Fly me to the moon: ’n filmresensie

  • 0

Fly me to the moon (Skermgreep: YouTube, 2024)

Fly me to the moon
Met Scarlett Johansson en Channing Tatum
Regisseur: Greg Berlanti

Hierdie fliek is letterlik met die maan gepla. En moenie dit vlak kyk nie. Loer om die kraters en die doodse maanpleine na wat agter die Amerikaanse skerms aangaan. Die verhaal het meer om die lyf as die blink maan waaroor Frank Sinatra so liries geraak het, want dit is ’n teruggryp na die nostalgiese romantiese komedies van die sestigerjare toe Doris Day en Rock Hudson koning gekraai het. En toe baie mense nog geglo het daar is ’n man op die maan en dat ware liefde bestaan.

Dit gaan oor ’n reklameagent (Johansson) wat dink sy is kaatjie van die maan wanneer sy aangestel word om die maanlanding gedurende 1969 aan die Amerikaners te verkoop. Want sien, in Amerika gaan dit om glans, prag en praal, meer as om realisme of die wrede werklikheid. Want sou daar iets met die landing skeefloop wat deur miljoene mense gekyk word, kon dit verreikende gevolge hê, veral ekonomies. Want onthou hoeveel het reklameflitse in daardie gleuf gekos. En wat gaan ’n fout op ’n kritieke oomblik aan die volk so moreel doen!?

Niks moes kon ontspoor nie, want kyk hoe het die rampspoedige presidentsdebat onlangs vir Joe Biden ’n uitklophou gegee. Was daar maar ’n alternatief wat in 2024 in sy plek uitgesaai kon word! Maar laat dit aan die Amerikaners oor om met ’n plan B in 1969 vorendag te kom wat die maanlanding betref. Sou iets skeefloop met die kamera wat die maanlanding aan miljoene moes beeldsend, moes daar ’n alternatiewe weergawe wees wat Amerikaanse patriotisme weer kon laat ontvlam. En dis waarvoor Johansson met haar parmantige Doris Day-wikkelstappie en smal heupies daar is. ’n Fraai gesiggie agter die skerms van die maanlanding.

Natuurlik sal die mooie Scarlett enige lont laat deurbrand, maar in hierdie geval huur sy ’n eksentrieke regisseur om ’n bystandstoneel in ’n ateljee op die aarde te verfilm wat dan gebeeldsend kon word, sou iets skeefloop. Die idee het seker in die draaiboekskrywer se kop ontstaan nadat die legende soveel keer aangehaal is dat Stanley Kubrick, veral na die sukses van 2001: A space odyssey (1968), eintlik ’n fopmaanlanding verfilm het. Dit is glo vertoon in plaas van die werklike landing. Daar was selfs akteurs wat die drie ruimtevaarders sou speel!

Aan die stuur van sake is ’n klipgesig Channing Tatum (maar wat ’n mooi klipgesig!) wat in beheer van die lansering is. Nadat hy en ’n reuse span vir jare aan die lansering en uiteindelik maanlanding gewerk het, duld hulle geen inmenging nie. Maar hulle moet tog in gedagte hou dat iets onverwags kan gebeur, en dan moet die Amerikaners se aansien in die oë van die wêreld gered word.

Iets of iemand moes op die maan land, maak nie saak waar dit of hulle vandaan gekom het nie!

Wat werklik gebeur het? Kyk na die rolprent!

........
Hierdie fliek sorg vir een van die jaar se mees vermaaklike teruggrype na die goeie ou dae toe romantiese komedies nog snaaks en skerpsinnig was met hitte tussen die held en heldin.
........

Hierdie fliek sorg vir een van die jaar se mees vermaaklike teruggrype na die goeie ou dae toe romantiese komedies nog snaaks en skerpsinnig was met hitte tussen die held en heldin. Voeg daarby die insleep van romantiese treffers uit daardie jare, asook tipiese 1960’s-danse, die kleurvolheid van daardie era en die naïwiteit en goedgelowigheid van Amerikaners, en die rolprent bied ’n blik op die Amerikaanse Droom wat in 1969 bewaarheid is.

Mense kon toe nog droom. En sprokies kon waar word. Daardie beeld moes ten alle koste beskerm word.

Met drie manne op die maan kon die Verenigde State meer vermag as enige van sy mededingers in die ruimtenaelloop teen die Russe. En daardie beeld was amper belangriker as die eerste tree wat Neil Armstrong op die maan gegee het! Hy het miskien een klein treetjie op die maan gegee, maar op die aarde is wêrelde versit.

Min het die volk geweet dat daar ’n aap is wat niemand toe uit die mou kon laat nie. Natuurlik is daar botsende onderdrukte romantiese emosies en ’n beeld van stoere manlikheid wat ten alle koste voorgehou moes word, want manlikheid is die ekwivalent van sukses, dan nie?

Komiese misverstande, ’n wulpse poppie met rondings op al die regte plekke, nes Barbie, ’n bul van ’n manlike ego en ’n land se roem en beeld van sukses was almal op die spel. Dit word vernuftig deur Greg Berlanti vermeng om vir ons ’n “I’ll have what she’s having”-oomblik te skep wat nostalgievrate, dorstig na die genot van ’n glinster- romantiese komedie, sal bevredig. (Die aanhaling kom uit die toonbeeld van romantiese komedies, When Harry met Sally, 1989.)

Dit gaan ook oor oëverblindery, kulkuns, show business!, militaristiese gesag en ’n streling van manlike ego’s wat op skoongeskeerde gesigte blink. Dit het die noot hoog ingesit vir ’n patriotiese psalm waaraan die rolprent hulde bring. Ook aan ’n glinster- onpaar paar wat meer as die maanlanding vermag! Hulle vind mekaar ...

Kyk verby die glans na wat die rolprent eintlik sê, ook oor die stereotipering van die vrou wat destyds net mooi advertensies oor yskaste en appeltert op televisie kon doen en nou skielik mans die loef afsteek en ’n volk se aansien met ’n ’n blinkslim jakkalsstreek probeer red.

Sy hoort skielik nie meer net in die kombuis nie! Sy kan die maanlanding red!

Dis ’n heerlike en verrassende gespot met Amerika en die skynwerklikheid waarmee Hollywood daagliks smokkel. Maar die fliek is bowenal oorspronklik. ’n Woord wat vandag, in die era van vervolge (Despicable me 4), voorgangers (A quiet place: Day One) en nabootsings (Twisters) nie eintlik meer bestaan nie.

Kyk die lokprent:

Lees ook:

The watchers: ’n filmresensie

Baby Reindeer: ’n TV-resensie

All of us strangers: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top