Killers of the flower moon: ’n filmresensie

  • 0

Erkenning: YouTube

Killers of the flower moon
Met Leonardo DiCaprio en Robert de Niro

Regisseur: Martin Scorsese

In hierdie meesterlike belydenis van ou Amerikaanse sondes ontbloot Martin Scorsese namens die slagoffers van die Osage-moorde ’n verskeurde Amerikaanse hart in drie en ’n half uur.

Die feite, wat nou welbekend is, is tot dusver verdoesel. En terwyl Prins Charles onlangs in Kenia erken het dat daar erge skendings van menseregte was toe die Britte hierdie Afrika-land destyds (60 jaar gelede) geannekseer het, net so tob Scorsese oor ’n volk op wie se grond daar ’n eeu gelede olie ontdek is en hoe gierige Amerikaanse kapitalisme en hebsug tot verskeie moorde gelei het.

Die ergste is dat daar nooit werklik opgeteken is hoeveel mense met hul lewens betaal het sodat despote soos William Hale (’n briljante Robert de Niro) die erfgenaam van hul rykdom kon word nie. Hale gebruik ’n neef indirek daarvoor, Leonardo DiCaprio as Ernest Burkhart. Die ware tragedie vind egter plaas wanneer Ernest op ’n weerlose dog sterk Osage-vrou verlief raak en met haar trou.

Maar hebsug en ’n slaafse gehoorsaamheid aan ’n wreedaard lei amper hier ook tot ’n tragedie en sekerlik ’n diep skeur in Burkhart. Soos die Osage-volk in stadige beweging uitbundig in die olie ronddans wat soos inkswart konfetti oor hul reën, (eggo’s van Giant [1956] destyds, asook There will be blood [2007]), net so word daar later begrafnis gehou wanneer hierdie einste mense met hul lewens betaal om die Amerikaners wat daar kom plak het, te verryk.

Scorsese vertel sy storie tydsaam. Anders as so baie ander rolprente wat deesdae in snelle montage-skote teen duiselingwekkende spoed voortjaag om by die kruks van die saak uit te kom en dan dit “op te los”, vertoef Scorsese, soos Ingmar Bergman in Persona (1966) en Cries and whispers (1972), deurgaans op gesigte.

........
Gladstone gaan gewis ’n Oscar-benoeming kry vir ’n rol waarin sy min sê, maar deur wie se gesig ’n volk se tragedie vertel word. Haar oë weerspieël die tragedie.
........

Hier lewer Lily Gladstone as Mollie wat op Ernest verlief raak, ’n manjifieke vertolking. Al is dit ’n cliché: Die regte skoot of beeld (of dan “prentjie”), sonder woorde, spreek meer as honderde nuttelose woorde. Die wyse waarop sy Ernest aanvanklik geamuseerd uitkyk, daarna versag wanneer sy op hom verlief raak en uiteindelik gebroke na hom staar op die rand van die dood is onvergeetlik. Op ’n stil, bedaarde dog stil-woedende manier spreek hierdie skote van hartseer oor ’n gruwelike onreg. Gladstone gaan gewis ’n Oscar-benoeming kry vir ’n rol waarin sy min sê, maar deur wie se gesig ’n volk se tragedie vertel word. Haar oë weerspieël die tragedie.

Scorsese se kamera huiwer op die uitgestrekte, eensame en verlate landskap. ’n Verdorde stuk grond wat niemand aanvanklik wou hê nie, maar wat nou miljoene werd geword het. DiCaprio se gesig en die landskap word later een. Nes die permanente frons op sy gesig en sy aanvanklik verwarde oë, lê die landskap soos ’n aanklag voor die kamera. En wys die verwarring en later verskeurdheid op Ernest (DiCaprio) se gesig.

Een van die tonele is sprekend van Ernest se swakkelingskap en William Hale se vasberade patriargale gesag. Wanneer Ernest nie sy oom gehoorsaam nie, gee Hale hom ’n loesing met ’n plak wat Ernest dor van pyn en skok en vernedering laat uitroep. Maar Hale babbel sy nuttelose, selfsugtige predikings oor gehoorsaamheid en onderwerping aan gesag uit asof op auto pilot, terwyl Ernest op sy maag lê in groteske vernedering en pyn.

Hierdie toneel bevestig dat hy sy oom tot die dood sal gehoorsaam.

........
Moenie dat die lang speeltyd van die rolprent ’n rol speel in jou besluit om Killers of the flower moon te gaan beleef nie.  ’n Belydenis en die uitstorting van hartseer, skuld en skok huiwer in elke skoot.
........

Sonder om verder te veel te verklap, is die latere tonele tussen Mollie en Ernest skrynend. Sy raak dodelik siek en Ernest “versorg” haar. Sy gesig spreek van skuld en indirek boetedoening met sy liefde vir sy vrou – ’n emosie wat hom teister. En haar gesig is ’n storie wat hulpeloosheid ontmasker omdat sy (moontlik) die onnoembare vermoed.

Moenie dat die lang speeltyd van die rolprent ’n rol speel in jou besluit om Killers of the flower moon te gaan beleef nie. ’n Belydenis en die uitstorting van hartseer, skuld en skok huiwer in elke skoot. Wanneer daar melancholiese komedie is, voel dit of die kyker met lemmetjies tussen die lippe glimlag. Want aanhef lê voor en die waarheid is erger as wat enigiemand vermoed.

.......
Jy moet verdwerg raak deur ’n reuseskerm om werklik geraak te word deur die intieme gruwelstorie wat voor jou afspeel.
.......

’n Briljante rolprent. Met gehore wat in ’n toenemende mate van teaters wegbly ten koste van reuse-televisieskerms, is Oppenheimer en Killers of the flower moon amper ’n soort grafskrif vir die krag van ’n rolprent op die wyedoek. Jy moet verdwerg raak deur ’n reuseskerm om werklik geraak te word deur die intieme gruwelstorie wat voor jou afspeel.

’n Uitmergelende maar broodnodige ervaring. Ook oor die pad wat rolprenteposse soos hierdie een deesdae volg. Graf toe? Laaste dapper stuiptrekkings, veral wanneer jy talle mense hoor spog dat “ons jare laas in ’n teater was” asof dit ’n prestasie is. Wie weet? Net die tyd sal leer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top