Koek – die eerste drie episodes vars uit die oond uit

  • 0

Foto: YouTube

“When Cape Town housewife Christelle Smit discovers evidence her husband is having an affair with a stripper named Candi Floss, her investigation takes her to a world poles apart from the suburban utopia she knows.”

Foto verskaf deur Showmax

Uiteindelik. ’n Reeks wat die wenkbroue werklik sal laat lig, sonder om mense vooraf te moet waarsku dat hulle wenkbroue sal lig (en dan koue pampoen is). Meer belangrik, dit sal die wenkbroue lig, maar ook asems wegslaan, want daar is drama en hart en patos onder die skokelement.

Foto verskaf deur Showmax

Laat ons begin by die naam. Koek. Voor ek die reeks onder oë gehad het, was ek betrokke by ’n gestryery oor die naam rondom ’n (vegetariese) braaivuur in die noordelike voorstede van Joburg. Hoekom so platvloers? So kômmin? Dit is erger as Wyfie. Wat eerder van tert? Wat is fout met Afrikaanse TV?

As mens oor die titel stry voor die reeks op Showmax begin, is dit nie reeds suksesvol nie? Dit is so ’n herkenbare deel van ons volksmond. Dit ontlok dadelik emosies.

Binne die konteks van die eerste drie episodes word dit vinnig duidelik dat dit wel verwys na die vroulike geslagsdeel, maar ook soveel meer. Die konserwatiewe koek, Christel, se wêreld verkrummel. Die kinderlike, queer Stefanie kan letterlik en figuurlik nie genoeg koek kry nie. Dan is daar die geskokte “O, koek!” van die christelike tannie. Ek vermoed die woord koek gaan nog meer diepte bykry in die daaropvolgende episodes.

Foto verskaf deur Showmax

Die voorprent en die blurb gee genadiglik nie die storie weg nie en die storie is werklik vars. Ek gaan dit ook nie weggee nie, behalwe om te sê dit is geensins wat ek verwag het nie. Dit is beter.

Foto verskaf deur Showmax

Die karakters is kompleks en moeilik en braaf en stukkend in verskillende grade. Jy hoop wel op verlossing vir die meeste van hulle. Op papier is hulle goed geskryf, maar die vertolkings vat hulle ’n paar myl verder. Daar is nie ’n vals noot onder die lot van die akteurs nie. Sandra Prinsloo is ’n belewenis.

Visueel is daar tonele wat jou tot stilstand bring. Die stilering, die toneelinkleding, die beligting en klankbaan is als daar, maar dit is die patos onder als wat die bestanddele saambind.

Foto verskaf deur Showmax

Die enigste doring in my vlees is die spoed waarteen als gebeur. Jy word te vinnig met te veel gebombardeer. ’n Mens wil pause druk en eers ’n whisky skink. Daar is nie ’n blaaskans om tot verhaal te kom nie. Dit hinder jou ook om werklik naby die karakters te kom. Dit voel wel asof die rev counter teen die derde episode nie meer in die rooi is nie.

Foto verskaf deur Showmax

Koek se draaiboek gaan jou laat hardop lag. Die kwinkslae hardloop volspoed.

Die reeks gaan jou vrek ongemaklik maak. Veral die tonele met obsessiewe Stefanie gaan jou uitdaag.

Dit gaan jou eie morele kode bevraagteken. Hoe ver sal jy gaan om walglike, seksistiese varke ’n les te leer. Laat ons nou maar eerlik wees: By vroue is daar ’n kollektiewe gatvol-wees vir die mishandeling wat ons deurgaan.

Moet egter nie bang wees dat die reeks te swaar of donker is nie. Koek is steeds vermaak van die voorste waters.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top