TV-oorsig: Juffrou X op kykNET – ’n blik op Suid-Afrikaanse skole

  • 0

Alle foto’s uit Juffrou X: verskaf en met toestemming gebruik

By Victory Heights Sekondêre Skool is die eindeksamen net één van die uitdagings wat kinders in die gesig staar. Wanneer ’n nuwe, dodelike dwelm die plattelandse dorp tref, word dit ’n saak van lewe en dood.

Juffrou X, die wiskunde-onderwyseres, bevind haar in die middel van ’n oorlog, met die skool as prys. Al dieper begeef sy haar in die wêreld en rol van ’n vigilante, totdat sy sélf moet veg vir haar lewe. Wie kan vertrou word? En wie gaan uiteindelik oorwin?

Soms gebeur dit dat  ’n reeks of ’n film jou uitoorlê, dat jy dit nie kan uitpluis nie. Dit is tog makliker om ’n rubriek te skryf oor ’n reeks wat ooglopend goed of swak is. Jou argument en bewyse is helder. In die geval van Juffrou X moes ek eenvoudig al agt episodes oor twee dae kyk … ten spyte van groot kwelpunte.  

Visueel

Die reeks is ongelooflik mooi aanmekaargesit. Van die kamerawerk en kleurbehandeling tot komposisie, stilering en stelinkleding. Die “stil” skote nou en dan van die lemmetjiesdraad wat die gevaar moet uithou, ’n leë klaskamer na ’n tragedie, die “pimped-out” Datsun in die arm buurt. (Selfs die keuse van die kar is belangrik. Juffrou X voel deel van die gemeenskap.)

 

Die stilering pas by elke karakter. Meneer Willemse se dasse uit 1970, sy dasknippie en blink broeke pas glad nie by mekaar nie, maar wel by sy karakter.

Fransie se hippieplakkies van herwinde karbande is die perfekte afronding vir sy moonbag en jassies uit hennep gemaak.

Meneer le Roux se toeknoophempies en gebreide truitjies wys sy sagte, opregte geaardheid. Archie se ordentlike, amper kinderlike T-hemde is ’n aanduiding van sy menswees, sy onskuldige opregtheid.

Die stelontwerp/inkleding is outentiek. Die joga-oord drup van die droomvangers, bamboeswindklokke, bont knoop-en-doop-tafeldoeke en gehekelde hangmatte.

Ralph se kantoor is die tipiese “hoof se kantoor”: die korporatiewe lessenaar, die gordynmateriaaldrapeersels in die boekrak, die stroperige seeskildery teen die muur, die kwitansieboek, die A0-kalender, die rekenaarsprekers en die “World’s greatest dad”- koffiebeker.

Die personeelkamer dui op die skool se karakter – gehawend maar trots. Die kookwater- mcgafter teen die muur, die onpaar koppies netjies in ’n rytjie uitsgestal, die blink staalsuikerpot, die verlepte blomme, en die kitskoffieblikke.

Die redigering loop in die geheel seepglad. Tonele draal nie; elkeen vloei mooi in die volgende een in, maar beweeg vinnig wanneer Bianca Flanders se humor dit verg. Dit spring ook nie heen en weer soos ’n kat op ’n warm dak soos in Plan B nie. Maar ek  verwag ook niks minder van Leon Visser nie.

Spel

Die karakters en die vertolking van die karakters is die rede waarom ek aanhou kyk het. Die meeste kry lekker agtergrondstories. (Ek sou egter meer oor Viola en Jerome wou geweet het.) Hulle is gebrekkige, maar volronde karakters. Selfs die bendelede is menslik geskryf en opgevoer. Mens voel tog iets vir LaMont se begeerte om meer te hê uit die lewe. Die vertolkings is deur die bank wêreldklas, maar ’n pluimpie vir Bianca Flanders se comedic timing en Charlton George se aangrypende Lionel. Kyk uit vir Anja Taljaard.

Dialoog

Die reeks handhaaf ’n balans tussen Praatafrikaans en “goeie” Afrikaans en oordryf nie die vloekery soos in Koek nie. Wanneer ‘n vloekwoord gebruik word, is dit kragtig. 

........
Daar is ook lekker sêgoed. “Hy is ’n pakkie tjips. Dit lyk of daar iets in is, maar dit is leeg.”
........

Daar is ook lekker sêgoed. “Hy is ’n pakkie tjips. Dit lyk of daar iets in is, maar dit is leeg.”

Treffende gesprekke kry jy in elke episode, byvoorbeeld waar Juffrou X vir Shanice aflaai en vra: “Kan ek jou ten minste huis toe vat? Dit is ’n dodgy straat.” Dan lag Shanice vir haar en antwoord: “Dit is mý dodgy straat.”

Ongelooflike tonele

Elke episode bevat ’n hele aantal tonele wat raak, wat ruk. Stil tonele. Ralph wat homself afkoel met ’n handwaaier. Inge wat in haar Datsun sit en die ruitveërs aansit om die koeke nat toiletpapier bloot heen en weer te skuif. 

Ruben se roudiens by die skool is goed geskryf, maar die spel van die ongelooflik talentvolle De Klerk Oelofse en die woorde van Clinton V Du Plessis verhef dit verder.

Wanneer ’n kind sterf
struikel die son,
hou die see haar asem in,
buig die bome se takke nader na die aarde
in die wind wat waai soos hy wil,
wanneer ’n kind sterf
raak elke voël vir ’n wyle stil,
word daar ’n nuwe litteken uitgekerf
in die holtes van die hart,
hys ons verslae ons vrae soos vlae net halfstok,
wanneer ’n kind sterf
kom stol woorde knop in die keel,
tas hande dom na antwoorde,
krimp geloof, ongemaklik.

Seun,
jy bottel vir jou ’n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout
en jou lewe flits weer,
soos ’n fliek, net té vinnig,
voor ons oë verby.

Sosiale kommentaar

Die greep wat sistemiese armoede op ’n gemeenskap, op skole en op hulpelose kinders het, laat jou soms ophou asemhaal. Jou hart breek vir die onskuldige kinders, die onderwysers wie se hande gebind is en selfs dwelmhandelaars soos LaMont. Die reeks belig ook hoekom die bendelewe en selfs dwelmgebruik so aanloklik is – dit is iets om aan te behoort.

Kwelpunte

Die hele reeks word gebaseer op die konfrontasie tussen Puma en Inge op die brug en die feit dat hy afval, op sy eie mes val en sy dan daarvoor geblameer word. Die probleem is, as ’n man ’n mes met beide hande lig en met mening af swaai na ’n vrou, gaan sy nie so maklik kan keer nie. Dit laat my altyd dink aan Atomic Blonde se aksietonele. Onse Charlize het spesifiek vir die bakleideskundige gevra om bewegings uit te werk wat ’n vrou in die werklike lewe kan uitvoer. Dit lyk net meer realisties.

Die KPR-toneel is glad nie dringend nie, glad nie oortuigend nie. Selfs nie eers die noodwerker doen moeite om die pasiënt aan die lewe te hou nie.

Vir twee onderwysers bly Viola en Inge in relatiewe weelde. ʼn Houthuis met so ’n uitsig en luukse meubels? Aikona.

Slotsom

Juffrou X kry baie meer reg as verkeerd. Die aangrypende drama, die stiltes voor die storm, die menslikheid wat in al die karakters sit, dit alels werk. Ek hoop vir ’n tweede seisoen wat die probleme sal aanspreek. Ek kan dit sien … Viola en Jerome vat die nuutste bendekoning aan.

Lees ook:

Halo: a TV review

Koek – die eerste drie episodes vars uit die oond uit

Wyfie – die eerste vier episodes: ’n resensie

Hans kry troukoors deur Rudie van Rensburg – ’n soort nabetragting

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top