning die aand, want die min slaap tydens die busrit dwing my vroeg na die bed (maar wat ’n aangename persoon, vind ek later tydens ’n ete uit, is hierdie hip hop-ster nie).

Ek gaan kyk na hom op YouTube, “Graasies” is kwaailappies.

Nou vrinne

Saterdag.

Voor ontbyt gee Benita aan ons poskaarte om in te vul, sy pos dit dan daarna self uit. Dit vang ons onkant, met die poskantore in ons geweste wat met reëlmaat sterf en wedergebore raak, is dit iets wat ons totaal verleer het. Ons moet hard dink, soek en telefonies vra vir adresse.

Die bekroonde Ashwin Arendse lees voor en ’n plaaslike vroulike digter uit die gehoor raak moerig oor die “gevloekery” in sy werk. Sy prosagedigte is soos ’n mes wat in die land se harte ingedruk en gedraai word en jou tot ongemaklikheid stem, soos gedigte moet.

Lester Walbrugh volg met ’n onderhoud deur Darryl David oor sy Engelse roman getiteld Elton Baatjies.

Dan is Audrey Jantjies in the house!

Met haar oorringe na die buitelyne van die Afrika-kontinent, en haar gemaklike, sonder aansitterigheid en airs-geaardheid, gesels sy reguit en onderhoudend. Sy is ’n natuurlike skrywer, eg en aards. Ongelukkig het sy nie boeke saamgebring nie, maar ek het gereeld na die voorlesings vanuit As die katjiepiering blom op RSG geluister. Sy noem ook dat sy aanvanklik aan die boek die titel Lekker is net ’n vinger lank gegee het, maar dat dit op aanbeveling van die redakteur/uitgewer verander is. Darryl David leer ook wat ’n “katjiepiering” is.

Ommietafelgesprek bring, met ’n goeie keuse van paneellede, nuwe insigte rondom Afrikaans en is verrykend.

En lat ons daaryt lies

Die verrigtinge verskuif na die Pniël Congregational Kerksaal. Prof Quentin Williams lewer die Adam Small-gedenklesing en brei uit oor sy werk rondom die eerste Drietalige Woordeboek van Kaaps.

Ná middagete vertel Mignonne Breier, wenner van die Sunday Times Literary Award, oor haar boek Bloody Sunday, wat handel oor ’n ongemaklike deel van ons verlede wat grootliks geïgnoreer word.

Children of sugarcane is Joanne Joseph se onderhoudende en ryk-geskakeerde bydrae tot die fees, oor die geskiedenis van slawe-arbeid uit Indië.

Joernalis Julian Jansen gesels oor sy nuwe boek en vra ongemaklike vrae oor armoede en wat mense tot gewelddadige uiterstes dwing.

Ma’ wat as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat

Ek kom aan die woord, is erg gespanne. Hou daarvan om voor te lees as ek kan staan en aan iets voor my kan vashou. Ek sit egter, dit is moeilik om my boek en mikrofoon vas te hou, maar ek kap aan.

Clinton V du Plessis (Foto: Menán van Heerden)

Stel myself voor met die volgende gedig (en agterna kom sê twee mans ek het hulle tot trane gedryf, jammer menere!).

ID, of dan, I am I cried

Ek is hiérdie land,
hierdie landskap se ongenaakbaarheid
groei ruig op en in my,
ek is hierdie land
iewers in my gene sit alles nog vas
hoeveel geslagte lank al?

Ek is hierdie land se vele vals profete:
kyk die dooies sal uit grafte verrys,
slag al die vee,
van hierdie oes mag niemand eet
nie, ek is die siener, ek sien die sisal
en die koms van die groot verval
ek is die spies van die nasie
ek smag in die nag, beoefen die grynslag van mag

ek is die eerste man wat op die strand loop,
die hoofman,
ek is die bode van gemengde afkoms met die lintwurm
en ’n mes, ek kerf ’n nuwe geskiedenisles
ek is die 12de verdieping
van ’n gebou met ’n seepgladde vloer
ek is Boipatong en Katlehong
en die trojaanse perd in Athlone
ek is Kerkstraat en die Magoo’s Bar
ek is Cuito se waarheid gelieg en Quatro se nare waarhede
ek is die soms reluctant brother in arms van Ashley Kriel
die bloedbroer van die wat aan die nekke hang aan die galg
ek is Slagtersnek se rebel en Vlakplaas se askari
ek is ’n konsentrasiekampgraf, ongemerk, iewers
tussen onthou en vergeet se gerieflike haltes
ek is ’n roulettetafel in ’n tuisland
’n bonusobligasiekaartjie se uitkomkans, ’n troep op die grens,

ek is ’n dominee, beroep na ’n lokasie
om daar te gaan soek na Jesus, die mens.

Ek is die briefbom
wat waarsku teen die hamer en sekel se kom
ek is die boer, ek is die bywoner
die man met die pik en die graaf
ek is die slaaf, die baas van die plaas
ek is Pearl Jansen van die Bonteheuwel, Mej. Afrika-Suid,
ek is die ambulansman by Vivian Solomons
se sterwende liggaam wat wik en weeg, is hy bruin of is hy wit?
ek is die huurder van ’n Wendy House in ’n jaart op die Flatse
ek is ’n member van ’n body corporate in Century City.

Ek is Senzeni Na, ek wil-wil Antwoord op jou roepstem,
ek is Skipskop se wanneer hou die donnerse dinge op,
ek is Kippie en Robbie
ek is Sophiatown en Triomf
ek is ’n lappieskombers van God se blomtuin in Namakwaland
ek is Aunt Grietjie van Garies se Lekker ou Jan,
Taliep se Two for the price of one
ek is die remix van Gazette (Kazet) van Mahlathini and The Mahotella Queens

ek is hierdie vervloekte opgeneukte land
se basterkind, ek is ’n visser
sonder skuit of vangnet of verdompde permit
ek is ’n bekkige bergie vol pyn
ek is ’n karwag met die tandelose bedellag
ek is die plastiekafval wat vaswaai teen grafstene

ek is niks en tog ook alles
van hierdie vervloekte, opgeneukte, verruklik-asemrowende land.

Vervolg met sewe of agt gedigte uit die bundel 60 op 60. Die gehoor sing vir my “Happy birthday” (vir die 20ste) en ek soek ’n tafel om onder weg te kruip.

Daar is ’n laterige middagete by Die Boekklub (Dominique Botha) en wat kan ek anders sê as:

die uitsigte is moers,
die ambience was moers,
die geselskap was moers,
die ete was moers.

Darryl gaan kry nog pampoenkoekies en ek herinner hom daaraan dat hy dit seker die laaste keer tydens die Montagu-fees gehad het, toe die ouetehuis dáár die etes verskaf het.

Klawerjas deur Crescendo ATKV met Petronel Baard, Keanu Harker en Die Hooflig (ook ’n meneer van ’n rapper) vier die legende Adam Small op voortreflike en roerende wyse.

Daar was load shedding, maar kragopwekkers en “wonnerwerke oek”.

Lat hierdie woorde na onse harte gaan!

Sondag.

Erediens. Eerw Chris Nissen bring die boodskap. Ons vergewe hom vir sy glips waar hy die roman Philida aan Breyten se pen koppel in plaas van aan dié van Brink. Begeesterde boodskap nietemin.

Ons is op die laaste deel van die fees.

Dr Beryl Botman gesels oor haar boek en haar pad wat sy moes stap sedert die afsterwe van haar man. Ek koop haar boek, sy teken.

Intussen daag Breyten en Yolande op.

Dominique Botha lees twee kortverhale voor, verbysterende taalgebruik, prosa deurweek met die asemrowendste suiwer poëtiese passasies.

Ons luister na die mag van sonkrag en silver linings in hierdie soms donker, donker land, met Michael Jordaan wat die gesprek voer met dr Adrian Enthoven.

Ria Olivier kom koop ’n bundel.

Die einde is dan byna daar, net nog middagete bly oor.

Daar is weer pampoen, ek merk Breyten se pampoengeel langbroek, die swart kolle. Ek dink aan die “fascistiese pampoen” en al die pampoene daarna op die 16de September van elke jaar. Digters word nie onder ’n pampoen uitgebroei nie.

Oor die naweek het ek vriende gemaak (nuwes), ou vriendskappe herbevestig, Facebook-kennisse ontmoet: Gwen Kruger, Barend van der Merwe, Francois Koegelenberg, Sonia Esterhuysen, en nog ander.

Ons vertrek na Stellenbosch vir die bus terug.

Daar verwyl ons tyd in die Neelsie, die hele plek smells like teen spirit.

’n Outjie speel die klavier wat op die tweede vloer staan. Hy volg die note vanaf sy selfoonskerm, hy is nie die beste speler wat ek al gehoor het nie, not even close.

Die volkslied, “My way”, “Kinders van die wind” en “Kumbaya, My Lord” tokkel hy uit. Soos ’n dier in pyn, sou ’n PG du Plessis-karakter sy pogings noem.

Maar, desondanks die Neelsie se vals klanke, wat ’n naweek, wat ’n fees, wat ’n ongelooflike gees. Mense uit die aarde. Pniël.

Vrinne,

kô, laat ons sing.

*Aanhalings uit Adam Small se Kô lat ons sing ook verwysings na Springsteen en Cobain.

Lees ook:

Fotoblad: Adam Small-fees 2023

Adam Small Festival 2023: an interview with Darryl David

Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"

60 op 60 deur Clinton V du Plessis, ’n genuanseerde bundel

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Clinton, dit was werklik 'n belewenis om na jou te kon luister. Grant het natuurlik 'n besondere gawe van voordrag, maar jy was ook baie goed. En jy het so koel soos 'n komkommer voorgekom. Dit is goed om te lees dat jy ook 'n aangename ervaring gehad het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top