
Foto: https://www.youtube.com/watch?v=Nni94-z1JoU
Tár
Met Cate Blanchett en Nina Hoss
Regisseur: Todd Field
Daar is al so baie gesê en geskryf oor Todd Field se film-opus oor ’n proses van selfvernietiging dat die komponis Lydia Tár, briljant gespeel deur Cate Blanchett, soms bewonder word, vergoddelik raak, gekritiseer word, blootgestel word, gevrees is, maar uiteindelik ineenstort. Sy is ’n weerligstraal van ’n dominerende karakter wat skroei waar haar talent die grond tref. Dit terwyl haar dirigeerstok net soveel kwetsende blitse uit mense slaan as haar skerp tong en voortvarende, egosentriese optrede.
Sy is ’n vreeslose narsis wie se talent byna te groot is vir die podium waarop sy staan. Sy baai in haar eie selfvoldane beeld, manipuleer mense om haar, kasty hulle, raak geïrriteerd met geringer talente, en betower individue wat dit waag om hul skaduwees aan hare te laat raak.
Sy is gehate maar tog ook paradoksaal bemind. Tár gebruik haar bekendheid en donderweerpersoonlikheid om selfs seksueel te heers en verder te annekseer deur mag. Sy is ook verslaaf aan haar openbare beeld en trots op haar belydenisse van haar bewondering vir Mahler se Vyfde Simfonie.
..........
Let op die wyse waarop die kamera haar dikwels benader. Soms van onder af in lae skote wanneer sy dirigeer, soos op die plakkaat. Sy oordonder die kamera. Haar lyftaal verklap dat sy een word met die musiek terwyl die blonde hare soos ’n Griekse godin s’n in ritme met die musiek swaai. Sy word in beeld ’n musiekengel wat uiteindelik val.
.............
Let op die wyse waarop die kamera haar dikwels benader. Soms van onder af in lae skote wanneer sy dirigeer, soos op die plakkaat. Sy oordonder die kamera. Haar lyftaal verklap dat sy een word met die musiek terwyl die blonde hare soos ’n Griekse godin s’n in ritme met die musiek swaai. Sy word in beeld ’n musiekengel wat uiteindelik val.
Sy is groter as die lewe self, verdwerg die filmiese ruimte om haar, maar bly tog volkome oortuigend as karakter (gehate of geliefd) wanneer Blanchett haar beset. Sy verstaan elke faset van haar en beeld die karakter gekontroleerd uit, selfs wanneer Lydia buite beheer raak. Blanchett is ook meedoënloos eerlik oor haar gebreke, die oorlog wat sy teen haarself voer. En ontbloot haar patroniserende, helderblink persoonlikheid wat skerper as enige kollig skyn, met fyn nuanses.
In Tár sien ons die karakter in elke denkbare situasie. Sielsopenbarend in die eerste halfuur wanneer Field haar aan ons bekendstel in onderhoudvorm. Dit neig egter om te lank te raak, asof die regisseur hier tydelik beheer verloor. Sy word uitgevra oor haar briljante loopbaan en hoe sy haar werk, haar kuns, haar beheer en musiek benader en grafeer haar persoonlikheid in die kyker se onderbewussyn in. Die persoon wat hier vrae beantwoord se woorde poets dikwels haar narsistiese beeld verder. Bevredig die gehoor met lofgesange oor haar talent. Mense sien wat hulle wil sien. Die kamera dring egter dieper.
Na die onderhoud volg ’n veelbesproke toneel later. Tár gee ’n venynige lesing vir studente wat in haar persoonlikheid baai wanneer sy ontluikende talente kritiseer. Hulle koes egter nie almal vir haar woordkoeëls nie. Hulle bons dit terug. Sy maak hulle krities en stempel haar filosofieë op hulle af. Daardie stempel kneus egter nie almal se individualisme nie. En hier vorm die eerste krakie.
Field en Blanchett het hierdie toneel as die rolprent se dryfkrag bestempel wat deur Tár se boeliegedrag begin delf. Gehore wat graag in ’n gemaksone beland, kry hier ’n uitklophou wanneer hulle besef dat hierdie protagonis (deur vele as ’n antagonis bestempel) soos ’n dol ballerina met bloeiende voete op haar eie verhoog dans.
Todd Field het in die New York Times oor sy gunstelingtoneel gepraat waarin die dirigent haar menswees ontbloot. Dit begin wanneer sy die huis besoek waarin sy grootgeword het. Die skoot waar sy haar tas moeisaam in ’n donker voorportaal insleep is tekenend van wat gaan volg. Hier is geen weermag onderdane wat haar te hulp snel nie. Sy sleep haar persoonlikheid alleen soos ou sondes met haar saam.
Waar haar skerp tong tevore haar belangrikste wapen naas haar dirigeerstok was, is hier geen dialoog of wegsnyskote van lede van die orkes om agter te skuil nie. Slegs stil skote waarin Blanchett se onderspeelde vertolking die mens wat nou aan haar eie ego blootgestel word, filmies kragtig uitbeeld. So min woorde, soveel beelde, soveel visuele inhoud.
Sy is vermoeid, ontneem van haar gestileerde haredos en penregop houding. Net ’n moeë mens op die afdraandepad na selfvernietiging.
Field beskryf die sekwensie as “’n vrou ... (wat) haar interne ritme verloor het”. Die enigste voorlopige klank is nie weer ’n simfonie-orkes nie, maar ’n vals klavier wat haar struikelings blootstel. Wat sy die meeste vrees, is haar slaapkamer as kind waarin medaljes, beeldjies en pryse uitgestal is – spore van die ambisieuse dogtertjie in onderbeligte skote. Hierdie toneel is weergaloos.
Nog meer treffend is die toneel waar sy op VHS-bande afkom en na Leonard Bernstein se optredes kyk. Want dit was hý wat haar destyds geïnspireer het. Vergelyk die klein blouerige televisiebeeldjie met die enorme donker kamer.
In nabyskote sien ons dikwels net haar oë wat na Bernstein staar. Ook die emosies wat oor haar gesig omblaai van herinneringe na hartseer na ontnugtering. Field erken dat hulle nie beplan het om nabyskote van Blanchett te gebruik nie, maar ’n tweede kamera is ingespan om tog haar emosies vas te vang. Hier word daar binne vier minute ’n kontras gevorm met haar vorige flambojante tonele vol intellektuele danse waarin sy die gehoor bestorm.
Bernstein is eweneens indrukwekkend voor ’n orkes, nes Tár, maar meer menslik en natuurlik sonder aansit. En dít is wat haar werklik slaan, want die regterkant van die skerm is uit fokus en verwys na die niemandsland waarin sy haar tans bevind.
Dit is ’n voortsetting van die boksgeveg met haarself wat later tot ’n ineenstorting lei. Dit word egter voorlopig onderbreek wanneer haar broer instap en haar Linda noem. Die meer formele “Lydia” is dus ’n verhoognaam. Nie eers haar naam is eg nie. Haar broer is ook geensins onderdanig en respekvol wanneer hy haar so aanspreek nie. Dis mens teenoor mens. Broer teenoor suster. Die maskerade is verby.
Tár is so veelvlakkig en vol diepte dat daar nog lank oor die rolprent se meriete gedebatteer kan word. Genoeg om te sê dat dit verskillende dinge vir verskillende mense sal beteken. Elke kyker sal iets anders hieruit neem. Selfs ’n gevoel van haat-liefde.
Dit is ’n uitmuntende rolprent wat die toeskouer dwing om mee te lewe en te reageer en nie bloot onaangeraak te sit en na mooi musiek te luister nie.

