
Skermgreep: YouTube
Monkey Man
Met Dev Patel en Sharlto Copley
Regisseur: Dev Patel
Soms raak Hollywood besete en gaan op magtige loop met ’n gunstelingtroetelfilm. Dit glinster waarderend in sidderende banieropskrifte met ’n reklameveldtog wat Titanic sal laat sink.
Almal hou van Dev Patel. Hierdie hoogs talentvolle, en klaarblyklik nederige jong akteur het sy skoolgeld betaal. Sedert Slumdog millionaire (2009), en veral Lion (2016), het hy respek afgedwing. Hy is veelsydig, energiek, vol entoesiasme, en het daardie soort wye-oog-onskuld en deurpriemende oë waarvan Hollywood hou. O ja, en moenie die sweet vergeet wat ook so dikwels al in artikels bewonder is nie. (Hy moet ook sexy wees.)
Toe dit rugbaar word dat Dev agt jaar lank gesukkel het om sy droomprojek te voltooi, het die klokke reeds begin lui. Hy vertolk die rol van ’n besete vegter wat homself vermink om te bloei en geld te maak. Die simpatie was vroeg reeds aan sy kant. Monkey Man se geskiedenis het die stoompot dus reeds halfpad laat oorloop en die skaal gunstig in Patel se rigting laat swaai. Juigende resensente het die res gedoen.
Onthou ook, dis onkoel om nié van Monkey Man te hou nie, daarom sing dié resensie eensaam-verlate in die konsistorie terwyl die bewonderende koor dit andersins in gloeiende terme lof toesing. So ver, so John Wick.
Voeg daarby die sosiale en politieke kommentaar wat die rolprent lewer (en baie daarvan is debatteerbaar; met ander woorde, die regte polities korrekte temas kry hier en daar prominensie), en Dev het ’n wenner. Die Suid-Afrikaans-gebore Sharlto Copley met sy sliertige hare, nonchalante houding en koel kwinkslae dra natuurlik by tot die rolprent se sukses. Komiese vierletterwoorde regverdig die bloed en maak die geweld “snaaks”.
Dit terwyl meesterstukke soos Netflix se Ripley telkens moet buk vir ses van die bestes. Monkey Man het egter staande ovasies in die pers geniet.
.......
Ja, dikwels verdien dit lof, veral vanweë die film se tegniese vaardigheid en astrante, onstuitbare voortvarendheid, want die kamera word ’n karakter en veg saam met die geweldenaars.
.......
Ja, dikwels verdien dit lof, veral vanweë die film se tegniese vaardigheid en astrante, onstuitbare voortvarendheid, want die kamera word ’n karakter en veg saam met die geweldenaars. Dit is welbekend dat die kamera soms na ander kinematograwe aangegee is gedurende verwikkelde gevegsekwensies om die kontinuïteit te behou. Daar moet tog net nie ’n vervelige oomblik wees tussen die ontploffende redigering deur nie.
Almal weet ook dat Patel beseer is. Nie alleen het hy sy hand gedurende die berugte badkamertoneel gebreek nie (waar geen krip ongeskonde gebly het nie!), maar hy het ook ander wonde opgedoen waarvan groot gewag in die pers gemaak is. Die film is inderdaad dapper en geobsedeer doelgerig. Patel sou geen struikelblok in sy pad laat staan om sy droom te verwesenlik nie. En goed so! Want as ’n kunstenaar werklik ’n droom het, moet hy dit bewaarheid, en Patel het alles uitgehaal en gewys.
Maar ai.
Hierna begin die stryd om dit op die silwerdoek te kry. Want dit sou aanvanklik Netflix se eiendom geword het, geweld en al. Maar die uitstekende en gerespekteerde vervaardiger Jordan Peele van die voortreflike Nope (2002) en Get out (2017) het tot Patel se redding gekom en die rolprent op die groot skerm laat beland.
Alles tel tot dusver steeds in Monkey Man se guns, want wat agter die skerms gebeur het, ondersteun deur die ongekende reklameveldtog, het dit inderdaad laat glinster en die geld laat inrol. Verblydend, dus, dat mense darem weer teaters besoek. Hoe groter die skerm, hoe bloederiger die slagting.
Andersyds gaan dit hier nie noodwendig oor ’n konserwatiewe en vrome geskoktheid oor die geweld nie. Geweld het al sedert Straw dogs, (1971), A clockwork orange (ook 1971) en veral die berugte The wild bunch (1969) kommentaar op ons ontmenste samelewing gelewer. Hierdie geweld het regtig seergemaak en getref, omdat dit nie vrugteslaaigeweld was wat driekwart van die rolprent beslaan het nie.
Tog het Patel se fliek, wat al die arm man se John Wick genoem is en duidelik die begin van ’n franchise is, my as kyker oorversadig.
........
Tog het Patel se fliek, wat al die arm man se John Wick genoem is en duidelik die begin van ’n franchise is, my as kyker oorversadig.
........
Die gevegschoreografie is inderdaad verbysterend, bewonderenswaardig en realisties, byna soos ’n bloedige dans van die gebreekte kakebene. Dit is asof die geweld vinnig vorentoe gespoel word soos mense deesdae doen wanneer hulle op ’n stromingsnetwerk binne 20 minute na ’n vervelige film kyk. Dit is een lang stroom bloeddorstigheid, karatekappe, bene wat gesigte pap skop en liggame wat op klipvloere val en teen mure gegooi word sonder ’n skrapie. (Die gebreekte hand is oornag in ’n hospitaal behandel en Patel moes toe daarna met net een hand aan sommige gevegstonele deelneem. Sy hand het soos ’n poeding geswel, maar hy het voortgeveg.) Dit het groot prominensie in reklame geniet en tot die film se sukses bygedra.
Praat van deursettingsvermoë om jou storie enduit te vertel!
Daardie hand word egter nooit in die gevegstonele gewys nie. Die bokser is mos ’n superheld wat nie menslik is nie en nie beseer mag word nie.
Gooi jouself ’n bietjie een keer met vrot geweld teen ’n muur en kyk wat met jou rug gebeur. Maar hierdie is superheldstrokiesgeweld ... Die man met die gorilla- (of aap-) masker laat homself verrinneweer; hy bloei, val, tol, spring en kreun tot groot vermaak vir die gehoor, maar sy oë bly helder. ’n Hoofseun wat sy eerste fliek gemaak het! Hy wil sy ma se dood wreek en bloedbelus ’n korrupte polisiehoof verbrysel. Dit is die storie! En alles vorm deel van die “motivering” vir die slagveld.
En vergeet tog nie Patel se beheptheid met Bruce Lee en die legende van Hanuman nie. Hanuman is terloops in Indië die god van wysheid, dapperheid en selfdissipline. ’n Soort aapgod as jy wil.
.........
Een pluimpie vir Patel. Oldboy (2003) bevat moontlik die beste aksietoneel ooit – ’n lang geveg in ’n gang op pad na ’n hysbak – en Patel s’n is duidelik ’n respekvolle huldeblyk aan hierdie en ander Koreaanse aksieprente.
.........
Een pluimpie vir Patel. Oldboy (2003) bevat moontlik die beste aksietoneel ooit – ’n lang geveg in ’n gang op pad na ’n hysbak – en Patel s’n is duidelik ’n respekvolle huldeblyk aan hierdie en ander Koreaanse aksieprente.
Natuurlik is daar tussenin kosbare oomblikke waartydens die gehoor kan asemhaal en die bloed van hul springmielies kan afvee sodat die storie kans kan kry om op ’n meer menslike vlak te ontwikkel. Dit wys ook die held se innerlike stryd om sy doel te bereik. Maar die twee groot aksietonele slaan die kyker uiteindelik so voos dat ’n mens daarna staar soos na die vragmotors wat ons paaie daagliks flenters ry. Met ’n gelatenheid wat tot ’n diep terneergedruktheid lei.
O ja, die jonger geslag en aksie-aanhangers sal juigliedere sing, en die rolprent word beslis bewonder vir sy realistiese gevegte en aksietonele. Maar swem ’n mens dieper in die bloedbad rond, is dit dalk spoggerige aksie, omdat Patel mag en kan, met weinig kans vir subteks. Maar te veel is te veel. En die fliek probeer net te hard om bewondering af te dwing.
Dit is dus hoegenaamd nie sleg nie. Maar beslis ’n aangeleerde smaak. Dis ’n hiep-hiep-hoera vir aksiebesetenes. Maar vir ander vermoeide fliekgangers, by wie geweld net naatloos en gaap-gaap verbyvloei, sal hierdie een in kakofoniese klank ook verbygly.
Nou wag ons net op die vervolg.
Kyk die lokprent hier:
Lees ook:

