Sosialemedia-wetgewing: verskansing, foltering of verheffing?

  • 0

Foto: Canva

  • Coert Mommsen is ’n afgetrede kliniese sielkundige van Potchefstroom.

Australië het onlangs drastiese wetgewing aangekondig wat individue onder 16 jaar ten opsigte van mediagebruik verbied. Bobby Allyn, die skrywer van ’n artikel hieroor, getiteld “How will Australia’s under-16 social media ban work?” (2024), skryf: “Australië het verlede maand een van die strengste internetonderdrukkings ter wêreld ingestel, wat kinders onder 16 verbied om op sosiale media te wees of nuwe rekeninge te open.”

Hy gaan voort: “Die wet, wat ’n jaar van nou af in werking tree, hou sosiale media-maatskappye daarvoor verantwoordelik om kinders se ouderdomme te verifieer. As hulle nie daaraan voldoen nie, kan dit boetes van tot byna $50 miljoen tot gevolg hê” (Allyn 2024). 

Individuele opinies oor dié stap verskil drasties. Mens kan maar rondom jou vra. Donald Trump het kort na sy inhuldiging TikTok heroopgestel en waarskynlik toepassers van die verbod hierop en ander media twee keer laat dink.

............
Daar is verskeie redes waarom ’n verbod op kommunikasie (insluitend selfoonkontak) met omsigtigheid hanteer behoort te word.
..............

Daar is verskeie redes waarom ’n verbod op kommunikasie (insluitend selfoonkontak) met omsigtigheid hanteer behoort te word. Enkele faktore wat in aanmerking (ook vanuit ’n sielkundige oogpunt) geneem behoort te word, is die volgende:

Die sfeer waarin die mens in die moderne wêreld leef, is eintlik een van beperkte fisieke kontak. Soms gee ons drukkies, soms ’n handdruk, soms het ons fisieke kontak gedurende sport. Die kontak wat ons (ná babatyd) met ander het, is eintlik verbaal-kognitief en visueel. Ons maak oogkontak, praat met mekaar, kyk na mekaar, kyk na ander, kyk televisie, kyk na prente. In die klas en die werkplek luister en praat ons, dóén ons soms, maar kyk, luister en praat ons merendeels. Dus is ons kerninteraksionele gedrag verbaal en visueel eerder as fisiek en is dié interaksies altyd gekoppel aan ’n gewaarwording of sensasies, stemminge en allerlei emosies – almal subjektief en soms gemeenskaplik.

Die visuele en verbale aard van die menslike kommunikasie- (insluitend mediakommunikasie-) proses is een rede waarom kommunikasie tussen mense só belangrik is. Beskou mens die neurologiese samestelling / bou van die menslike brein, kan dit as een uitgangspunt ter ondersteuning dien. Die menslike sensoriese homunkulus gee ’n vergelykende visuele voorstelling van die omvang van daardie fisiologiese gedeeltes wat spesifieke sensoriese funksies beheer. Die illustrasie gee ’n idee van die verhouding tussen areas wat onder meer die menslike tong en lippe verteenwoordig, in vergelyking met ander organe van die liggaam (Penfield en Rasmussen 1950). 

Alhoewel mens nie net uit sensoriese groottes afleidings kan maak ten opsigte van kortikale funksies nie, kan die volgende kortikale funksionering-persentasies in terme van visuele, gehoor- en tongspier-aktiwiteite belangrik wees:

Visuele aktiwiteite

Primêre visuele korteks: Ongeveer 10–15% van die brein se neurale weefsel is toegewy aan die primêre visuele korteks, wat basiese visuele inligting van die oë ontvang en verwerk.

Sekondêre en tersiêre visuele areas: ’n Bykomende 10–15% van die brein se neurale weefsel is betrokke by hoërvlak- visuele verwerking, insluitend areas soos die laterale oksipitale kompleks, die fusiform girus en die intrapariёtale sulkus.

Geassosieerde kognitiewe prosesse: Ander kognitiewe prosesse wat nou gekoppel is aan visuele persepsie, soos aandag, ruimtelike bewustheid en geheue, kan ’n bykomende 10–20% van die brein se neurale weefsel behels (Meta AI Assistant, 22 Januarie 2025). 

Gehooraktiwiteite

Navorsing dui daarop dat ongeveer 20–25% van die brein se kortikale aktiwiteit direk betrokke is by die verwerking van ouditiewe inligting, insluitend gehoor. 

Primêre ouditiewe korteks: Ongeveer 10–15% van kortikale aktiwiteit word gewy aan die primêre ouditiewe korteks, wat basiese ouditiewe inligting verwerk.

Sekondêre en tersiêre ouditiewe areas: ’n Bykomende 5–10% van kortikale aktiwiteit is betrokke by hoërvlak- ouditiewe prosessering, insluitend areas soos die ouditiewe assosiasie-korteks en die planum temporale. 

Aktiwiteite van die tong en tongspier:

Ongeveer 5–7% van die brein se neurale weefsel is direk betrokke by die beheer van die tong se bewegings, insluitend:

  1. Die motoriese korteks: Die primêre motoriese korteks, spesifiek die area wat verantwoordelik is vir die beheer van gesig- en mondbewegings, beslaan ’n beduidende deel van die brein.
  2. Die serebellum: Die serebellum, wat motoriese bewegings koördineer, insluitend dié van die tong, dra ook tot hierdie skatting by.
  3. Die breinstam: Die breinstam, veral die kerne wat verantwoordelik is vir die beheer van kraniale senuwees, insluitend die hipoglossale senuwee (wat tongbewegings beheer), dra by tot hierdie persentasie (Meta AI Assistant, 22 Januarie 2025).

Dit is dus duidelik dat die mens se fundamentele tas- en kortikale funksies geskik en saamgestel is vir veral verbale, visuele en gehooraktiwiteite. Hierdie funksies speel ook ’n groot rol in kommunikasie (mens tot mens en mens tot mens deur middel van media).

..........
Dit is dus duidelik dat die mens se fundamentele tas- en kortikale funksies geskik en saamgestel is vir veral verbale, visuele en gehooraktiwiteite. Hierdie funksies speel ook ’n groot rol in kommunikasie (mens tot mens en mens tot mens deur middel van media).
............

Dit is ook belangrik om te weet watter persoonlikheids- en behoefte-elemente ’n rol speel by die konatiewe (gedrags-) aspek van kommunikasie. 

(Dit moet in gedagte gehou word dat mens tot mens-kommunikasie deur middel van die media en enige ander metode van wesenlike belang is. Elke gesprek / selfoonoproep / mediaskakeling kan nie as net ’n “oproepie” beskou word nie, maar vervul ’n besondere behoefte wat vir die oproeper ’n besondere betekenis, verwagtings en gevolge het.) 

............
Kommunikasie tussen mense of bronne kan nie summier afgesny word nie. Dít kan slegte en soms tragiese gevolge hê.
............

Kommunikasie tussen mense of bronne kan nie summier afgesny word nie. Dít kan slegte en soms tragiese gevolge hê.

 “’n Verbod op sosiale media en ernstige beperkings is ’n rigiede, ondoeltreffende reaksie op ontwikkelende kwessies wat deurlopende evaluering regverdig. ’n Sosiale media-verbod inhibeer adolessente se psigososiale behoeftes deur adolessente van ’n bron van betekenisvolle verbintenis te weerhou sonder om ’n waardevolle alternatief te bied. Streng sosiale media-beperkings en -verbod vir adolessente het verskeie negatiewe gevolge gehad, soos die ontlokking van gevoelens van isolasie, rebellie teen gesag en die verswakking van digitale geletterdheidsvaardighede” (McAlistaer, Beatty, Caswell, Yourell en Huberty 2024). Spesifieke behoeftes gedurende bepaalde lewenstadia moet in ag geneem word by die beheer van kommunikasie tussen veral tienerjariges. 

In hul artikel, getiteld “Basic psychological needs, physical self-concept, and physical activity among adolescents: autonomy in focus” (Fraguela-Vale, Varela-Garotte, Carretero-García en Peralbo 2020:1), gee die outeurs die volgende beskrywing van adolessensie: “Adolessensie is ’n tydperk van oorgang tussen kinderjare en volwassenheid wanneer die invloed van die gesin begin vervaag en die portuurgroep oorneem as die belangrikste sosialiseringskrag in ’n jong mens se lewe.”

Die bekende webwerf PsychCentral gee ’n samevatting van vier belangrike veranderinge tydens adolessensie. Dié heet: “Stand out” (identiteits- en outonomiteitsontwikkeling); “Fit in” (inpas, of soeke na ’n portuurgroep en om goedkeuring van die portuurgroep te ontvang); “Measure up” (ontwikkeling van bevoegdheid en die soeke na maniere om uitdagings te vermag); en “Take hold” (verbintenisse tot spesifieke doelwitte, aktiwiteite en oortuigings maak) (Fishman 2023).

PsychCentral gee die volgende uiteensetting met betrekking tot die inpas- (“Fit in”-) behoefte van adolessente:

In hierdie stadium van ontwikkeling word vriende al hoe belangriker. ’n Adolessent se portuurgroep:

  • (geniet) prioriteit bo gesinsverhoudings; 
  • moet sterker en meer kompleks word;
  • kan ’n veilige hawe word om nuwe idees te deel;
  • bestaan uit nie-romantiese vriendskappe;
  • brei uit om romantiese verhoudings in die middel van adolessensie in te sluit.

Groot fisieke, sosiale en emosionele verandering vind ook in hierdie tyd plaas. Tieners word meer bewus van hul liggaam en ervaar meer groepsdruk (Fishman 2023).

Die belangrikheid van uitreik na ander, asook na buite, vir die adolessent blyk duidelik uit voorafgaande.

In ’n PubMed Central-artikel deur McAlistaer et al (2024) skryf die outeurs die volgende aangaande adolessente en die media: 

“Adolessente ervaar verskeie voordele uit sosiale media, insluitend verhoogde sosiale konneksie, verminderde eensaamheid en ’n veilige ruimte vir gemarginaliseerde groepe (byvoorbeeld LGBTQ+) om interaksie te hê. Eerder as om verbiedinge en ernstige beperkings af te dwing, moet emosieregulering aangewend word om adolessente te help om die digitale, sosiale omgewing te navigeer/stuur.”

In ’n artikel, getiteld “What countries do to regulate children’s social media access” (Reuters 2024), bespreek die outeurs verskeie entiteite se hantering van mediaregulering.

Brittanje: Die minister van digitale sake (digital minister) sê dat alles gereed is om mense aanlyn veilig te hou en het ’n studie van stapel gestuur om die trefkrag van slimfone en sosiale media in die besonder te ondersoek.

Frankryk: Frankryk het ’n wet aangeneem wat vereis dat sosiale platforms ouerlike toestemming verkry vir minderjariges onder 15 om rekeninge te skep.

Duitsland: Amptelik word minderjariges tussen die ouderdomme van 13 en 16 toegelaat om sosiale media te gebruik slegs as hul ouers toestemming daartoe gee. Daar is tans geen planne om dit verder te voer nie.

België: In 2018 het België ’n wet ingestel wat vereis dat kinders minstens 13 jaar oud moet wees om ’n sosiale media-rekening sonder ouertoestemming te skep.

Italië: In Italië het kinders onder die ouderdom van 14 ouertoestemming nodig om vir sosiale media-rekeninge aan te meld, terwyl geen toestemming bo daardie ouderdom vereis word nie.

Nederland: Terwyl Nederland geen wette het oor ’n minimum ouderdom vir sosiale media-gebruik nie, het die regering wel mobiele toestelle in klaskamers vanaf Januarie 2024 verbied om afleidings te verminder. Uitsonderings geld vir digitale lesse, mediese behoeftes of gestremdhede.

...........
Baie kinders, sowel as volwassenes, het toegang tot die internet en selfone en het aan die gebruik hiervan gewoond geraak, en navorsing dui op positiewe veranderinge wat dit tot gevolg het.
..............

Baie kinders, sowel as volwassenes, het toegang tot die internet en selfone en het aan die gebruik hiervan gewoond geraak, en navorsing dui op positiewe veranderinge wat dit tot gevolg het. In ’n studie deur Andrew Przybylski, hoogleraar in menslike gedrag en tegnologie aan Oxford, is gevind dat funksionele konnektiwiteit (die manier waarop verskillende gedeeltes van die brein met mekaar kommunikeer) tussen breingedeeltes nie deur skermtyd benadeel word nie. Die ondersoek het ook geen negatiewe invloed gehad op die proefpersone (12 000 kinders van 9–12 jaar) se self-vermelde welvarendheid nie (Fleming 2025).

Przybylski (in Fleming 2025) beklemtoon ook die belangrikheid van empiriese navorsing ten opsigte van die invloed van moderne kommunikasietegnologie: “As jy ’n studie publiseer soos ons, waar ons noulettende en akkurate navorsing doen, ons ons hipoteses stel voordat ons die data sien en ons die data en die kode deel, toon daardie tipe studies nie die negatiewe gevolge wat ons verwag om te sien nie.”

.........
Elke gebruik van die internet of selfoon skep daagliks / uurliks vir die gebruiker kommunikasienetwerke en kontakte. Sulke netwerke is ’n lewende werklikheid vir elke gebruiker en hulle is noodwendig psigologies hieraan gebind.
...........

Elke gebruik van die internet of selfoon skep daagliks / uurliks vir die gebruiker kommunikasienetwerke en kontakte. Sulke netwerke is ’n lewende werklikheid vir elke gebruiker en hulle is noodwendig psigologies hieraan gebind. Die onderhoud en beskerming van hierdie gebondenheid is uiters belangrik en moet ten alle koste beskerm word. In dié opsig moet daar met sorg na die behoeftes van adolessente gekyk word. 

Wetmakers en gesaghebbendes moet hul vergewis van alle fasette van menslike behoeftes en eers ná deeglike voorbereidingswerk, navorsing en konsultasie besluite hieroor neem. Vooraf konsultasie met kenners gedurende beplanning van reëls, regulasies en wetgewing kan help om die belange van die gebruikers te beskerm en te verseker.

Bronne

Allyn, B. 2024. Hoe sal Australië se onder-16-sosiale media-verbod werk? NPR. https://www.npr.org/2024/12/19/nx-s1-5231020/australia-top-regulator-kid  (Februarie 2025 geraadpleeg).

Fishman, S. 2023. Understanding adolescent development. PsychCentral. https://psychcentral.com/health/psychology-of-teenagers-101 (Februarie 2025 geraadpleeg).

Fleming, A. 2025. All in the mind? The surprising truth about brain rot. The Guardian. https://www.theguardian.com/lifeandstyle/2025/jan/29/all-in-the-mind-the-surprising-truth-about-brain-rot (Februarie 2025 geraadpleeg).

Fraguela-Vale, R., L. Varela-Garotte, M. Carretero-Garcia en E.M. Peralbo-Rubio. 2020. Basic psychological needs, physical self-concept, and physical activity among adolescents: autonomy in focus. Frontiers. https://www.frontiersin.org/journals/psychology/articles/10.3389/fpsyg.2020.00491/full (Februarie 2025 geraadpleeg).

McAlistaer, K.L., C.C. Beatty, J.E.S. Caswell, J.L. Yourell en J.L. Huberty. 2024. Social media use in adolescents: bans, benefits, and emotion regulation behaviors. PMC. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/pmc11554337 (Februarie 2025 geraadpleeg).

Meta AI Assistant. 2025. Besprekingsonderwerp. Persoonlike kommunikasie. https://web.whatsapp.com (22 Januarie 2025 geraadpleeg).

Penfield, W. en T. Rasmussen. 1950. Penfield’s sensory homunculus. https://www.researchgate.net/figure/The-sensory-homunculus-From-Penfield-W-Rasmussen-T-The-Cerebral-Cortex-of-Man-A_fig3_275778163 (Februarie 2025 geraadpleeg).

Reuters. 2024. What countries do to regulate children’s social media access. https://www.reuters.com/technology/what-countries-do-regulate-childrens-social-media-access-2024-11-28 (Februarie 2025 geraadpleeg).

Lees ook:

Sosialemedia-gebruik en kinders: the good, the bad and the ugly

Graad 8: Lewenswetenskappe – aanpassings vir oorlewing in die droë Karoo

Sosiale media en die Afrikaanse leefwêreld uit ’n navorsingsoogpunt

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Sosiale media en die gebruik van internet-inhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top