
Bron: OpenClipart-Vectors op Pixabay
Dit maak bloot nie sin nie. Die swakste Golden Globe-toekennings in jare, wat wyd gekritiseer is as sonder persoonlikheid, en ’n verleentheid, se kykerstal het met 50% na 9,4 miljoen kykers vermeerder. Kan jy dit nou oorvertel? Verkies kykers werklik ’n lamlendige, hardhandige aanbieding, verveelde gaste wat duidelik voorgee hulle geniet die geleentheid wanneer die kamera op hulle rus, en goor, walgworsgrappe wat platter val as die padda wat gaan opsit het in die vlei nadat sy nooi hom afgesê het? Ook narsistiese, selfvoldane toesprake wat langer aangehou het as ’n verkiesingstoespraak? Regtig?
2024 se Golden Globes het probeer om hulleself ná baie kritiek uit vorige jare, te herontwerp. Maar die uitrustings (Margot Robbie! Naomi Watts! Jennifer Lawrence!) het meer waardering ontlok as die toekennings, wat maar redelik voorspelbaar was en weer eens die Oscars se kalklig gesteel het. Om nie te praat van toesprake wat soms herinner het aan ’n leerder wat onvoorbereid voor ’n klas babbel en al óm die onderwerp praat omdat hulle nie goed genoeg voorberei het nie. (“Die hond het my toespraak opgeëet!”)
Kom ons begin by die vreemdste keuse van aanbieder in die geskiedenis van die Globes, die komediant Jo Koy – veral sy openingstoespraak. Met absoluut bombastiese selfvertroue het hy die een blaps na die ander op mekaar gestapel. Bloosplesiertjies sluit in toe hy ’n verwysing na Taylor Swift se kêrel, die voetbalspeler Travis Kelce, gemaak het en verduidelik het dat die kamera gedurende ’n Kansas City Chiefs-voetbalwedstryd meer op die popster gekuier het as op die spelers.
Swift se gesig was sprekend van irritasie, ingehoue woede en verleentheid. ’n Glas wyn het tot haar redding gekom toe sy met ’n klipgesig ’n lang, la-a-ng kalmerende sluk wyn geneem het om haar humeur af te koel.
Maar steeds was dit ’t einde niet. Soos ’n amateur-buksie-boetie-spreker op ’n troue wat van vulgariteit na die banale oorslaan, het Koy erken dat hy nie al die benoemde programme gesien het nie! Hy het dit al wankelende, maar altyd met ’n kameraglimlag, probeer regstel, maar só lomp dat hy homself meer vasgepraat het as ’n wyfiespinnekop wat ’n vlieg in ’n spinnerak toespin. Meryl Streep se bebrilde gesig het boekdele gespreek.
En om dan nog vir Robert de Niro, wie se naam hy meer dikwels genoem het as wat prins Andrew ontken het dat hy by die Epstein-skandaal betrokke was, te vra hoe hy dit regkry om op 80 nog ’n kind te hê, het die gehoor aan goormaag laat ly. Maar soos met baie komediante gebeur wat die komediekluts vroeg kwytraak, het hy net aan- en aangehou.
Hy was daardie stout seuntjie langs die kindertafel by ’n gesofistikeerde bruilof wat al sy naïewe, onsnaakse uitlatings maak én herhaal, veral as niemand lag nie – moontlik uit desperaatheid. Maar die grieselrigste aanmerking het opgeduik toe hy grappenderwyse daarna verwys het (toe hy van Imelda Staunton se vertolking van koningin Elizabeth II in The Crown melding gemaak het) dat prins William haar geskakel het om geld te leen. Ag nee man!
En bekyk ’n bietjie die gehoor. Daar was meer oorblufte uitdrukkings en koppe wat vinnig na mekaar gedraai het met bitsige aanmerkings wanneer Koy blapse maak as toekennings. Dit is te betwyfel of hy na dese ooit weer in die openbaar sal kan verskyn, laat staan nog weer by die Globes sal optree.
...........
Die toekennings het min verrassings opgelewer. Oppenheimer het ’n welverdiende vyf toekennings gekry en die verrassend goeie TV-reekse Beef en The bear albei drie.
.............
Die toekennings het min verrassings opgelewer. Oppenheimer het ’n welverdiende vyf toekennings gekry en die verrassend goeie TV-reekse Beef en The bear albei drie.
Hollywood is natuurlik al gewoond aan akteurs wat bekroon word en dan skouerophalend verwaande, selfvertroetelende toesprake lewer oor hoe goed hulle is, soos Robert Downey jr wat as beste byspeler vir Oppenheimer bekroon is. Of soos Kieran Culkin wat gestamel en gepierewiet het soos ’n klein seuntjie wat ’n resitasie moet opsê en eintlik liewer bofbal met sy pelle wou speel.
Indien iemand moet tel hoeveel “uhs” daar gedurende, of veral vóór, toesprake voorgekom het, sou dit ’n langer monoloog tot gevolg hê as enigiets uit Oppenheimer. Voeg daarby Koy wat gevra het dat daar nog ’n uur by Oppenheimer gelas moet word, want hy wou nog langer sit. Die geniale Christopher Nolan se gesig, wat dikwels in die agtergrond van Koy voorgekom het, het bewys wat hy van hierdie petieterige uitlatings gedink het. Ook Martin Scorsese se strak reaksies en verveelde kyke na Koy moes deur sy rug gesteek het.
Dan het die Globes ook ’n verspotte en totaal onnodige toekenning bygevoeg: Cinematic and Box Office Achievement. Loketwenners steek nie alleen R1,4 miljard in hul sakke nie, Barbie en haar hele gevolg pak ook nog die rondeskinkbordverhogie vol om nóg ’n prys te verower met glimlagte so breed soos ’n aanloopbaan, al popelende. Dalk is dit toekennings soos hierdie wat die kykerstal ’n inspuiting gegee het. Maar dan word agt rolprente (ja, agt!) benoem met langer uittreksels as die ander rolprente of akteursbydraes.
...........
Soos in enige swak produksie word dit darem deur klein juweeltjies gebalanseer. Die pragtige Ayo Edebiri, wat so ’n fenomenale vertolking in die multibekroonde The bear op televisie lewer, was dankbaar dat mense darem haar e-posse beantwoord het! Dit gebeur nie dikwels in Hollywood nie.
..............
Soos in enige swak produksie word dit darem deur klein juweeltjies gebalanseer. Die pragtige Ayo Edebiri, wat so ’n fenomenale vertolking in die multibekroonde The bear op televisie lewer, was dankbaar dat mense darem haar e-posse beantwoord het! Dit gebeur nie dikwels in Hollywood nie.
Die briljante Jeremy Allen White (nog vars van die kontroversie dat hy nou Calvin Klein- onderbroeke ook bemark!) se toespraak het gespreek van dankbaarheid en nederigheid in dieselfde reeks. Dit was ook geen verrassing dat die wonderlike Lily Gladstone gewen het vir haar rol as die Osage-bruid in Killers of the flower moon nie. Sy het die Globe met elegansie en waardigheid aanvaar het en ’n pragtoespraak gelewer.
Hier is nog ’n paar byltjies wat geslyp moet word. Dikwels was die aanbieders bloot onbelangstellend nors en verwaand, soos Kevin Costner, wat ’n absolute verleentheid was toe hy dikbek en met ’n lang gesig op die verhoog verskyn het en in ’n monotoonstem onduidelike woorde uit die hoek van sy mond geprewel het. Sommige aanbieders het selfs nie altyd geweet waar om te staan nie, en moes deur iemand van die kameraspan beduie word waar om na die kamera te kyk.
............
Die Globes is gewoonlik ’n aanduiding van wat om gedurende die Oscars te verwag. Poor things, waarvoor Emma Stone ’n Globe ontvang het as beste aktrise in ’n komedie, en wat ons vanaf 19 Januarie sal sien, skyn ’n gunsteling te wees. Haar haastige toespraak omdat sy in ’n stadium nog net agtien sekondes oorgehad het, was ook in die kol.
..............
Die Globes is gewoonlik ’n aanduiding van wat om gedurende die Oscars te verwag. Poor things, waarvoor Emma Stone ’n Globe ontvang het as beste aktrise in ’n komedie, en wat ons vanaf 19 Januarie sal sien, skyn ’n gunsteling te wees. Haar haastige toespraak omdat sy in ’n stadium nog net agtien sekondes oorgehad het, was ook in die kol.
Praat van gesofistikeerd en elegant. Die regisseur van Oppenheimer, Christopher Nolan, se aanvaarding van sy prys is gekenmerk deur ’n flink toespraak waarin hy die regte mense bedank het en darem ook iets oor die rolprent kon sê. Dit wil gedoen wees tussen sommige aanbieders, soos die twee wat die toekenning vir die beste liedjie moes oorhandig, wat so gegiggel het vir mekaar se grappe, of dalk vir die lug wat hulle inasem, dat hulle beswaarlik die wenner se naam tussen lagbuie (waarvoor?) kon uitkry.
Cillian Murphy was ook ’n waardige wenner in die moeilike rol van die vader van die atoombom, terwyl die uitstekende Franse speurrolprent Anatomy of a fall twee pryse gewen het, waartydens die regisseur, Justine Triet, erken het dat sy dankbaar is dat sy en haar vriend (Arthur Harari) die draaiboek na maande van opsluiting kon voltooi sonder dat iemand dood is. Sy het selfs die hond Snoop, wat nogal ’n belangrike rol in die rolprent speel, bedank! Dit is ironies dat hierdie rolprent nié Frankryk se amptelike inskrywing vir die Oscars is nie.
Om ’n gasheer te nooi wat gedurig verskoning vra, vulgêre grappe oor poppe maak en die (verveelde) gaste eintlik beledig, is kenmerkend van die verleentheid wat die Golden Globes was. Uiteindelik wonder ’n mens weer: Het die Globes nog ’n bestaansreg?
Volgens die Indiewire-webtuiste het Helen Mirren en Harrison Ford erken dat hulle “gemaak het asof hulle die Globes geniet”. Dit geld seker vir almal om die tafels, behalwe ’n smoorverliefde Timothée Chalamet en sy meisie Kylie Jenner, wat meer na mekaar gekyk het as na wie die pryse gewen het.
Daar bly nog vele insidente oor om oor mond uit te spoel. Maar wat help dit? Volgende jaar is hulle terug, hopelik met ’n beter aanbieder.
Hoeveel keer het jy gaan koffie maak gedurende die uitsending?

