The watchers: ’n filmresensie

  • 0

The watchers
Met Dakota Fanning en Olwen Fouéré
Regisseur: Ishana Night Shyamalan
Netflix

Die berugte regisseur van die knoop-in-die-stert-flieks, M Night Shyamalan, ry al vir dekades op The sixth sense (1999) en Unbreakable (2000) se rug. Dit het die Agatha Christie-resep van “Wie het dit gedoen?” verander na “Haal af jou blinddoek!” Want oëverblindery het nou ’n nuwe rigting aan daardie genre gegee, en mense sit verstard, vasgenael in hulle sitplekke (“I see dead people ...”).

Toe volg ’n stroom rampe uit die Shyamalan-stal waarvan elke ontknoping meer onwaarskynlik as die vorige was. Want ’n stewige verrassingsbom gebeur feitlik een keer in ’n jaar. En sodra dit teleurstel, verloor die gehoor hul geloof in grillerrolprente. Dit vervlak die Edgar Allen Poe-grieselbeloftes van gil-terwyl-jy-gril-onthullings na ’n oppervlakkige gesnater.

Shyamalan se dogter, Ishana, moes tydens haar pa se kortstondige rillerheerskappy grootgeword het. Sy is dus deur hom beïnvloed. Sy moes tog ’n getuie gewees het van slottonele wat telkens afgewater is, só dat ’n geskokte hand na die mond vervang is met ’n hand wat ’n gaap onderdruk. Slegs Knock at the cabin (2023) het Night Shyamalan se aansien met ’n katspoegie herstel. Het sy nie hieruit geleer nie?

Nou probeer sy onder haar pa se grillerskadu uitkom met ’n “riller” so vergesog dat dit die verstand te bowe gaan hoe ’n rolprentmaatskappy die draaiboek kon goedgekeur het. Of nee wag! Dis mos baantjies vir boeties! Pa se naam bevoordeel sy dogter om nog ’n lamlendige slot in iets te verander wat dit nie is nie.

........
Die storie belowe telkens, maar gee nooit nie. Dit stoom soos ’n ontspoorde trein op ’n afgrond af en dawer dan klaterend die dieptes in.
........

Die storie belowe telkens, maar gee nooit nie. Dit stoom soos ’n ontspoorde trein op ’n afgrond af en dawer dan klaterend die dieptes in. Die belaglike film is boonop gebaseer op ’n roman deur AM Shine wat nie noodwendig ’n blitsverkoper was nie. Waarom dit dan verfilm as dit sonder rillermeriete is?

Die onwerklik goeie Dakota Fanning, onlangs in Ripley te sien, mors haar talente op ’n rol wat so dun is dat ’n garingdraadjie deur daardie gleufie kan glip. Haar karakter, Mina, moet ’n papegaai deur ’n bos vervoer (!) met feitlik geen ander bagasie nie. Haar motor raak in die middel van ’n bos vir verlore siele (gaap, gaap) onklaar. Sy en die papegaai ontdek dan ’n eendimensionele gebou waar drie ander stommerike haar waarsku dat “dophouers” of “afloerders” hulle bekyk met ’n string reëls: “Moenie ’n geluid maak nie. Moet nooit jou rug op die spieël draai nie!” en bla bla bla.

So baie verwagtings, so min beloning – byvoorbeeld hoekom ’n papegaai as medeprotagonis skep en feitlik niks met hom doen nie?

Sover, soveel Hansie en Grietjie. Night Shyamalan strooi muwwerige broodkrummeltjies op pad na ’n kamtige spanningsvolle einde met spore van die mitiese en die demoniese. Want geen wese wat koekeloer, kan so gruwelik wees as wat die kyker se verbeelding kan optower nie. Of wat die rolprent belowe maar nie gee nie.

........
Dis asof iemand ’n gesig aan die heks in die Hansie en Grietjie-sprokie probeer gee, terwyl enige kinderverbeelding daardie poging sal oortref.
........

Dis asof iemand ’n gesig aan die heks in die Hansie en Grietjie-sprokie probeer gee, terwyl enige kinderverbeelding daardie poging sal oortref.

Gedurende die heldin se gevangenskap tussen die afloerders word daar temas van ’n bose alter ego in ’n spieël gesuggereer. Maar die enigste makabere oomblik gebeur wanneer Mina met haar vinger teen die spieël tik. Daardie hol klank skep die verwagting dat angswekkende husse met lang ore agter die spieël gaan uitpeul. Maar wees nie bevrees nie. Niks gebeur nie ...

Dit sinspeel ook daarop dat grieselgeeste moontlik die gevangenes se identiteit wil steel. Maar selfs dit word nie behoorlik ontgin nie. Hierna teer die oppervlakkige rolprent op die gedwonge absurde. Mense wat desperaat deur die bosse hardloop, gruwelike geluide wat ’n drein na Mozart sal laat klink, ambisieuse skaduwees wat met lang ET-arms deur spokerige bome vroetel, sielkundige hallusinasies wat verborge geheime wil ontbloot, en ’n kamera wat soos ’n weerligstraal teen die kyker se oë bots gedurende sogenaamde crash zooms.

.........
Die rolprent het, anders as ander gruwelfilms, geen hart of siel nie. Geen siel om te teister nie en geen hart om gruwels te pomp nie.
.........

Dit is alles blote kreukelpapier wat om ’n pieperige storie sonder weldeurdagte inhoud gevou is. Dink aan ’n kind wat na ’n Kersgeskenk uitsien en dit uiteindelik oopskeur, deur lae geskenkpapier worstel ... en uiteindelik by niks uitkom nie. Want die rolprent het, anders as ander gruwelfilms, geen hart of siel nie. Geen siel om te teister nie en geen hart om gruwels te pomp nie.

Dit bevestig weer eens die oes aan patetiese gruwelflieks wat vanjaar probeer het om die riller weer bestaansreg te gee, soos The first omen en Abigail. ’n Mens wil die rolprentateljees dagvaar omdat hul leë beloftes maak en die fliekganger se geld mors!

Terloops, daar was vroeër in New York ’n teater met ’n banier waarop gestaan het: “Do not ask for your money back! Once you have bought a ticket, it is sold!” (Ek het dit persoonlik meegemaak met Owen Wilson se makabere The minus man, 1999.)

Daardie kraak wat jy hoor, is Alfred Hitchcock wat in sy graf omdraai. En dit gebeur onder sy berugte grafsteen waarop na bewering staan: “This is what happens to bad little boys.” Dit is asof hy wraakgierig grynslag: “Julle wou mos nie my rolprente waardeer nie. Kyk waarmee sit julle nou opgeskeep!”

The watchers se ontknoping en verrassing met sy kamtige knaleffekslot is so dun soos kasaterwater. Vergeet van die gesuggereerde bonatuurlike besetenheid waarmee die rolprent te koop loop. Die fantastiese verander in die vervelige.

Beslis een van die afgelope vyf jaar se swakste rillers.

Kyk die lokprent:

Lees ook:

Baby Reindeer: ’n TV-resensie

Monkey Man: ’n filmresensie

Nostalgie en films

All of us strangers: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top