Scenes from a marriage: ’n TV-resensie

  • 0

Scenes from a marriage (2021). Skermgreep: YouTube

Scenes from a marriage
Met Oscar Isaac en Jessica Chastain
Skepper: Hagai Levi

Hierdie intense liefdesdrama het natuurlik sy wortels diep in Ingmar Bergman se 1972-mini-televisiereeks (ook later ’n rolprent) met dieselfde titel, met Erland Josephson en Liv Ullman. Dit is na bewering gerond op die dramatiese verhouding tussen die regisseur Ingmar Bergman en die aktrise Liv Ullman.

Dalk was die reeks ’n soort katarsis vir albei, want Bergman het dit as ’n openhartige en skrynende eerlike televisiereeks verwerk, die eerste keer dat hy hom na televisie gewend het. Ook die rolprent, ’n verkorting van die reeks, het goeie resensies gekry en ’n stewige impak gehad.

Nou het Hagai Levi dieselfde teks geneem en verwerk en ver-Amerikaans. Dit doen ’n opehartoperasie op ’n verhouding, maar ook ’n egskeiding en wat daarna volg. Jy sien die polsende hart hier voor jou klop en die woordbloedspatsels wat in alle rigtings trek. Emosies ontplof, woorde word soos ammunisie gebruik en die stiltes tussen die twee getroudes sidder deur die reeks.

Dié slag trou ’n Joodse man (Oscar Isaac) met ’n Amerikaanse vrou (Jessica Chastain). Van meet af aan is daar spanning tussen die twee kulture, tog kan die liefde mos enigiets oorkom, nie waar nie? Maar in hierdie lang reeks vol intieme oomblikke en veldslae van die liefde, word elke denkbare emosie en struikelblok aangeraak wat met die huwelik, maar veral ’n egskeiding, gepaard gaan.

Maar dis ook die klein oomblikkies, ’n kyk hier, ’n hand wat daar raak, ’n voet wat oor ’n mat loop, ’n koppie koffie wat voorberei word, wat veral visueel ’n dieper betekenis kry. En natuurlik tree die klein jakkalsies na die voorgrond wat gedurig hap-hap-hap tot daar oop wonde gaap.

Wat ons dus op die oppervlakte ervaar en aanvaar, word later dramaties omgeploeg.

Dit begin soos die meeste liefdesverhale. ’n Idilliese verhouding waarin daar ’n stewige vonk en warmte, ook seksuele hitte, tussen die briljante Isaac en Chastain is. Die reeks maak seker dat die kyker die titel letterlik opneem. Hierdie is grepe (tonele) uit die kronieke van ’n huwelik. ’n Buffet van emosies waaruit twee mense mildelik inskep, die borde rondgooi, naar word, die tafel omkeer, die kos in asblikke krap, weer probeer kosmaak en dieselfde smake nou anders ervaar, en dan uiteindelik opgee wat die huwelik betref. Want, erken die reeks, dikwels vernietig huwelike die liefde. Dis eers wanneer daar vryheid is sonder papiere dat die liefde gedy.

........
Die toneel by die voordeur in een van die laaste episodes is een van die mees emosioneel-gewelddadige en selfs intiem-eerlike tonele wat ooit verfilm is.
........

Episode 1 begin met Chastain wat, met ’n duidelik sigbare kamera agter haar, deur ’n rolprentstel loop op pad na haar eerste toneel. Sy bedank selfs die meisie op kamera wat ingestaan het om haar figuur wat in haar plek daar sit, te belig. Ons hoor ook die filmmakers en tegniese span praat en hoor selfs “aksie!” wat geroep word, waarna Chastain onmiddellik in karakter gaan.

Hierdie vervreemdingseffek, baie Brechtiaans, waar die vierde muur kortliks verbreek word, dui aan dat hierdie ’n herskepping van ’n emosionele en hoogs dramatiese huwelik is waarin akteurs die rolle vertolk. Op dié manier word ons gedwing om elke aspek in die raampie anders en uit ’n nuwe perspektief te bestudeer. Van die netjiese geordende en byna kliniese huis, in teenstelling met die slottoneel op die derde verdieping in die laaste episode, die beligting wat dikwels skadu’s oor gesigte gooi, Chastain se byna kliniese haarstyl en grimering wat duidelik ’n masker is wat geheime verberg, en Isaac se hare wat toenemend deurmekaarder raak tot dit later penorent staan soos ’n boskaas wat buite beheer geraak het. Selfs sy baard wat ingedagte gekam word of deurmekaar raak, weerspieël sy emosionele trauma.

Al hierdie elemente, veral die dikwels lastige op- en afloop met trappe wat te dikwels herhaal word, dra by tot ’n dieper en meer veelvlakkige karakterisering van hierdie twee intense mense wat swets, baklei, seks het, fisies woedend raak vir mekaar en uiteindelik ontplof en inplof. En eindeloos filosofeer oor die aard van die liefde.

Die toneel by die voordeur in een van die laaste episodes is een van die mees emosioneel-gewelddadige en selfs intiem-eerlike tonele wat ooit verfilm is.

Vergeet van enigiets wat jy al in kunsmatige, oppervlakkige, gehoorvriendelike sepies gesien het. Hierdie is die ware Jakob!

Niemand kry fisies seer nie. Dis die innerlike landskap waarin handgranate van woorde ontplof, emosies deurskiet en verwyte die paartjie verwond wat dikwels brutaal eerlik ontleed word. Daar is ook oomblikke waarin liefdessterre verskiet, waarna die hemelruim donker word. Ook lang tonele waarin sneeu en later reën in die agtergrond metafories aangewend word om die kollig te laat val op die emosies waardeur hierdie mense gaan. Selfs waar elke matjie, tafel, ornament, venster wat half belig is of rangskikking van meubels as ’n slagveld dien vir ’n huwelik wat disintegreer.

Selde indien ooit tevore is die verbrokkeling van ’n huwelik en die herontdekking van liefde en vryheid so intiem en intens (soms te lank en selfbewus) ontleed. Tog sal dit elkeen wat al ooit deur ’n egskeiding geworstel het, soos ’n papier iewers sny.

........
Selde indien ooit tevore is die verbrokkeling van ’n huwelik en die herontdekking van liefde en vryheid so intiem en intens (soms te lank en selfbewus) ontleed. Tog sal dit elkeen wat al ooit deur ’n egskeiding geworstel het, soos ’n papier iewers sny.
........

Aan die begin deel Chastain as Mira Isaac aan die aanvanklik bedaarde Jonathan mee dat sy verwagtend is. Die verskillende emosies wat oor sy gesig vlek, die wyse waarop sy vingers deur sy hare glip, die trek van sy mond, die maniërisme van Mira om haar hare agter haar oor in te druk wanneer sy ongemaklik raak en haar masker wat in private oomblikke glip, is kenmerkend van die styl waarin die woordryke reeks gemaak is.

’n Stilte kan soos ’n bom klink. ’n Enkele onverwagse woord oor ’n kleinigheid word dan ’n knal. Die swaai van ’n kop word ’n aggressiewe aanval op die kyker, die intense nabyskote waar die karakters soms in die kamera kyk wys belydenisse wat so intiem word, die kyker word verwond. En die huis raak ’n tronk waarin emosies, griewe, verwyte, maar ook liefde opgesluit word.

Die aardskuddende belydenis in episode 2 (waar ’n kamera dié slag vir Isaac aan die begin volg) sny soos ’n panga deur die reeks. Hierna word die teken van egskeidingspapiere ’n wapen wat heen en weer tussen die twee vegtendes gegooi word en dit raak simbolies van die hel waardeur hulle gaan om ’n einde aan hul geluk te maak.

Handtekeninge verteenwoordig ’n mes wat ’n egpaar middeldeur sny met die trek van ’n penstreep.

Hierna volg tonele waar ’n genadelose kamera tot diep binne-in karakters se pyn indring en die pyngrense sodanig verskuif en deurboor dat die televisieraam sidder van die weerlose skok wat dit op die karakters het.

Kritiek is dat die gesprekke dikwels te lank en herhalend word. Sommige rusies draai dalk doelbewus in ’n emosionele maalkolk om dieselfde onderwerp sonder dat die episode vorentoe beweeg, net om later skielik te ontplof. Maar soos die koning in Amadeus oor “te veel note” in een van Mozart se komposisies gekla het (!), kan kritiek ingebring word dat sekere konfrontasies net te lank rondom dieselfde dooiepunt sentreer wat later ’n sufheid by die kyker veroorsaak.

Tog is dit ’n uitmuntende reeks wat intense konsentrasie en selfs emosionele deelname van die gehoor verg. Vermoeiend, lank, intens, dramaties, verstommend, maar uiteindelik wáár.

Op Showmax.

Kyk die lokprent:

Lees ook:

Baby Reindeer: ’n TV-resensie

Fly me to the moon: ’n filmresensie

All of us strangers: ’n filmresensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top