The banshees of Inisherin
Met Colin Farrell en Brendan Gleeson
Regisseur: Martin McDonagh
’n Enkele rolprentskoot sê dikwels meer as bladsye vol woorde, soos verskeie emosiebelaaide skote in hierdie meesterstuk bewys.
In een van die vroeëre tonele verduidelik ’n enkele beeld alles sonder om ’n woord te sê. ’n Bedroefde, verlate gesig word gevange gehou in ’n vensterraam, terwyl ’n jong man na binne staar. Hy probeer kontak maak met sy beste vriend, maar daar is ook, in beeld, te veel struikelblokke tussen hulle.
...........
’n Ouman met ’n vermoeide en befoeterde gesig staar in die donkerte voor hom uit. Die lewe het oud geword op sy gesig. Die afstand tussen die twee figure in die filmraam, die lig wat deur die venster val en die bejaarde wat slegs gedeeltelik belig is, vertel sy eie storie. Dit vestig die fondament waarop die res van die film gebou gaan word.
............
’n Ouman met ’n vermoeide en befoeterde gesig staar in die donkerte voor hom uit. Die lewe het oud geword op sy gesig. Die afstand tussen die twee figure in die filmraam, die lig wat deur die venster val en die bejaarde wat slegs gedeeltelik belig is, vertel sy eie storie. Dit vestig die fondament waarop die res van die film gebou gaan word.
Dieselfde gebeur met skote van lang, reguit, eensame en afgesonderde paaie tussen klipheinings, figure wat op die rand van afgronde huiwer en moeisame oues wat teen bulte uitsukkel op pad na bestemmings. Alles vorm struikelblokke wat kragtig verbeeld word. En al is die eiland mooi, soek die kamera die hartseer in die landskap wat gebuk gaan onder onnodige menslike konflik.
Twee beste vriende woon op ’n eiland. Hulle was lewenslank vriende, maar keer dan die rug op mekaar. Die vriendskap eindig plotseling wanneer die grys Colm Doherty verduidelik hoekom hy sy jonger vriend verlaat. Hierdie eenvoudige insident ontwikkel tot ’n Shakespeare-drama in die kleine.
...........
Op die horison weerklink die klank van bomme en ’n oorlog. Dit vind tans oor die see plaas, doer ver in Noord-Ierland. Maar dis juis die ironie! Nes die Iere destyds in die twintigerjare teen mekaar geveg het, broer teen broer, vriend teen vriend, voer hierdie twee protagoniste dieselfde stryd teen mekaar.
.............
Op die horison weerklink die klank van bomme en ’n oorlog. Dit vind tans oor die see plaas, doer ver in Noord-Ierland. Maar dis juis die ironie! Nes die Iere destyds in die twintigerjare teen mekaar geveg het, broer teen broer, vriend teen vriend, voer hierdie twee protagoniste dieselfde stryd teen mekaar. Hulle veg verbete, later gewelddadig, en daar duik ook beserings op wat hulle vir die res van hul lewens gaan skaad. En dit oor woorde wat opgedroog het.
Sou die regisseur van In Bruges (2008) en Three Billboards outside Ebbing, Missouri (2017) sy bedrieglik eenvoudige draaiboek slegs om hierdie botsing laat wentel het, sou die rolprent se veer voortydig afgewen het. Want ’n skrywer/regisseur kan twee koppige Iere net só lank in woordewisselings laat verval.
Die dialoog word spaarsamig aangewend, want die trefkrag lê in wat verswyg word en die ganske eiland besmet. Maar dan plaas McDonagh ander pêrels in hierdie halssnoer wat telkens ’n steentjie bykry en die res van die draaiboek met subteks inkleur.
Een van die sentrale steentjies is natuurlik Pádraic Suilleabháin se donkie. As ’n dier al ooit die kollig gesteel het en spanning kon verlig, maar steeds die hooftema ondersteun, is dit Jenny. Sy is eweneens ’n slagoffer van die woordewisseling, al het sy self nie woorde nie. Haar kyke, soeke na liefde en onbewustheid van wat rondom haar gebeur, weerspieël ook haar eienaar, die Oscar-benoemde Colin Farrell as Pádraic, se probleme. Al wat sy nog soek, is kossies en ’n krap tussen die ore.
Sy simboliseer die stom sinneloosheid van hierdie twee oorloë in erbarmlike, onthutsende beelde wat nie hier verklap kan word nie. Praat van ’n onskuldige slagoffer wat die meeste letsels van almal kry. Dis klein Jenny. Sy is die ideale maat vir die ongekompliseerde jong man wat ook net liefde en vriendskap soek, maar dit ontneem word.
Voeg hierby ’n wyse ou vrou wat pyp rook en herinner aan ’n doodsengel, so reg uit Ingmar Bergman se The seventh seal (1957), en die halssnoer raak voller. Soos ’n waarsêer-heks uit Macbeth sien sy die dood naderkom, treur sy oor die tragedie, ook van ’n koppige volk wat middeldeur geskeur het, en suig sy haar pyp nadenkend terwyl sy oor die skeuring tussen twee vriende tob. Sy voorspel ’n tragedie. In enkele sinne filosofeer sy en voorspel die onafwendbaarheid van die noodlot wat opgewek is deur ’n belaglike rusie.
Bykomend is Colm (die Oscar-benoemde Brendan Gleeson) se stertswaaiende hond. Hy bly getrou en dra nie die emosionele bagasie van die mense saam nie. Hy kan darem nog ’n hand lek en blaf.
’n Knus kroeg vorm die middelpunt van die verdeelde dorp waar die dorpenaars bymekaarkom en die rusie tussen die twee mans stilweg gadeslaan. Maar onder hulle broei daar ook onnoembare onheil wat tot nog ’n tragedie lei.
Pádraic se suster (die Oscar-benoemde Kerry Condon) is die enigste karakter wat sinvolle verandering voorstaan. Wat besef dat om te vlug uit hierdie beklemmende, nuttelose bestaan die enigste uitweg is. Sy weet ook: Soms moet jy jou broer laat gaan om self vryheid te ervaar. Dit kos ystermoed om tot aksie oor te gaan. Sy bring ’n ewewig na die rolprent met haar nugtere denke, vinnige humeur, skerp tong, eerlikheid en wyse insig.
Wanneer geweld losbars, is sy die stem van rede. Verstaan sy dat ontvlugting die enigste medisyne is. En dat eensaamheid dalk nie so ’n erge vyand is indien jy van jouself ’n vriend gemaak het nie.
..........
Hierdie veelvlakkige meesterstuk is rolprentkuns tot in die fynste detail, veral in die produksie-ontwerp. Die huise, die kroeë en die winkels se inhoud lewer telkens subtiele en onderspeelde kommentaar.
............
Hierdie veelvlakkige meesterstuk is rolprentkuns tot in die fynste detail, veral in die produksie-ontwerp. Die huise, die kroeë en die winkels se inhoud lewer telkens subtiele en onderspeelde kommentaar.
Selde indien ooit tevore (behalwe miskien in Kenneth Branagh se biografie Belfast (2021)), is ’n burgeroorlog visueel so intens en dramaties ontleed. Raak die rolprent aan daardie deel van die kyker se hart waar min ander rolprente kon binnedring. Is dit ’n erbarmlike ervaring wat jou onthuts, bewoë maak en dikwels stom slaan.
Gaan kuier vir die mense van Inisherin. En staan sprakeloos oor die krag van film wat hier verby die kunsmatige avontuurlike van ander deursneëfilms beweeg, en die kyker verryk.

