’n Reuse toringgebou in ’n naamlose, donker kasarm van ’n stad. ’n Eensame siel wat verlate en vermoeid in een van die kamers woon. Hy is die enigste inwoner. Die man probeer skryf, maar die woorde dryf in die vergetelheid weg. Hoe skryf ’n mens dan ook nou oor ’n doellose lewe wat ontspoor het en waarvoor daar geen hoop of lig is nie?
Dadelik duik die vraag op: Hoekom sal so ’n aantreklike, mededeelsame persoon met sagte oë en ’n gesig waarin die lewe besig is om oud te word, homself só afsonder?
Dan, skielik, ’n figuur wat hom van onder af in die verlate straat dophou. Onmiddellik vermoed ons voos rolprentbreine gevaar. Maar die vreemde en teisterende All of us strangers is nie Hitchcock vir Generation Z nie. Dit neem geen maklike uitweg met ’n woeps-waps oplossing van ’n donker verhaal nie. Daar skuil iets agter elke onstuimige beeld. Die kyker moet self die spasies invul.
........
Die rolprent is nie onstuimig in die sin van ’n storm op die flieksee wat jou springmielies oor die rand laat stort nie. Dit krap die siel om.
........
Die rolprent is nie onstuimig in die sin van ’n storm op die flieksee wat jou springmielies oor die rand laat stort nie. Dit krap die siel om. Daar steek emosionele stormwinde op en getygolwe wat vuurtorings omwaai sodat die slagoffer daarvan steier. Dit is moontlik die enigste manier om hierdie komplekse ondersoek na verdriet, hallusinasies, wanhoop, liefde en vertroosting te beskryf. En dit kan nie gedoen word sonder om sekere belangrike geheime te verklap nie, anders eindig die resensie hier. As jy dus nog nie die voorreg gehad het om hierdie Bafta-benoemde en London Critics Circle-multipryswenner te gesien het nie, lees later verder.
En tog, moontlik kan hierdie resensie ’n berusting vir die gemoed bring, want, uit ervaring weet ek baie vrae word deur fliekgangers gevra om die kloutjie behoorlik by die oor te help bring. Dit laat hulle dan die rolprent nog meer waardeer.
Die protagonis, ’n geteisterde en smartbehepte individu genaamd Adam (amper metafories die eerste man van smart), het sy ouers 12 jaar gelede in ’n motorongeluk verloor. Hulle word gespeel deur die hoogs bekwame Claire Foy (wat ’n aktrise!) en ’n besnorde Jamie Bell.
Wanneer Adam die goor gebou verlaat en sy voormalige ouerhuis besoek, maak sy ma die deur oop en verwelkom hom met oop arms. Sy lyk nog net soos 12 jaar gelede. Wanneer sy vra wat Adam gedoen het nadat “dit” gebeur het (die ongeluk) word dit duidelik dat haar seun met spoke of geeste kommunikeer. Met geheime rondloop en smokkel.
Die gesprek met sy oorlede ouers speel op ’n doodnormale, hartseer manier af sonder grieselrige of grillerige foefies. Nogal soos elkeen van ons graag met ’n geliefde wat ons aan die dood afgestaan het, sou wou kommunikeer om vertroosting te kry.
Hartseer kry hier ’n nuwe respekvolle en delikate betekenis.
........
Hartseer kry hier ’n nuwe respekvolle en delikate betekenis.
........
Die donker rolprent met beelde wat van smart en ontnugtering spreek, en beklemmende vertrekke (behalwe vir Adam se ouerhuis), gaan dan oor die onnoembare moeilike proses van ’n dood te verwerk. Verskyn sy ouers werklik uit die hiernamaals aan hom? Verbeel hy hom? Is dit die enigste manier om daardie sieldodende smart te verwerk? Wonde te heel? Deur die gebeure te versin? Of gebeur dit werklik?
So spreek hierdie melancholiese siel onvoltooide gesprekke aan. En dit neem hom na ander dimensies waar hy kan sien wat ander nie kan sien nie.
Hierdie tonele kenmerk ’n stil-bedeesde rolprent wat op ’n ander vlak as die gewone rolprent funksioneer en kommunikeer. Wat die situasie nog verder verdiep, is die feit dat dit duidelik word dat Adam gay is, en dat sy ma dit nou eers, 12 jaar na haar dood, uitvind.
Maar die kinkel in die kabel is dat sy dit nie kan verwerk nie, en dat Adam haar siel tot berusting moet bring deur haar te oortuig dat hy tog, op sy manier, tydelike geluk gevind het. Maar hy kan nie met sy lewe voortgaan nie, omdat hierdie gesprek met sy ouers nooit voltooi is nie.
Tot sover die sogenaamde plotbederwers. Nou terug na die gebou waarin hy hom soos ’n papie in ’n kokon toegespin het. Vasgevang in sy eie smartbesmette lewe. Sy enigste troos is die aantreklike vreemdeling wat ook nou sy intrek ingeneem het in die spokerige gebou waarvan die hysbak darem nog werk. (Baie tonele speel daarin af en kykers moet die spieëls dophou waarin Adam homself beskou asof hy uit ’n ander dimensie na homself kyk.)
Die briljante, sexy en vriendelike Harry (Paul Mescal op sy aller-allerbeste) bied wel vertroosting. Net jammer hy drink te veel. Hy en Adam het dikwels eksplisiete, sielsvervullende seks, en veral daarin lê die vertroosting. Om – al is dit net op hierdie manier – weer met die lewe in aanraking te kom.
........
All of us strangers is vertroosting vir ’n bang gemoed. Dit sal jou bybly dae nadat jy die voorreg gehad het om dit te sien. Dit is sielekos vir enigiemand wat bedruk is, of deur ’n emosioneel verpletterende tyd worstel.
........
Die vreemdelinge se vriendskap groei, veral wanneer Harry saam met Adam na sy ouerhuis toe gaan en in die weerkaatsing in ’n venster Adam se ma opmerk wat nou bly is om haar seun se minnaar te ontmoet.
Dit sou onregverdig wees om meer te verklap, behalwe om te sê dat Andrew Scott elke toekenning wat hy tot dusver vir die introvertrol gekry het, verdien het.
Op stil-besadigde wyse, met droefgeestigheid wat sy persoonlikheid soos ’n kombers versmoor, en die lewe wat gedurende die sekstonele na hom terugkeer, ets hy die karakter in ’n mens se rolprentgeheue af. Soos Poor things kan jy dit nie vergeet nie, selfs dae nadat jy die ontroerende rolprent gesien het.
Die skrywer-regisseur, Andrew Haigh, het die film terloops in sy eie ouerhuis verfilm en het erken dat hy self dikwels emosioneel agter die kamera in die huis gereageer het.
All of us strangers is vertroosting vir ’n bang gemoed. Dit sal jou bybly dae nadat jy die voorreg gehad het om dit te sien. Dit is sielekos vir enigiemand wat bedruk is, of deur ’n emosioneel verpletterende tyd worstel.
En nie een Oscar-benoeming nie.
Lees ook: