In sy LitNet Akademies-artikel
Nostalgie is dikwels ’n roosbesaaide ontsnaproete uit ’n werklikheid van ontnugtering, frustrasie en reddeloosheid, veral in die moderne samelewing, waar daar maar min hoop op ’n beter toekoms is. Daarom word mense in ’n toenemende mate aangetrek deur “die goeie ou dae” in veral rolprente. Dit is simptomaties van die tye waarin ons lewe. Maar daar moet ook onthou word dat nostalgie dikwels gepaard gaan met persoonlike voorkeure of jeugherinneringe waarin die fliekganger nog verknog is en iets onthou soos hulle graag wil.
’n Kyker mymer onlangs: “Ek is gek oor Ballade vir ’n enkeling, want dit speel af in ’n tyd toe daar nog treine en stasies was”, terwyl hy “Tussen treine” hartseer en uit sy hart sing. Ja. Hoe het tye verander, en die rolprent bied ’n mate van tydelike troos. Pleister op ’n besmette emosionele wond wat nie meer kan genees nie.
’n Voorbeeld van ’n teruggryp na ’n ongeïnhibeerde lewenspatroon en kuifkoponskuld is Stand by me (1986) wat in 1959 afspeel, gegrond op die kortverhaal “The body”. Hierin ontdek vier beste vriende ’n lyk en kom vir die eerste keer in aanraking met die dood. Stephen King was onbeskaamd nostalgies oor ’n tyd toe vriendskap nog nie besoedel is deur die ondraaglike gewig van die werklikheid nie.
Maar die skok het die seuns oornag laat grootword en het selfs vriendskappe aangeraak.
Die regisseur, Rob Reiner, het erken dat Stephen King só nostalgies en hartseer was toe hy die rolprent die eerste keer gesien het dat hy emosioneel geraak het en die voorvertoningsteater vinnig verlaat het. Met sy terugkoms het King erken dat dit die beste weergawe van een van sy werke was wat hy nog gesien het, en dat dit tere nostalgiese herinneringe aan sy kinderdae teruggebring het. Dit van die man wat ’n bestaan uit gruwels gemaak het. Die paradoks kinderlike onskuld teenoor die gruwelwerklikheid sou daarna dikwels in sy werk, soos in It, voorkom.
Vriendskappe kom en gaan en is dikwels seisoenaal. Die terugverlang na plekke soos die romantiese swemgat in The kings of summer (2013) verglans lokaliteite dikwels. ’n Doodgewone poel water in die film en Stand by me is snelskrif vir ’n kindersprokieswêreld met onbedorwe herinneringe. Ballade vir ’n enkeling (1987) is ook ’n voorbeeld.
Dié ver-beelding word ’n metafoor vir ’n vergete, ongekompliseerde tyd toe die waarnemer nog onaangeraak was deur die magtige verantwoordelikheid van volwassenheid. “O. Ek dog jy sê jy kan nie wag om groot te word nie,” herinner ouers hul kinders dikwels wanneer die spruite noodgedwonge by hulle aan huis moet intrek om kop bo water te hou.
Verdere voorbeelde van die troetelkombersie van die verlede is mense se beheptheid met “ouer rolprente” soos dié van Carfo (Christelike Afrikaanse Rolprent en Fotografie Organisasie) wat sedelessies deur middel van film probeer leer het en streng morele waardes voorgestaan het. Iets wat deesdae glad nie meer, veral in Afrikaanse rolprente, voorkom nie.
Dikwels word ek oorval met navrae na gunstelinge soos Bennie Boet, Die hele dorp weet, Gee my jou hand en Ridder van die grootpad. Om nie te praat van Jamie Uys se goedige komedies nie. Enige seksualiteit of morele verval is streng veroordeel en het veral ouer gehore teruggeneem na ’n tyd toe Pa se woord wet was en die kerk die oplossing vir morele verval gehad het. Vandag word morele verval as alledaags en selfs komies uitgebeeld, wat sommige gehore permanent van moderne rolprente vervreem.
In produkte soos die Carfo-films en Pierre de Wet se volkskomedies soos Hier’s ons weer (1949) asook Piet se tante (1959) word die lewe en sy struikelblokke oorvereenvoudig, vermom as komedie en geïdealiseer. Daar was toe geen elektriese heinings nie, kinders kon veilig ná donker op straat speel, en die daaglikse bedrywighede op ’n plaas is as idillies en utopies uitgebeeld in veral die radioverhale Die geheim van Nantes (en die rolprent) en Die indringer.
Vandag kry ’n mens die indruk dat jy jou lewe waag bloot deur stil te hou om ’n plaashek oop te maak. Maar destyds was die plaas die bakermat van ’n hegte gesin waar Pa se grootseun eendag die tradisies sou voortsit en vriendskappe, buurmanskap en veiligheid geheers het. Vandag boer daardie einste grootseuns in die buiteland agter lessenaars, die ouers dikwels vergete. In ’n Man soos my pa (2015) het Sean Else hierdie tema aangeraak. Die kloof tussen moderne seun en “outydse” pa.
Nostalgie behels ook dat kykers iets onthou soos dit vir hulle gerieflik is. Mense sal dikwels nostalgies onthou hoe dit gevoel het om Louis Wiesner se In die lente van ons liefde (1967) die eerste keer as tieners te sien. Hier is die studentelewe op Stellenbosch so versuiker en baldadig versier dat dit vandag ongelukkig komies voorkom. En is veral ontgroening so verromantiseer dat onlangse koerantopskrifte oor dieselfde onderwerpe na iets uit George Orwell of Kafka klink.
Interessant dat toe ek hierdie rolprent destyds in Daar doer in die fliek gekritiseer het, mense woedend gereageer het omdat ek “ons volksverlede so geminag het”. Maar regtig. Selfs in die sestigerjare moes baie mense die werklikheid agter hierdie mymerende verromantisering besef het en dalk hul eie onskuld onthou het toe hulle die rolprent die eerste keer bywoon. Eerste indrukke is blywende indrukke wat net die werklikheid kan besoedel, en selfs dan wil fliekgangers nie aan hul herinneringe getorring hê nie.
Kyk vandag weer daarna, en dit word duidelik dat die kykersperspektief heeltemal verander het. Mense het natuurlik, selfs onbewustelik, meer rolprentgeletterd geword. “Ek kan nie glo dat Love story of Debbie my so laat huil het nie. Sien ek dit nou, kan ek my lag nie bedwing nie,” bely ’n vriendin onlangs. “Wat het intussen met my gebeur?” Sy het grootgeword.
Tekenend van hierdie neiging tot ’n terugkeer na ’n tydperk van onskuld en heerlike onkunde is die Netflix-trefferreeks One day. Alhoewel onewe, is die konsep, gegrond op ’n roman, baie slim, en gooi dit die veld wyd oop vir diegene wat die ontdekking van eerste liefde met deernis vertroetel, en dan ontnugter word. Nostalgie akkommodeer nie ontnugtering nie.
Die reeks handel oor ’n onpaar paar, gespeel deur die briljante Ambika Mod as ’n meisie wat haar tyd ver vooruit was, en ’n prikkelprinsie, Dexter, in die gedaante van Leo Woodall. Die toertjie wat die narratief na sukses dryf, is dat die dag 15 Julie 1988 tot in 2007 voer en episodies herbesoek. Die romantiese operasie plaas die plek waar die karakters hulle jaarliks op daardie datum bevind, onder die skalpel. Terugskouend wemel dit van ironie, retro-estetika en utopiese drome.
Die uitstekende herskep van periode speel ’n toonaangewende rol. Treffers uit daardie jare, wulpse modes, die tyd toe vrye liefde geseëvier het; huise – veral kombuise – was die teelaarde van ontluikende verhoudings, en veilige strate met antieke motors uit elke era verf die herinneringe pienk. Dit is Barbie (2023) op steroïede. Ook die taalgebruik word nie deur te veel f-bomme getref nie.
Kykers verplaas hulleself na ’n tydperk tussen adolessensie en volwassenheid, en herken die foute wat hulle met ’n glimlag en ’n tongsoen gemaak het. Toe dit lekker was om jonk, mal en verlief te wees en boonop aan ’n heerlike liefdesbabelas te ly. Want wat, vra die reeks, is prettiger as om, na die eerste idilliese sekservaring, wakker te word langs ’n volmaakte liggaam, te onthou wat gebeur het, en te glo romanse is vir ewig?
Elke herinnering maak die liefdesoomblik net fraaier en herskep dit telkens in ’n ander gedaante. (Dit was soms op die agterste sitplek van ’n Vedette waar motorvere in die minnaars se rug gesteek het!) Maar kies hoe hulle gebeure onthou en stofsuig dan enige negatiwiteit wat waag om in te kruip.
In die reeks word onmoontlike drome dikwels in openhartige gesprekke vol jeugdige voortvarendheid vergestalt. Hulle filosofeer en idealiseer telkens. Tog vlek sinisme en neurose, soos die protagoniste nuwe perspektief deur die jare kry, gereeld oor daardie drome. Wys die reeks hoe volwasse die siniese meisie dit hanteer, en die jong man wat sy pad aanvanklik loslyf, hemploos en met ’n parmantige kuifie deur die lewe slaap (ook op seksuele gebied), gaandeweg op die harde manier met die werklikheid kennis maak. Maar die dag herskep die nostalgie iewers diep in hul gemoedere.
Tekenend van hul verwarring en sy domastrantheid is die episode waar hulle in ’n doolhof in ’n tuin verdwaal. Dit dien as metafoor vir die doodloopstrate waarin hulle hul al dikwels bevind het met argumente oor hul liefde wat soos ’n klimtol op en af beweeg maar nooit tot die punt kom nie.
Elke episode sidder van nostalgie. Dit kyk na ’n ongekompliseerde tyd toe Lucky Strikes kamtig nie tot longkanker gelei het nie, en om kelnerin te speel die ideale manier was om ander jonges te ontmoet en klante te sjarmeer vir fooitjies en later katelkaskenades.
En dit is wat die reeks regkry. Om elke ontmoeting, elke gesprek, elke ligsinnige oomblik te ontleed en hul verhouding na ’n onafwendbare tragedie (skeiding?) te laat ontwikkel.
Dit is ook hoekom verhoogstukke soos The sound of music tans soveel mense trek. Vergelyk die uitbeelding van die mak Nazi’s daarin, sodat dit nie die prentjiemooi storie te veel moet ontsier nie, met die gruwelike waarheid van The zone of interest (2023), waarin die hoof van die Auschwitz-konsentrasiekamp se huis aan die kamp grens. Daardie rolprent wys hoe die doodgewone Duitse gesin rustig voortgaan met hul daaglikse aktiwiteite in ’n huis volgepak met nostalgiese volksvererende herinneringe. Maar dit dien eintlik as ’n skans teen die gruwelike werklikheid wat skaars twee meter van hulle voordeur af plaasvind. Die doodsgille word slegs gehoor, maar die regisseur loer nooit oor die muur nie.
Hedendaagse donker komedies negeer nostalgie en beweeg na die ander uiterste waar gebeure dikwels banaal uitdagend en vuilbekkig is. “Dis realisties” en “dis hoe mense vandag praat” word heel verstaanbaar aangevoer. Maar as teenreaksie vlug al hoe meer kykers weer terug na “goeie, outydse” romantiese komedies oor onskuld. Of herbesoek doodgewone oppervlakkige melodramas waar die werklikheid geen krakie of skeur kry om deur te glip nie.
Sommige kykers dink selfs met nostalgie terug aan die naïewe “gewaagdheid” van Lipstiek dipstiek (1994), waar onskuld afgemaak en baldadig gestereotipeer is. Vergelyk dit met vandag se realistiese komedieslagveld (Trompoppie, Wyfie, Koek) wat nie ’n katspoegie se nostalgie sal akkommodeer nie. Van die een uiterste na die ander. Want dit weerspieël vandag se wrede, ontnugterde samelewing met ’n grynslag.
Dit blyk dat ons kan oorleef net deur vir wreedheid en argelose skoueroptrekkery deur lemmetjies tussen die lippe te kan lag. Want daar het min van ons land oorgebly. Soos in die Auschwitz-rolprent funksioneer die gruwelike waarheid en vrolike nostalgie vlak langs mekaar. Maak die een die ander meer draaglik.
Gelukkige verhoed ’n elektriese heining ons om, vir ons eie emosionele veiligheid, oor die muur te loer.
Lees ook in LitNet Akademies:
Oor nostalgie (en retro-estetika): ikonografie in film – Deel 1
Nostalgie as sosiale konstruk in advertensies in die Suid-Afrikaanse tydskrifmark
’n Ontleding van nostalgiegedrewe advertensies in Suid-Afrikaanse tydskrifte
Lees ook op LitNet:
"O moenie huil nie, o moenie treur nie": Nostalgie in tydskrifadvertensies

