
Skermgreep: YouTube
Presies waaroor gaan seker die mees veelbesproke reeks van die jaar? Richard Gadd se venynige belydenis oor die dors na roem op Netflix. Maar natuurlik gaan Baby Reindeer bowenal oor agtervolging (stalking), teistering, obsessie, masochisme en selfbejammering.
Gadd het aanvanklik ’n bekroonde eenmanvertoning in Edinburgh, Skotland vir kleinerige gehore aangebied waarin hy vertel het dat hy eendag ’n gratis drankie vir ’n “arme” eensame vrou, Martha, in ’n kroeg aangebied het. Sy het as kind ’n opgestopte takbokkie gehad en het hom toe na dié diertjie vernoem. Jessica Gunning is uitstekend in die rol.
Martha het glo ’n obsessie met die bleeksiel ontwikkel en hom daarna jare lank meedoënloos gevolg, geterroriseer, beledig, uitmekaargetrek, afgeloer, emosionele uitklophoue gegee, seksuele insinuasies gemaak en selfs sy vriende en familie aangeval.
Dit is hierdie masochistiese agtervolging en beheptheid met Gadd, wat homself as Donny in die TV-weergawe speel, wat die deurboorde hart van Baby Reindeer vorm. Hierdie hart pomp vitrioel. Want asof die reeks nie skokkend en kwetsend genoeg was nie, het die werklike Martha, die prokureur Fiona Harvey, onlangs na vore gekom en ingestem om op die berugte sensasiebeluste joernalis en onderhoudvoerder Piers Morgan se program te verduidelik wat werklik gebeur het. (Praat van masochisme, ’n woord wat gereeld in hierdie resensie gebruik gaan word. Hierdie twee teenoor mekaar is ’n TV-reeks op sigself.)
........
Die reeks ontgin ’n niemandsland waaruit daar skynbaar geen ontsnaproete is nie.
.........
Wat Baby Reindeer so ’n verwoestende emosionele ervaring maak, is dat die kyker die arme swaap (dit is ook hoe hy na homself verwys) bejammer. Hy het ’n geweldige selfbeeldprobleem wat ’n seksuele jagter (predator) natuurlik carte blanche gee om hom te misbruik. In die ergste tonele in episode 4 bereik Gadd ’n laagtepunt. Hy raak verslaaf aan dwelms en laat toe dat hy in hierdie toestand seksueel misbruik word. Wees hierteen gewaarsku!
Nie dat die jagter sy loopbaan of spel op die verhoog eintlik gehelp het nie. Om die waarheid te sê, sy vertonings raak net erger en meer bedenklik. Hier vind ’n tweespalt in die reeks plaas wanneer Gadd inderdaad self wonder hoe ver enigiemand gemartel kan word. Maar uiteindelik kom hy tot ’n morbiede slotsom: Hy is so pervers mishandel omdat hy dit toegelaat het! En dit is waar die verwronge sedeles intree.
Dit voer die gedagtes terug na ’n skokfilm waarin ’n trans persoon, Divine, ingestem het tot die rolprentbedryf se mees veelbesproke toneel ooit, in Pink flamingoes (1972). Aan die einde het sy hondeontlasting regstreeks op kamera geëet. Resensente se reaksie hierop was: “As sy dan so desperaat is om bekend te word, verdien sy elke stukkie bekendheid wat sy kry.”
Gadd raak ironies genoeg ook op ’n trans persoon verlief, maar Martha help glimlaggend om daardie verhouding ook te laat ontspoor. Die bietjie geluk wat hy kon gehad het, dryf saam met die dreinwater af.
........
Die kyker se emosies word soos ’n tennisbal heen en weer gemoker.
........
Dit gaan hier ook oor eensaamheid. Beide Gadd en Martha is verlate, verwonde, verdwaalde siele wat, op ’n siek manier, vertroosting by mekaar vind. Die reeks ontgin ’n niemandsland waaruit daar skynbaar geen ontsnaproete is nie. Dat Martha vir dae lank verlate by ’n bushalte naby Gadd se huis sit en wag, isoleer haar net nog verder en verander ’n teisteraar in ’n bejammerenswaardige figuur.
Die kyker se emosies word soos ’n tennisbal heen en weer gemoker.
In die loop van sewe episodes het Gadd in sy persoonlike vertellings nie net homself nie, maar ook die kyker met die mees intieme, soms sliertige maar ook skokkend brutale uitlatings in jare gekasty en verniel. Beledig Gadd homself natuurlik ook. Hy ontmasker homself as ’n selfbejammerende ramp van ’n mens wat, met sy lamsakkigheid, “verdien” het wat hy gekry het.
Die vraag ontstaan hoekom die stomme treurmare van ’n siel (wat ons natuurlik intens bejammer) Martha nie van die begin van die honderde duisende e-posse en derduisende selfoonboodskappe wat sy aan hom gestuur het, by die polisie aangemeld het nie. Het hy die aandag op ’n verbysterend masochistiese manier geniet?
In die reeks kla hy haar uiteindelik, na jare se marteling, teësinnig by die polisie aan. Maar ’n mens kry aan die einde die indruk dat hy haar steeds bejammer. En durf ’n mens die vraag vra: Noudat die aanvalle geëindig het, mis hy dit?
........
Het Martha toe heel gerieflik op daardie kritieke oomblik in sy lewe opgedaag om hom van die hel van mislukking te red en toe op Netflix berug te maak?
........
Gaan die reeks dus eintlik in die subteks oor sy versugting na roem en ’n verwronge, selfvernederende sukses? Want Donny ontbloot homself as ’n mislukking van ’n komediant wat as stand-up so swak gevaar het dat geen siel vir sy grappe gelag het nie. Net soos Martha hom verneder en bespot en verkleineer het, net so het hy dit eintlik ook aan homself gedoen deur gruwelgrappe te vertel wat verby swart komedie beweeg het, onder andere aaklige kwetsende grappe oor sy eie ma se dood.
Swak smaak bereik hier ’n laagtepunt wanneer Donny (en natuurlik Gadd) besef dat hy nooit sukses as komediant gaan behaal nie. Het Martha toe heel gerieflik op daardie kritieke oomblik in sy lewe opgedaag om hom van die hel van mislukking te red en toe op Netflix berug te maak? Maar die belangrikste vraag is: Het Gadd heel moontlik die situasie en karakter oordryf en misbruik? Gebaseer op die waarheid, ja, maar in sy geheel “die waarheid?” Wie sal weet? Die reeks vra kykers eintlik om hul eie afleidings te maak.
Wees net hierop voorbereid: Jy kan nie hierna kyk sonder om te reageer nie! En dit is miskien ook wat Gadd wou hê.
Maar die ergste is dit waarvan die reeks kykers in hulleself bewus maak. Ons hou aan om daarna te kyk!
Die reeks het na ’n dag of twee opgeskiet na Netflix se program wat vir ongeveer twee weke boaan die gewildheidsleer gepronk het. Almal het geskok daaroor gepraat, maar terselfdertyd het sommige kykers ook ’n vreemde genot geput uit hierdie man wat homself in ’n monoloog net so erg beledig en kasty het as wat Martha hom gepynig het, en onder andere na homself verwys as iemand wat mense net tevrede wou stel, al was dit ten koste van homself. ’n Ashoop van ’n mens. ’n Patetiese people pleaser.
.......
Lê daar iewers dalk ’n ander waarheid versteek waarvan ons nie weet nie?
.......
Niemand wat hierna kyk, kan onaangeraak agteroor sit en verkondig: “Ek het die reeks geniet” nie! Want “geniet” beteken dalk verskillende dinge vir verskillende mense, maar ’n mens betrap jouself dat jy jou eintlik verstom en op ’n siek manier verlekker (?) in die arme man se selfkastyding en selfbejammering. Hy walg eintlik van homself en hy erken dit. En hy betrek die kyker, veral in sy monoloogvertellings, direk by sy dilemma.
Roem is toksies. En die dors daarna verbluffend. Maar hoe ver sal mense gaan om op die openbare platform te beland, miljoenêrs daaruit te word, en hulleself belaglik in die openbaar te maak?
Die slotsom? Lê daar iewers dalk ’n ander waarheid versteek waarvan ons nie weet nie? Hmmm. Dalk lewer die Piers Morgan-onderhoud genoeg materiaal vir ’n vervolg?
Kyk die lokprent:
Lees ook:
An analysis of Mare of Easttown, crime shows and the female-led series
The digital psyche: Why you should pay attention to your social media likes
Strafregtelike struikelblokke in die mishandelde persoon se stryd om geregtigheid