60 op 60
Clinton V du Plessis
Uitgewer: Roepman Uitgewers
ISBN: 9780639741871
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
60 op 60 is die titel van die nuutste digbundel deur Clinton V du Plessis (1963–). Soos die oorgrote meerderheid van Du Plessis se digbundels is hierdie een ook selfgepubliseer, en nie beskikbaar in enige boekwinkel nie. Dit is ’n heel konvensionele digbundel. Du Plessis het ’n resep wat vir hom werk, en wat die vorm van die inhoud en verse betref, stem hierdie bundel ooreen met wat ’n mens aan gewoond geraak het van Du Plessis oor die jare. Dit is byvoorbeeld nie verse wat as eksperimentele poësie beskou kan word nie. In Verslag (2019) en Aantekeninge teen die skemeruur (2017) is die verse nog opgedeel in subafdelings. 60 op 60 bevat geen sulke onderafdelings nie. ’n Mens wil geensins insinueer dat sulke subafdelings onwelkom is nie. Die poësie is immers miskien die een kunsvorm waar taal by uitstek grensloos en ongeïnhibeerd kan rondfladder, maar in 60 op 60 skep die eenvoudige uitleg nogal ’n ouwêreldse en kwasi-ongekunstelde gevoel. Die uitleg werk goed in hierdie geval.
Ongekunsteld is dit egter allermins, al het dit oomblikke van daardie skyn. Vir sy ywerige lesers is Du Plessis ’n woordkunstenaar par excellence wat met die Afrikaanse taal kan toor en hulle in vervoering laat. ’n Mens sal ook ’n goeie argument kan uitmaak dat daar wat tematiek betref, duidelike herhalende onderwerpe is wat in Du Plessis se verse na vore tree in bundel na bundel. Ook in dié opsig bou 60 op 60 voort op Du Plessis se ouer digbundels. Van die tipiese onderwerpe waarvan ’n mens opnuut in hierdie bundel te lese kan kry, is verse oor kunstenaarskap en die letterkunde, die blik op die randfiguur, sosio-politiek (verse soos “(De)listing Cape Town” en “Die laaste kind”) en ook persoonlike herinneringsverse. As ek Du Plessis se digkuns in een woord moet saamvat, dan sal ek dalk sy tematiek opsom as “mense”. Dit is verse oor mense. ’n Eg Suid-Afrikaanse blik op die wel en weë van die mense. Die ou bekende invloede van Bruce Springsteen (1949–) en Charles Bukowski (1920–1994) maak ook weer, soos gewoonlik, die opwagting. Du Plessis is nie juis bekend daarvoor dat hy oor die natuur skryf nie, maar vir die oplettende leser is dit tog asof daardie aspek ook begin insluip by ’n aantal van die verse in 60 op 60. Verganklikheid, oudword en die dood was in die verlede belangrike stof waarmee Du Plessis omgegaan het in sy verse, en daar is ook in 60 op 60 toenemende sterk klem wat daarop geplaas word. Ook kombinasies van al hierdie tematiek word aangetref. In “Yesterday’s hero” open die vers met die sang van die mossies in die oggend, moontlik met die natuur as simboliese konstante te midde van die verganklikheid van die mens:
“Ek wonder oor die
sin van soveel dinge” (bl. 8)
Die bundel bevat nogal ’n besondere sterk klem op kunstenaarskap, skryfkuns, die letterkunde, ensovoorts. Reeds met die openingsvers getiteld “Slotsom” word hierdie feit duidelik:
“Ek aspireer nie meer nie,
die hoogste sport op die leer
is net tydelike waansin, bloot bekroonde versinsel” (bl. 7)
En verder aan:
“Pryse en benoemings en eerbetoon
staan my lankal nie meer aan nie”
Du Plessis is in 2022 gekroon as die algehele wenner in die Afrikaanse afdeling van die Avbob-digkompetisie. Sy posisie as randfiguur in die Afrikaanse letterkunde-establishment het sonder twyfel heelwat vervaag. Die narratiewe aard van sy digkuns, tesame met sy meesterlike beheersing van die Afrikaanse taal, maak die lees van sy bundels meer as die moeite werd. Die detail van sy verse is soms van so ’n genuanseerde aard dat ek hier en daar wonder hoeveel daarvan waarskynlik by my (en ander lesers) verbygaan weens ’n eenvoudige gebrek aan kennis. Byvoorbeeld, die vers getiteld “Piet Botha” bevat ’n aantal verwysings na die musikant Piet Botha (1955–2019) se liedere. Botha was in eie reg ’n bietjie van ’n randfiguur (of ten minste ’n alternatiewe Afrikaner, veral gemeet aan sy musikale styl), maar sommige van Botha se liedere is redelik bekend, soos “’n Suitcase vol winter”. In strofe twee van sy vers verwys Du Plessis na een van Botha se veel meer obskure liedere getiteld “Al die stede”. Dit is ’n lied wat Botha geskryf het oor oudpresident Nelson Mandela (1918–2013), maar ’n mens wonder hoeveel lesers met hierdie minder bekende lied en die inhoud daarvan vertroud sal wees, waarsonder die nuanses van die vers nie 100% verstaan sal kan word nie (toevallig is ek baie goed vertroud met die lied).
Du Plessis se kritici sal moontlik kan wys op ’n gebrek aan afwisseling in sy verse. Hy is gewis nie een vir fieterjasies nie, behalwe miskien die voosgevatte hakie(s) wat sporadies opduik. Die oordonderende Suid-Afrikaanse konteks waaraan Du Plessis se verse gekenmerk word, maak sy verse waarskynlik ook ’n bietjie moeilik om te verteer vir enige mens wat nie besonder goed vertroud is met Suid-Afrika se geskiedenis en sosio-politiek, en dan meer bepaald, die Afrikaanse ervaring daarvan nie (dalk vir ’n leser uit ’n ander kontinent). Ek sal dit egter tegelyk as ’n pluspunt sowel as ’n remskoen beskryf. Afrikaans en die Suid-Afrikaanse ervaring staan sentraal in Du Plessis se verse, maar agter al die dokumentasie van stories en karakters skuil daar ’n boodskap in Du Plessis se verse, ’n mens kan sê ’n metanarratief, wat spreek van die mens se ewige soeke na konneksie, sin, betekenis; in kort: stories. Stories wat ons kan oorvertel. Stories waarna ons kan luister. En ook stories waarin ons self ’n klein rol kan speel en waarmee ons eie verganklikheid met ’n titsel betekenis gevul kan word.
Lees ook:
Elders gesien: Oor Kerkorrel en die flipside van “Gee, gee, gee”


