Wyfie – die eerste vier episodes: ’n resensie

  • 0

Wyfie is ’n Showmax-reeks

Met al die universiteitsdrama in die land – geheime kamers, poppe met KKK-kappies, piepie op jou buurman se lessenaar – kon Wyfie nie vir ’n beter zeitgeist gevra het nie. Die draaiboek skiet wel te kort in vele ander afdelings.

“An edgy, youthful and urban Afrikaans drama that follows four females as they navigate the complicated world of university life and how they walk the thin line between mischief and wrongdoing to survive.”

Met al die universiteitsdrama in die land – geheime kamers, poppe met KKK-kappies, piepie op jou buurman se lessenaar – kon Wyfie nie vir ’n beter zeitgeist gevra het nie. En ook, tien uit tien vir Showmax oor hulle iets nuuts in die vorm van Wyfie probeer/ondersteun/bemark. Dit is tawwe tye met klein begrotings, ’n moeilike gehoor en ’n draaiboek propvol kaal lywe en f-bomme.

Die draaiboek skiet wel te kort in vele ander afdelings. Vier episodes in die storie in en die tieties en taal is al wat jou jou wenkbroue laat lig. Daar is nie veel diepte aan die drama nie. Dit is ’n standaard tiener/studente-storielyn – alkohol, dwelms, seks, nie jou restaurantrekening betaal nie, kaal swem in ’n plaasdam, kaal deur die biblioteek hardloop, baie gillery, baie op en af spring. Alhoewel die span uiters bekwame spelers hul beste poging aanwend, is die karakters ook te standaard – die nerd, die slet, die goth, die een met die gewete, die koek, ens.

Die diepte is dalk nog op pad, maar as jy kompeteer met die nuwe Mr & Mrs Smith (Prime), die vierde seisoen van True Detective (HBO) en die meesleurende Criminal record (Prime), dan moet jy my aangryp van episode 1 af.

........
Vier episodes in die storie in en die tieties en taal is al wat jou jou wenkbroue laat lig. Daar is nie veel diepte aan die drama nie.
........

Veral as die hoofskrywer, Marcel Spaumer, meen die reeks sal as “’n Afrikaanse Euphoria bestempel sal word”. Nou dáái was ’n koorsdroom. ’n Visuele skouspel. ’n Alternatiewe realiteit geskep deur Sam Levinson. Rue en kie se doen en late het die wêreld en die internet soms verdeel, ander tye kwaad gemaak, maar te alle tye vasgevang. Een TikTokker het gesê: “I am so aggravated by this show and I will watch absolutely every episode.” As ek maar net so oor Wyfie gevoel het. So geïrriteerd daarmee dat ek nie kan ophou kyk nie.

Die reeks het ’n deurlopende vertellerstem wat die kyker moet intrek, geheimpies met jou deel, jy weet, afwagting skep. Ek wou die stem afskakel, maar oor ek nie kon nie, het ek dit uitgedoof.

Ek het die dialoog ook plat/onoorspronklik gevind. Natuurlik praat niemand akademiese Afrikaans in die koshuisgange nie, maar tog kan mens ’n balans vind tussen elke-dag-praat-Afrikaans en ryk, verbeeldingsvolle Afrikaans? En as iemand wat self soos ’n matroos swets, was ek verbaas dat die vloekery my verveel het. Vernietvloekery verminder die impak van ’n goed geplaaste fok.

Laat ek my gekners van tande beëindig met die reeks se blurb. Dit volg die lewens van vier “females”? Jis, is dit wat ons vroue in 2024 noem? Is dit oor die hoofskrywer ʼn man is? Die regisseur ook? Waar was die vroulike hekwagters wat daai een moes keer? Die sogenaamde “females”? As dit vier mans se manewales gevolg het, sou dit vier “males” gewees het?

Lees ook:

Die nuwe TV-reeks Straat is ’n verrassing

Devil’s Peak – the first two episodes: a review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top