...........
’n Meesterlike film, maar nie almal mag saamstem nie.
..............
Oppenheimer
(Slegs in teaters)
Met Cillian Murphy en Emily Blunt
Regisseur: Christopher Nolan
Christopher Nolan se ode aan die vader van die atoombom, J Richard Oppenheimer, ontplof op die silwerdoek met die krag van twéé atoombomme. Die rolprent flits heen en weer, nes Oppenheimer se gedagtes, en oorweldig die kyker met oorverdowende klank, vuurwarm dialoog wat soos koeëls deur die atmosfeer trek, ’n byna bombastiese styl en genoeg elektrisiteit om ons vir maande van beurtkrag te verlos.
Vele kykers skop teë teen Nolan se hantering van hierdie lewensverhaal, en daar word hewige debat gevoer oor wat akkuraat is en watter insidente aangeplak word of verdigsels is. Maar verblydend: Gehore reageer ten minste. Hulle vergeet nie wat hulle pas meegemaak het wanneer hulle hul parkeerkaartjies betaal nie. Dit is moontlik die eerste keer sedert Barbie of selfs Asteroid City dat mense in hewige argumente beland oor iets anders as ons benarde politieke situasie.
Dit is een van die bewyse dat hierdie ’n goeie rolprent is, want, prys dit of verwerp dit, die rolprent lei tot reaksie.
Eintlik gaan Oppenheimer veral oor die geniale fisikus se hoed. Opmerklik dat hy een van die min karakters is wat ’n hoed dra in ’n era toe alle mans met hoede gespog het. Dit isoleer hom nie net visueel van die menigte koue wetenskaplikes wat hom omring of leegtap nie; dit skerm soms gedeeltes van sy gesig of oë af. Maar wanneer Nolan hierdie veelbesproke figuur in fokus kry, pen sy ysblou oë jou teen die muur vas.
Hier bewys Cillian Murphy dat hy ’n briljante akteur is, want die oë van Oppenheimer in die tonele uit sy jeug en op universiteit, en dié van die ontnugterde man wat voel dat hy later verraai is, verskil hemelsbreed. Daar is die Oppenheimer vóór die eerste atoombom ontplof, en die een nadat sy landgenote en kollegas die rug op hom gedraai het. Inderdaad sielsopenbarend.
Die oomblikke wat die meeste bespreking uitlok, is veral die kil sekstonele. Buitelandse kritici het opgemerk dat Nolan nie liefdestonele kan regisseer nie. Maar dit kan ook daarop dui dat Oppenheimer, wat inderdaad lief vir vroue en seks was, se brein hom nooit laat rus het nie. Selfs wanneer hy poedelkaal in ’n stoel sit en met sy eerste liefde, ’n uitstekende Florence Pugh as Jean Tatlock praat, is sy oë met gedagtes gelaai. Hier moes sy gewete reeds begin inskop het. Hy was op pad om die mens die krag te gee om homself te vernietig. Boonop kon die atmosfeer aan die brand geslaan het en die hele planeet vernietig het – kennis wat hy reeds vroeg met hom moes saamgedra het.
Nolan is veral dáármee behep. Met Oppenheimer wat aanvanklik ’n minderwaardige bleeksiel op skool en universiteit was, en hier steeds probeer het om homself te bewys. Sy triomf aan die einde van die rolprent was kortstondig, want sy kop en hart word uitmekaar geruk wanneer “sy” bom ontplof. Enersyds het hy regeringsopdragte uitgevoer, en andersyds homself en die mensdom “verraai”. Aan die einde is dit asof sy siel uit hom geval het.
Nolan se IMAX-kameras vier fees gedurende sy vertelling. Wetenskaplikes val mekaar aan, pluis geheime uit en herbedink formules wat die aarde kan vernietig. Amerika was steeds beletsel deur Japan se aanval op Pearl Harbor, want alhoewel die Tweede Wêreldoorlog kort voor die toetsontploffing geëindig het, het Japan steeds teen Amerika bly veg. Die keuse was onmenslik moeilik: Gooi twee atoombomme op Japannese stede en waarsku hulle dat nog op pad is, of erken dat Amerika sodoende duisende Amerikaanse lewens kon red, al word duisende onskuldige Japannese se lewens vernietig.
Niks in Oppenheimer maak staat op supersoniese rekenaargedrewe spesiale effekte nie. Nolan wou so ver moontlik van oëverblindery wegbly en sy effekte self vervaardig. Daarom dat baie kykers teleurgesteld is in die toneel waar die atoombom op Los Alamos in Nieu-Mexiko ontplof, omdat dit nie “groot genoeg” is nie. Dit uit dieselfde monde wat kla dat die klank te oordonderend is en dat hulle nie al die dialoog kan hoor nie.
Laasgenoemde is inderdaad waar. Jy moet jou ore spits om elke woord te hoor. Maar tussen al hierdie dramatiese tonele deur wentel die ander karakters soos besete planete om Oppenheimer se son. Spesifiek die verraderlike Atoomenergiekommissie-voorsitter, ’n byna onherkenbare Robert Downey jnr as Lewis Strauss, uiteindelik die bedrukte genie se achilleshiel.
Interessant dat Emily Blunt as Oppenheimer se vrou Kitty nie altyd genoeg tyd het om behoorlik as karakter te registreer nie. Tog het sy ’n dominerende teenwoordigheid wanneer Oppenheimer verhoor word vir kommunistiese verbintenisse. Maar interessant: Nolan fokus nooit in hierdie geval prominent op Kitty nie. Sy sit skuins agter Oppenheimer en is nie so duidelik soos hy belig nie. Sy sou altyd in sy skaduwee wees, maar tog die krag agter die man bly.
Nog ’n veelbesproke toneel (en baie kykers bevraagteken die waarheid hiervan) is die een waar Oppenheimer byna ’n senu-instorting as student gehad het en ’n appel vergiftig het wat sy toesighouer, Patrick Blackett, sou eet. Ironies dat die appel eintlik hier ’n metafoor word vir die appelvormige atoombom later, wat uiteindelik ’n sampioenvorm van gasse, hitte en stofwolke sou kry.
Nog ’n meesterlike toneel is die een waar ’n gehoor Oppenheimer toejuig nadat die bom ontplof het en hy vereer is. Die oorverdowende stamp van voete, wat reeds begin voordat hy op die verhoog verskyn, is soos masjienhartkloppe en tref jou met die krag van ’n voorhamer.
En dan die klimaks. Oppenheimer se ontmoeting met president Harry S Truman (’n onherkenbare Gary Oldman), waar hy verwag het die president gaan hom loof en prys. Maar hy maak die fout om te bely dat hy (Oppenheimer) bloed aan sy hande het. Dit was die spyker in die doodskis van sy loopbaan.
Uiteindelik wen politiek bo die wetenskap en menslikheid. (Daar is ’n toneel waar hy prewel: “Now I am become Death, the destroyer of worlds.” Hier word hy inderdaad met homself gekonfronteer. Oppenheimer word weer die bang, ontnugterde seuntjie wat almal se guns probeer wen en alles uiteindelik verloor.)
Sy lewe het ’n kringloop voltooi.
’n Meesterlike film, maar nie almal mag saamstem nie.



Kommentaar
Gisteraand hierdie meesterstuk in Nazaré, Portugal gekyk, drie ure solied vasgevang in die briljante weergawe van tragedie op tragedie.