Het die Oscars nog bestaansreg?

  • 0

Universal Studios in Hollywood: foto deur Marti Sotto op Unsplash

Die 96ste Oscar-seremonie het die meeste kykers gelok sedert soortgelyke uitsendings voor Covid. En dit van ’n geleentheid waarvan niemand iets verwag het nie, omdat dit so voorspelbaar was.

Die meeste kenners het verwag dat Christopher Nolan se Oppenheimer met minstens sewe Oscars sou wegstap. En of ’n mens dit nou wil weet of nie, die fliek is ’n waardige Oscar-wenner, alhoewel verskeie publikasies, en nou ook weer ’n nuwe boek, sekere rolprentfeite bevraagteken.

Tog het ’n meningspeiling onlangs getoon dat die stemmery só opgedeel is tydens die glinstergeleentheid: Van al die lede van die Akademie het slegs 5% vir Barbie as beste  rolprent gestem. Die ander drie rolprente wat die beste teen Oppenheimer met 32% ondersteuning gevaar het, was Killers of the Flower Moon met 9%, verrassend genoeg die briljante Anatomy of a fall ook met 9%, en natuurlik Poor things met 14%.

Interessant genoeg het Lily Gladstone 29% stemme getrek, terwyl Emma Stone ’n tamaai 49% van die stemme as beste aktrise op haar verenig het.  Dit was toe nie so naelskraap as wat mense gedink het nie. Emily Blunt (32%) was The holdovers se Da’Vine Joy Randolph met 44% persent se vernaamste kompetisie. Dit terwyl Robert Downey jr maklik met 53% stemme gewen het teen sy naaste kompetisie, Ryan Gosling met 16%

.........
Die uitsluiting van briljante akteurs vanjaar, soos Paul Mescal en Andrew Scott in All of us strangers, en veral sy regisseur, Andrew Haigh, wat nie eers benoem is nie, het hierdie vrae opnuut laat ontstaan.
.........

Dit bring ’n ander kwessie ter sprake. Daar is al dikwels in Oscar-kringe bespiegel dat die Akademie na bewering sy lede opdrag gee om polities korrek te stem ná die “Oscars too white”-debakel ’n dekade gelede. Dit beteken nie dat minderheidsgroepe, waaronder lede van inheemse Amerikaanse volke, swart mense, lede van die LGBTQ-groep en ander nie ook ’n kans moet kry nie. Maar die uitsluiting van briljante akteurs vanjaar, soos Paul Mescal en Andrew Scott in All of us strangers, en veral sy regisseur, Andrew Haigh, wat nie eers benoem is nie, het hierdie vrae opnuut laat ontstaan.

Voeg daarby die feit dat hierdie (en ander) kunstenaars so goed gevaar het in vorige bekroningsplegtighede, soos Die Britse Baftas, die Critics’ Choice-toekennings, die minder erkende Golden Globes, asook die gerespekteerde Screen Actors Guild Awards, die Producers Guild Awards en die Directors Guild of America Awards (waar Nolan telkens gewen het), wat al hoe meer vrae oor ander kategorieë laat ontstaan het.

Die New York Times bevraagteken ook die stemproses en die “reëls” wat voorgeskryf word, spesifiek by die Oscars. Daar word aan stemmers voorgestel (in teenstelling met “opdrag gegee”) dat daar veral ook gekyk moet word na kunstenaars teen wie daar in die verlede gediskrimineer is, soos regisseurs en akteurs/aktrises van kleur. En om vir die beste rolprent-Oscar te kwalifiseer moet daar aan ’n paar reëls voldoen word.

Daar moet diversiteit in ag geneem word wanneer rolprentspanne (crews), opleidingsprogramme, bemarkers en reklamepersoneel aangestel word. Dit geld ook sekere temas wat die groen lig kry, asook leierskap agter die skerms, soos by grimeringsdepartemente, produksie-ontwerpers en agente wat gehuur word, aldus die New York Times.

Alhoewel diversiteit natuurlik baie nodig is, het sekere akteurs daarteen te velde getrek en persoonlik probleme daarmee geopper, omdat “die regte kunstenaars nie altyd benoem word nie vanweë hierdie reëls”.  Dit word beskryf as die tinsel-faktor, om te skakel met Hollywood se bynaam Tinseltown. Versiering, vergulding en om goud oor te strooi is hier ter sprake. Die verfraaiing van politiek. Dit gaan dus hier meer oor Hollywood en die Akademie se beeld as oor “regverdigheid”.

Volgens die koerant het ’n sekere akteur die reëls as “onverantwoordelik, patroniserend” en “’n aanval op artistieke vryheid” beskryf. En tog was daar uitstekende verteenwoordiging by vanjaar se seremonie. Sewe van die 20 akteurs en aktrises wat benoem is, kom van voorheen benadeelde minderheidsgroepe, onder ander Lily Gladstone, wat van ’n inheemse bevolkingsgroep afstam (Native American).

Selfs die rolverdelings van Barbie, American fiction en Past lives sluit ander bevolkingsgroepe in. F Murray Abraham (Amadeus) het in reaksie hierop gesê: “Ek hoop dat ons soektog na diversiteit liewer ons talentpoel sal vergroot as om kunstenaars te inhibeer.”

........
Versiering, vergulding en om goud oor te strooi is hier ter sprake. Die verfraaiing van politiek. Dit gaan dus hier meer oor Hollywood en die Akademie se beeld as oor “regverdigheid”.
........

Hierdie onderwerp egter nou daar gelaat ... Hierdie jaar se grootliks voorspelbare Oscars was ’n fees, veral toe die regisseur met splinternuwe idees vorendag gekom het. So het die hond Snoop, wat so ’n belangrike rol in die briljante Anatomy of a fall gespeel het, sy eie stoel by die Oscars gehad, omdat hy sy rol so goed “gespeel” het.

Die dapper stoeier wat deesdae ’n akteur is, John Cenna, het die kaelnaer-insident van 1974 nageboots deur met net ’n koevert voor sy anatomie te verskyn. (Met daardie spiere het hy inderdaad niks gehad om hom voor te skaam nie!) En volgens diegene wat vinnig ’n kleed oor hom gegooi het gedurende wegsnyskote, het hy inderdaad niks aangehad nie!

Ryan Gosling se uitstaande optrede toe hy “I am Ken” uit Barbie gesing het as ’n soort huldeblyk aan Marilyn Monroe se “Diamonds are a girl’s best friend”, was ’n hoogtepunt. Vergelyk ook die broodnodige Oscar vir 20 days in Mariupol uit Oekraïne wat die Oscar vir beste dokumentêr gewen het. Die welsprekende Oekraïense regisseur Mstyslav Chernov het gedurende sy pragtige toespraak ’n beheerste pleidooi vir die beëindiging van die Russiese inval en oorlog in sy vaderland gelewer, en dit betreur dat hy hierdie dokumentêr moes maak.

En daar was natuurlik protes teen die Israel-Hamas-konflik in ’n toespraak deur die regisseur van The zone of interest, Jonathan Glazer, en selfs Cillian Murphy, toe hy as beste akteur aangewys is vir Oppenheimer. Hy het sy Oscar aan die beëindiging van gewapende konflikte opgedra.

Nog ’n eerste was huldeblyke aan die spanne wat agter die skerms aan die benoemde rolprente gewerk het, asook ’n eerbetoon aan briljante waaghalse wat die onmoontlike regkry en hul lewens vir waaghalstoertjies waag.

Laastens is die Oscars tog steeds relevant, want die bedryf, die ateljees en die belangrikste rolspelers beskou dit nog as die mees verteenwoordigende en belangrike verering wat ’n kunstenaar kan kry. Amper ook die enigste wat hulle werklik erken.

Die Oscars is hier om te bly, en na die suksesvolle 96ste seremonie sal dit bes moontlik steeds van krag tot krag gaan.

Lees ook:

2024 se Golden Globes was rampspoedig

All of us strangers: ’n filmresensie

Killers of the flower moon: ’n filmresensie

Oppenheimer: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top