Belfast (in teaters)
Met Jude Hill en Caitrona Balfe
Regisseur: Kenneth Branagh
Die reklameveldtog beweer dat hierdie eenvoudige, gekreukelde bladsy wat uit ’n Ierse skooloefeningboek geskeur is, wêreldwyd met 235 benoemings spog! Dis natuurlik onmoontlik om almal hier te noem, behalwe om wel te verwys na die rolprent se sewe Oscarbenoemings: beste draaiboek, rolprent, klank, regie, musiek asook byspelers (Judi Dench en Ciarán Hinds).
Waarom die pryse so beklemtoon in hierdie resensie? Want al die akklamasie kan ’n mens intimideer en mag daartoe lei dat jy te veel spoggerigheid mag verwag. Daardie klagte van “Ek het beter verwag!” geld hier, maar kyk ’n slaggie dieper. Soms lê die trefkrag van ’n film in sy eenvoud en onderbeklemtoning (understatement). Nie in kokipenstrepe onder elke toneel nie.
Die rolprent belowe nie te veel op sy plakkaat nie. Dit wys ’n seuntjie wat met ’n asblikdeksel en nagemaakte swaard deur die lug spring asof hy die lewe wil verower. Hy is die ridder van die asblikke. Die koning van sy eie klein koninkrykkamertjie van ongekompliseerde geluk met ’n verbeelding waaraan daar geen perke is nie. Maar in hierdie kragtige beeld, met die uitmuntende jong Jude Hill (wat nie eers vir ’n Oscar benoem is nie!), lê die kruks van hierdie stukkie nostalgie. Daar priem ’n angel deur die prentjie, al lyk die gesin onderaan hoe gelukkig. Want hulle kiekieperfekte lewe gaan met onverdraagsaamheid deurboor word.
.........
Belfast is in wit-en-swart verfilm juis om die tydperk na te boots waarin dit afspeel (1969), maar ook omdat die regisseur en draaiboekskrywer Kenneth Branagh hierdie tydperk in wit-en-swart in sy geheue oproep, veral vanweë die kiekies uit daardie dae.
...........
Belfast is in wit-en-swart verfilm juis om die tydperk na te boots waarin dit afspeel (1969), maar ook omdat die regisseur en draaiboekskrywer Kenneth Branagh hierdie tydperk in wit-en-swart in sy geheue oproep, veral vanweë die kiekies uit daardie dae.
Eers lyk die seuntjie, gegrond op ’n jong Branagh, ekstaties en trots met die brawe Koning Arthur-speletjie waarmee hy besig is. Maar uiteindelik is dit nie meer ’n onskuldige kinderspel nie, maar ’n volwassenegeveg om lewe en dood. Want daardie sorglose beeld verander mettertyd sodat die “wapens” wat hy in sy hande het, ’n dieper en tragiese betekenis kry.
Die film loop die spore van ’n burgeroorlog na wat in Ierland, spesifiek die verskeurde Belfast, uitgebreek het toe ’n groep Protestante Katolieke inwoners met geweld uit ’n straat wou dryf. Xenofobie, vooroordeel, godsdienstige onverdraagsaamheid en verwaandheid word ook in die plakkaat verewig in die byna onpeilbare uitdrukking op die jong Buddy se gesig. Die storie kry ’n gewigtige sosiale en politieke subteks.
Kinderonskuld en die geluk van vele gesinne word wreed. Hulle moet veg om hul voortbestaan met die besef dat as hulle hier sou agterbly (bes moontlik soos die inwoners wat nié uit Kiëf, Oekraïne wil vlug nie), dit hulle hul lewens kan kos. Of hulle sou noodgedwonge betrokke moes raak by terrorisme, bomplantery, broer wat teen broer opstaan, en wrede gevegte.
Verskeie elemente maak van hierdie rolprent ’n verrykende ervaring en nie noodwendig net vir kunsliefhebbers nie. Almal behoort te gaan kyk. Die uitmuntende kunsregie, waar stelbouers en -inkleders die eenvoudige huise ’n 1969-voorkoms moes gee wat die waardes van die gesinne bevestig en komplementeer, dra verder by tot die realisme. Ook die atmosferiese wit-en-swart fotografie gee ’n nuwe dimensie aan die ironiese gebeure.
Die beligting is vol verskuilde motiewe, want daar is ’n spel tussen lig en skaduwee en die onheil wat sluimer beklemtoon. Want aanvanklik heers daar ’n gemoedelike, byna speelse atmosfeer, tot die stormtroepe versperrings oprig en begin plunder, terroriseer en skiet.
...........
Verskeie elemente maak van hierdie rolprent ’n verrykende ervaring en nie noodwendig net vir kunsliefhebbers nie. Almal behoort te gaan kyk.
.............
Branagh moet die eer kry vir die noukeurige visuele afwerking wat in elke skoot teenwoordig is. Sy rolverdeling getuig van professionele karakterisering en spelafronding en ’n deernis vir die sout-van-die-aarde-mense.
Net ’n nota. Alhoewel ’n mens Judi Dench as aktrise bewonder, is haar rol as die ouma, hoe warm en menslik ook al, net te klein vir ’n benoeming. Alhoewel sy al ’n Oscar vir ’n korter rol, in Shakespeare in love (1999), gekry het, wonder ek of hierdie rol, hoewel uitmuntend, vir ’n Oscarbenoeming kwalifiseer.
Hierdie rolprent sal jou onverhoeds betrap. Moenie met groot verwagtings by die rolprentteater opdaag nie. Gaan kuier by ’n doodgewone gesin, waaronder die subtiele Jamie Dornan as die pa en Ciarán Hinds as die waardige, glimlaggende oupa, en word deel van die gesin se vreugdes en uiteindelike tragiese besluite.
Die morele vraag ontstaan nou: Moet ’n pa, na wie die gesin nog altyd opgesien het, alles los en vlug? ’n Beter toekoms elders probeer bewerkstellig? Of agterbly, na sy gesin omsien, om nostalgiese redes hier vashaak, en dalk gedwing word om self tot terrorisme oor te gaan?
Hierdie deernisvolle rolprent word aan diegene opgedra wat “besluit het om te bly”, woorde wat die tragiek onderstreep sonder lastige sentiment.
Nou wonder ’n mens of ons oor ’n paar jaar ’n soortgelyke rolprent oor Oekraïne gaan sien, net in ’n erger, wreder gedaante. En dalk ’n ander uitkoms?


Kommentaar
Dankie vir die resensie - die rolprent het my herinner aan 'Roma' van Alfonso Cuarón en dit sal interessant wees om 'n vergelyk tussen die twee 'rites of passage' te tref.
Ek het egter gedink Judi Dench is uitstekend in die rol van die ouma en so ook die spel van die ander karakters.