
Skermgreep: YouTube
........
Die reeks stel rekords op. Britse Premier, Keir Starmer, voel dit moet in die parlement en Britse skole gewys word. Hoekom het Adolescence ’n aar getref?
........
“A family’s world turns upside down when 13-year-old Jamie Miller is arrested for murdering a schoolmate: the charges against their son force them to confront every parent’s worst nightmare.”
In die ou dae, circa 2000, het vriende my vanuit die DVD-winkel gebel vir aanbevelings. In 2025 het ons ’n gemeenskaplike WhatsApp-groep waar ek uitstekende films of reekse uitwys soos ek dit kyk.
Ek waarsku gewoonlik wanneer dit ’n swaar onderwerp is en dan kyk net die braafste onder die klomp dit. Daaraan is ek al gewoond. Alhoewel ek ewe veel van ’n swaar drama of ’n goeie skop, skiet en donder hou, hou min mense van komplekse, in hul mening, uitputtende films. (Ek het begrip daarvoor. Die lewe is taai.)
Dit is waarom die wegholsukses van Adolescence, ’n diepdenkende, somber reeks met ’n kommerwekkende boodskap, so verstommend is. Die reeks stel rekords op. Britse Premier, Keir Starmer, voel dit moet in die parlement en Britse skole gewys word. Hoekom het Adolescence ’n aar getref?
Dié onderwerp is tog al op briljante maniere aangepak. Dink aan Boy A in 2008 (met die toe nog onbekende Andrew Garfield). Of The victim (2019) met die briljante Kelly MacDonald. Wat van We need to talk about Kevin (2011) met die altyd geniale Tilda Swinton? Min mense weet van hierdie films of reekse en nog minder mense het dit gesien. Die spelers is almal ewe bekend en briljant, die kwaliteit van die produksies hoog en die kamera- en klankwerk uit die boonste rakke. So wat maak Adolescence anders?
Kamerategniek
.......
Elke episode van Adolescence is één skoot. Met ander woorde, die regisseur het geskree: Action, en die kamera het die aksie gevolg.
.......
Elke episode van Adolescence is één skoot. Met ander woorde, die regisseur het geskree: Action, en die kamera het die aksie gevolg. Uit die huis uit, in die polisievangwa, in die polisiestasie, deur vertrekke, deur vensters en selfs op in die lug, gekoppel aan ’n hommeltuig. Die regisseur het eers min of meer 50 minute later gesê: Cut.
(Die eerste episode is op die tweede probeerslag vasgevang. Die laaste episode het 14 probeerslae geverg.)
Hoe affekteer dit die kyker? Dit is eenvoudig. Dit sleur jou bloot mee. Soos een vriend op die bogenoemde WhatsApp-groep gesê het: “It takes some getting used to. But I think that that’s (partially) why it’s so immersive. It feels so real. And time is not sped up.”
Ons is almal skuldig
Adolescence wys nie vingers na een party nie. Stephen Graham, medeskrywer en Jamie se pa, meen al die rolspelers – die ouers, die skool, die samelewing, die vriende en Jamie self – moet verantwoordelik gehou word, maar nie veroordeel word nie. Die reeks benader die rolspelers met empatie en vra dat ons saamwerk om hierdie probleem op te los. Ons is almal aandadig. Ons moet wel sag werk met mekaar.
.......
Van die treffendste dialoog is waar die ouers vir mekaar vra: Hoe het ons vir Jamie gemaak? Die antwoord: Dieselfde manier wat ons vir Lisa gemaak het.
.......
Die maklike uitweg sou wees om die slegte ouers te blameer. Maar Eddie en Manda is goeie ouers. Hulle het tog hul wyse en empatiese dogter, Lisa, grootgemaak. Sy is die een wat met ’n rustigheid ver verby haar jare vir haar ouers sê hulle gaan nie wegtrek nie, hulle gaan nie wegkruip nie, want “Jamie is ours”. Van die treffendste dialoog is waar die ouers vir mekaar vra: Hoe het ons vir Jamie gemaak? Die antwoord: Dieselfde manier wat ons vir Lisa gemaak het.
Nog ’n maklike oplossing sou wees om Jamie natuurlik bloot af te maak as sielkundig beskadig. (Soos die geval is in We need to talk about Kevin.) Jamie, ’n verbysterende goeie Owen Cooper, is egter ’n normale tiener in ’n normale familie. Hy was wel ontvanklik vir die toksiese manlikheid wat in die manosfeer verkondig word.
Kykers kry nie ’n swart skaap om te blameer nie, maar word ook nie uitgetrap oor hul rol in die tragedie wat tans wêreldwyd uitspeel nie.
Die era waarin ons leef
Ongelukkig is die onderwerp van jong seuns wat gewelddadig is, meer aktueel vandag. In 2008 (Boy A) en selfs in 2019 (The victim) was dit meer van ’n anomalie. Stephen Graham sê in ’n onderhoud met Jimmy Kimmel hy het binne ’n bestek van weke gelees van twee verskillende gevalle waar ’n jong seun ’n jong dogter doodgemaak het. Dit het hom laat wonder oor die seuns se motivering en hy het op die Incel-fenomeen afgekom.
Allysa Czerwinsky, ’n doktorale kandidaat by die Manchester-Universiteit en ekspert op die gebied van manlike oppergesag en aanlyn ekstremisme, verduidelik jong mans se ontvanklikheid so: “The manosphere is enticing because it promises to have answers to real problems young men face in modern society.” Hulle voel hulle word dus raakgesien.
“You’re seeing impacts from lockdown. You’re seeing isolation. You’re seeing an increased use of tech that then is a catalyst for [young men] feeling isolated and alone,” Czerwinsky says. “They get messaging that you should have sex by a certain age. You should have your first girlfriend at ages as young as 11 or 12. And that puts a lot of pressure on people. Young boys are in an unfortunate spot where there is messaging that makes sense of this right now. This rhetoric acts as a confirmation bias of repeated rejections, victimizations, or humiliation. That emotion is there. It adds up. And the manosphere’s rhetoric says, ‘Here is a very nicely packaged answer.’”
2025 versus 19-toet
Ek was op skool toe platespelers nog gebruik is. (Darem net na die ossewa se gewildheid getaan het.) Ek was in ’n laermiddelklas-skool met omtrent 800 leerlinge van alle kante van die treinspoor af. Daar was die tipiese groeperings. Die rugbyspelers, die poppies, die nerds, die goths en dan my groep, die onafhanklikes.
Goed, alhoewel ek volgens my geskiedenis-onnie te veel gepraat het, was ek ’n maklike kind wat nie gereeld in die hoof se kantoor was nie. Dit het dalk bygedra tot my ervaring van skool as die mees ontspanne jare van my lewe. My ouers moes werk en kos en slaapplek voorsien. Ek moes die jaar deurkom. My roetine was: skool, busrit, middagete maak, middagslapie vat, huiswerk doen, eet wat my ma verskaf en my pa verdien in die sweet van sy aangesig. Sheesh, dit klink so rustig.
Alhoewel ek deksels ordentlik was, was daar ’n paar aande wat nie op film vasgelê moes word nie. Wat nog van vrylik rondgestuur word via WhatsApp? Byvoorbeeld, tydens ’n huispartytjie het ek ’n meisie teen die yskas vasgevry. Net my naaste vriende was daar, maar as so ’n video versprei is, sou ek uit die kas uit moes donder voor ek reg was.
.......
Skool kan hel wees. Shark infested waters. Die akademiese en sosiale druk is onmoontlik. Sosiale media vernietig kinders. Selfmoordsyfers neem toe. Ja, jong seuns maak jong dogters dood.
.......
As ek met my string peetkinders praat en reekse soos Adolescence kyk, besef ek vandag se kinders het ’n heeltemal ander ervaring. Skool kan hel wees. Shark infested waters. Die akademiese en sosiale druk is onmoontlik. Sosiale media vernietig kinders. Selfmoordsyfers neem toe. Ja, jong seuns maak jong dogters dood.
Ek kan verstaan waarom Jack Thorne, medeskrywer van die reeks, meen slimfone moet soos sigarette hanteer word en kom met ’n ouderdomsbeperking van 16 jaar. Die Australiese regering is reeds besig om die wetgewing te ontwikkel. Die tieners van vandag sê dit is nie prakties nie en dat platforms soos Instagram hul jong gebruikers eerder moet beskerm teen gevaarlike inhoud. Die gesprek jaag voort op alle platforms.
Een ding is seker. Nie enige party of skool of organisasie of regering het ’n breedvoerige antwoord of plan van aksie om hierdie probleem te kniehalter nie. Ons gaan moet saamstaan. Adolescence het die blikkie sardiens oopgemaak. Of ons iets aan die reuk gaan doen of nie, is ’n ander saak, want tans is die wêreld besig om meer en meer te polariseer. Nuanse is aan die verdwyn.
Ek eindig met Jack Thorne se woorde:
They say it takes a village to [raise] a child. It takes a village to destroy a child. If we’re going to change the culture, there needs to be multiple solutions. We need everyone to lean into this problem to save these kids, to stop boys harming girls. It takes us all to do something.
Kyk die lokprent hier:
Lees ook:
Sosialemedia-wetgewing: verskansing, foltering of verheffing?
Sosialemedia-gebruik en kinders: the good, the bad and the ugly
TV-oorsig: Juffrou X op kykNET – ’n blik op Suid-Afrikaanse skole

